Die Gelykenis van die Onkruid

Die Gelykenis van die Onkruid

Mat 13:24 “‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; 13:25 maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. 13:26 En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. 13:27 En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? 13:28 En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? 13:29 Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. 13:30 Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.
Opmerking: Dit is baie belangrik om te onthou. Net soos met die gelykenis van die saaier, het ons hier te doen met mense wat dalk uiterlik mag voorkom as kinders van die koninkryk, maar dit nie in werklikheid is nie. Ander is egter gered soos die gelykenis van die saaier verduidelik. Maar vir die normale mens sal dit nie altyd opsigtelik wees nie, omrede net God mense se harte ken en weet wie werklik Sy kinders is, en soos ons in die gelykenis van die Saaier gesien het, dra nie al die kinders van God vrugte soos wat Hy van hulle verwag nie. In Israel is daar ‘n grassoort wat soms saam met die koring opkom wat ‘n draer van ‘n fungus is wat die grassoort giftig maak vir mens en dier. Dit was ook moeilik om die twee plantsoorte van mekaar te onderskei as hulle jonk was, maar as hulle gereed was vir die oes, kon mens hulle redelik maklik van mekaar skei.

Mat 13:36 “Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.
Opmerking: Ons sien dat Jesus nadat Hy die skare weggestuur het, huistoe gegaan het. Hy het Sy gesprek met net Sy dissipels in die huis voortsit. Baie profetiese kenners sien in hierdie gedeelte ‘n profetiese verwysing dat die Here, net soos in die tyd van Elía, vir Hom ‘n oorblyfsel van die volk Israel sal spaar wat nie ongelowig sal wees soos die meerderheid van die volk was nie. En dit is ‘n herinnering en waarskuwing aan sommige mense wat beweer dat God vir ewig klaar is met Israel as volk. Hierdie en baie ander gedeeltes in die skrif weerlê so ‘n interpretasie. Romeine 11:2-5 stel dit duidelik.
Romeine 11:2 “God het sy volk wat Hy vantevore geken het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor Elía sê nie? hoe hy by God optree teen Israel en sê: 11:3 Here, hulle het u profete gedood en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! 11:4 Maar wat sê die Godspraak aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. 11:5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.

So, dit is duidelik dat God nie Sy volk Israel permanent verwerp het soos wat sommige mense beweer nie. Hy het nog altyd vir Homself ‘n klein minderheid bewaar, en die Bybel stel dit duidelik, dat as God klaar vir hom ‘n bepaalde groep heidene uit die nasies bymekaar gemaak het Hy weer sal terug draai en met Sy volk Israel sal werk, en deur middel van die groot verdrukking hulle kry om Jesus aan te roep en so weer, as volk, gered te word. Dit is egter ‘n onderwerp vir ‘n aparte artikel. Vir eers sal Romeine 11:12 moet voldoen.
Rom 11:12 “En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!”
So, deur om met Sy dissipels in die huis die gesprek voort te sit demonstreer dalk profeties dat Hy nie Sy volk heeltemal sal verwerp nie, maar dat Hy vir Homself altyd ‘n groepie getroue dienaars bewaar. Onthou al Sy dissipels hier teenwoordig was Jode in die fisiese land Israel waar Israel vandag weer is.

Mat 13:37 “En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, 13:38 en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,”
Opmerking: Jesus is die saaier, en het in Sy persoonlike hoedanigheid direk gesaai toe Hy fisies hier op aarde teenwoordig was. Die saailand is die wêreld en die goeie saad is die kinders van die koninkryk, dus die wat in die gelykenis van die saaier, die woord, gehoor het en geglo het. In die gelykenis van die saaier was die klem op die ontvangs van Jesus en Sy woord. In die gelykenis van die onkruid handel dit hoofsaaklik oor die gesindheid en die harte van die hoorders. Vanaf Sy hemelvaart saai Jesus deur middel van sy diensknegte in die daaropvolgende tydperke, tot vandag toe, en van vandag af totdat Hy weer kom. Dan sal Hy fisies vanuit die huidige Jerusalem die aarde regeer vir duisend jaar lank. Die onkruid is die mense wat die woorde van Jesus gehoor het en dit nie geglo het nie. Dit sluit ook mense in wat ‘n valse evangelie of werke evangelie verkondig en wat in werklikheid in diens van die Duiwel staan. Dit is die mense by wie die duiwel gekom en die woord uit hulle harte weggeneem het. (volgens die gelykenis van die saaier). NB. Lees eers die gelykenis van die saaier as jy dit nog nie gedoen het nie, omrede die gelykenisse op mekaar volg om ‘n volledige beeld te skep.

Mat 13:39 “en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.
Opmerking: Die duiwel probeer altyd alles namaak wat God doen, en hy saai sy kinders onder die wat werklik kinders van die koninkryk is. Hulle sit saam met ons in die kerke, sing dieselfde liedjies, leef selfs goeie lewens, maar glo nie werklik in die Here nie. (NB! Dieselfde woord wat gebruik word vir wêreld kan as eeu vertaal word en is volgens baie kenners die regte woord wat hier kon geplaas gewees het. Baie  Engelse vertalings het dit reggestel.) Baie van hierdie mense staan op kansels en verkondig ‘n valse evangelie, wat dalk mooi mag klink, maar wat in werklikheid miljoene mense hel toe sleep.

Mat 13:40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld:
Opmerking: Neem kennis, dat die tydperk waarvan hier gepraat word, nie net die kerk dispensasie insluit nie maar die hele tydperk vanaf die eerste koms van die Here tot en met Sy wederkoms, direk na afloop van die Groot Verdrukking. Die wegraping van die kerk is nie hier ter sprake nie. Ons het hier te doen met die koninkryk van die Here in afwesige vorm en nie waar Jesus openlik regeer nie d.w.s Jesus werk in mense se harte en mens kan nie met sekerheid sê wie werklik kinders van die koninkryk is of nie. Op hierdie stadium weet net die Here dit. Onthou die kerk dispensasie strek vanaf pinkster (Uitgieting van die Heilige Gees) tot en met die wegraping van die kerk, wat as die tydperk van genade of kerk dispensasie bekend staan. (Sal in aparte artikel behandel word.)

Mat 13:41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, 13:42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 13:43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
Opmerking: Ons merk hier dat die maaiers die Engele is en die Here stuur hulle met Sy wederkoms uit, om al die struikelblokke en sondaars (die Onkruid) bymekaar te maak en hulle in die vuuroond te gooi. Let daarop dat ons almal verdien om in die vuuroond gegooi te word, maar Jesus het ons sondes aan die kruis gedra en daarvoor met Sy lewe betaal. Dus sien die Vader alle ware gelowiges in Jesus as heilig en geregtig, omrede Jesus, Sy geregtigheid vir ons gegee het en ons sondes op homself gevat het. Dankie Vader dat U, U Seun in ons plek gestraf het, sodat ons nie saam met die ongelowiges (Onkruid) gestraf hoef te word nie. Hierdie oordeel loop parallel met die oordeel van die bokke en skape in Mattheus 25:31-46 (Ons sal daardie gelykenis in ‘n ander artikel behandel.)

Die regverdiges is mense wat nie die wegraping van die kerk meegemaak het nie, maar wat tydens die verdrukking tot geloof in die Here Jesus Christus kom en lewend in die koninkryk van hulle Vader ingaan, waar Jesus fisies vir duisend jaar lank sal regeer. Hierdie dispensasie staan as die millenium bekend. Die Kerk of bruid van Jesus sal met die wegraping van die aarde na die Hemel geneem word en gaan dus nie deur die verdrukking nie. Daarom is dit baie belangrik om die Evangelie te verkondig.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.