Leerstellings

Is Bybelse Leerstellings werklik so belangrik?

Is Bybelse leerstellings werklik so belangrik, of is dit een van die hoofredes waarom die belydende Christendom so verdeeld is? Mens hoor nogal gereeld van tel-evangeliste wat beweer dat dit juis leerstellings is wat die belydende Christendom so verdeel het. Moet ons dan ons leerstellings afwater, of heeltemal tersyde stel, sodat ons eenheid in die belydende Christendom kan bewerkstellig? Die antwoord op hierdie vraag is nie in ons of ons eie opinies gesetel nie, maar by God en Sy woord, die Bybel. Om op menslik opinies staat te maak, gaan net veroorsaak dat ons al hoe verder van die waarheid afvallig gaan raak. Is dit nie hoog tyd dat ons weer na die Skrifte gaan om ons leerstellings te bepaal nie? In hierdie artikel gaan net kortliks ‘n paar teksgedeeltes aangehaal word, wat sal aantoon dat God baie duidelik Bybelse leerstellings as uiters belangrik beskou. Wie is ons, as mens dan, om God en Sy woord te weerstaan?

1. Hnd 2:42 “En hulle het volhard in die leer (leerstelling) van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik, dat die apostels wel leerstellings verkondig het, en dat die vroeë Kerk in hierdie leerstellings van die Apostels volhard het. (Ek praat hier van Christus se ware apostels, nie die moderne selfaangestelde apostels wat kwansuis nuwe openbarings van God ontvang nie. Die leser word aangeraai om die artikels “Is die Gawe van Profesie nog in werking vandag?”; “Ware Apostels vs Valse Apostels” en “Ware Profete vs Valse Profete vir meer inligting te lees.) Mense wat beweer dat eenheid ten koste van leerstellings nagejaag moet word, verkondig leuens en eerbiedig nie God of Sy woord nie. Indien God se woord op een punt verontagsaam word, sal dit logies daartoe lei, dat God se woord op ander punte ook verontagsaam sal word, wat net tot verdere dwaling sal lei. Is dit nie wat ons vandag in die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom sien gebeur nie? Bly weg van mense wat eenheid ten koste van gesonde leerstelling wil bewerkstellig.

2. Rom 16:17 “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer (leerstelling) wat julle geleer het, en vermy hulle.”
Bostaande teksgedeelte is seker een van die teksgedeeltes wat die meeste deur valse leraars aangehaal en verdraai word, en as bewys gebruik word, dat mense wat gesonde Bybelse leerstellings verkondig en verdedig, tweedrag in die Kerk veroorsaak en dat hulle vermy moet word. Hierdie valse leraars sal dan gewoonlik net ‘n gedeelte van die bostaande teksgedeelte aanhaal, wat gewoonlik soos volg sal lees: “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak, en vermy hulle” Luister volgende keer baie mooi indien ‘n persoon hierdie teksgedeelte as bewys aanhaal, dat ‘n persoon wat gesonde leerstellings ten koste van eenheid aanhang, daarvan beskuldig word dat hy tweedrag in die kerk veroorsaak. Soos wat uit bostaande gedeelte waargeneem kan word, is dit baie duidelik dat hulle slegs sekere gedeeltes van die teksgedeelte, en nie die hele teksgedeelte, wat juis die valse leerstelling van eenheid ten koste van gesonde Bybelse leerstelling weerlê, aanhaal en weergee. Die woorde: “Teen die gesonde leer wat julle geleer het.” word heeltemal weggelaat, wat die hele betekenis van die teksgedeelte verander. Wat Rom 16:17 in werklikheid verkondig, is dat mense, soos hierdie valse leraars, wat leerstellings verkondig wat met die gesonde leerstellings, soos in die Bybel opgeteken staan, bots vermy moet word. Dus word daar van ons verwag om die leerstellings, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, te eerbiedig en valse leraars te vermy, soos wat Rom 16:17-18 baie mooi illustreer. Kom ons lees die teksgedeelte weer sorgvuldig deur.
Rom 16:17 “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, (Bybelse leerstellings) en vermy hulle. 16:18 Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.” (oningeligtes)
Om hierdie rede is dit uiters belangrik om self ons Bybels te lees en weet wat daarin staan! Dit is ook uiters belangrik, dat ons alles wat aan ons verkondig word, eerstens met die Bybel vergelyk, alvorens ons dit as God se woord aan ons aanneem.

3. Efs 4:14 “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, (leerstellings) deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 4:15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,”
Die Kerk is ongelukkig met valse leerstellings deurdrenk, en die Bybel stel dit ook baie duidelik, dat hierdie tendens gaan vererger, soos wat Christus se wederkoms nader kom.
1Ti 4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe (valse leerstellings) van duiwels sal aanhang”
Indien ‘n persoon nie self verlei is nie, sal hy gou agterkom dat verleiding op grootskaal in die belydende Christendom aan die gang is en dat dinge net vererger. Kyk maar wat se onskriftuurlike leerstellings en optredes vanuit die sogenaamde Nuwe Apostoliese Reformasie te voorskyn kom. En hierdie groep is maar net een van vele sulke groepe. Gesonde Skriftuurlike leerstellings word met buite Bybelse profesieë en vleeslike manifestasies vervang. Dan praat ek nie eers van die hoofstroom Afrikaanse Kerke en hulle sinodes se besluite nie!

4. 1Ti 4:6 “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer (leerstellings soos wat in die Bybel opgeteken staan) waarvan jy ‘n navolger geword het. 4:7 Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid.”
Baie leerstellings wat vandag so vrylik verkondig word, is niks anders as fabels nie, soos bv die ewolusie leer. En boonop is dit onheilig en verheerlik geensins die Here nie. Indien ‘n persoon die Here wil verheerlik, dan moet daardie persoon God se woord, die Bybel, bestudeer, met die doel om God se bedoeling daardeur te bekom en dit dan getrou aan ander te verkondig en self uit te leef.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die woord van waarheid, die Bybel, word deesdae tot ‘n groot mate nie reg gesny nie, maar eerder verskeur, soos wat mense dit verdraai om te sê wat hulle wil hê dit moet sê. Hulle vergeet egter dat God Homself nie laat bespot nie. Dit wat ‘n man saai sal hy ook maai!
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”

5. 1Ti 4:13 “Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.”
Let op die woorde: “Voorlesing, vermaning en lering.” (leerstellings) Daar staan niks van vermaak, val in die gees, ruk en rol in die kerkgebou ens nie. In plaas daarvan dat die skape met gesonde leerstelling gevoed word, word die bokke deesdae in die kerkgeboue vermaak. Wat ‘n tragedie! Dan verbaas dit ons as die Kerk net soos die wêreld lyk. Dit sal raadsaam wees indien ons weer ‘n slag Jakobus se vermaning tot harte neem.
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
In baie gevalle word daar ure lank oppervlakkige “worship songs” gespeel en dan word daar ‘n kort preek gelewer wat die hoorders daarvan se ore streel.
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer  (gesonde leerstellings) nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,”
Deesdae se preke draai om die mens en sy begeertes en nie om God en Sy wil nie. (Let wel daar wel nog getroue gemeentes en pastore is, maar hulle is by verre in die minderheid. Dank die Here vir sulke herders!)

6. 1Ti 5:17 “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.”
Word leraars wat vandag suiwer Bybelse leerstellings verkondig in die Kerk geëer? Hier praat ek van leraars wat die Bybel op sistematiese wyse deurwerk en die Skrifte getrou verkondig, al gee dit aanstoot. In baie gevalle word daar gepoog om die gemeentelede se goedkeuring te bewerkstellig, in plaas daarvan dat God se goedkeuring gesoek word. Die een groot rede hiervoor is die feit dat geld vandag ‘n baie groot rol in groot gedeeltes van die belydende Christendom speel. Is ons nie dalk besig om die mens en Mammon te dien, in plaas daarvan om God te dien nie. Die Bybel stel baie hoë standaarde vir die aanstel van opsieners in die gemeente. Indien hierdie vereistes nougeset op meeste van vandag se leraars toegepas moet word, wonder ek hoeveel van hulle werklik as opsiener sal kwalifiseer.
Tit 1:6 “as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. 1:7 Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; 1:8 maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; 1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, (leerstelling) sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer (leerstelling) te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.”
Let weereens op die woorde: “Gesonde leer” wat niks anders as gesonde Bybelse leerstellings is nie! Maar ongelukkig is dit in baie gevalle juis die leraars wat Bybelse leerstellings as die sondebok uitkryt. Geen wonder die belydende Christendom lyk soos wat dit lyk nie. Indien ‘n leraar Bybelse leerstelling ten koste van getalle en eenheid opoffer, dan kan daardie leraar as ‘n vuilgewinsoeker bestempel word, omrede ons almal weet dat ‘n toename in getalle ‘n groter salaris vir die leraar beteken. Ek praat nie van kerke wat groei juis omdat hulle gesonde Bybelgebaseerde leerstellings verkondig en evangelisasie doen nie. Sulke gemeentes is egter in die baie klein minderheid. ‘n Vraag wat ons met alle eerlikheid moet vra is: “Is die oorgroot meerderheid van leraars in die kansels werklik rentmeesters van God? Of is hulle rentmeesters van self en Mammon?”

7. 2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, (leerstellings) tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Die Skrif, soos wat ons dit in die 66 boeke van die Bybel vind, is God se woord aan ons en is al wat ons nodig het om volkome toegerus vir elke goeie werk te wees. Alles moet teen die waarheid, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, beoordeel word en dit sluit die wetenskap in. Vir uitsonderlike artikels oor wetenskap en die weerlegging van die ewolusie leer, word die leser aangeraai om CMI se webtuiste te besoek. Nog ‘n baie groot probleem in die belydende Christendom is om te beweer dat die Bybel nie genoegsaam is om ons sielkundige probleme op te los nie, maar dat ons na die sielkunde moet gaan vir die oplossing. Die sielkunde is nie op God se woord en waarheid gebaseer nie, maar op menslike opinies. Die leser word baie sterk aangeraai om Deidre en Martin Bobgan se boek The End of “Christian Psychology” wat by die Berean Call beskikbaar is aan te koop en te lees. Die boek is baie insiggewend, en dit nogal vanuit die perspektief van ‘n persoon wat self in die sielkundige beroep betrokke was. Hulle webtuiste psychoheresy-aware.org kan gerus besoek word om uitsonderlike artikels en selfs hulle boeke oor hierdie onderwerp kosteloos te lees. As daar een boek is wat ons almal deeglik moet ken, dan is die Bybel. Indien ‘n persoon God werklik wil ken, dan moet daardie persoon Sy woord, die Bybel ken. ‘n Wyse ou Pastoor het een maal gesê: “ As jy God se woord wil hoor, lees dan jou Bybel. Indien jy wil hê dat God hoorbaar met jou moet praat, lees dan jou Bybel hardop!” Hierdie stelling is nogal waar! Wat ook uit bostaande teksgedeelte baie duidelik na vore kom, is die feit dat God van ons verwag om wel oor leerstellings te beskik en dat ons daarvolgens moet lewe en dit verkondig.

8. 2Ti 4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer (leerstellings) nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (valse leerstellings)
Indien ‘n persoon nie Bybelse leerstellings glo en verkondig nie, wat glo en verkondig hy dan? Indien ons leerstellings nie op die Bybel gebaseer is nie, hoekom moet ons dan mense weerlê, hulle bestraf en hulle vermaan? Indien ons leerstellings nie op die Bybel gebaseer hoef te wees nie, dan kan ons almal maar die waarheid volgens ons eie beperkte insigte bepaal. Maar dan sal die waarheid nie meer die waarheid wees nie, en boonop sal ons oor geen maatstaf beskik waarteen waarheid gemeet kan word nie. Dit sal tot chaos lei, net soos wat ons huidiglik in die postmoderne samelewing sien gebeur. Vandag word sonde as goed geklassifiseer en goed word as sleg afgemaak. Indien ‘n leraar sy gemeente teen ‘n spesifieke sonde waarsku, word hy as ‘n kwezelaar of van haatspraak beskuldig. Maar God waarsku ons egter in Sy woord juis teen hierdie tendens.
Jes 5:20 “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. 5:21 Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.”
Die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat God se woord die waarheid is, en die Here Jesus Christus self het dit bevestig. Wie is die mens dan, om God te bevraagteken en te verkondig dat eenheid ten koste van leerstellings bewerkstellig moet word.
Joh 8:31 “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord (leerstelling) bly, is julle waarlik my dissipels. 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Dit is ‘n leerstelling)
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”
Indien jy die waarheid wil weet, lees jou Bybel, dit is God se woord aan jou! Ja, en dit sluit leerstellings in! Ons lewe nou alreeds in die tydperk waaroor Paulus ons gewaarsku het. Mense stel vir hulleself leraars aan, wat aan hulle verkondig wat hulle graag wil hoor, en stel nie meer belang in wat God werklik, in Sy woord, te sê het nie. Hulle vergeet egter dat hierdie tipe optrede gevolge gaan hê!

9. Tit 1:7 “Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; 1:8 maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; 1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer (leerstelling) is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer (leerstelling) te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.”
Dit is verblydend om te sien dat daar wel nog leraars is wat gesonde Bybelse leerstellings getrou verkondig. Sulke getroue dienaars is egter by verre in die minderheid! Die meeste gemeentes gebruik nie meer die riglyne, soos wat dit in 1 en 2 Timoteus en Titus opgeteken staan, om leraars aan te stel nie. Skakel gerus maar jou televisiestel aan, en indien jy jou Bybel ken, sal jy gou agterkom dat Bybelse leerstellings in die meeste gevalle heeltemal verontagsaam word. Vandag draai alles om rykdom, buite Bybelse profesie, vleeslike manifestasies, eenheid ten koste van leerstelling, asook die mens se wil, in stede van God se wil. Dan praat ek nie eers van die saad-geld dwaallering “seed money heresy” wat niks anders as ‘n groot verneukspul is nie en dit nogal in God se naam! Hierdie mense sal egter hulle loon ontvang! Ander groepe neem weer die gesag op hulleself om God se koninkryk op aarde te vestig en dit terwyl die Here dit duidelik gemaak het dat Hy persoonlik Sy koninkryk op aarde gaan vestig. Baie proponente van die heerskappy teologie (Koninkryk nou) dwaalleer is voorstanders, in die poging, om eenheid ten koste van gesonde Bybelse leerstelling te bewerkstellig. Die leser word aangeraai om die artikel “Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom) vir meer inligting rondom hierdie onderwerp te bekom.) Dit is belangrik vir leraars om tot die besef te kom, dat hulle strenger as ander beoordeel gaan word en hulle moet poog om God te behaag en nie mense nie.
Jak 3:1 “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.”
En onthou Paulus se vermaning!
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid (leerstellings) reg sny.”

10. Tit 2:1 “Maar spreek jy wat by die gesonde leer (leerstelling) pas.”
Dit sou sinneloos wees om bogenoemde stelling te maak, indien leerstellings nie vir die Here saak gemaak het nie. Dit geld veral vir Pastore wat veronderstel is om God se boodskap getrou aan hulle gemeentes oor te dra. Indien ‘n persoon homself nie daarop toelê om die Skrifte te bestudeer en reg uit te lê nie, gaan daardie persoon in skaamte van Christus, met Sy koms vir ons, weggaan.
1Jo 2:28 “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.”
Geen persoon, maak nie saak hoe opreg hy mag voorkom, kan beweer dat hy gemeenskap met Christus het, as hy nie Jesus Christus se leerstellings nougeset eerbiedig nie. God se woord, die Bybel, is God se leerstellings en God kan nie van Sy woord geskei word nie. Dink bietjie hieroor na!

Ter Afsluiting: Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek het niks teen eenheid in die Kerk nie, en weet dat dit God se wil vir die Kerk is, maar eenheid ten koste van leerstelling is verkeerd en is glad nie God se wil nie. Ongelukkig is eenheid ten koste van leerstelling egter die groot dryfveer agter die meeste ekumenies bewegings, wat die Wêreldraad van Kerke en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke insluit en wat in die toekoms nog tot grootskaalse verleiding gaan lei. Die Here self het gewaarsku:
Mat 10:34 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 10:35 Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. 10:36 En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. 10:37 Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. 10:38 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 10:39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.”
Aan die ander kant, word gesonde leerstellings verafsku, asof dit iets is wat vuil is. Ander weer, weet nie werklik watse leerstelling hulle aanhang nie, want hulle is vir alle praktiese doeleindes Bybel ongeletterd en daarom word hulle maklik slagoffers van valse leerstellings. Die Here het met reg gewaarsku:
Mat 24:11 “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Alhoewel die konteks van bostaande teksgedeeltes oor die Verdrukking handel, kan ons nou al grootskaalse verleiding binne die belydende Christendom waarneem. Die eenvoudige rede hiervoor is, dat die Christendom nie meer gesonde Bybelse leerstellings nastreef nie, maar eerder Bybelse leerstellings ignoreer of op die agtergrond skuif.

Miskien is dit weer tyd om die Bybels af te stof, dit self te bestudeer en weer gesonde Bybelse leerstellings na te volg. Boonop moet ons die valse leraars vir ‘n slag die deur wys, sodat hulle valse leerstellings nie deur ons na ander versprei word en ons, onsself aan hulle sonde skuldig maak nie!
2Jo 1:9 “Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer (leerstelling) van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. 1:10 As iemand na julle kom en hierdie leer (leerstelling) nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 1:11 Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”
Indien ons eerlik na die belydende Christendom om ons rondkyk, dan sal ons moet erken dat ons in die laaste dae lewe, en dat Paulus se woorde alreeds besig is om in vervulling te gaan.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
Vermy mense wat nie gesonde Bybelse leerstellings verkondig en uitleef nie, of wat eenheid ten koste van gesonde Bybelse leerstellings verkondig. Al ons leerstellings moet vanuit die Bybel afgelei word, en nie van sogenaamde nuwe openbarings, deur die hedendaagse selfaangestelde apostels en profete nie! Ons moet ook daarteen waak om ons teologie in die Bybel in te lees, in pleks daarvan dat ons toelaat dat die Bybel ons teologie bepaal. En onthou die Here se waarskuwing:
Op 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
Kom ons eer die Here en nie mense nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.