Die doop van die Heilige Gees en met vuur

Die doop van die Heilige Gees en met vuur

Vraag: In Lukas 3:16 sien ons dat Jesus ons met die Heilige Gees sal doop asook met vuur. Is die doop met die Heilige Gees dieselfde as die doop met vuur? Indien dit nie dieselfde gebeurtenis is nie kan jy asb die verskil verduidelik. Baie dankie.

Antwoord: Daar is ‘n baie groot verskil tussen die doop met die Heilige Gees en die doop met vuur. Daar is ook baie verwarring en selfs valse leerstellings wat verkondig word, omrede die konteks van Johannes die doper se stellings nie in ag geneem word nie. Daar is bv. mense wat verkondig dat die gelowige met vuur gedoop moet word anders sal so ‘n persoon nie die krag van die Heilige Gees in sy lewe ervaar nie en sal dus onvrugbaar in die diens van God wees. Kom ons gaan kyk eers na die teksgedeelte wat jy genoem het, dan sal ons dit verder bespreek. Onthou om alles wat ek of enigiemand aan jou mag verkondig met die Bybel te gaan vergelyk om seker te maak dat jy nie besig is om verlei te word nie. Jy alleen gaan deur God verantwoordelik gehou word vir wat jy glo, so maak seker dat jy die waarheid ken.

Luk 3:16 “antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”
Om die konteks van hierdie teksgedeelte te bepaal moet ons verder lees, en toelaat dat Skrif, Skrif verduidelik. Dit sal verhoed dat ons tot die verkeerde gevolgtrekking kom. Verder sal opgemerk word, dat daar van twee afsonderlike gebeurtenisse gepraat word en dus kan die doop met die Heilige Gees nie dieselfde as die doop met vuur wees nie. Kom ons gaan lees verder:
Luk 3:17 “Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.”
In vers 17 merk ons op dat Johannes die doper verduidelik wat die doop met vuur beteken. Die doop met vuur is niks anders nie, as God se oordeel oor mense wat die Evangelie in ongeloof verwerp. Vers 18 skyn meer lig op die onderwerp en as ons die teksgedeeltes saam lees dan is dit duidelik dat daar van twee afsonderlike gebeurtenisse gepraat word. Ons sal duidelik kan opgemerk dat die doop met Vuur God se oordeel oor ongeloof is.
Luk 3:18 “Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.”
Dus kan dit met sekerheid gestel word dat indien iemand die Evangelie verwerp daardie persoon gedoop sal word met vuur as beloning vir sy ongeloof.

Met die glo van die Evangelie word ‘n persoon in Jesus Christus geplaas en word die gelowige gedoop met die Heilige Gees. (1Ko 12:13)
Omdat die gelowige in Jesus Christus is, word Jesus Christus se geregtigheid vir die gelowige toegereken en kan die gelowige nooit onder God se oordeel kom nie. Die gelowige word geheel en al vrygespreek en kan dus nooit verlore gaan nie!
Rom 6:23 “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”
Rom 3:26 “om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.”
God is geregtig en sal nie sonde twee keer straf nie. Jesus Christus het ons sondes op Homself geneem en daarvoor aan die Kruis betaal, en daarom is die Vader regverdig as Hy ons vryspreek as ons in Sy Seun gevind word.
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Die doop met vuur is iets heel anders en is glad nie van toepassing op die gelowige nie. Dit is iets wat nog in die toekoms moet plaasvind en wat net die ongelowiges sal ontvang.
Mat 3:10 “Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. 3:12 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.”
In vers 11 sien ons duidelik dat die doop met die Heilige Gees verskil van die doop met vuur nl: “Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”
Daar word duidelik na twee afsonderlike gebeurtenisse verwys. Ons moet ook verder toelaat dat Skrif Skrif verduidelik en dan sal daar opgemerk word dat die doding met vuur wel God se oordeel is.
Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
Mar 9:47 En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, 9:48 waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. 9:49 Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.”

Net vir bevestiging gaan ek nog twee voorbeelde gee wat bo enige twyfel bewys, dat die doop met vuur God se oordeel oor die ongelowige sondaars is en nie een of ander vleeslike sensasie soos wat baie vals leraars verkondig nie.
Opn 20:15 “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Net persone wat die Evangelie glo en nie op hulle eie werke staatmaak nie, se name sal in die boek van die lewe gevind word. Mense wat hulle eie geregtigheid wil bewerkstellig en mense wat die Evangelie verwerp sal op hulle eie werke geoordeel moet word en sal dus verlore gaan. Nie een mens sal voor God regverdig verklaar kan word gebaseer op sy eie werke nie! God se standaard van geregtigheid is net dood eenvoudig buite die sondige mens se bereik en daarom het ons ‘n Verlosser nodig.
Opn 20:13 “En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.”
Die mens sal nie op grond van sy eie werke ooit regverdig verklaar kan word nie! Op die einde van die dag is daar net twee vorms van aanbidding op hierdie aarde. Die een is op werke gebaseer , wat alle valse gelowe insluit (Insluitende groot gedeeltes van die belydende Christendom) en die ander godsdiens is gebaseer op geloof alleen is wat Jesus Christus aan die Kruis gedoen het. (Ware Christendom) As iemand se geloof nie alleenlik op Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die Kruis geplaas is nie, sal so ‘n persoon verlore gaan. Dit is van uiterste belang dat ons hierdie waarheid verstaan en daarvolgens handel!
Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Memoriseer bestaande teksgedeelte en maak dit deel van jou lewe! (Lees asb “Die Gelowige se Posisie in Christus vs sy Optrede” asook “Die Gelowige se Seëninge in Christus“)

Ons sal verder ook opmerk, dat waar Johannes skares toegespreek het wat uit gelowiges sowel as ongelowiges bestaan, het hy dit duidelik gestel het dat Jesus die mense met die Heilige Gees en met vuur sal doop. (Matt 3:11; Lukas 3:16) Waar hy egter net met gelowiges gespreek het, het hy net verkondig dat die Here met die Heilige Gees sal doop en niks van vuur gesê nie. (Markus 1:8; Joh 1:33)

Daar is mense wat Handelinge 2:4 aanhaal as bewys dat die doop met vuur dieselfde as die uitstorting van die Heilige Gees is. Daar word ook gereeld samekomste gereël waar beweer word dat die mense wat die samekoms bywoon met die vuur gedoop gaan word. “Catch the Fire Conferences” Om sulke dinge te verkondig bots lynreg teenoor wat die Bybel baie duidelik verkondig en mens vind dit vreemd dat so baie mense nog steeds deur hierdie leerstelling verlei word. Kom ons gaan kyk na die teksgedeelte en bespreek dit dan verder.
Hnd 2:3 “Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.”
Let op die woord “soos”. Daar word dus van ‘n vergelyking gepraat en die Heilige Gees word beskryf asof Hy soos vuur lyk, maar dit word nêrens gestel dat werklike vuur soos wat ons dit ken op die Apostels uitgestort is nie. As ek sê dat die maan soos kaas lyk dan is dit tog duidelik dat ek nie bedoel dat die maan van kaas gemaak is nie, maar dat ek die maan net beskryf met terme wat my hoorders sal verstaan. Om hierdie teksgedeelte te gebruik as bewys dat die doop met die Heilige Gees en die doop met vuur dieselfde ding is, is verkeerd en veroorsaak dat die Skrifte uit konteks aangehaal en deur valse leerders gebruik word om hulle gemeentes te verlei. Dit is belangrik dat ons weet wat die Skrif werklik bedoel en dan daarvolgens leef.

Dus is die doop met die Heilige Gees nie dieselfde as die doop met vuur nie. Dit is twee heel verskillende gebeurtenisse. Vir die gelowige is dit goeie nuus om met die Gees gedoop te word. Vir die ongelowige gaan dit baie slegte nuus wees, as hy eendag voor Jesus Christus gaan verskyn en met vuur gedoop gaan word. Daarom is dit so belangrik om die Evangelie met ander te deel, want die Here wil hê dat niemand verlore moet gaan nie, en daar is ‘n oplossing wat Hy as geskenk aan die hele mensdom bied. Al wat God van ons verwag is dat ons Sy geskenk van die ewige lewe in kinderlike geloof aanvaar! Dit is al, en dit is ook baie goeie nuus vir ons as sondaars wat onsself nie kan red nie. Ek hoop en bid dat my antwoord lig op hierdie onderwerp geskyn het.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.