Die duiwel se aktiwiteite

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 4

Tydens die versoeking om die klippe in brode te verander het ons gesien hoe die duiwel die Here versoek het om ‘n vleeslike behoefte buiten God die Vader se wil vir Hom te bevredig. (Lees asb dele een, twee en drie van hierdie reeks studies, om ‘n deeglike agtergrond kennis rondom hierdie aangeleentheid te bekom en waar die versoeking om die klippe in brode te verander ook deeglik bespreek is.) 1 Joh. 2:6 gee aan ons die drie kanale waardeur die duiwel van die wêreld/kosmos (waaroor hy beheer uitoefen) gebruikmaak om die mensdom te verlei, naamlik:
1Jo 2:15 “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 2:17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
Soos alreeds genoem, het Satan die Here langs drie van die mens se sterkste drange versoek, naamlik fisiese/vleeslike aptyte, die begeerte vir mag en besittings, asook die begeerte vir publieke aanvaarding en/of erkenning. Die mensdom word nog steeds deur hierdie drie drange versoek!

Die versoeking om die duiwel te aanbid en sodoende al die koninkryke van die wêreld te bekom:
Luk 4:5 “Toe bring die duiwel Hom op ‘n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ‘n oomblik se tyd. 4:6 En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. 4:7 As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.”
Opmerking:Tydens die versoeking om die klippe in brood te verander het Satan die Here met die begeertes van die vlees versoek. Met die versoeking om al die koninkryke van die wêreld te bekom, deur hom te aanbid, maak die duiwel gebruik van die begeertes van die oë om die Here te versoek. (1Joh. 2:16)

In bogenoemde teksgedeelte merk ons hoe die duiwel die Here na ‘n hoë berg neem en al die koninkryke in ‘n oogwink aan Hom wys. Die vraag wat dan logies ontstaan, is of Satan wel oor die mag beskik om so iets te kan doen? Die antwoord op hierdie vraag is ‘n onomwonde ja! Die Skrifte stel dit duidelik dat die duiwel wel oor baie groot mag/krag beskik, en indien God hom toelaat, Satan uitsonderlike wonderwerke kan verrig. Volgens die Skrifte bestaan daar geen twyfel dat die duiwel, binne die raamwerk van God se wil, wel oor die krag beskik om die Here na ‘n hoë berg te neem nie. Boonop stel die Skrifte dit ook duidelik, dat Satan oor die mag beskik het om die Here na die tempel te neem en Hom op die dak van die tempel staande te maak. (Luk. 4:5) Dus het die duiwel oor die vermoë beskik om die Here na sekere geografiese plekke op aarde te neem.

In die boek van Job sien ons tot watse mate God die duiwel toegelaat het om van sy mag gebruik te maak om Job te toets. Dit is ook in hierdie boek waar ons opmerk hoe Satan oor die mag beskik om onheil en rampe oor Job self, sy kinders en sy eiendom te bring.
Job 1:10 “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE. 1:13 En op ‘n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer, 1:14 kom ‘n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle, 1:15 het die Sabeërs ‘n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 1:16 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 1:17 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ‘n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel. 1:18 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, 1:19 toe daar meteens ‘n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.”
Satan was ook instaat om mense in die uitvoering van sy doelstellings aan te wend ( iets wat hy nog steeds doen) en hy het ook die kragte van die natuur aangewend om Job se kinders en sy eiendom te vernietig. Hy was ook instaat om fisiese siektes (binne die raamwerk van God se wil) op Job te lê.
Job 2:4 “Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe; 2:5 maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! 2:6 En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe. 2:7 En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel. 2:8 En hy het vir hom ‘n potskerf geneem om hom daarmee te krap, terwyl hy in die as sit.”
Hoe sal ons optree as ons in so situasie geplaas word?

Verder stel die Skrifte dit ook duidelik dat die duiwel oor die vermoë beskik om homself as ‘n engel van lig voor te doen, en derhalwe word miljoene mense deur hom op hierdie wyse mislei.
2Ko 11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”
En in Openbaring 13:13-17 merk ons op dat Satan tydens die Verdrukking groot tekens sal bewerkstellig wat die mensdom op grootskaal gaan verlei.
Opn 13:13 “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 13:14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 13:15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. 13:16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 13:17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.”
Dus is daar geen rede om te dink dat die duiwel nie oor die vermoë beskik het om die Here na ‘n hoë berg te neem, en in ‘n oogwink al die koninkryke van die aarde aan Hom te wys nie.

Soos wat alreeds in hierdie reeks artikels gedemonstreer is, het die duiwel wel die reg gehad om al die koninkryke van die wêreld aan die Here Jesus Christus aan te bied. Die term “ koninkryke van die wêreld” beteken die hele bewoonde aarde, wat die hele omvang van al die wêreld se regerings insluit, en daarom noem die Here die duiwel “die owerste van hierdie wêreld” en waarom Paulus die duiwel “die god van hierdie wêreld” noem. Satan se heerskappy oor hierdie wêreld sisteem het sy aanvang met die sondeval van die mens gehad toe hy daarin geslaag het om die eerste Adam te verlei, deur om hom so ver te kry om in onafhanklikheid vir God, en Sy wil vir hom, op te tree en God se verbod oor die eet van die boom, van die vrugte van die kennis van goed en kwaad, te oortree.
Rom 5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Dit is na afloop van die sondeval waar al die koninkryke van die aarde aan Satan oorgegee is.
Luk 4:6 “En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.”
Die feit dat die Here Jesus Christus nie die duiwel se stelling, soos hierbo weergegee, weerspreek of korrigeer het nie, dien as onomwonde bewys dat die duiwel tydelik in beheer van hierdie wêreld se koninkryke is en dat hy oor die reg beskik het om dit as loon aan die Here voor te hou.

Dit blyk dus duidelik dat Satan met hierdie versoeking die Here so ver wou kry om hom te aanbid, sodat die Here die beloofde heerskappy oor die aardse teokrasie van God se universele koninkryk kon bekom, sonder om eers aan die kruis vir die mensdom se sondes versoening te doen, soos wat dit God die Vader se wil vir Hom was. Dus was Christus versoek om die teokrasie op Sy eie tydsberekening en wyse, buite God se tydsberekening en onafhanklik van die Vader te bekom en dit sonder om die smarte en vernedering van die kruisdood te ervaar. Dit moet in gedagte gehou word dat die Ou Testamentiese profesieë voorspel dat God die Vader aan Jesus Christus die heerskappy oor die aardse teokrasie belowe het. In Ps. 2 sien ons dat die HERE ‘n belofte aan die Seun maak, dat God die Vader, die Jesus Christus as Sy koning oor die aardse gedeelte van Sy universele koninkryk sal aanstel en dat Hy die uithoeke van die aarde as besitting aan Jesus Christus sal gee.
Psa 2:4 “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. 2:5 Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: 2:6 Ek tog het my Koning (die Here Jesus Christus) gesalf oor Sion, my heilige berg. 2:7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. (die Here Jesus Christus se geboorte as mens in hierdie wêreld met Sy eerste koms) 2:8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. 2:9 U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot. (nie die kerk soos wat baie mense beweer nie. Die Here Jesus Self sal Sy koninkryk op aarde, na afloop van die Groot Verdrukking, op aarde kom vestig.) 2:10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 2:11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 2:12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!”
Bogenoemde profesie is maar net een van vele waar God in die Ou Testamentiese Skrifte belowe dat die Here Jesus Christus as Koning oor die aardse gedeelte van Sy universele koninkryk sal regeer. Dit is dus duidelike dat die Here Jesus Christus vooraf geweet het dat Hy al die koninkryke as besitting by die Vader sou ontvang.

Dit is ook ‘n feit dat dieselfde Ps. 2 voorspel het dat alvorens die die Seun al die koninkryke van die aarde as besitting sal ontvang, en as God se verteenwoordiger oor hulle sal regeer, die nasies van die aarde eers teen die beloofde Koning in opstand sal kom, naamlik:
Psa 2:1 ”Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2:2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 2:3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”
Hierdie profesie is gedeeltelik met Christus se kruisiging vervul, en sal tydens die laaste gedeelte van die Groot verdrukking volledig in vervulling gaan, wanneer al die nasies van die aarde in opstand teen Christus sal wees. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die reeks artikels “Profetiese rede op die Olyfberg” sorgvuldig te lees.) Hand. 4: 25-28 bevestig dan ook hierdie feit, nadat die owerstes en ouderlinge van die Joodse volk die dissipels wou verhoed om in die naam van die Here Jesus te preek, naamlik:
Hnd 4:23 “En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het. 4:24 En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, 4:25 wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? 4:26 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 4:27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 4:28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. 4:29 En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,”

Verder gee Ps. 22: 1-21 ons ‘n duidelike omskrywing van die gebeure tydens die Here Jesus Christus se kruisiging, naamlik:
Psa 22:1 “Vir die musiekleier; op die wysie van: “Die hert van die dageraad.” ‘n Psalm van Dawid. My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul? 22:2 My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie. 22:3 Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel! 22:4 Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. 22:5 Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie. 22:6 Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk. 22:7 Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê: 22:8 Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom! 22:9 Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. 22:10 Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God. 22:11 Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie. 22:12 Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. 22:13 Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul. 22:14 Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. 22:15 My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. 22:16 Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. 22:17 Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! 22:18 Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad. 22:19 Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help! 22:20 Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond. 22:21 Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor! 22:22 Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.”

Vanaf vers 27-31 gee die Heilige Gees d.m.v. Dawid ‘n beskrywing van die Here Jesus Christus se komende teokratiese vrederyk, wat duisend jaar lank sal duur en wat die ewigheid sal voorafgaan en inlei.
Psa 22:26 “Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe! 22:27 Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. 22:28 Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies. 22:29 Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie. 22:30 ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag. 22:31 Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.”
Satan het dus aan die Here iets voorgehou wat alreeds aan Hom belowe was. Die duiwel het egter ‘n kortpad, wat die kruisdood omseil, aan Christus voorgehou en hy doen nog steeds dieselfde met gelowiges van vandag. In die raadsplan van God het die drie Persone van die Drie-Eenheid besluit dat die kruis voor die glorie sou kom, en die Here Jesus Christus sou nooit hierdie raadsplan van God omseil nie. Jesus Christus sou dus nie ‘n regmatige doelstelling op ‘n verkeerde/ongeoorloofde wyse bekom nie. Boonop versoek die duiwel die mensdom nog steeds met die hier en nou, (dus met die tydelike) asook met die maklikste uitweg wat God se wil vir ons omseil!

Dit moet ook verder in gedagte gehou word, dat die Here Jesus in die tuin van Getsémané, oor die feit dat al die mensdom se sondes op Hom geplaas sou word, en Hy deur die Vader daarvoor gestraf sou word, geworstel het.
Mat 26:37 “En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. 26:38 Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. 26:39 En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Lukas verskaf verdere inligting oor hierdie gebeure, en bevestig die feit dat die Here Jesus in ‘n sware stryd gekom het, en tot so ‘n mate dat Sy sweet in bloed verander het. In die mediese wetenskap staan hierdie verskynsel as Hematidrosis bekend en dit vind plaas wanneer ‘n persoon uiterste vakke van fisiese of emosionele stres ervaar.
Luk 22:44 “En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.”
Omrede Jesus Christus God is, het Hy vooraf geweet wat dit sou verg om vir die mensdom se sondes te sterwe, en Hy het die volle omvang van die verskriklike smarte, om van van Sy Vader geskei te wees, vooraf geweet en om hierdie rede het Hy die mate van stres beleef wat veroorsaak het dat Sy sweet in bloed verander het.

Die Here Jesus se antwoord op Satan se versoeking:
Luk 4:8 “En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”
Opmerking: Omrede Jesus Christus self God is, en derhalwe alwetend is, was Hy altyd ten volle bewus wat die verwoestende gevolge van sonde sou meebring, en daarom was Hy ten volle bewus van die feit dat indien Hy neer sou val en Satan sou aanbid, Hy nie werklik die soewereine Koning van konings oor die wêreld sou wees nie, maar dat Hy eerder ‘n onderdaan en slaaf van die duiwel sou wees. Om Satan te aanbid sou dus beteken dat die Here van Satan afhanklik is. Hy wat God self is, en wat die heelal geskape het en alles deur Sy woord onderhou, sal dan een van Sy skepsele aanbid! (Heb. 1:3) Die Here Jesus Christus haal toe Deut. 6:13 en Deut. 10: 20 aan wat soos volg lees:
Deu 6:13 “Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.
Deu 10:20 Die HERE jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by sy Naam sweer.”
Die Here Jesus stel dit duidelik dat Hy net die wil van Sy Vader sal, en kan, uitvoer en Hy gaan verder en stel dit duidelik dat slegs God (en dit sluit die tweede Persoon in die Drie-Eenheid, naamlik die Seun in) aanbid moet word. Die Here stel dit dus baie duidelik dat die skepsels (in hierdie geval Satan) die Skepper (Die Drie-Enige God, wat God die Seun insluit) moet aanbid, en nie anders om nie. In kort, Satan moet die Here Jesus Christus aanbid en nie anders om nie! Hierdie stelling geld vir die mensdom ook. Omrede die duiwel nie God is nie, maar ‘n geskape wese is, moet hy geensins aanbid of toegelaat word om gelowiges as sy werktuie te gebruik nie.

God die Vader se wil, en tydsberekening, is en was altyd dat Jesus Christus eerstens vir die mensdom se sondes versoening moes doen en daarna sou Hy die reg tot al die koninkryke van die wêreld bekom. Christus sou egter eers met Sy wederkoms Sy koninkryk op aarde oprig, nadat Hy deur middel van die Verdrukking, die Satan se beheer oor die wêreld se koninkryke verbreek het.
Opn 19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 19:12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 19:13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 19:14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 19:16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. 19:17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, 19:18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. 19:19 En ek het die dier (die Antichris) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. 19:20 En die dier (die Antichris)  is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 19:21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”
Dus, sou die Here Jesus Christus nooit in onafhanklikheid, en in eie wil, buite die raamwerk van God die Vader se wil en handelswyse vir Hom, asook die Vader se tydsberekening gebruikmaak, deur die maklikste uitweg te neem, en sodoende God se wil omseil nie al sou dit beteken, dat die Vader se wil vir Hom, die weg en smarte van die kruis ingesluit! Dieselfde beginsel geld vir ons!

Ter afsluiting: Die Vader se wil vir die Seun was om eers te ly en dan glorie te ontvang. Dieselfde beginsel geld vir diegene wat tydens die Kerk Dispensasie leef.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Joh 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. 15:20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. 15:21 Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.
2Ti 3:12 n almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.
1Pe 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.”
Slegs na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking, wanneer ons met ons verheerlikte liggame oorklee is, sal ons totaal en al van lyding, siekte, fisiese dood, hartseer en swaarkry verlos wees! (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees.) Derhalwe moet gelowiges daarteen waak om nie hulle geestelike geboortereg vir die tydelike glorie van hierdie wêreld te verruil nie. Boonop moet ons nooit die skepping of enige iets in die skepping aanbid nie, maar slegs die Skepper alleenlik aanbid en Hom in gehoorsaamheid dien. Ook moet ons nooit onafhanklik van God en van metodes buite Sy wil gebruikmaak om Sy beloftes aan ons te bewerkstellig nie. Ons moet geduldig op Hom en Sy beloftes vertrou, sodat Hy binne die raamwerk van Sy wil en tydsberekening vir ons kan optree en aan ons gee wat Hy aan ons belowe het. Onthou God is nooit te vroeg of laat nie, al mag dit soms vir ons so voel. En onthou:
Heb 11:1 “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”

Ons kan nie verwag om as konings in hierdie wêreld te regeer terwyl die Here Jesus Christus deur die oorgroot meerderheid mense verwerp word en waar Hyself nog nie Sy teokratiese heerskappy op aarde gevestig het nie. (Lees asb die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” vir meer inligting) En daarom kan ons vervolging en lyding in hierdie bose wêreld te wagte wees,
Rom 8:16 “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte. Alle gelowiges ontvang met wedergeboorte God as hulle erfporsie!) en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking wat lyding vir geregtigheid insluit, en wat groot loon insluit) sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. (Fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking! Tot die mate waarin ons die Here op aarde as getroue dissipels navolg, en wat lyding en opofferings vir Hom insluit, tot daardie mate sal ons saam met Hom verheerlik word.) 8:18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word”; “ Gelykenis van die ponde” asook “Hemelse lone, Krone en goeie werke” te lees. Om hierdie rede moet ons nie sonde in ons lewens duld nie, en derhalwe behoort ons God die Vader se wil vir ons na te streef, al beteken dit dat ons deur die wêreld verwerp, sleggesê of vervolg sal word.
1Jo 1:5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
En onthou die Here se vermaning:
Joh 14:23 “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 14:24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.”

Seën Groete

Vic

Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 1
Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 2
Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref. Deel 3

 

 

 

Deel met ander asb.