loon en goeie werke

Die onderskeid tussen Wedergeboorte en Loon vir Goeie Werke

Indien ons die Bybel noukeurig bestudeer, sal opgemerk word dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen aanvanklike verlossing (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en loon wat ‘n gelowige na aanvanklike wedergeboorte, deur die inwerking en krag van die Heilige Gees, kan versamel. (Fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking.) Lees asb die artikel “Drie fases van verlossing” vir meer inligting rondom die drie verskillende fases van ons verlossing. Dit is uiters belangrik om hierdie onderskeid duidelik waar te neem, want baie Christelike denominasies tref nie duidelik hierdie onderskeid nie en dit lei dan daartoe dat hulle op ‘n baie subtiele wyse goeie werke deel van die Evangelie maak. Om hierdie rede, kom dit as geen verassing dat die apostel Paulus dit nodig geag het om Timoteus baie sterk aan te moedig, om die woord te bestudeer en homself daarop toe te lê om die woord reg te sny.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
Die Here neem leerstellige suiwerheid en Bybelse leerstellings baie ernstig op en daarom sal ons wys wees indien ons dieselfde doen. Om hierdie rede, gaan met die skryf van hierdie artikel, gepoog word om vanuit die Skrifte die onderskeid tussen wedergeboorte en loon, wat deur goeie werke gedoen bekom kan word, gedemonstreer word. Dit sal verhoed dat ‘n persoon goeie werke/dissipelskap deel van die Evangelie van God se genade maak en die Evangelie in ‘n werke evangelie verander nie.

1) Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Word altyd aan ongelowiges aangebied en nooit aan alreeds wedergebore persone nie. Slegs by die aanhoor, verstaan en glo van die Evangelie word mens wedergebore en werke van enige aard, behalwe geloof alleen, word heeltemal uitgesluit en vorm geensins deel van die Evangelie nie. ‘n Evangelie wat enigsins iets van die mens behalwe geloof alleenlik vereis is ‘n werke evangelie en is dus ‘n ander evangelie.
Gal 1:6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 1:7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 1:8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 1:9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

Loon: (fase twee – heiligmaking/dissipelskap) Word slegs aan gelowiges voorgehou. Heiligmaking is slegs van toepassing op alreeds wedergebore persone, omrede heiligmaking in en deur die krag van die Heilige Gees moet plaasvind, en ‘n ongelowige persoon het nog nie die Heilige Gees in hom, om so ‘n persoon die krag te gee om suksesvolle heiligmaking in sy lewe te bewerkstellig nie.
Rom 8:9 “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”
En die Heilige Gees kom woon slegs in ‘n persoon in, wanneer daardie persoon die Evangelie hoor, verstaan en glo en nie voor die tyd nie.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (fase een – wedergeboorte)
‘n Persoon ontvang slegs die Heilige Gees met die oomblik wat hy die Evangelie glo.  Weergeboorte is ‘n eenmalige, punt in tyd, gebeurtenis en word nooit weer herhaal nie. Mense wat van een byeenkoms na ‘n ander gaan om die sogenaamde vuur of gees te ontvang, (Engels: Catch the fire” en soortgelyke byeenkomste) om dit weer aan ander oor te dra is heeltemal mislei. Ons ontvang nie meer die Heilige Gees deur handoplegging nie, maar die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie hoor, verstaan en glo, soos wat bostaande teksgedeelte dit baie duidelik stel! Sodra ‘n persoon die Evangelie geglo het, behoort hy gedoop te word en behoort die doop die eerste stap in die gelowige se weg van dissipelskap te wees. Die doop red ons egter nie en ons word ook nie gedoop om gered te word nie. (‘n Persoon sal nie verlore gaan as hy nie gedoop is nie. ‘n Persoon gaan verlore omdat hy die Evangelie nie glo nie) Die doop vorm nie deel van die ware Evangelie nie. Om in doopsaligheid te glo is om die Evangelie as onvoldoende te verwerp!

2) Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Word slegs op grond van God se genade, deur geloof alleen, in die Here Jesus Christus (se Persoon en voltooide werk aan die kruis) alleen,  sonder die doen van enige werke bekom.
Rom 3:27 “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 3:28 Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.
Efs 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Die Here Jesus Christus plus niks of niemand anders nie! Nie die Here Jesus Christus plus die wet nie! Nie die Here Jesus Christus plus sabbatdag onderhouding nie. Nie Jesus Christus plus die doop of enige ander kerk tradisie of ordonnans nie. Nie 99% Christus en een 1% jy nie. Die Evangelie plus niks!! Die evangelie is die blye boodskap van God se onbeskryflike liefde en genade! Ons redding het Hom alles gekos en dit het ons niks gekos nie.
Gal 2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Gal 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”

Loon: (fase twee – heiligmaking) Loon word op grond van God se genade deur voortgesette geloof, wat in Christus verheerlikende werke moet uitloop, bekom.
1Ko 3:5 “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. 3:6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. 3:7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. 3:8 Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. 3:9 Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 3:10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 3:11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 3:12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”
Genade loon word op grond van goeie werke/dade, as loon, verdien, maar wedergeboorte word as geskenk deur geloof ontvang en kan nooit as loon deur ‘n persoon verdien word nie!
Rom 4:4 “Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 4:5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.
Rom 11:6 En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”

3) Verlossing: (fase een- wedergeboorte) Met wedergeboorte (eenmalige punt in tyd gebeurtenis) ontvang die gelowige die ewige lewe, as huidige besitting, en kan nooit weer veroordeel word, sodat hy verlore kan gaan nie.
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 3:18 Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
Joh 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom”

Loon: (fase twee – heiligmaking) Loon word aan die gelowige voorgehou, as iets wat hy in die toekoms, deur toegewyde dissipelskap en heiligmaking kan verdien.
1Ko 3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 3:12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”
Die Here Jesus Christus het ons ook gemaan:
Mat 6:19 “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 6:20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;”
Die leser word aangeraai om die artikels “Die Gelowige se Werke gaan beoordeel word”; “Die Gelykenis van die Ponde”; “Hemelse Krone, Loon en Goeie Werke” asook “Wat is die Ewige Lewe” te lees om meer besonderhede rondom hierdie onderwerp te bekom.

4) Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, word daardie persoon weergebore. Soos reeds genoem, is wedergeboorte ‘n gebeurtenis wat op ‘n gegewe punt in tyd plaasvind en is dan afgehandel.
Joh 5:24 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe (huidige besitting) en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (afgehandelde saak)
Dit is belangrik om mooi op die term: “Maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” te let. Hier stel die Here dit baie duidelik, dat sodra ‘n persoon tot geloof in Hom kom, daardie persoon alreeds oorgegaan het vanuit die dood na die ewige lewe toe. Die woord “oorgegaan” is in die verledetydsvorm gestel en is dus ‘n gebeurtenis wat reeds afgehandel is. ‘n Gelowige word nie in ‘n proeftydperk geplaas, om eers te sien of genoegsame goeie werke of heiligmaking is sy lewe waarneembaar is, alvorens die Here hom as weergebore persoon beskou nie. Die Vader verklaar die persoon, op die oomblik van geloof in Christus, geregverdig en daardie persoon is dan ‘n weergebore kind van God. God beskou so ‘n persoon se wedergeboorte as ‘n afgehandelde saak.

Loon: (fase twee – heiligmaking) Loon gaan na afloop van die wegraping, en voor die aanbreek van Christus se duisendjarige vrederyk op aarde, aan gelowiges wat tydens die dispensasie van genade (Kerk dispensasie) gelewe het, by die Regterstoel Oordeel van Christus, uitgedeel word.
Rom 14:10 “Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.
2Ko 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Die Regterstoel Oordeel van Christus moet nie met die Wit Troon Oordeel verwar word nie. Slegs wedergebore kinders van die Here gaan met die Regterstoel Oordeel van Christus voor die Here Jesus Christus verskyn. Die doel van die Regterstoel Oordeel van Christus, is om die gelowige se lewe, na aanvanklike weergeboorte, onder oë te neem om vas te stel of daardie persoon loon gaan ontvang of nie. By hierdie geleentheid is die gelowige se redding nie in gedrang nie en is daar geen sprake dat hy verlore sal kan gaan nie. By die Wit Troon Oordeel verskyn slegs ongelowiges en word die mate van hulle straf volgens hulle werke bepaal. Hulle almal gaan egter verlore en word tot die poel van vuur verdoem. Lees asb die artikel “Die Wit Troon Oordeel” vir meer besonderhede rondom hierdie gebeurtenis.

5)Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Wedergeboorte kan nooit verloor word nie. Die gelowige kan in die eerste plek niks doen om verlossing te verdien, of homself verlos nie, maar kan dit slegs, as genade gawe, by God in geloof ontvang. Om hierdie rede kan die gelowige ook niks doen om die verlossing, wat God in Sy genade aan hom gegee het, te verloor nie.
1Ko 3:15 “as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 10:30 Ek en die Vader is een.”
Die leser word aangeraai om die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir ‘n meer omvangryke verduideliking van hierdie wonderlike belofte van God te bekom.

Loon: (fase twee – heiligmaking) Genade loon kan egter verloor word alhoewel die gelowige nooit verlore sal kan gaan nie.
1Ko 3:15 “as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Opn 3:11 Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.”
Die leser word weereens aangeraai om die artikels “Die Gelowige se Werke gaan beoordeel word”; “Die Gelykenis van die Ponde”; “Hemelse Krone, Loon en Goeie Werke” asook “Wat is die Ewige Lewe” te lees om meer besonderhede rondom hierdie onderwerp te bekom.

6) Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Geloof/vertroue in die Here Jesus Christus is die enigste vereiste om wedergebore te raak.
Hnd 16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Loon: (fase twee – heiligmaking) Verskeie aspekte gaan in ag geneem word, alvorens ‘n weergebore kind van die Here genade loon by die Regterstoel Oordeel van Christus sal ontvang. Eerstens gaan die kwaliteit van ‘n gelowige se werke in ag geneem word.
1Ko 3:12 “En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 3:14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen
2Ko 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. 5:11 Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees.”

Tweedens gaan die gelowige se getrouheid teenoor God, Sy woord (Bybelse Leerstellings) en God se wil in ag geneem word.
1Ko 4:2 “En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word.
2Jo 1:8 Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang. 1:9 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. 1:10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 1:11 Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.”
Anders as wat so gereeld op Christelike televisie en ander media verkondig word, neem God Sy leerstellige, soos wat Sy getroue diensknegte dit in die Bybel opgeteken het, baie ernstig op. Om eenheid ten koste van suiwer Bybelse leerstellings te wil bewerkstellig is om ontrou aan God te wees. So ‘n persoon wil mense behaag en nie God nie. Verder word van herders verwag dat hulle getrou die Here dien en nie hulle ampte te misbruik om wins te maak nie. Kyk maar hoe word die belydende Christendom soos ‘n besigheid bemark en bedryf. Hierdie mense behoort hulle te skaam eerder as om hulle gierigheid orals ten toon te stel!
1Pe 5:2 “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; 5:3 ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. 5:4 En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.”
Anders as die hedendaagse sogenaamde super apostels het die ware apostel Paulus homself nooit verryk nie, getrou Bybelse leerstellige verkondig en met sy lewe vir Christus geboet. Hy het nooit mense uitgebuit, homself as ‘n Christen ster bemark nie, maar het in Christus en Sy kruis geroem, met die wete dat hierdie wêreld nie sy tuiste is nie. Sy loon gaan egter groot wees!
2Ti 4:6 “Want ek word alreeds as ‘n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby. 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. 4:8 Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het”.
Verder gaan gelowiges wat versoeking getrou verdra, ryklik deur die Here daarvoor beloon word.
Jak 1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”

En laastens, gaan die gelowige se motiewe, agter sy optrede en goeie dade, deur die Here beoordeel word.
1Ko 4:4 “want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.
Mat 6:1 Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie. 6:2 Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. 6:3 Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 6:4 sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde. 6:5 En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het. 6:6 Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”
‘n Gelowige behoort alles wat hy doen tot eer van die Here te doen en nie om deur mense raakgesien te word nie. Hoe getrou aan die Here is ons wanneer daar nie mense is wat ons raak kan sien nie? En wat van die gedagtes en motiewe agter ons mooi uiterlike glimlag en voorkoms?
Kol 3:23 “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, 3:24 omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” 

7) Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Bepaal waar ‘n persoon die ewigheid gaan deurbring. Of in die hemel in die teenwoordigheid van die Here, of in die poel van vuur, vir ewig geskei van God se teenwoordigheid.
1Jo 5:11 “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. 5:13 Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Loon: (fase twee – heiligmaking) Ons goeie werke, wat na aanvanklike wedergeboorte gedoen is, gaan bepaal watter funksies, posisies en voorregte ons in God se koninkryk, as genade loon, gaan ontvang.
Fil 3:11”of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 3:12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 3:13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 3:14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
Die opstanding waarvan Paulus hier praat, is nie die opstanding wat alle gelowiges aan deel sal hê nie. Hierdie opstanding waarvan Paulus van praat, is ‘n opstanding wat as loon voor die gelowige gehou word en waarna so ‘n persoon kan streef om dit deelagtig te wees. Ons ontvang die ewige, sonder enige werke van ons kant af, as geskenk by God, deur geloof alleen, soos wat dit alreeds in hierdie studie gedemonstreer is. Daar is egter ‘n ander faset van die opstanding waarna Paulus hier verwys, wat slegs diegene wat Jesus Christus getrou as dissipels nagevolg het, deel van sal vorm. Die apostel Petrus het ook na hierdie gebeurtenis, as ‘n ryklike ingang tot God se koninkryk, wat baie duidelik aandui dat hy na iets beter as net die gewone opstanding, waarvan alle gelowige deel van sal vorm, verwys.
2Pe 1:10 “Daarom, broeders, (fase een, naamlik weergeboorte is alreeds afgehandel anders sou hy nie na hulle as broeders verwys nie) moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking) want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. 1:11 Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (Fase drie van ons verlossing, naamlik verheerliking, waar ons ook vir toegewyde dissipelskap/heiligmaking beloon sal word)
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs het na hierdie opstanding as ‘n beter opstanding verwys.
Heb 11:35 “Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ‘n beter opstanding te kan verkry.”
Daar is dus ‘n faset van die eerste opstanding, waaraan alle gelowiges deel van sal uitmaak, wat aan die gelowige as loon voorgehou word, wat getroue dissipelskap/heiligmaking van die gelowige sal vereis, wat geloofswerke wat in en deur die Heilige Gees gedoen is, sal insluit. Hierdie opstanding staan as die beter opstanding bekend en word dus as genade loon verdien.

8)Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Met wedergeboorte word ons in die Here Jesus geplaas, en ons word slegs deur die Vader begenadig, op grond van ons posisie in Christus, omrede Christus aan die kuis vir al ons sondes versoening gemaak het.
Efs 1:6 “tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.”

Loon: (fase twee – heiligmaking) Alle gelowiges gaan egter beloon word, indien hulle hulleself daarop toegelê het, om te lewe soos wat die Here Jesus Christus wou hê hulle moes lewe. Dus moet ons doel wees om die Here in alles en ten alle tye te verheerlik.
2Ko 5:9 “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

9) Verlossing: (fase een – wedergeboorte) Ons verlossing sal in lofprysing tot God eindig!
Opn 5:8 “en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. 5:9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 5:10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. 5:11 Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; 5:12 en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. 5:13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! 5:14 En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.”

Loon: (fase twee – heiligmaking) Alle genade loon wat ons as gelowiges na weergeboorte versamel sal in lofprysing tot God eindig!
Opn 4:9 “En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 4:10 val die vier en twintig ouderlinge (wat die hier die Kerk, wat alreeds met hulle krone beloon is, verteenwoordig) neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: 4:11 U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”
Die ouderlinge werp hulle krone voor die Here neer, omrede hulle ten volle daarvan bewus sal wees, dat hulle krone (loon) slegs op grond van God se genade, deur geloof, in en deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees bekom is.

Ter Afsluiting: Dit is uiters belangrik, om duidelik onderskeid tussen God se kostelose geskenk van die ewige lewe/wedergeboorte/verlossing (Fase een) en genade loon, wat deur voortgesette werke van geloof wat in en deur die instaatstellende krag van Heilige Gees gedoen is, te tref. (fase twee – heiligmaking) Waar iets aan die gelowige voorgehou word, as iets wat hy deur goeie werke kan verdien, kan met sekerheid gesê word dat die skrywer heiligmaking (fase twee) bedoel en nie aanvanklike wedergeboorte nie. (fase een) Die enigste vereiste vir verlossing/wedergeboorte is geloof in die Evangelie. Dissipelskap het niks met aanvanklike wedergeboorte te make nie, maar is egter ‘n vereiste vir heiligmaking. Dit is God se wil dat alle gelowiges toegewyde dissipelskap, wat heiligmaking insluit, sal nastreef, maar die Bybel toon baie duidelik, dat nie alle gelowiges toegewyde dissipels is nie. ‘n Persoon wat nie heiligmaking in sy lewe toepas nie, kan ernstige gevolge verwag wat moontlik ewigdurende implikasies vir hom sal inhou. ‘n Persoon kan egter nie die ewige lewe verbeur nie, omrede dit kosteloos as genade gawe by God, deur geloof ontvang is, en die Bybel stel dit baie duidelik dat God se genadegawes nooit teruggeneem word nie.
Rom 11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering, Geloof en die Ewige Lewe” ook te lees.

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.