bose geeste in huis

Hulp met Bose Geeste in Huis

Vraag: Hello
Ek soek graag hulp of raad hoe om bose geeste uit my huis te kry. Hier gebeur baie vreemde goed en eks bang vir dit, veral vir my kind! Asb help my.

Antwoord: Moenie bang wees nie, indien jy dood eenvoudig die Evangelie geglo het, het jy die Heilige Gees by wedergeboorte ontvang en is Hy vir ewig saam met jou.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Die Heilige Gees is nie net saam met jou nie, maar is met wedergeboorte die seël wat waarborg dat jy aan God behoort! God self is die seël! Dink daaraan!
1Jo 4:4 “ Julle is uit God, (jy is met wedergeboorte uit God gebore) my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.”
Onthou hierdie waarheid!

Ek sal jou aanraai (indien van toepassing op jou) om met enige okkultiese praktyke soos joga ens te breek, en dieselfde geld vir enige persoon in jou huis wat met hierdie dinge betrokke is. Vermy rolprente en boeke met okkultiese temas, want die Duiwel gebruik dit om sy valse idees in mense se koppe te plaas. Hernu jou denke eerder, deur om die woord van God te lees en daaroor na te dink. Daarbenewens sien ons nêrens is die Bybel dat die Apostels, of die Here Jesus Christus, ooit in ‘n gebou ingegaan het en bose geeste uit daardie gebou uitgedryf het nie. Boonop glo ek nie, dat die Bybel enigsins leer dat ons bose geeste kan bind nie. (Lees asb die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” indien jy dit nog nie gedoen het nie.) Die dinge wat ons vandag in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom sien, is niks anders as mistisisme en bygelowe nie. Die Bybel stel dit egter duidelik dat bose geeste, net soos heilige engele, tussen ons rond beweeg, en daarom waarsku die Apostel Petrus ons om waaksaam te wees, omrede die Duiwel rondloop soos ‘n brullende leeu om te sien wie hy kan verslind.
1Pe 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
Hierdie feit geld vir bose geeste ook, en daarom kan ons verseker weet dat hulle orals tussen ons is.

Maar omdat ons, as gelowiges, met wedergeboorte in Christus geplaas is, het ons absoluut geen rede om vir bose geeste bang te wees nie. Die Duiwel, of bose geeste, kan absoluut niks aan jou of jou kind doen indien die Here dit nie toelaat nie. Om hierdie rede moes die Duiwel eers God se toestemming gevra het, alvorens hy Job of Petrus kon toets of sif.
Job 1:9 “En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? 1:10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. 1:11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën! (vloek)1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.
Luk 22:31 “En die Here sê: Simon, Simon, (Die apostel Petrus, wat op sy eie krag staatgemaak het, het gereken dat hy nooit die Here sou verloën nie.) kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif.”
Om hierdie rede is dit belangrik om nie op ons eie geregtigheid en krag staat te maak nie, maar op Christus se toegerekende geregtigheid asook Sy krag en nie ons eie krag nie, anders gaan ons in dieselfde slaggat as Petrus trap. Hou ook ingedagte, dat die Here niks in jou, as Sy kind, se lewe sal toelaat wat nie op die einde van die dag tot jou eie voordeel en Sy glorie sal strek nie. Hy handhaaf immers ‘n Goddelike en ewige perspektief!
Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”

Trek jou volle wapenrusting aan en weerstaan die Duiwel en dan sal hy van jou af weg vlug. Jy het God se woord hiervoor!
Efs 6:10 “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here (nie in jouself nie) en in die krag van sy sterkte. (nie jou eie krag nie) 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. (Bostaande teksgedeelte impliseer dat ons, as reël, teenstand van die Duiwel kan verwag. Ons is immers in ‘n stryd gewikkel.) 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 6:13 Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil (wat jy nou beleef) en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. (Staan in die geloof vas, in die wete dat jy ‘n kind van God is, en dat jy op Sy Krag kan staatmaak om jou die oorwinning te gee, en dat Hy wat in jou is, oneindigend groter is as hy wat in die wêreld is. Moenie vir die bose geeste bang wees nie. Hou jou oë gefokus op die Here Jesus Christus, nie op die bose geeste nie en ook nie op jou omstandighede nie. Hulle wil hê jy moet jou aandag op hulle fokus, sodat jy nie op die Here Jesus Christus fokus nie. Sodoende kan hulle jou lewe beheer en jou bang maak.) 6:14 Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, (soos wat ons dit in die Bybel vind en nie op buite Bybelse profesieë, menslike bespiegelinge en tegnieke nie.) met die borswapen van die geregtigheid aan, (Die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid, sowel as praktiese geregtigheid wat daaruit behoort voort te vloei.) 6:15 en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. ( ek word ook soms deur bose geeste aangeval, in ‘n poging om my in my werk te verhinder. En wanneer dit gebeur, trek ek my volle wapenrusting aan en hou myself besig met wat ek weet die Here van my verwag, soos byvoorbeeld naslaanwerk doen, my Bybels bestudeer, artikels skryf of vir ander en myself te bid. Soms kyk ek net ‘n goeie preek. Hou jou besig met dit wat die Here wil hê jy moet doen en nie met wat die bose geeste wil hê jy moet doen nie. Hulle sal alles doen om jou van koers af te dwing.) 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. (Glo die feit dat jy in Christus is, en dat Hy wat in jou is, groter [Almagtig] is as hy wat in die wêreld is [geskape wese net soos ons] Rus dan, deur geloof, in daardie wonderlike feit! Moet nooit op jouself staatmaak nie, maar maak op Christus en Sy krag staat. Onthou, ons word gemaan om al ons bekommernisse op Hom te werp en nie om dit in ons eie krag te dra nie. [1Pet.5:7] Rus dan in daardie feit.) 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—(Jy is God se kind en niemand kan jou uit Sy hande neem of steel nie. Bestudeer jou Bybel, veral in tye soos die, en staan op die waarhede wat jy daarin vind, en moenie dat die bose geeste jou bangmaak nie. Die Here waarborg jou, dat indien jy in die geloof vasstaan hulle van jou af sal wegvlug. Dit is ‘n belofte wat jy op kan staatmaak, want dit kom van God af! Moenie bang wees vir hulle nie! Hou jou self besig om vir jou kinders die Bybel te leer. Ek neem aan dat hulle nog klein is. Staan op die beloftes wat God, in die korrekte konteks, in Sy woord aan jou maak en nie wat mense van buite af op die Bybel afdwing nie! ‘n Groot gedeelte van die hedendaagse geestelike oorlogvoering is niks anders as mistisisme, bygelowe en opinies van mense nie!) 6:18 terwyl julle met alle gebed ( Bid, bid, bid, want die Here het ons aangesê om te bid, sodat ons van die bose verlos kan word. Hy sal dit doen! En dank Hom solank daarvoor. Die Here wil hê ons moet leer om in alle omstandighede op Hom gefokus te bly, en op Sy krag en verlossing staat te maak, en om nie op bose geeste, onsself of die omstandighede om ons te fokus nie. Hy is ons Krag en ons Lewe, nie onsself of enige iets anders nie en daarom hoef ons niks te vrees nie.) en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (dit sluit jou kind in!)

Onthou sonde is nie noodwendig die rede waarom sulke dinge in jou lewe plaasvind nie. Die Duiwel merk dalk op dat jy in God se wil lewe, en dat jou verhouding met God groei. Indien jy as gelowige in die proses is om tot Geestelike volwassenheid op te groei, sal die bose geeste bewus daarvan wees, en dit beteken dat jy moontlik ‘n gevaar vir Satan se doelstellings op aarde gaan uitmaak. In sulke gevalle sal hy alles doen om dit te verhinder en die Here sal soms sulke aanvalle toelaat, sodat jy kan leer om nie op jou eie krag staat te maak nie, maar op Hom alleenlik en op Sy krag.
2Ko 1:8 “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. 1:9 Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; 1:10 wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos,
2Ko 4:7 Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.
2Ko 6:7 in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter— en linkerhand;
2Ko 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”

Dit gebeur soms met my, dat wanneer ek my rekenaar of iets anders wil gebruik, dat dit net nie wil werk nie. Op ander kere loop alles net skielik verkeerd en dit wil voorkom of my wêreld skielik uitmekaar wil val. Ek het nou al geleer om die saak aan die Here op te dra en dit in Sy hande te los. Om my gedagtes van my omstandighede af te hou, hou ek my besig met Bybelstudie of iets wat ek weet my nie op my omstandighede gaan laat fokus nie. (Bly besig en hou jou verstand besig, leer jou kinders God se woord, skryf ‘n brief aan God op jou rekenaar of begin en dank die Here vir elke seëning wat jy van weet ens. Laasgenoemde help my baie, en ek is dan sommer gou weer op die been, en aan die gang, want dan kom ek gewoonlik tot die besef dat God in beheer van my lewe is en dat ek nie alleen in hierdie omstandighede is nie.) Ek het opgemerk dat die Here altyd die probleem oplos, en na so ‘n gebeurtenis, ek altyd nader aan die Here is. Al wat ek doen, is om voort te gaan en doen wat die Here van my verwag om te doen. Daar is altyd iets wat gedoen behoort te word, en waarvoor ons nie altyd die tyd of begeertes het om te doen nie. Tye soos hierdie is ‘n gulde geleentheid om sulke take aan te pak en te voltooi. Sulke aanvalle maak my nie meer so bang nie, maar frustreer my soms grensloos, en daarom glo ek dat die Here dit soms nog toelaat, sodat ek geestelik kan groei en nie frustreerd moet word nie, want as die Duiwel ‘n swak plek in jou mondering opmerk, sal hy altyd later daardie swak plek vir sy eie gewin wil uitbuit. So, ek sien hierdie gebeure as tye waarin die Here wil hê ek sekere dinge moet leer en waarin ek geestelik kan groei. Indien ons die Here toelaat, sal ons opmerk dat die Here, in tye soos hierdie, altyd iets het wat Hy wil hê ons moet leer, en dat daar onder sulke omstandighede, onbeperkte potensiaal is om geestelik te groei. Soos reeds gestel, bring sulke beproewinge mens ook nader aan God!
Jak 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid (geduld) bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. 1:5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. 1:6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. 1:7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—
1Pe 1:6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.” (Die saligheid waarvan Petrus hier praat is nie verlossing fase een, naamlik wedergeboorte nie, maar verlossing fase twee, naamlik heiligmaking, waar ons van die houvas van sonde (wat vrees en kleingelowigheid insluit) in ons lewens bevry moet word, en wat daartoe sal lei dat ons nie vermorste lewes in hierdie wêreld sal lei nie, wat op groot loon by die Regterstoel Oordeel van Christus vir ons sal uitloop.) Indien jy die Here in hierdie saak sal vertrou, sal Hy dit tot jou voordeel laat saamwerk en jou boonop ryklik daarvoor beloon!

Ek sal vir julle bid en vra dat jy dieselfde vir ons sal doen. En onthou:
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. ( jy is nie alleen in hierdie saak nie, dit gebeur die een of ander tyd met alle gelowiges!) 5:10 En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus,(fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/geestelike groei) 5:11 Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.”

Ek hoop en bid my antwoord help jou. En onthou, in die Here Jesus Christus is jy meer as ‘n oorwinnaar.
Rom 8:37 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
In Christus is jy God se geliefde kind!! Onthou dit!! Daar is niks wat jou van Hom en Sy liefde vir jou kan skei nie.
Rom 8:31 “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”
Jy sal nog eendag op hierdie gebeure terugkyk en die Here dan dank vir dit wat Hy jou daaruit geleer het.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.