Word met die Gees Vervul

Word met die Gees Vervul

Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit baie duidelik dat die apostel Paulus ons vermaan het om met die Heilige Gees vervuld te word. Hy praat nie hier van die ontvang van die Gees by wedergeboorte nie, maar die dag na dag vervulling met die heilige Gees na wedergeboorte.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Dit is belangrik om die onderskeid te merk. Anders as met wedergeboorte, waar die Heilige Gees outomaties in ons kom inwoon, omrede ons die Evangelie verstaan en geglo het, word die opdrag, om met die Gees vervuld te word, aan ons gegee en is ons samewerking nodig. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees net een keer wanneer hy die Evangelie op ‘n punt in tyd glo.  Die vraag wat dan egter ontstaan, is wat moet ons doen om met die Gees vervuld te word?  Om die antwoord te kry moet ons na die Bybel gaan en nie na buite Bybelse praktyke of tradisies nie. (Waarvan daar baie voorbeelde in die belydende Christendom is) Die Bybel is God se Woord, en ons moet ons leerstellings slegs vanuit die Bybel bekom en nie van menslike opinies, tradisies en vleeslike manifestasies wat met die Bybel in botsing is nie. Vervolgens ‘n paar riglyne vanuit die Bybel oor hoe ons deur die Gees vervul kan word, want dit is die wil van God vir al Sy kinders en nie net vir sommiges nie. Onthou, om met die Heilige Gees gedoop te word, is ‘n eenmalige proses wat met wedergeboorte plaasvind. Om met die Gees vervul te word is ‘n voortdurende proses waar ons moet toelaat om deur die Heilige Gees beheer te word.

Breek met alle werke van die duisternis.

Mens sal nooit regtig met die werke van die duisternis kan breek indien ons nie ‘n liefde vir die waarheid het nie. God se Woord aan ons is die waarheid, en die woord moet ons maatstaf vir die bepaling van enige waarheid wees. Waarheid is nie subjektief nie, maar moet met die Bybel vergelyk word om te sien of dit die toets van die waarheid deurstaan.
Joh 4:24 “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Slegs indien ons werklik die waarheid wil weet, en wil toepas, sal ons deur die Gees van God geleer kan word, anders mislei ons net onsself. Derhalwe is dit van uiterste belang om met enige bose werke te breek anders sal ons nie Geesvervulde lewens kan lei nie.
1Jo 1:5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”

Bely alle sondes voor God en teenoor mense wat ons op enige opsig benadeel het.

Dit is nie net genoeg om met sonde te breek nie. Dit moet aan God bely word, wat as bewys dien dat ons erken dat ons gesondig het en sodoende die gemeenskap wat gebreek is wil herstel. Dit is nie ware belydenis om net sonde onder die mat in te vee en maak of dit nooit plaasgevind het nie. (dit sluit valse leerstellings ook in) Dit moet bely word en daar moet verskoning daarvoor gevra word. Dan alleen het ware belydenis plaasgevind.
Jak 5:16 “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.
1Jo 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Net wanneer ons ons sondes bely kan ware vergifnis ontvang en verwag word.

Baie mense bely hulle sondes, maar breek nie werklik daarmee nie. Ander breek wel met hulle sondes, maar bely dit nie en vra ook nooit vergifnis vir hulle sondes nie. Dit is maar net nog ‘n manier van weiering om te erken dat ons gesondig het . Dit is ‘n vorm van hoogmoed en trots en so ‘n persoon kan nooit verwag om deur die Gees van God gevul te word nie. Tot die mate waarmee ons, onsself van sonde en self ledig tot daardie mate kan die Heilige Gees ons vul.
1Jo 1:10 “As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”
Die Heilige Gees is heilig en sal ‘n mens altyd in die waarheid lei. Hy sal egter nooit sonde verdoesel of goedpraat nie, dit sluit die sonde van trots en eiewaan in.

Spandeer tyd in die Skrifte

‘n Persoon kan nie verwag om met die Heilige Gees vervul te word, indien daardie persoon nie die moeite doen om tyd in die Skrifte te spandeer, en dan daaroor na te dink en dit in gebed met God te bespreek nie. Miljoene mense word deesdae in die kerke dwarsoor die wêreld verlei, omrede hulle nie self tyd met God en Sy Woord spandeer nie, maar op ander mense staatmaak om hulle met die Woord te voer. Hulle moet dus alles glo wat aan hulle verkondig word. Hulle kan mislei word en selfs dink dat hulle gered is, net om later, wanneer dit te laat is, uit te vind dat dit egter nooit die geval was nie en dat hulle heeltyd mislei was. Dit mag dalk nie lekker wees om sulke woorde te hoor nie , maar dit is presies dieselfde gevaar waarteen die Here Jesus Christus Sy dissipels gewaarsku het.
Mat 7:15 “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
24:11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
Is dit nie wat vandag in die oorgroot gedeelte van die belydende Christendom aan die gebeur is nie?

Hoe gaan ek weet wat die Heilige Gees aan my wil sê, indien ek nie weet wat in die Skrifte staan nie?  Om op omstandighede, gevoelens, vleeslike manifestasies en buite-Bybelse profesieë staat te maak is om jouself vir ernstige misleiding oop te stel. Watse standaard, anders as die Bybel, kan ‘n mens gebruik om die waarheid in enige situasie te bepaal? Niks nie! Slegs die Bybel moet as maatstaf vir ons leerstellings en optredes dien. Ja, dit beteken ons moet mekaar in terme van God se woord (die Bybel) vermaan.
2Ti 4:2 “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”
Hoe gaan ons God se wil vir ons lewens weet, indien ons nie eens die moeite doen om Sy Woord aan ons te bestudeer nie?
Kol 3:16 “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.”

Om die Woord ryklik in ons te wil laat woon, sal beteken dat ons daardie Woord gereeld sal moet bestudeer, (en ken) anders sal ons nie kan beweer dat die woord ryklik in ons lewe nie. Ons moet ook soos die mense van Beréa wees, wat alles wat Paulus aan hulle verkondig het, met die Skrifte vergelyk, om seker te maak dat dit wat hy aan hulle verkondig het, werklik die waarheid volgens die Skrifte was. (Hnd 17:11) Is dit nie juis nou die tyd om alles met die Skrifte te vergelyk nie? Veral indien mens die grootskaalse verleiding, en vreemde vleeslike manifestasies, wat ons in ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom waarneem, in ag neem. Nou dat ons die woord bestudeer het, behoort ons ook daders van die woord te word.  
Luk 6:46 “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

Ons moet onsself verloën ons kruis opneem en Jesus volg

Ons moet van die self ontledig word en dan eers sal die Heilige Gees ons werklik kan vul. Tot die mate waarmee ons, onsself verloën en ons kruis opneem en die Here as getroue dissipels navolg, tot daardie mate sal ons deur die Heilige Gees gevul kan word en vrugte dra.
Luk 9:23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”
Ons moet vir die self sterf en vir Christus lewe! Enigiets minder as dit is kom op afgodediens neer, omrede ons inwerklikheid onsself dien en nie God nie.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
William MacDonald stel dit baie mooi. (Vertaal uit Engels) “Om met nuwe inhoud gevul te word, moet die koppie eers van al die vorige inhoud ontledig word.” 

Ons moet onsself volledig oorgee aan die leiding en beheer van die Heilige Gees. Dit sluit alles wat ons is, en het, in.

Dit sluit ons geld, verstand, tyd, talente, ons skatte, wat ons lees en kyk, ons ontspanning, die vriende met wie ons meng, die werk wat ons doen, die leerstellings wat ons glo, die lewe wat ons lei, die plekke wat ons besoek, ons liggame en selfs die gemeente wat ons besoek in. Dit sluit dus alles wat ons is en het in, want dit alles behoort aan die Here en is immers Sy eiendom.
Rom 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”
Ons kan niks terughou nie.
Mat 10:37 “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
10:38 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”

Ons moet uit die wêreld uitkom.

Rom 12:2 “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
God het ‘n doel met elkeen van ons se lewens!
Efs 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
Solank as wat ons wêreldgesind is, gaan ons nie uitvind wat die Here se wil vir ons lewens is nie. Ons kan op die einde van ons lewens met ‘n groot skok uitvind, dat alles wat ons in hierdie wêreld gedoen het, alles buite die wil van God was. Wat ‘n bitter teleurstelling gaan dit nie wees om uit te vind dat ons nooit werklik God gedien het nie, maar eerder die wêreld en onsself gedien het. Die Bybel stel dit baie duidelik dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is.
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
Ons moet daarteen waak, om nie te laat uit te vind, dat dit wat ons as vriendskap met God beskou het, in werklikheid vriendskap met die wêreld was en dat ons as vyande van God geleef het nie. Ons moet nou seker maak, wat God se wil vir ons lewens is, en dit dan uitvoer. Dit is ‘n persoonlike vraagstuk, wat elke persoon self by God die antwoord voor moet kry. Ons gaan slegs God se wil vir ons lewens kan vasstel, indien ons tyd met Hom en Sy woord spandeer.

Ter afsluiting.

Om ‘n Geesvervulde lewe te lei beteken nie om in die Gees te val nie en in onverstaanbare brabbeltaal te praat nie. Dit beteken, dat die “eie ek” gekruisig is en dat die Heilige Gees volkome beheer oor die persoon se lewe het. God kan dan deur so ‘n persoon lewe en Geestelike vrugte voortbring. ‘n Gees-vervulde persoon het ten alle tye volle selfbeheersing, wat een van die vrugte van die Gees is. Hy verloor op geen stadium beheer oor homself nie.
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Ook is die gees van die persoon ten alle tye onder beheer van die persoon en daar is geen rede vir onbeheerste gedrag of ‘n gebabbel in sogenaamde vreemde tale nie.
1Ko 14:32 “En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe;
14:33 want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.”

Baie mense dink dat dit geestelik is om in die kerk onordelik op te tree en te val en rond te rol. Ons merk hierdie optrede nêrens in die lewens van die Apostels of Jesus op nie. Jesus het nie mense in die Gees laat val nie. (Slain in the Spirit) Ons word egter gemaan om heilig te lewe.
1Pe 1:16″ omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
Alles wat ons doen, of sê, moet onder die leiding van die Heilige Gees plaasvind. Om op vleeslike manifestasies staat te maak, as bewys van geestelikheid, is om nie in geloof te wandel nie, maar op sig. Die Skrifte stel dit egter baie duidelik dat die gelowige uit die geloof sal lewe en nie op sig nie.
Rom 1:17 “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
‘n Persoon wat op uiterlike manifestasies staatmaak, as bewys dat hy met die Gees gevul is, gaan ernstig mislei word en dit is alreeds tot ‘n groot mate in die belydende Christendom waarneembaar!

Hoe kry mens dit dan reg om in die Gees te wandel en om ‘n Gees vervulde lewe te lei. ‘n Onbekende skrywer het dit as volg gestel en dit kan nie beter gestel word nie. (Vertaal uit engels) “Net soos wat jy jou hele sondelas afgelê het, en in Christus se voltooide werk gerus het, so moet jy die hele las van jou lewe, en diens, in Sy hande los en op die huidige inwerking van die Heilige Gees rus. Gee jouself daagliks aan die Here Jesus Christus oor, om deur Sy Gees gelei te word en gaan dan met lofsange en vrede in jou hart uit, sodat Hy jou, en jou dag, kan bestuur. Kweek hierdie gewoonte reg deur die dag aan, deur op Hom alleen staat te maak en Hom te gehoorsaam, in afwagting dat Hy jou sal lei, jou verstand sal verlig, jou sal vermaan, jou sal leer en gebruik, sodat Hy Sy lewe in en deur jou kan lewe. Reken op Sy inwerking as ‘n feit, sonder om op sig of gevoelens staat te maak. Laat ons net glo en Hom gehoorsaam wees, sodat Hy as Heerser volkome beheer oor ons lewens kan uitoefen. Ons moet ophou om ons lewens self te wil bestuur, ons laste self te wil dra en ons lewens aan Hom oorgee. Dan alleen sal die vrugte van die Gees in ons lewens manifesteer. Iets wat die Heilige Gees self in ons lewens sal bewerkstellig en dit alles tot eer van God.”

Kom ons doen dit en word met die Gees vervul. Onthou, om met die Gees vervuld te wees is om deur die Gees beheer te word. Tot die mate waardeur ons onsself, van die eie ek ontledig, tot daardie mate sal die Gees ons kan vul.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.