Israel

Het die Kerk die volk Israel, as God se Verbondsvolk, vervang?

Het die Kerk die volk Israel, as God se verbondsvolk, vervang? Is die Kerk die geestelike Israel? En is dit korrek om die Kerk nou as die Israel van God te omskryf? Hierdie is nogal belangrike vraagstukke. Indien die Kerk nie die volk Israel vervang het nie, dan is dit verkeerd, en boonop niks anders as dwaalleer, om te verkondig dat die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang het. Om so iets te doen sou niks anders wees, as om woorde in God te mond te lê en sal daartoe lei dat so ‘n persoon homself in opposisie teen God en Sy woord plaas, iets wat ernstige implikasies vir so ‘n persoon of groep persone kan inhou. Onthou die Bybel stel dit duidelik dat ‘n persoon sal maai wat hy saai.
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”
En boonop word ons gemaan om onsself daarop toe te lê om die woord van God reg te sny.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Onder die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes, is daar ‘n geneigdheid om te beweer dat die Kerk die volk Israel as verbondsvolk vervang het, en daar is ook sekere groepe, veral onder die Hebreeuse wortels beweging, wat selfs so ver gaan en hulleself as Israeliete bestempel. Die doel van hierdie studie is om te bepaal wat die Skrifte werklik oor hierdie aangeleentheid te sê het. Ons doel moet wees om God se woord getrou te bestudeer, en die woord eerbiedig te gehoorsaam, anders gaan ons die vrugte van ons rebellie pluk. In hierdie studie gaan Israel en die Kerk met mekaar vergelyk word, sodoende sal opgemerk word dat die Kerk nie Israel as God se verbondsvolk vervang het nie. Israel is nie die Kerk nie en die Kerk is nie Israel nie! Die Kerk is ‘n nuwe entiteit wat uit wedergebore Jode/Israeliete sowel as mense van alle nasies tale en kulture bestaan.

1) Israel: ‘n Persoon word in die volk Israel, as nasie, ingebore en is van geboorte af ‘n Jood/Israeliet en dus ‘n lid van die volk Israel. (Gen. 17:6-8; Rom 9:3)

Die Kerk: ‘n Persoon word nie deur fisiese geboorte in die Kerk ingebore nie! ‘n Persoon word slegs by wedergeboorte (Geestelike geboorte) na die aanhoor, verstaan en glo van die Evangelie deel van die ware Kerk en nie voor die tyd nie. Alle mense word ongered gebore (Jood sowel as niejood) en moet wedergebore raak alvorens hulle deel van die Kerk kan vorm. ( Joh. 3:1-9; Tit.3:5; 1Pet. 1:23)

2) Israel: Die Here Jesus Christus is die volk Israel se Messias. (Joh. 1:41; 4:22-25)

Die Kerk: Die Here Jesus Christus is egter die Kerk se hoof. (Ef. 1:20-23; 4:15; 5:23)

3) Israel: Israel het met God ‘n verbond aangegaan en is onder die wet. (Ex. 20; Deut. 29)

Die Kerk: Die Kerk is nie onder die wet nie maar onder genade. (Rom. 6:14)
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”

4) Israel: Die Messiaanse Koninkryk van Christus moet nog deur Christus opgerig word. (2 Sam. 7:12-16; Dan. 2:44-45;Matt. 24:27-28; Openb. 19:11-21; 11:15)

Die Kerk: Die Kerk het agter sy ontstaan op Pinksterdag gehad en word nie opgerig nie maar opgebou. (1Kor. 14:5, 12, 26; Ef. 4:12, 16)

5) Israel: Die Joodse volk verwag ‘n aardse koninkryk onder leiding van hulle Messias (die Here Jesus Christus) net soos wat God in die Ou Testament dit aan hulle belowe het. (Matt. 6:10)

Die Kerk: Het ‘n hemelse verwagting en is hemelse burgers en is net pelgrims in hierdie wêreld. (Filip. 3:20-21)

6) Israel: Die Here Jesus Christus se kruisiging was vir die Jode ‘n struikelblok. (1Kor. 1:23; Rom. 9:30-33)

Die Kerk: Die Here Jesus Christus is die fondamentsteen waarop die Kerk gebou word. (1Kor.3:11; 1Pet. 2:5-8)

7) Israel: Was in ‘n teokrasie onder God. (1Sam. 8:1-7; 9:12-17; 12:13)

Die Kerk: Is in Christus. (Ef. 1:6; Rom. 16:7)

8) Israel: Was nooit geestelik deur die Heilige Gees gedoop nie. (Die doop met die Heilige Gees op Pinksterdag was in daardie stadium nog ‘n toekomstige gebeurtenis)

Die Kerk: Alle gelowiges is deur die Heilige Gees gedoop. (Hand. 1:5; 2; 11:15-17; 1Kor. 12:13)

9) Israel: Die Heilige Gees sou selektief op mense kom en dan weer hulle verlaat. Ou Testamentiese gelowiges was nooit deur die Heilige Gees verseël nie. (1Sam. 10:9-10; 16:13-14; Rigters 14:6; 16:20; Ps. 51:11)

Die Kerk: Alle gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe, word outomaties by wedergeboorte deur die Heilige Gees bewoon, en word permanent deur Hom verseël. Om hierdie rede sal die Heilige Gees nooit ‘n gelowige verlaat nie en dien hierdie feit as waarborg dat die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie. (Joh. 7:37-39; 14:16-17; Rom. 8:9)

10) Israel: Nie met alle geestelike seëninge in die hemele, in Christus, geseënd nie. (Deut 28) As nasie, onder die Mosaïeke verbond, was hulle seëninge hoofsaaklik op materiële aardse seëninge gefokus, en slegs solank as wat hulle hulle deel van die verbond nagekom het.
Deu 28:1 “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou (Die volk Israel) die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. 28:2 En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. 28:3 Geseënd sal jy (Israel) wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. 28:4 Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. 28:5 Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel.”
Die klem of fokus word baie sterk op materiële aardse seëninge gefokus en nie so seer op geestelike seëninge nie.

Die Kerk: Is met alle geestelike seëninge, in Christus, geseënd. (Ef. 1:3; Kol. 2:10; 2Pet.1:3-4) Die leser word aangeraai om die artikel “ Voorbeelde van die gelowige se seëninge in Christus” te lees, om sodoende ‘n meer omvattende lys van ons geestelike seëninge in Christus te bekom. Ef. 1:3 stel dit egter baie duidelik, dat die Kerk hoofsaaklik geestelike seëninge in Christus ontvang het.
Efs 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,”
Om hierdie rede kon die Here Jesus Christus die gemeente in Smirna, vir hulle geestelike rykdom aanprys, en dit terwyl hulle in uiterste armoede op aarde geleef het.
Opn 2:8 “En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het: 2:9 Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.”
Hierdie aanprysing is in skrille kontras met die gemeente van die Laodicense wat ryk aan materiële besittings was, maar wat die Here as geestelik arm beklaenswaardig beskryf het.
Opn 3:15 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 3:16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 3:17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.”

11) Israel: Staan in verband met die Dag van die Here. (Joël 2; Sef. 2; Sag. 12-14)

Die Kerk: Staan in verband met die Dag van Christus. (1Kor.1:8; Filip. 1:6, 10; 2:16)

12) Israel: Het ‘n aardse tempel wat ‘n gebou is. (1Kon.5-8)

Die Kerk: Die gelowige se liggaam is die tempel van die Here. (1Kor. 3:16; 6:19-20)

13) Israel: Slegs sekere persone van die Levitiese stam kan as priesters optree. (Lev. 8)

Die Kerk: Universele Priesteramp. Alle gelowiges is priesters. (1Pet. 2:5; Openb. 5:10)

14) Israel: Verskeidenheid voorgeskrewe diereoffers wat gereeld herhaal moes word. (Lev. 1-7; Heb. 10:11)

Die Kerk: Christus se eenmalige offer aan die kruis. (Heb. 10:10-14; 1Pet. 3:18)

15) Israel: Hoofsaaklik Aardse beloftes ontvang. (Matt. 5:3-9)

Die Kerk: Hoofsaaklik hemelse beloftes ontvang. (Joh. 14:1-3; Filip.3:20; Kol.1:5; 1Pet.1:4)
Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. (Waar? In die Hemel!)14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, (die wegraping) sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Waar? In die Hemel)

16) Israel: Was ‘n Ou-Testamentiese openbaring. (Gen. 12ff)

Die Kerk: Was ‘n Ou-Testamentiese verborgenheid. Die Kerk was dus nie in die Ou Testament geopenbaar nie. (Ef. 3:1-12, 20-21; Kol. 1:24-29)

17) Israel: Onderskeid tussen Jood en die nie Jood/heiden nasies. (Matt. 10:5; Rom. 15:8-9)

Die Kerk: Daar is geen onderskeid nie. (Gal. 3:28; Ef. 2:13-16)

18) Israel: Het vleeslike besnyding toegepas. (Gen. 17:9-27; Rom. 4:9-12; Ef. 2:11-12)

Die Kerk: Behels besnyding van die hart wat nie deur menslike hande bewerkstellig word nie. (Kol. 2:11) (Die waterdoop het egter niks met die Joodse praktyk van besnyding te make nie en die doop het geensins die besnyding vervang nie. Hierdie twee rituele het absoluut niks met mekaar te make nie.)

19) Israel: Sal as volk deur die verdrukking gaan. (Matt. 24)

Die Kerk: Die ware Kerk (Jood sowel as niejood), wat uit alle wedergebore gelowiges bestaan, wat die Evangelie geglo het, sal die tydperk van die Verdrukking d.m.v die wegraping heeltemal vryspring. (1 Thess. 5:1-11)

20) Israel: Wag op die openbaarmaking/verskyning van hulle Messias,die Here Jesus Christus. (Joël 2; Sag. 12-14) (hierdie profesieë sal met die Here Jesus Christus se wederkoms, na afloop van die Groot Verdrukking, volkome vervul word.)

Die Kerk: Wag op die Here Jesus Christus se verskyning, met die wegraping, om hulle na die Hemel te neem. (Joh14: 1-3; Titus 2:13; 1Thess. 4:13-18)

21) Israel: Het haar oorsprong met Abraham gehad. (Gen. 12;15;17)

Die Kerk: Het op Pinksterdag ontstaan. (Matt 16:18; Hand. 2:47; 5:11; 8:1-3; Gal. 1:13)

22) Israel: Het die Here Jesus Christus met Sy eerste koms verwerp. (Joh. 1:11; 11:47-53; Hand. 2:22-36)

Die Kerk: Het die Here Jesus Christus aangeneem. (Hand. 2:41; 10:43-48; 16:30-33)

23) Israel: Het betrekking op een nasie. (Ps. 147:19-20) In die Bybel word Israel as ‘n staat met ‘n letterlike geografiese grondgebied en met letterlike grenslyne en ‘n hoofstad, naamlik Jerusalem, omskryf. Selfs vandag neem die onafhanklike staat Israel haar plek tussen al die ander nasies van die wêreld, soos byvoorbeeld Suid Afrika, Amerika en Japan, in.

Die Kerk: Sluit gelowiges van alle nasies in, en is nie ‘n onafhanklike staat met letterlike grenslyne en ‘n geografiese area nie. (Matt 28:18-20; Hand. 1:8; Gal. 3:28; Ef.2:11-22; 3:6) Die kerk word boonop as ‘n pelgrim op aarde omskryf en as sulks is alle ware gelowiges slegs vreemdelinge op aarde. Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.
1Pe 2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”
Hierdie huidige wêreld lê in die mag van die Bose.
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”
Boonop is die duiwel huidiglik die god van hierdie wêreld, omrede die oorgrote meerderheid hom direk of indirek dien en verwerp hulle God en Sy Evangelie.
2Ko 4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
En daarom was Satan, tydens Jesus se eerste koms, in die posisie om die koninkryke van die wêreld aan die Here Jesus Christus aan te bied, indien Hy Satan sou aanbid.
Mat 4:8 “Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, 4:9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.”
Die Here sal eers na afloop van die Groot Verdrukking, met Sy wederkoms Sy koninkryk op aarde vestig. (Dan. 2:44-45;Matt. 24:27-28; Openb. 19:11-21; 11:15)

24) Israel: Bestaan uit ongelowige sowel as gelowige Jode uit. (Rom. 9:6)

Die Kerk: Bestaan slegs uit gelowiges uit, en ‘n persoon kan slegs lid van die ware Kerk word indien hy werklik wedergebore is. (1Kor. 1:2) Daarom is dit so belangrik om die Evangelie te verkondig. Indien die Kerk nie d.m.v. die Evangelie sy getalle aanvul en vermeerder nie, sal dit uit eindelik uitsterwe, omrede niemand as gelowige (wedergebore persoon) gebore word nie. ‘n Persoon word slegs deel van die ware Kerk, sodra hy die Evangelie gehoor, verstaan en geglo het, en op geen ander wyse nie. (Lidmaatskap in enige denominasie of kerk groep beteken nie dat die persoon noodwendig wedergebore is nie. Om wedergebore te word moet ‘n persoon die Evangelie hoor, verstaan en glo!)

25) Israel: Is huidiglik uit God se guns uit a.g.v die volk se ongeloof. Daar is egter ‘n klein minderheid wat wel gelowiges is en wat huidiglik deel van die Kerk uitmaak.

Die Kerk: Geniet God se guns en seëninge. (wat nie noodwendig aardse rykdom insluit nie.) (Ef. 1”1-3)

26) Israel: Het beloftes van ‘n spesifieke geografiese grondgebied op aarde ontvang. (Gen. 15:18-21)
Gén 15:18 “Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:” (Hierdie is ‘n belofte van ‘n letterlike geografiese gebied binne gegewe grense op aarde)

Die Kerk: Het geen beloftes vir ‘n geografiese grondgebied op aarde ontvang nie. (1Pet. 2:9-11)
1Pe 2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”

27) Israel: Is tydelik tersyde gestel. Let wel slegs tydelik en hulle sal wel volkome herstel word. (Rom. 11:1-16)

Die Kerk: Is huidiglik ingeënt/ingeplant. (Rom. 11:17-25)

28) Israel: Het spesifieke voorgeskrewe dieetwette gekry om te gehoorsaam. (Lev. 11)

Die Kerk: Kan spek, varktjops, mossels, kreef en enige ander kosse eet. (Hand. 10:9-16; Kol.2:16-17; 1Tim. 4:1-5)
Kol 2:16 “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, 2:17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.
1Ti 4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 4:2 deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, 4:3 wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. 4:4 Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; 4:5 want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.”

29) Israel: Het spesiale heilige dae en sabbatdae ontvang. (Ex. 20:8; Lev; 23; Num. 28)

Die Kerk: Beskik oor geen spesiale heilige dae of sabbatdae wat hulle verplig is om te vier nie. (Kol. 2:16; Gal. 4:8-10; Heb. 4:9)
Gal 4:8 “Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; 4:9 maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? 4:10 Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.”
Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”

30) Israel: Word as die vrou van God beskryf. (Jes. 54:5)
Jes 54:5 “Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.”

Die Kerk: Die Kerk word as die bruid van Christus omskryf. (Ef. 5:22-33)

31) Israel: Die Here Jesus Christus sal Israel, teen die einde van die Groot Verdrukking, van algehele uitwissing red, wanneer Israel in geheel as volk na hulle Verlosser, die Here Jesus Christus, bekeer en Hom aanroep, waarna die Here Jesus Christus self hulle van algehele uitwissing sal red en self Sy koninkryk op aarde sal vestig. (Matt. 23:37-39) Die Kerk gaan nie Christus se koninkryk op aarde vestig nie, en dit is ook nie die Kerk se mandaat om die koninkryk op aarde te vestig nie. Dit is die Kerk se mandaat om die Evangelie te verkondig en dissipels te maak. (Mark.16:15; Matt. 28:19. )

Die Kerk: Jesus Christus sal voor die aanvang van die Verdrukking Sy bruid, die Kerk, uit die wêreld uitred en hulle na Sy Vader se huis toe neem. (Joh. 14:1-3)

32) Israel: Het fisiese oorloë teen fisiese vyande soos byvoorbeeld die Filistyne gevoer.

Die Kerk: Is egter in ‘n geestelike oorlog gewikkel. (Ef. 6:10-20)
Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Dit beteken geensins dat ons in die onskriftuurlike praktyke van Geeste bind en ontbind betrokke moet wees nie. Die leser word aangeraai om die artikel “Bind en Ontbind van Bose Geeste” vir meer besonderhede te lees.)

Ter Afsluiting: Die term “Israel” word 73 keer in die Nuwe Testament gebruik en nie in een geval word die term “Israel” gebruik om die Kerk te beskryf nie. Dus word die term “Israel” altyd in die Nuwe Testament vir die fisiese afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob gebruik, en daarom verwys hierdie term altyd na Jode of nasionale Israel, wat na gelowige Israeliete sowel as ongelowige Israeliete kan verwys. Die term “Israel” word dus nooit in die Nuwe Testament aan mense wat nie fisiese afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob is toegeskryf nie. In Gal 6:16 vind ons dat selfs in die briewe, wat direk aan die Kerk gerig is, die Heilige Gees, deur middel van Sy Apostel Paulus, ‘n duidelike onderskeid tussen gelowige Jode, naamlik Israel en die niejoodse gelowiges in die Kerk tref.
Gal 6:15 “Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. 6:16 En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” (Let op die term “en die Israel van God” wat na gelowige Israeliete binne die Kerk verwys.)
Die Nuwe Testament tref baie duidelik onderskeid tussen die Kerk, Israel en die Grieke (Nie Joodse nasies.) Om hierdie rede is dit ‘n ernstige mistasting om Ou Testamentiese profesieë, wat direk aan die volk Israel gemaak is, op die Kerk en die Kerk dispensasie van toepassing te wil maak. Die leerstelling wat Israel met die Kerk vervang, word vervanging teologie genoem, en hierdie leerstelling bring mens lynreg teen God en Sy geopenbaarde woord, die Bybel, in botsing.

Omrede nasionale Israel hulle Messias, die Here Jesus Christus, tydens Sy eerste koms verwerp het, (Matt 12) het God tydelik die Vrederyk/Koninkryk uitgestel. Omrede die vrederyk/koninkryk tydelik uitgestel is, het die Here begin om die geestelike toestande, wat tydens die afwesigheid van die fisiese koninkryk op aarde sou heers, bekend te maak. (Matt 13) Die Kerk Dispensasie kan dus as ‘n onderbreking van God se planne met die volk Israel bestempel word, en dit is dus duidelik dat God nie vandag, tydens die Kerk Dispensasie, Sy planne van die Messiaanse Koninkryk, soos wat dit aan hulle (nasionale Israel) voorgehou is, uitvoer nie. God doen egter iets heeltemal nuuts d.m.v. die Kerk wat slegs Sy program met die van nasionale Israel tydelik onderbreek. Dus word God se doelstellings met nasionale Israel se historiese asook toekomstige planne slegs tydelik deur die Kerk, tydens die Kerk Dispensasie, onderbreek en sal Hy Sy planne met Israel in die toekoms, na afloop van die Kerk dispensasie, voortsit en afhandel. Die Kerk vervang dus nie Israel nie, en kan ook nie as die geestelike Israel omskryf word nie, maar is in geheel ‘n nuwe werk wat God nou tydens die Kerk Dispensasie met die Kerk verrig. Israeliete/Jode wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof kom, vorm deel van die Kerk en word deur God as sodanig bestempel, alhoewel hulle nog steeds landgenote van Israel bly, net soos wat ‘n Suid Afrikaner, ‘n Suid Afrikaner bly wanneer hy die Evangelie glo, wedergebore raak en deel van die Kerk uitmaak. Die Kerk is nie in nasionale entiteit nie, maar bestaan uit wedergebore gelowiges van alle nasionaliteite uit, en kan eerder as ‘n geestelike organisme wat as die liggaam van Christus bekendstaan, omskryf word.

Dit is ook verder opmerklik dat die Here Jesus Christus nooit in die Bybel as die Koning van die Kerk beskryf word nie, maar eerder Koning van Israel, asook Koning van die Nasies. Hy word egter altyd as Hoof van die Kerk omskryf. ( Ef. 1:22; 4:15; Kol. 1;18) Die Bybel gebruik verder verskeie metafore om Jesus Christus se verhouding teenoor die Kerk te beskryf, soos byvoorbeeld as Hoof van die liggaam; bruid en Bruidegom; Wynstok en die lote; Christus as die fondament en die Kerk as die stene ens. Dit is opmerklik dat die terminologie van Koning en onderdane nooit gebruik word, waar daar na die Here Jesus Christus se verhouding teenoor die Kerk gepraat word nie. Die Kerk word ook boonop as ‘n geestelike huis omskryf; (1Pet 2:5; Ef. 2:20-21; 1Kor.3:16) as ‘n liggaam; (1Kor.12:27) en as bruid omskryf, (2Kpr.11:2; Ef.5:21-31; Openb. 19:6-9) maar nêrens word die Kerk as ‘n koninkryk omskryf nie. (Daar kan baie meer oor hierdie onderwerp uitgebrei word, maar hierdie artikel is alreeds te lank. Die Leser word aangeraai om die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” te lees om meer inligting rondom hierdie onderwerp te bekom. Indien dit die Here se wil is sal ek later in ‘n ander artikel nog verder oor hierdie onderwerp uitbrei.)

Omrede die volk Israel hulle Messias verwerp het, is die koninkryk se koms uitgestel en om hierdie rede wag ons nog op die koms van die Koninkryk. Dus is die koms van die Koninkryk nog ‘n toekomstige gebeurtenis. God heers vandag as Soewereine God oor Sy heelal, en Hy roep vanuit die bose wêreld vir Homself ‘n groep mense uit, wat as die Kerk bekendstaan. Die fisiese Messiaanse Koninkryk is egter nog geensins, op enige wyse, op aarde teenwoordig nie en daarom is dit verkeerd om profesieë, wat in die Ou Testament direk aan Israel gemaak is, te neem en dit op die Kerk van toepassing te maak. Ongelukkig is daar baie mense wat op hierdie punt ‘n fout begaan en wat hulleself en ander verlei. Ook is dit opmerklik dat die Kerk nie die wêreld oorneem soos wat in baie kringe beweer word nie, maar die wêreld is eerder besig om die Kerk binne te dring. Kyk maar hoe wêreldgesind die oorgrote gedeelte van die belydende Christendom is. ‘n Bitter klein gedeelte van die belydende Christendom glo werklik die Evangelie, soos wat die God dit in Sy woord as vereiste vir wedergeboorte voorhou. Onthou die Here het ons opdrag gegee om die Evangelie te verkondig en dissipels te maak. Dit is nie die Kerk se mandaat om God se Koninkryk op aarde te vestig nie. Die Here Jesus self sal dit doen. En onthou die Here se waarskuwing:
Luk 13:23 “Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: 13:24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.
Mat 7:13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.