Gebed

Basiese Grondbeginsels oor Gebed

Ware Christenskap is nie soseer ‘n godsdiens nie, maar dit is eerder ‘n persoonlike intieme verhouding met God, wat Hy deur middel van Sy Seun, die Here Jesus Christus, met Sy voltooide werk aan die kruis vir ons bewerkstellig het, en waarin ons toetree, die oomblik wanneer ons geloof, in die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, vir ons persoonlik plaas. En soos almal van ons weet, speel wedersydse kommunikasie (gebed) ‘n baie groot rol in die kwalitatiewe aspek van enige verhouding. Dieselfde beginsel geld vir die gelowige na aanvanklike wedergeboorte d.w.s fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees, want dit is van uiterste belang om deeglike kennis van hierdie aspek van ons verlossing te dra.)

Wat is gebed? Gebed is om persoonlik en direk met God in gesprek te tree, net soos wat ons met ons aardse vaders in gesprek sou tree. Dit is ook dan elke gelowige se voorreg om ter enige tyd met sy hemelse Vader in gesprek te tree. (Anders as wat dalk met ons aardse vaders die geval is, is God, ons Hemelse Vader, nooit onwillig of te besig om na ons te luister nie.)
Gal 4:4 “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 4:5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. (fase een van ons verlossing, wedergeboorte.) 4:6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap)
Omdat ons deur die Heilige Gees geregenereer is, kan ons met vrymoedigheid ons hemelse Vader aanroep, en indien ons die Heilige Gees toelaat, sal Hy ons altyd daartoe lei om met ons hemelse Vader in gesprek te tree. Dit is immers ons hemelse Vader se wil, dat ons met Hom deur gebed praat! Martin Luther het gesê, dat gebed nie ‘n poging is om God se onwilligheid te oorkom nie, maar om Sy gewilligheid aan te gryp. Hierdie stelling is nogal waar!

Gebed moet aan ons Hemelse Vader gerig word.
Mat 6:6 “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”
Alle gebede moet in die naam van die Here Jesus Christus aan die Vader gerig word.
Joh 14:13 “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
Joh 16:23 En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. 16:24 Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”
Saam met dit alles, moet ons ook in die krag van die Heilige Gees, ons gebede aan God rig.
Efs 6:18 “terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
Jud 1:20 Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid”
Daarom is dit belangrik om in die Gees te bid, want die Heilige Gees kom ons swakhede tegemoet en tree vir ons met onuitspreeklike sugtinge by die Vader in.
Rom 8:26 “En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. 8:27 En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.”
En onthou, om in die Gees te bid, beteken nie dat ons in die een of ander brabbeltaal bid of in die gees val en rondrol nie. (Die leser word aangeraai om die artikels “Val in die Gees” en “In Vreemde Tale Spreek” te lees om meer inligting rondom hierdie onskriftuurlike praktyke te bekom.) Om in die Gees te bid is om toe te laat dat God, deur die Heilige Gees, Sy begeertes deur Sy woord (Die Bybel) in ons harte sit, en ons dan daarvolgens, in gebed, op ‘n rasionele wyse met God praat.

Ons gebede moet in lyn met God se wil vir ons, en Sy woord (Die Bybel) aan God gerig word.
Joh 15:7 “ As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
1Jo 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. 5:15 En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.”
Om hierdie rede is dit van uiterste belang, dat ons weet wat God se wil is, soos wat Hy dit in Sy woord, die Bybel, aan ons bekend maak en dan daarvolgens ons versoeke aan God rig. Indien ons hierdie opdragte uitvoer, sal ons opmerk dat ons gebede beantwoord word. Ongelukkig leef ons in ‘n tydperk waar gesonde Bybelse leerstellings verontagsaam en met emosionele gevoelens, vleeslike manifestasies en emosionele vermaaklikheid vervang word, en dan verstaan ons nie waarom God nie ons gebede wil beantwoord nie. As jy God se wil wil ken, en weet wat God aan jou wil sê, dan moet jy jou Bybel lees. Dit is immers God se woord en daarin openbaar Hy Sy wil aan jou.

Alle gebede moet in geloof gebid word anders kan ons nie van God verwag om ons gebede te beantwoord nie.
Jak 1:6 “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word 1:7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie— 1:8 so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.”
Indien ons egter in geloof bid, sal ons dalk verbaas wees wat God vir, in, en deur ons kan bewerkstellig en daardeur sal Sy heilige Naam verheerlik word.
Efs 3:20 “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, 3:21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.”
Andrew Murray het gesê, dat ons, wanneer ons bid, versigtig moet wees om God nie slegs deur ons gebrek aan geloof te beperk nie, maar ook dat ons dalk verkeerdelik onder die indruk mag verkeer, dat ons weet wat God werklik kan doen. Hy het voortgegaan en gesê dat ons die onverwagte moet verwag, omrede God die mag het om te doen ver bo alles wat ons kan bid of dink.

Ons gebede kan en behoort lofprysing en dank in te sluit.
Kol 1:3 “Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid,
Heb 13:15 Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.”
Dit is ook belangrik om te onthou dat ons ons sondes aan God moet bely.
1Jo 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Baie keer is onbenyde sonde in ons lewens die rede waarom die Here nie ons gebede beantwoord nie.
Psa 66:18 “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.
1Pe 3:7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.”
Daarbenewens moet ons ook ons versoeke aan die Vader rig.
Fil 4:6 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Boonop dit alles, behoort ons nooit op te hou om vir mekaar te bid nie. Met goddeloosheid wat oral aan die toeneem is, is dit juis nou die tyd om vir ons geliefdes en leiers te bid. John Bunyan het gesê, dat ons gereeld moet bid, omrede gebed ‘n skild vir die siel, ‘n offer aan God en ‘n geseling vir Satan is.

Wanneer ons bid, moet ons nie van ydele herhalings gebruik maak nie. Ons moet met ons verstand bid, want gebed is kommunikasie met God, en vir kommunikasie om sin te maak moet ons van ons vermoë gebruik maak om te kan redeneer en dan met God op ‘n rasionele wyse te gesels. Pasop vir sogenaamde formules! As jy niks het om meer te sê nie, moet dan niks meer sê nie.
Mat 6:7 “En as julle bid, gebruik nie ‘n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. 6:8 Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.”
Boonop moet ons nie bid, met die hoop dat mense ons sal raaksien, en dan as geestelik sal beskou nie. God oordeel die motiewe van ons harte, en Hy weet wanneer ons werklik met Hom wil gesels en wanneer ons net bid om deur mense raakgesien te word.
Mat 6:5 “En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. 6:6 Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”

Seker een van die vernaamste redes waarom God nie ons gebede beantwoord nie, is omdat ons met selfsugtige motiewe bid.
Jak 4:1 “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 4:2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. (Indien jy nie vra nie gaan jy nie kry nie!) 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Indien jy egter met selfsugtige motiewe vra, gaan jy ook nie kry nie.) Hoogmoed is ‘n ernstige sonde, en ongelukkig is die besit van rykdom en mooi besittings die wind wat die vuur van hoogmoed aanblaas. Indien ons eerlik is, sal die meeste van ons moet erken, dat ons huidiglik baie meer besit as wat ons werklik nodig het.
Heb 13:5 “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
Jesus self het ons gewaarsku wat die gevolge van gierigheid is.
Luk 8:14 “En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”
Ek kan teksgedeelte op teksgedeelte aanhaal, waarin God ons in Sy woord teen hebsug en gierigheid waarsku. Ek gaan slegs ‘n paar aanhaal, en let mooi op hoe ernstig die Bybel teen hierdie sonde waarsku.
Efs 5:3 “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;
Efs 5:5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. 5:6 Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
1Ko 5:11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.
1Ko 6:10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. “
Die teksgedeeltes wat ek hier aangehaal het is nie naastenby ‘n volledige lys van teksgedeeltes wat oor hierdie onderwerp handel nie. Ongelukkig word hierdie waarhede nie genoeg oor die kansels van die meeste van vandag se kerke verkondig nie, want geld het baie mense se God geword. Kyk maar wat verkondig die proponente van die Voorspoed Evangelie en die oorgroot meerderheid tel-evangeliste!! Ons moet eerlik met onsself wees, en onsself afvra hoekom die Here enigsins meer aan ons moet gee? Sal ons dit wat Hy vir ons gee in diens van Hom aanwend? Of sal ons dit op ons eie selfsugtige begeertes aanwend? Hoe wend jy wat jy nou alreeds het aan? Wend jy dit vir God en Sy doelwitte aan? Is dit nie dalk die rede waarom God nie ons gebede beantwoord nie? Onthou egter dat daar absoluut niks mee verkeerd is indien ‘n persoon ryk is nie, baie toegewyde gelowiges is ryk en dit sou nie so gewees het indien dit nie God se wil was nie. Die probleem ontstaan egter wanneer ‘n persoon geldgierig is en Mammon dan sy god word.
Ti 6:10 “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”

Die Here Jesus Christus het geleer, dat ons aanhou moet bid en nie moed moet opgee nie.
Mat 7:7 “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. 7:8 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.
Mat 7:9 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; 7:10 en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”
Dit is egter belangrik om te besef, dat alles wat ons miskien as goeie gawes sou beskou, nie noodwendig altyd voordelig vir ons sal wees nie. So kan byvoorbeeld rykdom of bevordering in die werksplek, vir een persoon tot geestelike seëning wees en vir ‘n ander persoon kan dit as ‘n struikelblok in sy geestelike lewe dien. In so ‘n geval sou dit voordelig wees indien die gelowige eerstens geestelik groei, en geestelik volwassenheid bereik, alvorens God aan sy versoek voldoen. Daar is baie mense wat in gesagsposisies sit wat hoogmoedig en selfvoldaan is. Dit mag dalk finansieel vir hulle voorspoed meebring, maar a.g.v. die sonde van hoogmoed, sal die skade aan hulle geestelike lewens nooit aan hierdie kant van die graf bepaal kan word nie. Hulle kan dalk te laat uitvind, dat hulle in werklikheid arm en beklaenswaardig was, en nooit so geestelik was, soos wat hulle dalk gedink het hulle was nie.
Luk 9:25 ‘” Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?”
En onthou Christus se waarskuwing aan die gemeente van die Laodicense:
Opn 3:14 “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: 3:15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 3:16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 3:17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 3:18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.”
Indien ons egter deur God se genade, in en deur die Heilige Gees, na geestelike volwassenheid streef, sodat God se wil ons wil, en God se begeertes ons begeertes word, en ons dan volgens God se wil bid, kan ons verseker weet dat God ons gebedsversoeke altyd op Sy manier en op Sy tyd sal toestaan.
Joh 15:7 “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
1Jo 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.”

Is dit dan verkeerd om in die openbaar te bid? Nee, glad nie! Die Here wil juis hê dat ons bymekaar moet kom en saam bid.
Heb 10:24 “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Maar die doel van ons publieke bidure en samekomste, moet wees om die Here te verheerlik en nie onsself nie. Ons moet nie bid om deur mense raakgesien te word nie, maar ons moet bid, omrede dit God se wil is, en in Sy genade gebruik Hy gewillige gelowiges wat bereid is om Sy wil op aarde uit te voer.
1Ti 2:1 “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2:2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 2:4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 2:5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 2:6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, 2:7 waartoe ek aangestel is as ‘n prediker en apostel—ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie—’n leraar van die heidene in geloof en waarheid. 2:8 Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.”
Ons besef nie altyd mooi, watse geweldige groot voorreg dit is om met die Skepper van hemel en aarde, deur gebed, in gesprek te tree nie en sake met Hom te bespreek nie.
Heb 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”
Charles Spurgeon het gesê, dat hy liewers een mens wou leer om te bid, as wat hy tien mense wou leer om te preek.

Ter Afsluiting: Soos wat ons die Bybel bestudeer sal ‘n paar interessante waarhede te voorskyn kom. Eerstens is dit opmerklik, dat nie Jesus Christus of enige van Sy gekose apostels ooit in die Nuwe Testament geleer het, dat ons lewe oor omstandighede of persone moes uitspreek nie. Nou praat ek van die leerstelling wat beweer dat ons krag in ons woorde het, en dat ons positiewe uitsprake oor mense en ons omstandighede kan maak en dat daardie omstandighede dan so sal plaasvind. Hierdie konsep kom uit die okkult en Nuwe Era Beweging uit en nie vanuit die Bybel nie. (Die leser word aangeraai om die artikels “Krag in ons Woorde” en “Krag in die Mens se Woorde” te lees om meer inligting rondom hierdie dwaal leerstelling te bekom.) Dit is opmerklik dat die Here van ons verwag om ons gebedsversoeke na Hom in gebed te neem en nie om dit te “Declare and decree” nie. Ware gebed is nie “Declare and decree” nie

Onthou gebed is kommunikasie met God, en dit is Sy wil, dat ons al ons versoeke na hom moet bring en al ons bekommernis op Hom moet werp.
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Nêrens in die Nuwe Testament vind ons egter, dat die Here Jesus Christus, of een van Sy gekose apostels, ooit leer dat ons eerstens die bose geeste in die lug, wat kwansuis beheer oor sekere geografiese dele van die wêreld, lande en dorpe uitoefen, moet bind alvorens ons die Evangelie in daardie gebiede moet verkondig nie. Hierdie leerstelling kom nie vanuit die Bybel nie en moet verwerp word. Ons moet egter vir ons ongeredde medemens bid en hulle aan ons hemelse Vader opdra. Indien moontlik moet ons die Evangelie van God se genade aan daardie mense verkondig, net soos wat God ons beveel het.
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”
Indien ‘n persoon die Evangelie verstaan en geglo het, moet ons daardie persoon na toegewyde dissipelskap lei, wat deur die die waterdoop van onderdompeling behoort te begin.
Mat 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”
Dit is belangrik om God se werk op Sy terme uit te voer, en nie ons eie teologie of formules te skep, waardeur ons God se werk op ons manier wil uitvoer nie. Sulke pogings het gewoonlik ernstige leerstellige dwalings tot gevolg. (Die leser word aangeraai om die artikel “ Bind en ontbind van Bose Geeste” asook “Help met bose geeste in huis” te lees om verdere inligting rondom hierdie aangeleentheid te bekom.) W.S Bowd het gesê dat gebed swakheid is, wat op Almag leun. Dit is nogal die waarheid! Ons moet met ons hele wese op God en Sy almag, wysheid en liefde vir ons leun. God is alwetend en weet wat Hy doen! Boonop sal Hy ons nooit verlaat nie.
Job 12:13 : ”By Hóm is wysheid en mag; Hy het raad en verstand.
Spr 3:5 Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. 3:6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”
En onthou: “Niks is vir God onmoontlik nie!”
Mat 19:26 “Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.”
Glo jy dit? Gaan dan na God in gebed!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.