boetedoening

Bekering ten opsigte van wedergeboorte is nie boetedoening nie

In die vorige artikel genaamd “bekering is nie reformasie in eie krag nie” is daar duidelik gedemonstreer dat bekering vir wedergeboorte (fase een van ons verlossing) nie beteken dat ‘n persoon homself reformeer, alvorens hy God, as sondaar, om verlossing kan nader nie. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering is nie reformasie in eie krag nie” te lees, omrede dit deel van hierdie reeks artikels vorm. Met die skryf van hierdie artikel, gaan daar gedemonstreer word, dat bekering sover dit wedergeboorte (fase een van ons verlossing) aanbetref, nie boetedoening kan beteken nie. (dit is ook uiters belangrik dat die leser die drie fases van ons verlossing ken, en verstaan, omrede hierdie leerstelling die verstaan (en uitleg) van die Bybel aansienlik vergemaklik en derhalwe word die leser aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” sorgvuldig deur te lees en die meegaande illustrasie te bestudeer.)

Boetedoening, soos wat die term in hierdie artikel gebruik gaan word, beteken dat ‘n persoon poog om vir sy eie sonde en misdade vergoeding te doen, of op die een of ander wyse daarvoor te betaal. Maar in terme van wedergeboorte/verlossing (fase een van ons verlossing) kan die mens nie vir sy eie sonde teenoor ‘n absolute heilige God betaal nie. Ek het al gehoor hoe sekere (goed bedoelende) evangeliste aan hulle luisteraars die vereiste voorhou, dat alvorens hulle werklik tot bekering gekom het, (en dus wedergebore kan word) so ‘n persoon eerstens almal waarvan hy weet, hy op die een of ander wyse benadeel het, vir daardie misdade moet vergoed en om verskoning pleit. (boetedoening) Om dus werklik tot bekering te kom, word daar van so ‘n persoon vereis, dat hy eerstens restitusie (finansiële of enige ander vorm van restitusie) vir daardie sondes moet maak, en dan om vergifnis vir sy optrede moet vra, anders het so ‘n persoon nie werklik tot bekering gekom nie. By implikasie sou dit beteken dat so ‘n persoon dan nie in werklikheid tot bekering gekom het nie en dus kan daar met regte gevra word of so ‘n persoon werklik wedergebore is.

Mense wat boetedoening by die term “bekering” as vereiste vir wedergeboorte/verlossing (fase een) inwerk (of toevoeg) is besig om nog een verdere struikelblok voor die ongeredde persoon te lê, (alvorens hy wedergebore kan raak) en dit terwyl God slegs geloof in Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit) van so ‘n ongeredde persoon verwag om die gawe (nie verdiende loon nie) van die ewige lewe in ontvangs te neem. Vir enige persoon om verdere vereistes, behalwe geloof alleen, aan die voorkant, of aan die agterkant, vir wedergeboorte/verlossing (fase een) by die Evangelie te voeg, is besig om hindernisse in die weg van mense te lê vir wie die Here Jesus Christus aan die kruis gesterwe het. Dit is die Here se wil dat geen persoon verlore moet gaan nie, en om gemeenskap met God te handhaaf, behoort dit alle gelowiges se begeerte te wees om seker te maak dat hulle die Evangelie suiwer verkondig, om sodoende te verseker dat God se wil vir die mensdom eerbiedig word.
2 Pet. 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Die term “almal” beteken net dit, almal! (geen uitsonderings nie!) Indien ‘n persoon verlore gaan, gaan dit nie wees omrede die Here vooraf gekies het dat so ‘n persoon verlore moet gaan nie, maar dit gaan wees omrede die persoon nie God se oplossing vir sy sonde probleem, naamlik die Evangelie in geloof aangeneem het nie. Dit is ons, as gelowiges, se plig om seker te maak dat ons geen hindernisse in die weg van ongelowiges plaas nie. Hierdie stelling geld veral vir persone wat deur die Heilige Gees van hulle sonde probleem oortuig is en wat nou wil weet wat hulle moet doen om wedergebore/verlos te word.

Ons moet baie mooi verstaan, dat dit vir die mens absoluut onmoontlik is om God vir ons sondeskuld te vergoed. (dit sluit boetedoening in) ‘n Persoon wat deur boetedoening hoop om God vir sy sondeskuld te vergoed, en hoop dat God so ‘n persoon op grond van sy boetedoening sal vryspreek of in genade sal aansien, (fase een) gaan met ‘n groot skok agterkom dat hy homself ernstig mislei het. So ‘n persoon mag dalk te laat agterkom dat hy homself in ‘n ernstige verknorsing gekry het, omrede hy sulke dwaalleerstelling geglo het. (Hierdie is ‘n Rooms Katolieke leerstelling, wat op die fondasie van hulle werke evangelie gebaseer is en wat ook deur ander kultiese groepe verkondig word.) Onthou, dit gaan die mens niks baat om te beweer dat hy deur valse leerstellings en herders verlei is nie. Die onus is op ons om seker te maak watse leerstellings ons glo en hoekom ons dit glo. Derhalwe is dit van uiterste belang om alle leerstellings wat aan ons verkondig word, met die Skrifte (binne die korrekte konteks) te vergelyk, om seker te maak, dat dit wat aan ons verkondig is, werklik die boodskap is wat God aan ons wou oordra. (onthou God soek ‘n intieme persoonlike verhouding met jou, en het ‘n spesifieke boodskap aan jou, wat Hy in Sy woord vir jou laat opteken het. Wees uiters versigtig vir sogenaamde profete. Lees asb die artikel “Is die gawe van profesie nog in werking vandag?”) Boonop stel die Skrifte dit baie duidelik dat slegs die Here Jesus Christus, as die God-Mens, (volkome God en volkome mens) kwalifiseer om vir ons sondes te sterwe. Dit het Hy dan ook op ‘n punt in tyd, op ‘n spesifieke geografiese plek op aarde, (Golgota buite Jerusalem) omstreeks tweeduisend jaar gelede gedoen en afgehandel.
Heb.1:3:18 “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte,
1Pet. Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;”

Moenie die Here, (wat Sy Persoon en voltooide werk aan die kruis vir jou insluit) beledig om deur jou boetedoening Hom se ver te wil kry om jou in genade aan te sien nie. God het van ewigheid af geweet watter sonde jy sou pleeg, en lank voordat jy bestaan het, het Hy alreeds in Sy liefde vir jou, besluit om Sy enigste Seun aarde toe te stuur om vir al jou sondes aan die kruis te sterwe. (nog lank voordat jy ooit jou eerste sonde gepleeg het)
Rom.5:10 “Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.”
Derhalwe is daar nou geen ander offer (wat ons boetedoening insluit) vir ons sonde nie, en ‘n persoon wat ‘n ander offer (wat boetedoening insluit) wil bring, verwerp in wese God se oplossing vir die mensdom se sonde, en so ‘n persoon wil in wese dan sy eie verlossing, op sy eie terme, deur sy boetedoening bewerkstellig, wat ernstige implikasies tot gevolg sal hê. Die Here Jesus Christus se kruisdood, was God se finale oplossing vir die mensdom se sonde, en het vir eens en altyd die weg na God herstel. Dit geld slegs vir diegene wat Sy geskenk van die ewige lewe in geloof aanvaar. (sonder om enigsins daarvoor te werk!) God het alles gedoen en die mens het absoluut geen bydra te lewer nie! Verlossing is wat God vir die mens doen en nie wat die mens vir God kan doen nie. Al wat die mens kan doen is om God se oplossing vir sy sonde in geloof aan te neem. Niks anders nie!

Die leerstelling wat van ‘n persoon verwag om eerstens boetedoening te doen, alvorens hy God om verlossing/wedergeboorte nader is nie ‘n Bybelse leerstelling nie en is nie van God afkomstig nie. Wat boetedoening, sover dit wedergeboorte aanbetref, is dit uiters belangrik om die term “boetedoening” in terme van die Skrifte te ontleed. Boetedoening, net soos waterdoop, vorm nie deel van die Evangelie nie, en derhalwe kan boetedoening nie as vereiste by slegs geloof alleen in die Evangelie, vir die ontvangs van die gawe van die ewige lewe/verlossing gevoeg word, sonder om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander nie.
Gal.3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Onthou, tydens die Kerk Dispensasie ontvang ‘n persoon (slegs eenmaal) die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon wedergebore word, en wedergeboorte vind plaas die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie verstaan en glo. Daar kan dus geen ander vereistes behalwe geloof alleenlik in die Evangelie by wedergeboorte gevoeg word nie! En dit sluit boetedoening in!
Ef.1:13 “ in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie (waarvan boetedoening nie deel van uitmaak nie) van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, (en dus die ewige lewe as onherroeplike geskenk ontvang het) verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte!)

Die apostel Paulus het ‘n ernstige waarskuwing, onder inspirasie van die Heilige Gees, aan almal gerig wat ‘n ander evangelie verkondig het. (insluitende enige evangelie, wat enigsins van menslike werke, insluitende boetedoening, afhanklik is.)
Gal.3:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.”
Onthou hierdie mense waarvan Paulus van praat, het besnyding (en dus die wet) saam met geloof in die Evangelie vir verlossing verreis. Ongelukkig word die besnydenis deesdae met ander, net sulke dodelike vereistes, soos boetedoening, restitusie, waterdoop, die wet van Moses, ophou sonde pleeg, sabbatdag onderhouding ensovoorts as vereiste by God se Evangelie van Sy genade gevoeg om verlossing/wedergeboorte te bewerkstellig. Hierdie ander bygevoegde vereistes het dieselfde dodelike effek op die Evangelie van God se genade!

Het boetedoening dan geen plek in die gelowige se lewe nie?: Ja, boetedoening het ‘n rol in die gelowige se lewe, maar dit vorm deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking en nie deel van fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte nie. Wedergeboorte is ‘n eenmalige gebeurtenis, wat op ‘n gegewe punt in tyd plaasvind, die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo. Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, word daardie persoon wedergebore, en dan is so ‘n persoon vir ewig van God se oordeel vir sy sonde verlos en kan dus nooit in die hel opeindig nie. Maar alhoewel die Here die gelowige in sy sonde red, los Hy nooit daardie gelowige om in sy sonde voort te lewe nie, maar Hy maak van die proses van heiligmaking (fase twee van ons verlossing) gebruik, om die gelowige van die greep, wat sonde (na aanvanklike wedergeboorte) op sy lewe het, te verlos/verbreek. Anders as wedergeboorte (fase een) is heiligmaking nie ‘n gebeurtenis wat eenmalig op ‘n punt in tyd plaasvind nie, maar eerder ‘n lewenslange proses, waar die gelowige sy samewerking aan die heilige Gees moet gee, sodat die gelowige se optrede toenemend met sy onveranderlike posisie in Christus ooreen kan stem. (Deur dit te doen bewerk, of behou, die gelowe nie die gawe van die ewige lewe nie, maar demonstreer hy eerder sy liefde aan die Here, deur God met sy praktiese lewenswandel te verheerlik en sodoende verhoed hy ook dat hy deur sy Hemelse Vader vir sonde getugtig word.) Alhoewel ‘n gelowige vir onbelyde sonde in sy lewe getugtig mag word (wat soms ergerlike afmetings mag aanneem, en self erger as fisiese dood mag wees) bestaan daar absoluut geen moontlikheid dat die gelowige ooit verlore sal kan gaan nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die gelowige” te lees.) Die gevolge van voortgesette onbelyde sonde in die gelowige se lewe sal breedvoerig in ‘n toekomstige artikel in hierdie reeks bespreek word. Derhalwe kan ‘n gelowige met alle eerlikheid verklaar, dat hy verlos is, (fase een, naamlik wedergeboorte) verlos word (fase twee, naamlik heiligmaking) en verlos sal word. (Fase drie, naamlik die verheerliking wat met die Wegraping of afsterwe van die gelowige in vervulling sal gaan) Die leser word aangeraai om die artikels “Drie Fases van verlossing” asook “Heiligmaking op grond van God se genade deur geloof” te lees.

Boetedoening het dus niks met wedergeboorte te make nie, maar eerder met heiligmaking/dissipelskap, wat na aanvanklike wedergeboorte behoort plaas te vind, en waar goeie werke, wat op grond van geloof, en deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, gedoen is en wat deur God van die gelowige verwag word.
Ef. 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (fase een, naamlik wedergeboorte wat alreeds afgehandel is) tot goeie werke (fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat ‘n lewenslange en voortdurende proses is en waar die gelowige deur goeie werke genade loon vergader) wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Die Leser word aangeraai om die artikels “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel” asook “Wat is die Ewige Lewe” en laastens “Die Onderskeid tussen Wedergeboorte en die Loon vir goeie werke” te lees.)

Twee feite om in gedagte te hou: Eerstens: Ons moet besef dat ons in ‘n hewige stryd rondom die Evangelie van Christus gewikkel is, en derhalwe moet ons die Evangelie suiwer hou en verkondig. Dit is slegs hierdie Evangelie waardeur mense van die ewige verderf verlos sal word.
Rom.1:16 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.”
Onthou, mense se siele is op die spel! En derhalwe is die inhoud van die Evangelie, naamlik die Here Jesus Christus (Sy persoon en voltooide werk aan die kruis, Wie vir al ons sondes versoening gedoen het en uit die dood uit opgestaan het. Plus niks!) die fondasie waarop die ware Christendom/Kerk gebou is. Indien die Evangelie verkeerd verkondig is, dan is die hele organisasie/denominasie wat op grond van daardie evangelie/leerstelling gebou is, op dwaalleer gebou, en derhalwe is daardie godsdiensstelsel nie op die Rots, naamlik die Here Christus, gebou nie, maar op die sand van ‘n humanistiese godsdienstige stelsel wat van menslike werke afhanklik is en waarvan die Here Jesus Christus nie die bouer is nie! So ‘n godsdiensstelsel (waarvan daar baie in die belydende Christendom is) sal deur God verwerp moet word, omrede dit nie die ware kerk is nie. En daarom is dit belangrik om te weet wat die inhoud van die Evangelie werklik behels, en wat God van ons verwag om met Sy Evangelie te doen, naamlik om dit eerstens te glo (sonder enige iets anders by slegs geloof alleenlik te voeg) en dan daardie goeie nuus met ander te deel.

Dit is ook dan op hierdie punt, waar Satan sy felste aanslae teen die waarheid sal loods! (en alreeds geloods het.) Indien hy op hierdie punt (die Evangelie) die oorwinning behaal, behaal hy ‘n strategiese oorwinning, deurdat hy effektief die weg na die ewige lewe in mense se gesigte toeklap. Indien hy dit boonop kan regkry om mense so ver te kry om ‘n valse evangelie (wat enige vorm van ‘n werke evangelie, wat boetedoening, insluit) te glo, dan behaal hy ‘n nog groter oorwinning, omrede mense wat oortuig is dat hulle die regte evangelie geglo het, (al is die die verkeerde een) nie noodwendig agter sal kom dat hulle ‘n valse evangelie geglo het nie. En boonop sal hulle ook dan daardie valse evangelie aan ander wil oordra. (Wat in effek Satan se doelstelling op aarde bevorder. Lees asb die artikel “Satan se nagemaakte godsdiensstelsel.”)  Een so ‘n voorbeeld is die Rooms Katolieke kerk, wat almal onder ‘n vloek plaas, wie glo dat mens slegs op grond van God se genade, deur geloof alleenlik in die Evangelie, gered word. Ek stel dit weer: “Die evangelie wat die Rooms Katoliek-Kerk verkondig is nie die ware Evangelie wat God in Sy woord verkondig nie! En onthou! Mense se siele is op die spel! Die enigste assosiasie wat ons met Rooms-Katolieke moet hê, is om aan hulle die Evangelie van God se genade te verduidelik, en na wedergeboorte, hulle te leer om die Here Jesus Christus, as getroue dissipels te volg, wat sal beteken dat hulle die Rooms-Katolieke Kerk sal moet verlaat! (Andersins sal hulle nie as Geesvervulde gelowiges kan funksioneer nie. Hulle bly egter gered indien hulle werklik die Evangelie geglo het.) Indien ‘n Rooms-Katolieke persoon wedergebore raak, is dit nie op grond van sy kerk se leerstellings nie, maar eerder die feit dat daardie persoon die ware Evangelie, of by iemand anders gehoor, of deur ander media, of direk vanuit die Bybel bekom het.”

In ‘n suiwer Skriftuurlike sin van die woord, het Christus se Kerk niks met die Rooms Katolieke Kerk, (of enige ander sogenaamde Christelike groep, godsdiensstelsel of organisasie, soos byvoorbeeld die Jehova Getuies, Hebreeuse Wortels beweging, MormoneSewende-dag Adventiste Kerk ensovoorts, wat op die een of ander wyse ‘n ander evangelie, wat enige vorm van ‘n werke evangelie insluit, voorstaan) in gemeen nie, omrede die fondasies waarop hierdie verskillende groepe gebou is, nie die ware Evangelie van God se genade is nie. Hierdie ander groepe, wat nie die ware Evangelie glo nie, is derhalwe nog in Satan se kamp en hulle moet geëvangeliseer word! (al verklaar hulle dat hulle Christene is) Daar moet onder geen omstandighede met hulle saamgewerk word nie!
2Kor. 6:14 “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” te lees, wat aan die leser ‘n Skriftuurlike filosofie van die wêreld se geskiedenis sal gee.)

Indien mens hierdie feite in aanmerking neem, sal dit duidelik blyk dat die ware Christendom ‘n baie klein gedeelte van die baie groter belydende Christendom uitmaak. Om hierdie rede is dit wensdenkery om te dink dat die ware Christendom (nie die valse belydende Christendom nie) die wêreld se goewermente by die stemlokaal sal kan oorneem. (die ware gelowiges sal altyd by verre in die minderheid wees) Derhalwe het die Here slegs aan die Kerk die mandaat gegee, om die Evangelie te gaan verkondig en dissipels van alle gelowiges te maak.
Mark. 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
Matt. 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Die Here het nooit ‘n mandaat aan die Kerk gegee om die wêreld se goewermente oor te neem, en Sy koninkryk op aarde te vestig nie. Hyself sal Sy Koninkryk, met Sy wederkoms, op aarde kom vestig. Enige persoon of organisasie, soos die Nuwe Apostoliese reformasie, (waarby oom Angus Buchan ook ongelukkig ingetrek is) wat poog om Christus se Koninkryk op aarde tot stand te bring (deur beheer oor al die dorpe, stede en goewermente van die wêreld te bewerkstellig) tree direk in stryd met wat God in Sy woord aan ons verklaar op. Die Bybel (wat ongetwyfeld God se woord is) stel dit onomwonde, dat die volgende wêreldwye koninkryk, die van die Antichris is, wat hoofsaaklik op die fondasie van ‘n valse ekumeniese belydende Christendom tot stand gebring sal word, en wat eers na afloop van die wegraping en daaropvolgende Groot Verdrukking, met Christus se wederkoms deur Christus self vernietig sal word. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Koninkryk kom vs Koninkryk Nou” asook “Die Profetiese rede op die Olyfberg volgens Mattheus” te lees.) Boonop verkeer oom Angus onder ‘n ernstige delusie, indien hy dink dat hy die gees van die Antichris, soos wat hy onlangs op die “It’s Time” samekoms in Pretoria gedoen het, kan bind. (Lees asb die artikel “Bind en ontbind van bose geeste”)

Die volgende uitlating maak ek met die grootste respek en omsigtigheid, maar die vraag moet gevra word! Indien God so gereeld met Oom Angus (soos wat hy beweer) praat, hoekom korrigeer die Here hom dan nie oor sommige van sy uitlatings en leerstellings nie? (soos byvoorbeeld dat ons, ons leerstellinge doktrines tersyde moet stel en dat hy onder die delusie verkeer dat hy die gees van die Antichris kan bind en ander sulke leerstellings.) En dit ten spyte van die feit, dat God dit baie duidelik in Sy woord van ons vereis om Skriftuurlike leerstellings te verdedig en nie tersyde moet stel nie!
Jud. 1:3 “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” (lees asb die artikel “Is Bybelse leerstellings werklik so belangrik?”)
En hoekom spreek die Here hom nie aan, ten opsigte van sy assosiasie met die Nuwe Apostoliese Reformasie, asook sy poging om alle denominasies onder een vaandel saam te bring, wat groepe soos die Rooms Katolieke insluit. (Veral indien mens in ag neem dat dit juis die Rooms Katolieke Kerk (met hulle meegaande leerstelling van boetedoening) is wat nog geensins van hulle leerdoelstellings (wat ‘n werke evangelie insluit) afstand gedoen het nie, en wat derduisende gelowiges, wat die ware Evangelie geglo en verkondig het, op die mees barbaarse, en wreedste wyses gemartel en doodgemaak het nie. Was hierdie optrede van die Rooms Katolieke Kerk, en derhalwe die hele daaropvolgende Reformasie op ‘n klein misverstand gebaseer? Nee stellig nie! Dit het gegaan oor die Evangelie van God se genade deur geloof alleen! Dit was ‘n dodelike stryd tussen die koninkryk van die duisternis en God se Koninkryk van lig! Dink mooi oor hierdie stelling na! Laat ons nooit hierdie martelare vergeet nie! Hulle wat met hulle lewens die weg vir ons oopgemaak het om vrylik ons Bybels te kan bestudeer. ‘n Voorreg wat die Rooms Katolieke Kerk met geweld teengestaan het! Lees gerus die boeke “Fox’s Book of Martyrs” asook Broadbent se “The Pilgrim Church” In my opinie is dit  boeke wat elke ware gelowige moet besit.) Lees gerus ook die artikel “Angus Buchan en sy geesgenote” wat deur Nick Maartens geskryf is. (hoogs aanbeveel) Vir interessantheidshalwe kan die leser ook die volgende twee artikels lees, wat in my opinie die leerstelling van genesing mooi uiteensit en wat verkeerdelik deur baie mense verstaan en toegepas word, naamlik: “Genees en Genesing Tydens die Post Apostoliese Tydperk” asook “Genesing ‘n Skriftuurlike Perspektief

Tweedens: Alhoewel boetedoening nie as addisionele stap by slegs geloof in die Evangelie vir wedergeboorte (fase een van ons verlossing) benodig word nie, vorm dit ‘n integrale deel van fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking. Dit moet egter ingedagte gehou word, dat die onderwerp van boetedoening, en restitusie, met uiterste omsigtigheid, en slegs onder leiding van die Heilige Gees moet plaasvind, anders kan meer skade as goed daaruit voortspruit. Derhalwe moet daar nie oorhaastig opgetree word nie, en behoort die gelowige eerstens hierdie saak in gebed met God te bespreek en dan geduldig op God se lyding wag alvorens daar opgetree word. (Hou dit veral in gedagte, dat as wedergebore gelowige jy in God se hande is en nooit verlore sal kan gaan nie. Moet dus nie dat mense, of die duiwel, jou in ‘n situasie indwing om oorhaastig op te tree en foute te begaan nie! Die Here ken immers jou hart en weet dat jy dalk boetedoening wil doen maar nie weet hoe om te werk te gaan nie. Hy is genadig en geduldig! Wag op Sy leiding!) Dit is van uiterste belang dat die gelowige onder hierdie omstandighede om wysheid en geduld bid, want dit gaan benodig word. ‘n Persoon mag dalk, voordat hy tot geloof gekom het, byvoorbeeld sy vrou se beste vriendin begeer het. Nou dat hy wedergebore geraak het, wil hy graag poog (of word aangesê) om vir daardie sonde versoening (boetedoening) te doen, en vertel nou sy vrou, wat in die eerste plek heeltemal onbewus van sy begeertes was, en a.g.v. sy bekentenis aan haar, is haar hart gebroke, en is sy nou die een wat vir sy sondes ly en boonop is die huwelik nou in gedrang! In so ‘n geval sou dit beter wees, om die sonde slegs aan God te bely, en deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, heeltemal met daardie sonde te breek. (Die Heilige Gees sal jou van sonde oortuig. Satan sal jou dryf! Moet die twee begeertes nie met mekaar verwar nie! As jy enigsins gedryf voel, stop net daar waar jy is, en doen niks anders as om te bid en geduldig om die Here se lyding te wag nie! Al neem dit lank. Onthou jou gawe van die ewige lewe is glad nie in gedrang nie!)

In gevalle waar ‘n ander persoon bewus is van die feit dat hy op die een of ander wyse deur die gelowige benadeel is, bly dit egter die gelowige se plig, as deel van sy heiligmaking/dissipelskap, om boetedoening of restitusie te doen, maar net soos wat die Heilige Gees dit aan hom sal openbaar. Ons moet egter daarteen waak om nie die vereistes vir heiligmaking/dissipelskap (fase twee) met die vereistes vir wedergeboorte/verlossing (fase een) te verwar of vermeng. ‘n Gelowige wat nie restitusie of boetedoening toepas nie, sal nie deur God verwerp word nie, maar kan moontlik onder die tugtiging van sy Hemelse Vader te lande kom. (wat heel onaangename afmetings kan aanneem.)

Ter Afsluiting: Met die skryf van hierdie artikel is daar gedemonstreer dat boetedoening nie deel van die Evangelie uitmaak nie. Boetedoening kan dus nie, as vereiste, by slegs geloof in die Evangelie ingevoeg of vereis word nie. Bekering sover dit fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte/verlossing aanbetref kan nie boetedoening beteken nie! Onthou, om die vereistes vir heiligmaking/dissipelskap (fase twee) met die vereiste vir wedergeboorte, naamlik geloof alleenlik (fase een) te vermeng is om die Evangelie van God se genade in ‘n werke evangelie te verander. (‘n ernstige mistasting!)
Gal. 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Rom. 11:6 “En as dit deur genade is,dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”

Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede,hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Onthou, dit is die Here Jesus Christus, wat d.m.v. die verkondiging van die ware Evangelie, Sy liggaam, die ware Kerk bou. En hiervoor maak Hy van gewone mense, soos jy en ek, gebruik om Sy doelstelling te bereik. (wat ‘n geweldige eer is dit nie?!) En derhalwe moet ons seker maak dat ons die Evangelie, ken, verstaan en korrek aan ander oordra. Hierdie is ‘n uiterste belangrike stelling, want mense se siele is op die spel! Enige denominasie,”kerk” of organisasie wat op enige wyse ‘n ander evangelie verkondig, word nie deur Christus gebruik om Sy kerk op aarde te bou nie, en derhalwe is Christus nie die bouer van daardie organisasie “Kerk of groep nie. Maak seker jy is ‘n instrument in die hande van die Here, en nie ‘n instrument in die hande van die duiwel, wat besig is om ‘n ander evangelie (wat enige vorm van ‘n werke evangelie insluit) te verkondig nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.