die duiwel 3

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 2

Soos wat ons alreeds in deel een van hierdie studie gedemonstreer het, is die duiwel ons versoeker (Mat. 4:3; 1Thess. 3:5) Hy het die mensdom van die begin af, kort nadat God hulle geskape het, alreeds versoek en verlei. (Gen. 3:1-7) Met Sy eerste koms is die Here (Seun van die mens, volkome God en volkome mens) ook aan die Duiwel se pogings om Hom te verlei blootgestel, alhoewel die Here Jesus Christus nooit gesondig het nie. (Die Here Jesus Christus is die God-mens, volkome God en volkome mens en as sulks is Hy sondeloos.) Deurdat Hy volkome menslike liggaam by Sy Godheid gevoeg het, sonder om enigsins Sy Godheid, asook enige attribute van Sy Godheid, prys te gee, het Hy as mens niks gedoen wat Sy Hemelse Vader nie sou goedkeur nie. As ‘n Jood, wat onder die wet gelewe het, het Hy nooit die wet oortree nie, maar deur Sy sondelose lewe het Hy volkome die wet vervul.
Mat 5:17 “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”
Onthou, alles wat nie tot eer van God, en binne die raamwerk van God se wil gedoen word nie is sonde, en daarom het die Here Jesus Christus ten alle tye die glorie van God uitgedra en alles tot eer van Sy Vader gedoen.
Joh 8:29 “En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.”

Derhalwe het die Here Jesus, as ons perfekte voorbeeld, en in die gestalte van ‘n mens gevind, ten alle tye in volkome afhanklikheid van Sy Hemelse Vader, en binne die raamwerk van Sy Vader se wil, opgetree. Hy het dus Sy Vader verheerlik/geëer, deur om in volkome afhanklikheid van Sy Vader te lewe, al was Hy self ook God. (Hoeveel te meer behoort ons, as God se geskape wesens, nie in volkome afhanklikheid van ons Hemelse Vader, en binne die raamwerk van Sy wil, te lewe nie?) Omrede die Here met Sy eerste koms n menslike liggaam by Sy Godheid gevoeg het, het Hy as mens, net soos alle ander mense honger geword, (Mat 4:1; 21:18) dors geword (Joh 19:28) en net soos alle mense het Hy ook slaap nodig gehad. (Mat 8:24) Inaggenome hierdie feite, is dit belangrik om te onthou dat Hy altyd sondeloos was, en is, en dat Hy altyd sondeloos opgetree het, en dit sluit Sy geboorte, kinderjare sowel as Sy volwasse lewe in. Hy was ten alle tye heilig en sondeloos. (Indien die Here nie as mens sondeloos was nie, dan sou Hy vir Sy eie sondes moes sterwe en as sulks sou Hy nie vir ons sondes aan die kruis kon betaal nie.)

Voor ons die Here Jesus se versoeking in die woestyn bestudeer (wat in deel drie van hierdie studie behandel sal word en nie in deel twee soos vroeër geadverteer nie.) is dit egter belangrik om eerstens die agtergrond waarteen hierdie drama afspeel kortliks hier weer te gee. Om nie eerstens ‘n agtergrond en konteks waarin die drama homself afspeel hier weer te gee nie, sal veroorsaak dat die dieper waarhede van daardie monumentale gebeurtenis miskien misgeloop kan word. Ek vra dus om verskoning vir die verandering in die plan, maar ek glo die leser sal aan die einde van hierdie artikel saam met my stem dat die ompad wat gevolg is die beste opsie was. Kom ons keer terug na die studie.

Die Konteks en agtergrond: Voor die skepping van die hemele en aarde het God in Sy ewige raadsplan besluit om ‘n Koninkryk vir Homself op te rig. Hierdie Koninkryk sou dan as die universele koninkryk van God bekendstaan wat uit die hemele asook die aarde sou bestaan. Maar vir God om in Sy universele koninkryk as alleen Heerser te regeer, moes Hy eerstens oor onderdane beskik waaroor Hy kon regeer. Anders sou Sy koninkryk nie werklik as ‘n koninkryk omskryf kon word nie. Vir die doel van hierdie studie gaan ons hoofsaaklik twee groepe onderdane bespreek, naamlik die engele en die mens.

Die eerste groep onderdane wat God geskape het was die engele, wie God hoofsaaklik geskep het om in die provinsie van die eerste hemel van God se universele koninkryk te woon en Hom in afhanklikheid en gehoorsaamheid te dien.
Hierdie engele was slegs geestelike wesens en derhalwe het hulle nie oor liggame van vlees en bloed beskik nie. So het God dan die eerste groep onderdane van Sy universele koninkryk geskape, wat Hom in Sy universele koninkryk getrou moes dien.

Die tweede groep wesens wat God gemaak het, om as onderdane in Sy universele koninkryk te dien was die mens. Hierdie wesens het God geskape om hoofsaaklik as Sy verteenwoordigers op die aardse deel van Sy universele koninkryk, in afhanklikheid en gehoorsaamheid Hom as Sy verteenwoordigers te dien.
Gén 1:27 “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”

Dit is belangrik om in gedagte te hou, dat die Duiwel se begeerte altyd was om soos God te wees.
Jes 14:14 “Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!
Derhalwe het Satan opgemerk dat die Here, as God, oor ‘n universele koninkryk regeer, en derhalwe het hy besluit dat hy ook net soos God oor ‘n universele koninkryk moes beskik, wat uit onderdane bestaan, en oor wie hy as God kan regeer. Maar die Duiwel het egter ‘n probleem gehad. As geskape wese het Hy nie oor die vermoeë beskik om deur sy woorde iets uit niks te skape nie. (Satan is dus nie die Skepper nie en kan nie met sy woorde skep nie, net so min as wat daar mense is wat vandag verkondig dat hulle krag in hulle woorde het. Hierdie leerstelling is ‘n ernstige mistasting! Daar is net een Skepper en dit is God! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Krag in ons woorde?” asook “ Spreuke 18:21 en Krag in die mens se woorde” te lees.) En derhalwe het die duiwel ook nie geweet hoe om lewende wesens te skape nie. Die enigste ander uitweg wat tot sy beskikking was, was om van God se onderdane weg te rokkel, en hulle so ver te kry om saam met hom teen God en Sy heerskappy te rebelleer en Satan as hulle nuwe god te dien. Satan het dan ook in hierdie plan van hom geslaag en een derde van God se engele het saam met Satan teen God gerebelleer.
Opn 12:3 “En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; 12:4 en sy stert het die derde van die sterre (engele) van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak (Satan) het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, (Die volk Israel waaruit die Messias sou voortkom.) sodat hy haar kind (Die Here Jesus Christus) sou verslind sodra sy gebaar het.”
En daarom verwys die Bybel na die gevalle engele as die duiwel se engele.
Opn 12:7 “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, (Satan) en die draak (Satan) en sy engele het oorlog gevoer; 12:8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. 12:9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
Mat 25:41 “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele”.
Uit bostaande teksgedeeltes kan mens duidelik sien, dat die duiwel teen God gerebelleer het en dat hy en sy engele na afloop van die Duisendjarige Vrederyk van Christus in die poel van vuur gewerp gaan word. En nou kan daar met regte gestel word dat Satan oor sy eie engele beskik.

Satan se oorspronklike rebellie, moes volgens my beskeie mening, na afloop van dag ses van die skepping, en voor die sondeval van die mens plaasgevind het en nie vroeër as dit nie. (hierdie is egter ‘n besprekingspunt vir ‘n latere artikel indien die Here dit so wil.) Omrede die gevalle engele uit eie wil die duiwel in sy rebellie teen God gevolg het, het hulle in sonde verval en is hulle ook dan permanent in daardie toestand bevestig. (daar is geen verlossing vir die duiwel en die gevalle engele nie!) Derhalwe beskik hulle oor ‘n bose aard en daardie toestand is boonop onveranderlik. Hulle tree boos op, omrede hulle boos is en altyd boos sal wees. Net soos wat die Here altyd in liefde, heiligheid en geregtigheid optree, omrede Hy is Wie Hy Is, so tree die duiwel en sy engele altyd volgens hulle aard op en hulle doelstellings is altyd boos! (Die gevalle engele het dus hulle sondelose toestand vrywilliglik prysgegee en is in ‘n onherroeplike toestand van boosheid bevestig.)

Deurdat die duiwel dit reggekry het om ‘n derde van die engele so ver te kry om teen God te rebelleer, is deel een van sy strategiese plan, om net soos God oor sy eie universele koninkryk te regeer voltooi, maar om oor slegs sy eie engele te beskik en waaroor hy kon regeer het geensins beteken dat hy oor ‘n universele koninkryk beskik het nie, want daar was ‘n ander groep geskape wesens, naamlik die mensdom, wat op aarde en nie in die eerste hemele as God se verteenwoordigers en onderdane gedien het, en waaroor hy nie as god regeer het nie. Ook hier het sy onvermoë om soos God wesens van sy eie te skape, weer duidelik na vore gekom, en derhalwe moes hy deel twee van sy strategiese plan in werking stel, en het hy homself na die tuin van Eden (op aarde) gewend om God se mees onlangse geskape verteenwoordigers (en onderdane) met sy eie plan te verlei. Hierdie plan van Satan het nie God se verbod op die eet van die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit nie.

Toe God die mens geskape het, het God aan die mens opdrag gegee om die aarde te onderwerp en oor alles wat daarop is te heers.
Gén 1:26 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 1:27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”
Hiermee het God dus ‘n teokrasie op aarde bewerkstellig, wat God se oorspronklike vorm van regering op aarde sou weergee. (‘n Teokrasie beteken die heerskappy van God, en dit verwys na ‘n vorm van regering waar die heerskappy van God deur ‘n verteenwoordiger namens God, en in die geval van die aarde, deur die mens op die aarde uitgevoer moes word.) Dus het God die eerste mens Adam geskape, en as sulks moes Adam, as God se verteenwoordiger, namens God oor die aardse gedeelte van God se universele koninkryk regeer.

Ook hier het die duiwel sy plan by die gegewe omstandighede aangepas. Hy moes gereken het, dat indien hy daarin kon slaag om die eerste twee mense so ver te kon kry, om net soos hy, teen God te rebelleer, hy volkome beheer oor die aardse gedeelte, naamlik die aardse teokrasie van God se universele koninkryk, sou bekom. Dus was dit van uiterste belang om die mens tot ‘n sondeval te bring, alvorens hulle God se opdrag om op die aarde te vermeerder na kon kom, deurdat hulle seksuele gemeenskap met mekaar sou hê. (onthou Adam en Eva was nog in hulle sondelose toestand en as sulks sou hulle God se opdrag om te  propageer getrou nakom.) Indien die duiwel sou wag totdat die mensdom gepropageer het, sou daar mense wees wat nie oor ‘n sonde natuur beskik het nie, en derhalwe kon van hulle sy versoeking om teen God te rebelleer weerstaan het en getrou aan die Here gebly het. Dit sou beteken dat Satan nie beheer oor die aardse teokrasie sou kon bekom nie, omrede een van Adam se nasate, wat aan die Here getrou gebly het, dan die rol as God se verteenwoordiger oor die aardse teokrasie sou oorneem en as God se verteenwoordiger oor die aarde sou regeer. Dit sou beteken dat die duiwel nie daarin geslaag het om die teokrasie op aarde vanuit God se koninkryk na sy eie koninkryk oor te bring nie.

Vir die duiwel om dus oor sy eie vorm van ‘n universele koninkryk te regeer, moes hy op die een of ander wyse die heerskappy van Adam, God se verteenwoordiger op aarde afrokkel en sodoende die teokratiese koninkryk op aarde van God weg steel. Satan het derhalwe aarde toe gekom, en van die slang se liggaam gebruik gemaak en sodoende aan die eerste mense op aarde, die belofte voorgehou, dat indien hulle teen God se gebot (en by implikasie teen God) sou rebelleer, hulle soos God sou word.
Gén 3:1 “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 3:2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3:3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Die strategie wat die duiwel op Eva toegepas het, was soortgelyk aan die wat hy gebruik het om die engele van God, wat in die Hemele se gedeelte van God se universele koninkryk onderdane was, weg te rokkel. Derhalwe het hy daarin geslaag om die volle getal van die mense op aarde, (Adam en Eva wat toe nog nie gepropageer het nie) deur die sondeval, vanuit God se koninkryk na sy eie koninkryk af te rokkel.
Gén 3:6 “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 3:7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.”

As gevolg van Adam se sondeval het God Sy verteenwoordiger, deur wie Hy die aardse gedeelte van Sy universele koninkryk sou regeer het, verloor. Dus was die teokrasie nie meer in werking nie, en het die duiwel in sy doel geslaag om die heerskappy van die wêreld/kosmos by God te steel. Derhalwe kan daar ‘n paar feite weergegee word, wat as bewys sal dien dat die duiwel wel tydelik heerskappy oor hierdie wêreld bekom het. Eerstens het die duiwel, ten tye van Jesus se eerste koms, al die koninkryke van die aarde aan die Here Jesus Christus aangebied, met die voorwaarde dat die Here Jesus Christus neerval en Satan aanbid. Boonop het die duiwel dit duidelik gemaak, dat hy oor die mag beskik, om al die koninkryke van die wêreld aan enigiemand te oorhandig soos wat hy goeddink. ‘n Stelling wat hy nie sou kom maak indien dit nie die waarheid was nie. Indien dit nie die geval was nie, sou die Here dit so aan hom uitgewys het, maar Jesus het nie.
Luk 4:5 “Toe bring die duiwel Hom (Jesus Christus) op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd. 4:6 En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.”
En derhalwe het die Here ook Satan as die owerste van hierdie wêreld omskryf:
Joh 14:30 “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.”
Tweedens het die Apostel Paulus die duiwel as die God van hierdie wêreld beskryf:
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
Die derde feit wat hier weergegee kan word, is die feit dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is. Indien God die heerser van hierdie wêreld/kosmos was, sou Jakobus nie onderstaande stelling kon maak nie.
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” (Onthou egbrekers en egbreeksters is mense wat ontrou aan ‘n ander persoon is. In hierdie geval was hulle ontrou aan God, omrede hulle lief vir hierdie wêreld sisteem is!)
En laastens waarsku die Apostel Johannes ons dat die hele wêreld in die boosheid lê. (Letterlik “In boosheid lê, en kan ook vanuit die Grieks as “In die bose een” vertaal word.)
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
Bostaande teksgedeelte kan ook as volg vanuit die oorspronklike Grieks vertaal word:
“Ons weet dat ons (alle gelowiges) uit God is en die hele wêreld in die bose lê”

Met die sondeval het Adam en Eva geestelik gesterwe, en het derhalwe hulle sondelose natuur vrywilliglik, deur Satan se verleiding, prysgegee en ‘n sonde natuur bekom wat hulle nie voor die sondeval gehad het nie. Omrede ‘n mens na sy eie soort voortplant, het Adam en Eva daardie gevalle toestand/sonde natuur aan hulle kinders oorgedra, en derhalwe word alle kinders in ‘n gevalle toestand en in sonde gebore, en vorm hulle dus deel van Satan se koninkryk en derhalwe moet hulle die Evangelie hoor, verstaan en glo alvorens hulle na God se koninkryk oorgeplaas kan word.
Kol 1:13 “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, 1:14 in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.”
Daarom is dit van uiterste belang om die Evangelie aan die hele mensdom te verkondig!

Na die sondeval het God voorspel dat daar vyandskap tussen die duiwel en die vrou sal wees, en dat daar vyandskap tussen haar saad en die duiwel se saad sou wees. ‘n Kind wat vanuit die vrou gebore sou word, sou Satan se kop vermorsel, en Satan sal daardie Nasaat van die vrou aan die hakskeen byt, wat na die Here Jesus Christus se lyding en kruisdood verwys. (Let wel, dat daar geen sprake van die man hier is nie. Dus kan dit as ‘n indirekte verwysing na die Here Jesus Christus se maagdelike geboorte beskou word.)
Gén 3:15 “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy (Die Here Jesus Christus) sal jou die kop vermorsel, (fatale hou toedien) en jy (Satan) sal hom (Jesus Christus) in die hakskeen byt.” (Jesus Christus se kruisdood)
Dus het die Here Jesus Christus se oorwinning aan die kruis die grondslag gelê waarop Hy met Sy wederkoms weer die teokratiese op aarde gaan oprig en hierdie gebeurtenis sal na afloop van die Groot Verdrukking plaasvind en nie voor die tyd nie. (Lees gerus die artikel “Koninkryk Nou vs Koninkryk Kom“)

Onthou Satan het die teokrasie by Adam, God se verteenwoordiger op aarde afgeneem, en derhalwe moet die tweede Adam (Die Here Jesus Christus) ook weer die teokrasie op aarde vestig, en fisies vanuit die huidige stad Jerusalem, wat op aarde geleë is, as God se verteenwoordiger oor die aarde vir ‘n duisend jaar lank regeer.
Opn 19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 19:12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 19:13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 19:14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 19:16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”
Bostaande teksgedeelte stel dit baie duidelik dat die Here Jesus Christus, persoonlik met Sy wederkoms, Sy koninkryk op aarde sal kom vestig en nie die Kerk nie. Boonop sal die duiwel dan vir duisend jaar gebind word, en dan weer vir ‘n kort tydperk vrygelaat word alvorens hy finaal in die poel van vuur gewerp sal word.
Opn 20:3 “en hom (die duiwel) in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. 20:4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”
Die gelowiges regeer egter saam met die Here vir duisend jaar lank op aarde wat as ‘n teokrasie sal funksioneer. (Die Here Jesus Christus sal dan as God se verteenwoordiger oor die aardse teokrasie regeer net soos wat Adam oorspronklik moes gedoen het.) Dit was op aarde waar Satan die oorwinning oor die eerste Adam behaal het, en derhalwe is dit noodsaaklik dat die tweede Adam (Die Here Jesus Christus) ook op aarde die oorwinning oor Satan moet behaal, anders sal die teokrasie op aarde nog steeds in Satan se hande bly. (Lees asb die artikels “Die Wit Troon Oordeel” asook die reeks artikels “Profetiese Rede op die Olyfberg”)

Om hierdie rede het Satan, vanaf die geboorte van die Here Jesus Christus af, gepoog om die Here te verhoed om, op God se wyse en tyd, vir die mensdom se sondes aan die kruis te betaal en daardeur die oorwinning oor die duiwel aan die kruis behaal. Daar is geen twyfel dat dit die duiwel was wat Herodes aangepor het om alle seuntjies onder twee jaar oud in Bethlehem, en omgewing, om te bring om sodoende te verhoed dat die Here Sy doelstellings op aarde suksesvol sou afhandel nie.
Mat 2:16 “Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.”
Dit was ook Satan wat agter die apostel Petrus se pogings gestaan het om te verhoed dat die Here vir die mensdom se sondes aan die kruis sou sterwe, en dit is die rede waarom die Here Petrus so streng aangespreek het.
Mat 16:21 “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word. 16:22 Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! 16:23 Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”
In bogenoemde teksgedeelte maak die Here dit duidelik, dat dit die duiwel was wat Petrus wou gebruik om die Here, in die uitvoering van Sy doelstellings op aarde, te dwarsboom. Die hoofrede waarom die Here Jesus met Sy eerste koms aarde toe gekom het, was om vir die mensdom se sondes aan die kruis versoening te doen. Derhalwe was die doel vanaf Sy geboorte altyd gewees om aan die kruis te sterwe!

Dit was ook Satan self wat in Judas die verraaier ingevaar het en wat hom so ver gekry het om die Here Jesus te verraai.
Luk 22:2 “En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon ombring, want hulle het die volk gevrees. 22:3 En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was. 22:4 Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer. 22:5 En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee. 22:6 En hy het toegestem en na ‘n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan hulle oor te lewer.”
Onthou Judas was nie ‘n onwillige slagoffer van Satan nie, hy was ‘n gewillige medewerker van Satan!

Ter Afsluiting: Omrede deel twee van hierdie studie alreeds te lank is, sal ons in deel drie van hierdie studie die Here Jesus se versoeking in die woestyn onder die soeklig plaas, en dit in fynere besonderhede bespreek, sodat die gelowige ‘n duideliker beeld van die duiwel se werkwyses en tegnieke kan bekom.
2Ko 2:11 “want ons is met sy planne nie onbekend nie.”
Dit is boonop belangrik dat ons weet waarom die Here tydelik Satan, asook die mensdom, se rebellie teen Hom verdra en toelaat. Die Here wil deur middel van die geskiedenis bewys dat daar naas Hom geen wese is wat oor die heelal met sukses kan regeer nie. Boonop sal die geskiedenis aandui, dat waar enige geskape wese poog om in onafhanklikheid van God te lewe en regeer so ‘n poging altyd in chaos ontaard. Die Here sal in die ewigheid kan terugwys na die geskiedenis, soos wat ons dit ken, en hierdie geskiedenis sal God se onbeskryflik genade en liefde tentoonstel.
Efs 2:4 “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 2:5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 2:6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, 2:7 sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.”

Daar is dus geen ander God naas Hom nie, en rebellie van enige aard teen God en Sy totale heerskappy sal ‘n fatale fout wees. Dus is die doel van God met die skepping, wat ook die mensdom se geskiedenis insluit, die Glorie en Heerlikheid van God. Ja, die verlossing van die mens speel ‘n baie belangrike rol in hierdie plan, maar daar is baie meer fasette in hierdie plan van God, naamlik: 1) God se plan met die heelal/skepping; God se plan met die engele; God se plan met die gevalle engele; God se plan met die volk Israel; God se plan met individuele verlossing; God se plan met die Kerk. (Bestudeer asb aangehegde illustrasie “Die Doel van God in Menslike Geskiedenis“) En daarom is dit van uiterste belang om ons Bybels te ken en verstaan, want dit is deur die Bybel waardeur God met ons praat. En daarom is dit net gepas om hierdie artikel met die Apostel Petrus se tydlose vermaninge af te sluit!
1Pe 5:1 “Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ‘n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: 5:2 Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; 5:3 ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. 5:4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang. 5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 5:6 Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. 5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. 5:10 En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! 5:11 Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.”

Seën Groete!!

Vic

Ter Inligting: Nog ‘n rede waarom die Here so lank neem om Sy koninkryk op aarde te kom vestig, is omrede Hy alle mense met ‘n vrye wil geskape het, en in Sy genade wil Hy hê dat almal die Evangelie moet glo en gered word. Dit is nie ons Hemelse Vader se begeerte dat een persoon verlore moet gaan nie! (Ongelukkig gaan die oorgroot meerderheid van mense God se aanbod verwerp en die gevolge van daardie keuse self in die poel van vuur moet dra!)
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Hoeveel te meer behoort ons as gelowiges nie nou, op die een of ander wyse, met die verkondiging van die Evangelie besig wees nie. (Indien die Here dit op die leser se hart lê kan die leser die volgende skakel vol en ‘n kort weergawe van die Evangelie uitdruk en eksemplare daarvan orals opplak en uitdeel soos wat hy/sy goeddink. Hier is die skakel “Hoe om die Ewige Lewe te Ontvang

 

Deel met ander asb.