Gelykenis van die Pêrel

Gelykenis van die Pêrel

Mat 13:45 “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; 13:46 en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”
Opmerking: Die verkoopsman is die Here Jesus Christus, en nie die kerk soos wat in sommige gevalle verkondig word nie, omrede gelowiges niks prysgee of verkoop om Jesus as Verlosser te ontvang nie. Die ewige lewe is ‘n geskenk wat in geloof ontvang word, ons betaal geensins daarvoor nie. God, deur die Jesus Christus het alles prysgegee en betaal vir ons sondes. Dit is vir die mensdom onmoontlik om ‘n absolute heilige, en regverdige God vir sy sondes te vergoed. Sover dit verlossing/wedergeboorte (fase een van ons verlossing) aanbetref kan ons niks by geloof alleen, in die Evangelie, voeg om wedergeboorte te raak nie. Ons kan niks betaal nie, want ons kan onsself nie red nie, en beskik ook oor niks waarmee ons God vir ons sondes kan vergoed nie. Dus is dit heeltemal verkeerd om te verkondig dat die kerk die verkoopsman verteenwoordig en pas so ‘n interpretasie nie met die konteks van die Skrifte nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees)
Rom 4:5 “aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”
Die Here Jesus Christus het egter alles (selfs Sy eie lewe ) prysgegee en aarde toe gekom, en in ons plek aan die kruis gesterf, sodat God geregtig sou wees indien Hy ons vryspreek van al ons sondes.
Fil 2:6 “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; 2:8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
Jesus het ons dus met Sy bloed gekoop, en Hy verteenwoordig die verkoopsman in die gelykenis van die Pêrel, sowel as die gelykenis van die skat. Dit is Christus wet ons met Sy bloed gekoop het.  Dit is baie belangrik om hierdie feit te begryp, anders gaan ons hierdie gelykenis verkeerd verstaan en toepas wat daartoe gaan lei dat ons ‘n werke evangelie gaan verkondig. Verlossing gaan nie oor wat die mens vir God gedoen of kan doen nie, maar eerder oor wat God in Sy liefde en genade vir die mens gedoen het.
1Ko 6:20 “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Die Bybel stel dit baie duidelik dat Jesus ons met Sy bloed gekoop het en nie andersom nie! 

Ook is die pêrel nie dieselfde groep mense as die groep mense in die gelykenis van die skat nie. Die gelykenis van die skat handel hoofsaaklik oor die volk Israel, en die gelykenis van die pêrel handel hoofsaaklik oor die kerk, wat meestal uit die nasies van die wêreld saamgestel is, en waarvan gelowige  Jode ‘n baie klein minderheid in die kerk uitmaak. Die feit dat oesters waaruit pêrels ontwikkel in die Ou Testament as onrein beskou is, is ‘n duidelike indikasie dat die gelykenis van die pêrel hoofsaaklik oor ‘n nie Israelitiese groep mense handel , naamlik die Kerk wat hoofsaaklik uit nie-Israeliete bestaan. (Tydens die Kerk Dispensasie mag ons immers onrein kosse eet, ‘n toegewing wat nie vir Israel, wie onder die Dispensasie van die Wet gelewe het, toelaatbaar was nie) Geen Ou-Testamentiese Jood sal homself met ‘n onrein kossoort vergelyk het nie, en die mense  aan wie Jesus hierdie gelykenis verkondig het sou dit ook so verstaan het.
Deu 14:10 “Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie—onrein is dit vir julle.”
Let wel: Alhoewel daar wel Israeliete/Jode, tydens die Kerk Dispensasie, in die Kerk aanwesig is,  bestaan die kerk hoofsaaklik uit mense van die heiden nasies uit. Die Israeliete vorm dus ‘n baie klein minderheid. Die pêrel verteenwoordig dus die Kerk.

Net soos wat ‘n pêrel gevorm word, deur middel van ‘n irritasie aan die sensitiewe kant van ‘n oester, so het die kerk ook in ‘n mate sy ontstaan gehad uit die wonde en lyding van die Here Jesus Christus uit, wat Sy lewe aan die kruis afgelê het. Die gelykenis van die pêrel beklemtoon dus die feit dat die Kerk sy bestaan gehad het, deur die optrede van die verkoopsman (Jesus Christus) wat alles wat Hy gehad het, prysgegee het om die pêrel van groot waarde (Die Kerk) te bekom. Onthou ons as gelowiges ontvang die ewige lewe as geskenk en betaal niks daarvoor nie. Jesus het egter alles prysgegee, selfs Sy lewe om ons te bekom.

Die gemeente van Christus word ook verder in die Bybel as ‘n lewendige organisme beskryf (net soos wat die oester ‘n lewendige organisme is.) wat bestaan uit lewendige stene wat by die gemeente gevoeg word. (elke keer as iemand weergebore raak.)
Efs 2:20 “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
Die gelykenis van die pêrel demonstreer dus baie mooi, wat die Here se doel in die interim tydperk, tussen Sy eerste en tweede koms sal wees. Die vorming van die kerk uit al die nasies is dus een van God se grootste doelwitte in hierdie tydperk, (Dispensasie van die Kerk/genade) waar Hy nie fisies op aarde teenwoordig is nie.

Verder demonstreer die gelykenisse van die skat en die pêrel ook baie duidelik dat die Here twee verskillende  doelstellings met die volk Israel en die Kerk het.  Ons kan egter verseker weet dat God Sy  doelstellings met altwee afsonderlike groepe/entiteite sal bereik, alhoewel daar ‘n dubbele lyn van ontwikkeling van goedheid en boosheid is, wat sal uitloop op die wederkoms van Jesus Christus.
(die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” asook “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” te lees)

Indien mens die gelykenis van die Pêrel mooi bestudeer, sal mens, in verkorte vorm, duidelik die boodskap van die Evangelie  daar raaksien. Die Here gee Sy lewe aan die kruis , sodat ons wat onrein sondaars is, gered kan word. Hoe kan mens nou anders as om nie God te loof en prys vir die verlossing wat Hy, in Sy genade, vir ons bewerkstellig het nie! Mag ons nooit ophou om die lof van ons Hemelse Vader te besing nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.