Is die gawe van Profesie nog in werking vandag?

Is die gawe van Profesie nog in werking vandag?

Met die ongekende toename in mense wat beweer dat hulle oor die profetiese gawe beskik en direk by God “ ‘n Woord of Skrif ontvang” is dit belangrik dat ons hierdie vraagstuk eerlik vanuit die Bybel beantwoord. Ongekende skade, aan gelowiges se geloof, word deur sogenaamde profete aangerig, wat ‘n profesie oor mense uitspreek en waarop daardie persone dan reageer, net om later uit te vind dat dit nooit God se wil vir hulle was nie, en dan het sommige van hierdie gelowiges alreeds ernstige finansiële verliese gelei, om nie eens van al die ontnugtering en die hartseer en skade aan hulle geloof te praat nie. Erger nog, gaan baie gelowiges eendag voor die Here staan, en te laat uitvind dat hulle nooit werklik in God se wil gelewe het nie, juis omrede hulle die leerstellings en profesieë van sogenaamde moderne profete aangehang en nagevolg het. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, om vanuit die Skrifte vas te stel of die Geestelike gawe van profesie, na afloop van die Apostoliese Era, nog in werking is, toe die boek Openbaring voltooi is en die laaste ware Apostels van Christus, met hulle afsterwe, van die toneel af verdwyn het. Die leser moet asb kennis neem, dat hierdie artikel hoofsaaklik oor die geestelike gawe van profesie gaan handel. Vir meer inligting oor die gawe van in tale praat, word die leser aangeraai om die artikel “Spreek in vreemde tale” vir meer inligting te lees. Ek raai die leser ten sterkste aan om ook daardie artikel te lees, omrede daar belangrike inligting is wat met die gawe van profesie oorvleuel, wat nie noodwendig in hierdie artikel herhaal gaan word nie.

Dit is egter uiters belangrik, om by sensitiewe aangeleenthede soos hierdie, God se wil te soek in ‘n poging om vas te stel wat Hy oor ‘n gegewe saak te sê het en nie wat ons graag wil hoor nie. Dit is baie maklik, om ons eie godsdiens en teologie te skep en onsself dan daardeur te mislei, deur te dink dat ons God eerbiedig en navolg, alhoewel dit nooit werklik die geval was nie. Daarom is dit belangrik om God op Sy terme, soos wat Hy dit in Sy woord, die Bybel, aan ons gee, te soek en gehoorsaam en nie volgens ons eie vooropgestelde idees nie. Onthou, geloof wat nie op die waarheid, soos wat ons dit in die Bybel opgeteken staan, gebaseer is nie, is nie ware Bybelse geloof nie, maar ‘n delusie. Uit die aard van die saak moet ons vanuit die Bybel poog om vas te stel, of die Geestelike gawe van profesie, nog in die Post-Apostoliese tydperk in die Kerk in werking is of nie. Ek bid dat die Here, deur Sy Gees, ons verstand sal verlig, sodat ons tot ‘n Bybelse slotsom rondom hierdie kwessie kan kom.

Voordat ek die teksgedeeltes, wat as bewys gebruik sal word, om aan te toon dat die gawe van profesie tot niet gegaan het, aanhaal en bespreek, is dit belangrik om eerstens kortliks ‘n paar observasies rondom profete in die algemeen en dan spesifieke observasies rondom profesie in die Nuwe Testament te maak. Ek gaan net sekere teksgedeeltes onder elke afdeling aanhaal. Die leser word aangeraai om self al die teksverwysings in sy Bybel op te lees, anders gaan hierdie artikel te lank raak.

Eerstens, sewe algemene Skriftuurlike observasies rondom profete in die algemeen.
1) ‘n Ware profeet van God ontvang direkte openbarings (Engels: Revelations) van God af. (Num. 12:6; Jer. 1:4-10; Eseg. 13:2-3; 17; Joël 2:27-31; Ef. 3:3-5)

2) ‘n Ware profeet van God se werk sluit beide die voorspelling asook oorvertelling (proklamasie) van God se woord in, omrede die profeet as God se amptelike woordvoerder optree. Hy spreek dus God se eie woorde! (Ex. 7:1-2; 2Sam. 24:10-13; Eseg. 12:26-28; Amos 7:14-17; Hand. 11:27-28; 21:10-11)

3) ‘n Ware profeet van God kan of ‘n skrywende profeet of ‘n nie skrywende profeet wees. Alhoewel alle ware profete van God direkte openbarings van God ontvang, word slegs sommiges beveel, om dit wat God aan hulle geopenbaar het, op te skryf. Die nie skrywende profete kry egter nie die opdrag om God se openbaring aan hulle op te skrywe nie. Voorbeelde van skrywende profete is: Jesaja, Esegiël, Daniël, en Hoséa, om maar net ‘n paar te noem. Voorbeelde van nie skrywende profete is Elía, Elísa en in die Nuwe Testament, Agabus. Net vir interessantheid, moet kennis geneem word, dat dit vanuit die Skrifte duidelik is dat die Here Jesus Christus nooit Sy eie profesieë self opgeteken het nie. Dit sluit ook die gebeure van Sy hele lewe in. Hy het hierdie taak aan Sy aangewese Apostels en dissipels oorgelaat.

4) ‘n Ware profeet van God is gekenmerk deur volkome akkuraatheid in leerstelling en profetiese uitlatings. (Deut. 13:1-5; 18:9-22; Luk. 24:25-27; 44-48; Hand. 3:17-18; 10:43)
Deu 18:20 “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. (Perfekte voorspellings akkuraatheid)
Deu 13:1 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 13:2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 13:3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang. 13:5 Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat die HERE jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.” (‘n Profeet moes dus leerstellig korrek gewees het. Indien nie, moes hy, as profeet, verwerp word.)
Indien die hedendaagse profete se leerstellings met die Bybel vergelyk word, dan is dit opvallend hoe baie van hulle van die Bybelse waarheid afvallig geword het, en daarom moet hulle op buite Bybelse profesieë staatmaak, om hulle sienswyses te verdedig, of hulle haal teksgedeeltes buite konteks aan of verdraai dit doodeenvoudig om hulle leerstellings te regverdig. Indien ‘n profeet iets voorspel en dit kom waar, moet al sy leerstellings eerstens met die Bybel vergelyk word alvorens hy geglo word. ‘n Groot gedeelte van die belydende Christendom oortree God se opdragte in Sy woord en dan beweer hulle dat hulle in die krag van die Heilige Gees optree. Hierdie is ‘n tragedie van ongekende proporsies.

Maar net een so voorbeeld is waar ‘n bekende hedendaagse profeet verklaar het, dat die probleem in ons land by die feit rus, dat ons onsself nie lief genoeg het nie. Dit terwyl hierdie dwaalleer lynreg met die Bybel in botsing is, maar nog steeds volg derduisende mense hierdie sogenaamde profeet. (Die leser word aangeraai om die artikel “Jouself Liefhê?” te lees om meer inligting rondom hierdie kwessie te bekom.) Indien hierdie profeet direkte kommunikasie met God het, hoekom korrigeer God hom dan nie oor die feit, dat sy leerstellings direk met God se woord in botsing is nie? Die rede is doodeenvoudig! Hy is nie ‘n ware profeet van die Here nie en ontvang ook nie direkte kommunikasie van God af nie. Indien hy enigsins direkte openbarings van God af ontvang, dan sou God hom sy fout uitgewys het. Het die Here nie belowe dat die Heilige Gees, wat God self is, ons in alle waarheid sou lei nie?
Joh 4:24 “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Joh 16:13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Die Here neem Sy eie woord , wat die waarheid is, baie ernstig op.
Joh 17:17 “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.”
En dan praat ek nie eens van die valse profesieë wat gereeld deur hierdie mense uitgespreek word en wat nooit waar word nie. Het hulle vergeet dat om as profeet te kwalifiseer, ‘n standaard van honderd persent akkuraatheid vereis word?

5) ‘n Ware profeet van die Here was deur die Heilige Gees, op ‘n bonatuurlike wyse, in staat gestel om sy werk te verrig. (Num. 11:25-29; 1Sam. 10:1;6;10-12; Luk.1:67-80; Hand. 19:6;)

6) ‘n Ware profeet van God was deur valse profete nagemaak en gekontrasteer. (Jer. 2:8; 5:30-31; 14:14-16; 1Kon. 18:17-40; 22:1-39; Matt. 7:17-23; Luk. 13:27-28)
Jer 5:30 “‘n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: 5:31 die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?
Jer 14:14 En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart. 14:15 Daarom, so spreek die HERE: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie—dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom. 14:16 En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê vanweë die hongersnood en die swaard sonder dat iemand hulle begrawe; hulle, hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters. So sal Ek dan hulle boosheid oor hulle uitstort.
Mat 7:15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. 7:16 Aan hulle vrugte (leerstellings en profesieë wat hulle verkondig.) sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! 7:17 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 7:18 ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. 7:19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 7:20 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”
Die vrugte van ‘n profeet is dit wat uit sy mond uitkom, omrede ‘n valse profeet vroom mag voorkom, maar hy sal geken word, deur wat hy verkondig. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, om sogenaamde profete se uitsprake en leerstellings met die Bybel te vergelyk, en daar moet seker gemaak word, dat woorde en teksgedeeltes nie verdraai en uit konteks aangehaal word nie.

7) Die grootste en mees uitnemendste profeet van alle tye is niemand anders as die Here Jesus Christus self nie. (Deut. 18:15, 18; Joh 1:19-27, 44-49; 4:19, 25; 6:14; 7:16; 7:40; 8:28; Hand. 3:19-23)

Nou vir ‘n paar spesifieke observasies rondom profesie in die Nuwe Testament.
1) Die Geestelike gawe van profesie, is ‘n Goddelike gawe, wat slegs aan sekere gelowiges in die Kerk dispensasie, deur die Heilige Gees gegee is. ( 1Kor. 12:7-11)
1Ko 12:7 “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 12:8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees; 12:9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees; 12:10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale. 12:11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.”
Die gawe van profesie kan dus nie aangeleer, by ‘n ander persoon ontvang of deur die lees van ‘n sekere boek of handleiding bekom word nie. Die Heilige Gees het bepaal wie die gawe gaan ontvang en wie nie.

2) Die amp van Profeet was die tweede belangrikste amp/gawe wat in die vroeë Kerk toegestaan was. (1Kor. 12:28)
1Ko 12:28 “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.”

3) Die gawe van profesie was nie aan alle gelowiges in Christus gegee nie. (1Kor. 12:29)
1Ko 12:29 “Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie?”

4) Die gawe van profesie sluit die feit in, dat ‘n persoon direkte openbarings van God ontvang, wat die element van voorspelling insluit. (2Pet 1:20-21)
2Pe 1:20 “terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; 1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”

5) Die gawe van profesie sou ophou, sodra dit wat perfek is gekom het. (1Kor. 13:8-10)
1Ko 13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan. 13:9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. 13:10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.”
Hierdie teksgedeelte sal later meer breedvoerig bestudeer en bespreek word, aangesien hierdie teksgedeelte, as bewys dien dat die gawe van profesie tot niet sou gaan. Ek los dus die bespreking van hierdie teksgedeelte tot ‘n later stadium in hierdie artikel.

6) Die gawe van profesie was voordelig vir die Kerk, omrede daar ‘n direkte woord van God ontvang is, wat weer aan die gemeente oorgedra is, wat tot die stigting/ opbouing, vermaning en vertroosting van die gemeente gelei het. (1Kor. 14:1-5)
1Ko 14:1 “Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. 14:2 Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. 14:3 Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. 14:4 Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. 14:5 Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.”

7) Wanneer die gemeente saam vergader het, moes die gawe van profesie volgens sekere regulasies beoefen word. (1Kor. 14:26; 29-33)
1Ko 14:26 “Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied.
14:29 Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel. 14:30 Maar as daar iets geopenbaar is aan ‘n ander wat daar sit, laat die eerste swyg. 14:31 Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word. 14:32 En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe; 14:33 want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.”
Uit bostaande teksgedeeltes kan daar kortliks ‘n paar waarnemings weergegee word. In enige samekoms kon sleg twee of hoogstens drie profete gespeek het. Onthou die Heilige Gees, as God self, sal nooit teen Sy eie opdragte in optree nie. Ook sal Hy Homself nooit weerspreek nie. Kyk maar wat in sommige samekomste van vandag gebeur, waar daar baie meer as net drie profete tydens ‘n samekoms “profeteer” en dit alles kwansuis onder die direkte invloed van die Heilige Gees!

Alle profetiese uitsprake moes deur die res van die gemeente beoordeel en in lig van die Skrifte deeglik ondersoek word, alvorens dit as van God afkomstig aanvaar is. Let op die woorde: “Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.” Hierdie was nie ‘n voorstel nie, maar ‘n opdrag wat deur God aan die gemeentes gegee is. Ek verwonder myself soms as ek hoor hoe sommige van die hedendaagse profete teen mense uitvaar, wat hulle uitsprake met die Skrifte vergelyk en dan hulle valse profesieë as sulks uitwys. Sulke mense word as “heresy hunters”, Fariseërs en selfs as die Antichris uitgekryt.” Ek persoonlik was al meer as eenkeer as die Antichris uitgekryt, net omrede ek presies gedoen het wat God my in Sy woord beveel het om te doen. Mens kan maar net die vraag vra, hoekom hierdie sogenaamde profete so teen mense reageer wat presies dit wat God hulle beveel om te doen, doen? Onthou die Heilige Gees is God en sal nie teen Sy eie opdragte in optree nie. Mens sou verwag dat God aan die sogenaamde profete, wat kwansuis direk van Hom hoor, hulle foute uitwys. Maar helaas niks nie! Hoekom nie? En onthou God gee ons die opdrag om hierdie profete en hulle profesieë met die standaarde, soos wat in Sy woord, die Bybel, opgeteken vind te vergelyk. Dus, moet hulle voorspellings akkuraatheid ten alle tye een honderd persent akkuraat wees! Tweedens moet hulle leerstellige suiwerheid ten opsigte van die Bybel handhaaf. Dit sluit die Skriftelike opdrag, dat wat hulle profiteer, met die Bybel vergelyk moet word ook in, en as hulle verkeerdelik profiteer, moet hulle as valse profete uitgewys en vermy word. Derdens, moet hulle persoonlike morele integriteit met die skrifte beoordeel word.

Wanneer die gemeente saamgekom het, en die profete geprofiteer het, dan moes die mees onlangse profesie die voorkeur geniet, juis omrede dit die mees onlangse openbaring direk van God afkomstig was.
1Kor 14:30 “Maar as daar iets geopenbaar is aan ‘n ander wat daar sit, laat die eerste swyg.”
Onthou toe Paulus hierdie opdragte aan die gemeentes geskryf het, was die voltooide grondtekste, soos ons dit vandag in die Bybel vind, nog nie voltooi gewees nie, en was dit vir God nodig gewees om Sy gemeente deur profetiese woorde te lei. Hou hierdie feit ingedagte soos wat ons met hierdie studie voortgaan. (Later sal meer oor hierdie punt uitgebrei word.) Boonop dit alles, moes slegs een persoon op ‘n slag gespreek het.
1Kor. 14:31 “Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word.”
Die logika agter hierdie opdrag is eenvoudig! Geen mens kan werklik iets leer as almal deurmekaar praat nie.

Verder moes die profete altyd in beheer van hulle geeste gewees het.
14:32 “En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe; 14:33 want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.”
Alhoewel hierdie opdrag in God se woord opgeteken staan, word dit dood eenvoudig deur baie van die sogenaamde profetiese byeenkomste geïgnoreer en blatant oortree. Kyk maar wat in baie van hierdie byeenkomste plaasvind. Profete saam met hulle gemeentes word in die “gees” dronk. Daar word in die “gees” geval en baie van hierdie mense tree soos diere op. (Vir meer inligting rondom hierdie aangeleentheid, word die leser aangeraai om die artikel “Val in die Gees” te lees.) Kyk maar watse onordelike gedrag by sommige van hierdie profetiese of sogenaamde herlewingsdienste plaasvind en dit alles in die “Gees” Daar moet weereens daarop gewys word, dat God heilig is, en dat Hy as sulks, nie teen Sy Wese, attribute en woord kan optree nie. Hy sal nie deur die Heilige Gees die opdrag gee, dat die profete se geeste onder hulle beheer moet wees nie, en dat alles ordelik in die gemeentes moet plaasvind en dan juis Sy Gees stuur en presies die teenoorgestelde doen nie! So iets kan en sal nooit gebeur nie! Die vraag ontstaan dan: “Wie of watter gees beheer hierdie mense dan, sodat hulle juis optree in stryd met wat God, deur die Heilige Gees, ons in Sy woord beveel?”

8) Profete was fundamenteel vir die Kerk. Nuwe Testamentiese profete was dus deel van die fondasie waarop die Here Jesus Christus Sy Kerk sou bou. Net soos wat enige gebou op ‘n fondament of fondasie gebou word, is die Kerk op die fondasie van die apostels en Nuwe Testamentiese profete gebou.
Efs 2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,”
Die ampte van Apostels en Profete was tydens die vroeë jare (Apostoliese Tydperk) nog nodig gewees, omrede die volledige Grondtekste van die Bybel (66 Boeke van die Bybel) nog nie voltooi was nie. Apostels en profete was dus nog nodig gewees, omrede God nog besig was om nuwe openbarings aan die mensdom en veral aan Sy Kerk, te gee. (Sien aangehegde illustrasie “Die Kerk” wat aan die einde van hierdie studie bygevoeg is en wat hierdie konsep op ‘n meer visuele wyse demonstreer.) ‘n Gebou, net soos die Kerk, word op ‘n fondasie gebou. Nadat die fondasie gelê is, word die res van die gebou opgerig, en word daar nie weer ‘n fondament gelê nie. Net so was die Apostels en profete aan die begin van die kerk dispensasie nodig gewees, maar nadat die fondasie gelê en die volledige Grondtekste voltooi was, was hulle nie meer nodig nie, maar wel die ampte van herders, leraars en evangeliste wat op die alreeds voltooide fondament moes voortbou.

9) Profesie moes nie verontagsaam geword het nie, maar soos reeds gestel moes dit getoets word alvorens dit as van God afkomstig aanvaar is. (1Thess. 5:20-22; 1Joh. 4:1-3, Hand. 17:10-12)
1Ts 5:20 “Verag die profesieë nie.”
Om hierdie rede is dit belangrik om die profetiese woord, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, deeglik te bestudeer, en waar van toepassing, in ons eie lewens van toepassing maak. Verder moet in ag geneem word, dat hierdie opdrag deur die Apostel Paulus gemaak is, wat as Apostel, tydens die apostoliese tydperk geleef het, toe die gawe van profesie nog in werking was. Die Apostel Johannes het ook die gelowiges gewaarsku om nie elke gees te glo nie.
1Jo 4:1 “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.”
Dit is opmerklik dat die hedendaagse profete nie meer aandag aan hierdie spesifieke profesie gee nie, veral as mens in ag neem dat hulle beweer, dat hulle direkte openbarings by God ontvang. Boonop het die Heilige Gees dit goed gevind om die gelowiges in Berea aan te prys, juis omrede hulle Paulus se woorde met die Skrifte vergelyk het, om seker te maak dat wat hy aan hulle verkondig werklik van God afkomstig was.
Hnd 17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”
Waarom weerstaan so baie van die hedendaagse profete hierdie opdragte van God? Weerstaan hulle die Here of gehoorsaam hulle Hom? Diegene wat God gehoorsaam, en die moderne profete, se profesieë met die Bybel en die leerstellings daarin, vergelyk word aangeval en sleg gesê? Hoekom?

10) Valse profete en leraars is nou al in die Kerk teenwoordig. Hierdie mense kan maklik aan hulle valse leerstellings (vrug wat uit hulle mond uitkom); hebsug; die uitbuiting van hulle ledemate om hulleself te verryk; hulle arrogansie; hulle onbeteuelde begeertes na materiële rykdom, mag, en gewildheid en die misbruik van hulle posisies van invloed om hulleself persoonlik te bevoordeel, uitgeken word. Dit alles ten koste van Bybelse waarheid en suiwer Skriftuurlike leerstellings. Lees asb onderstaande teksgedeeltes sorgvuldig deur.
2Pe 2:1 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; 2:3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.
2Pe 2:10 en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, 2:11 terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie. 2:12 Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan 2:13 en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag ‘n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul; 2:14 met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het ‘n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking. 2:15 Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het, 2:16 maar die bestraffing van sy eie oortreding ontvang het: die stom lasdier het met die stem van ‘n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder. 2:17 Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.”
Onthou, net omdat ‘n persoon gewild is en ‘n oortuigende orator is, beteken geensins dat hy leerstellig korrek is of dat hy ‘n profeet of prediker van God is nie!

11) Valse profete en profesie sal deur Satan gebruik word om die ekumeniese een-wêreld godsdiens/kerk tot stand te bring. (Matt. 24:4-5; 11; Openb. 13:11-18; 16:13; 19:20)
Mat 24:4 “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! (Engels: “the anointed”) en hulle sal baie mense mislei. (Kyk maar hoeveel mense beweer dat hulle die salwing of anointing het”)
24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
Opn 13:11 En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, (die valse profeet) en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam (hy sal vroom voorkom) en het gepraat soos ‘n draak. (hy sal egter Satan se leuens en valse leerstellings verkondig.) 13:12 En hy oefen al die mag van die eerste dier (die Antichris) uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier (die Antichris) aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. 13:13 Hy (die vals profeet) doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 13:14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier (die Antichris) te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier (die Antichris) wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. 13:15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier (die Antichris) se beeld nie aanbid nie. 13:16 En hy (die vals profeet) maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; 13:17 sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier (die Antichris) of die getal van sy naam het. 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig. (666)
Opn 16:13 En ek het uit die bek van die draak (Satan) en uit die bek van die dier (Antichris) en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.
Opn 19:20 En die dier (die Antichris) is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.”

Die vraag ontstaan egter nou. Bestaan die geestelike gawe van profesie nog steeds in die Post-Apostoliese tydperk van die Kerk dispensasie, en is daar profete in die Kerk vandag? Ek is vas oortuig daarvan dat 1Kor. 13:8-10 dit baie duidelik maak, dat tydens die Kerk dispensasie die gawe van profesie tot niet sou gaan. En vanuit hierdie Skriftuurlike perspektief is ek vas oortuig dat daar nie meer profete in die Post-Aapostoliese Kerk/tydperk van vandag is nie. Indien mens al die bostaande observasies getrou in ag neem, behoort dit baie duidelik te blyk, dat nie een van die sogenaamde profete van vandag, volgens die Bybel, kwalifiseer om as profeet van God op te tree nie. Nieteenstaande hierdie feit, sal ons in lig van gesonde Bybel eksegeses (interpretasie) 1Kor 13:8-10 deeglik onder die vergrootglas neem en sal gepoog word om dan tot ‘n deurslaggewende slotsom te kom. En onthou, ons begeertes moet wees, om te hoor wat God omtrent hierdie saak te sê het en nie wat ons graag wil hoor nie. Anders skep ons maar net ons eie mensgemaakte godsdiens.

Om 1Kor 13:8-10 reg te verstaan is dit belangrik om die betrokke teksgedeelte, in lig van die omliggende konteks waarin dit geskryf is, te bestudeer en dan ons bevindings met die res van die Bybel te vergelyk. Sodoende kan ons seker maak, dat daar nie ‘n teenstrydigheid (botsing) met ander teksgedeeltes in die Bybel is nie. Voor ons dit egter doen, is dit belangrik om eers die verskillende historiese interpretasies van hierdie teksgedeelte weer te gee, en dan sal ons die verskillende interpretasies in lig van die res van die Skrifte vergelyk. Onthou, waar dit by korrekte Bybel uitleg kom, is dit uiters belangrik om toe te laat dat Skrif, Skrif verduidelik. Kom ons gaan nou na die teksgedeelte.
1Ko 13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis (Hierdie is nie kennis in die algemene sin nie, want selfs in die ewigheid sal almal oor kennis beskik. Hierdie stelling geld ook vir mense wat in die hel sal wees. Die kennis wat hier genoem word, is openbarings kennis, direk van God afkomstig.)—dit sal tot niet gaan. 13:9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. 13:10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.”

Die vraag wat eerstens beantwoord moet word is: “Na wat verwys die term “volmaakte” wat sal kom en wat sal veroorsaak dat dit wat “ten dele is” beëindig sal word? Daar is hoofsaaklik ses verskillende interpretasies vir die term “die volmaakte” en wat in hoofsaaklik twee groepe verdeel kan word. Die eerste groep is mense wat glo dat die term “die volmaakte” (1) na die voltooide Grondtekste van die Bybel of (2) die volwasse/volgroeide Kerk verwys. Ek beskou hierdie twee sienings as verskillende aspekte van dieselfde punt, want die Kerk sou nie sonder die voltooide Grondtekste, ‘n stadium van volwassenheid kon bereik het nie. Die tweede groep wat as die “Perfeksie model” omskryf kan word, en wat die term “die volmaakte” (1) as ons afsterwe, waar ons die Here van aangesig tot aangesig sal sien; (2) die wegraping, waar ons die Here van aangesig tot aangesig sal sien; (3) die Here Jesus Christus se wederkoms aarde toe, waar ons Hom van aangesig tot aangesig sal sien; (4) of in die ewigheid, of anders gestel, die dispensasie van die ewigheid, waar ons ook by implikasie, die Here van aangesig tot aangesig sal sien. Al hierdie sienings is basies dieselfde, omrede ons na afloop van enige van bogenoemde gebeure die Here fisies van aangesig tot aangesig sal aanskou, omrede ons in Sy fisiese teenwoordigheid sal wees. So die “volmaakte” verwys dus na die Here Jesus Christus en sal in die res van hierdie artikel as die “Perfeksie model” verwys word.

Noudat ons ‘n klein bietjie agtergrond kennis rondom die “voltooide Grondtekste” en die “Perfeksie model” sienwyses het, sal die teksgedeelte waarin 1Kor 13:8-10 voorkom aangehaal en verder bespreek word.
1Ko 13:1 “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.13:2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. 13:3 En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.13:4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, 13:5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,13:6 is nie bly oor die ongeregtigheid (sluit valse profesie en dwaalleer in) nie, maar is bly saam met die waarheid.13:7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Opmerking: Hier bespreek die Apostel Paulus die uitnemendheid van liefde bo enige ander gawe. ‘n Persoon kan oor al die gawes beskik, maar indien hy nie die liefde het nie sou dit die persoon niks baat nie.

1Ko 13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.”
Opmerking: Die eerste punt van belang is die feit dat Paulus dit duidelik stel, dat liefde nooit tot ‘n einde sal kom nie, en dus sal dit vir ewig bly voortbestaan, selfs in die dispensasie van die ewigheid, waar ons die Here van aangesig tot aangesig sal sien. God is immers liefde! Tweedens sien ons, dat die gawes van profesieë en kennis (direkte geopenbaarde kennis van God afkomstig) een of ander tyd in die toekoms, vandat Paulus hierdie brief geskryf het, tot niet sou gaan en dat die gawe van tale ook in die toekoms sal ophou. Neem kennis van die feit, dat daar ‘n verskil in die terme “ophou” en “tot niet gaan” is. Twee gawes gaan tot niet en die een hou op om te funksioneer.

1Ko 13:9 “Want ons ken (direk geopenbaarde kennis van God afkomstig) ten dele en ons profeteer ten dele.”
Opmerking: Eerstens moet begryp word, dat Paulus hier na die geestelike gawe van direk geopenbaarde kennis, as van God afkomstig verwys, omrede die mens as geskape wese nie alwetend is en ook nooit alwetend sal wees nie. Alwetendheid is slegs ‘n attribuut van God en niemand anders nie. Selfs in die Hemel sal die mens nooit alles weet nie. Tweedens, stel Paulus dit duidelik, dat die direk geopenbaarde gawe van kennis, en profesie wat hy ontvang het, slegs gedeeltelik is en was toe nog nie volkome of volmaak nie. Met die term “ons” verwys Paulus na die ander apostels en profete, want nie een van die Nuwe Testamentiese profete het alle kennis en profesie ontvang nie, maar hulle het almal gedeeltelike kennis en profesie ontvang. Slegs soos wat die Gees dit aan hulle wou uitdeel. Dus kan gesê word, dat hulle elkeen ‘n gedeelte van ‘n legkaart ontvang het. Die legkaart sou eers voltooi wees, toe die apostel Johannes die boek Openbaring in omstreeks 95nC voltooi het, en toe kon al die stukkies van die legkaart saamgevoeg word om ‘n duidelike beeld te vorm. (Die voltooide Grondtekste) Onthou, met die skryf van die brief aan die Korinthiërs, was die Skrifte nog nie voltooid gewees nie, en God was nog besig om Sy openbarings kennis, deur die gawes van kennis en profesie, aan die Kerk bekend te maak.

13:10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.”
Opmerking: Indien die term “volmaak” as die “Perfekte model, naamlik die Here se fisiese teenwoordigheid” gesien word, skep dit ernstige probleme vir die konteks waarin hierdie stelling gemaak word, asook vir die akkuraatheid van die Bybel. Onthou die Bybel is God se woord en as sulks kan daar geen weersprekings in die oorspronklike Grondtekste wees nie. As dit blyk of daar ‘n kontradiksie is, dan moet ons weet dat die probleem by ons uitleg van die Bybel lê en nie in die Bybel self nie. Indien ons die term “volmaak” as die “voltooide Grondtekste van die Skrifte (die Bybel) beskou, glo ek dat daar geen verder probleme vir die harmoniese uitleg van hierdie teksgedeelte is nie. Hierdie punt sal duideliker word, soos wat ons verder hierdie teksgedeeltes bestudeer. Wat wel met sekerheid hier gestel kan word, is dat Paulus dit duidelik maak, dat as die “volmaakte” gekom het, “dit wat ten dele is” tot niet sou gaan.

1Ko 13:11 “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.”
Opmerking: Dit is duidelik dat Paulus die onvolwasse stadium (kind) met die van die volwasse stadium (nou dat ek ‘n man is) van die mens se groeiproses met mekaar kontrasteer. Wanneer ‘n mens van die stadium van onvolwassenheid (kinderjare) na volwassenheid (groot word) aan beweeg, is dit net logies, dat sekere dinge, wat vir die stadium van onvolwassenheid nodig was, nie meer nodig is, noudat die stadium van volwassenheid bereik is nie, en daarom word hierdie dinge nie meer benodig nie en word dus tersyde gestel. Die gawes van profesie, asook kennis, was vir die vroeë kerk nodig, omrede die gelowiges wat tydens die Apostoliese tydperk gelewe het, nog nie al die openbarings kennis by God ontvang het nie. Gedurende die kinderjare van die Kerk, was die gawes van profesie, tale en kennis vir die vroeë Kerk nodig gewees om reg te funksioneer. Met die ontvangs van die voltooide Grondtekste, het die Kerk van ‘n stadium van onvolwassenheid, tot die stadium van volwassenheid oorgegaan, en het die Post-Apostoliese Kerk nie meer die gawes van profesie, tale en kennis nodig gehad, noudat hulle God se volle Openbarings kennis ontvang het nie. Derhalwe het God die gawes van profesie en kennis tot niet laat gaan. Dus is die dinge van ‘n kind afgelê!

1Ko 13:12 “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”
Opmerking: Dit is van uiterste belang, dat ons nie die analogie van die spieël miskyk of misverstaan nie. Wanneer ons in die oggend opstaan, en dan onsself in die spieël bekyk, is die beeld wat ons daar sien ons eie, maak nie saak hoe onaangenaam daardie beeld ook al mag voorkom nie. Net so kan die analogie van die spieël hier nie na iemand anders, insluitende die Here Jesus Christus, verwys nie, want soos reeds gestel, sien ons ons eie beeld in ‘n spieël nie die beeld van ‘n ander persoon nie. Maar na wat verwys die analogie van die spieël dan. Dit kan nie na die Here Jesus Christus verwys nie, maar dit verwys na die Bybel, Sy woord. As ons toelaat dat Skrif, Skrif verduidelik sal hierdie feit duidelik word.
Jak 1:23 “Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; 1:24 want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 1:25 Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.” (fase twee, naamlik heiligmaking, waar ons bevry word van die houvas van sonde, na aanvanklike wedergeboorte.)

Baie mense maak die fout en beweer dat die term “van aangesig tot aangesig” beteken, dat ons een dag die Here Jesus Christus van aangesig tot aangesig sal sien, en daarom beweer hulle dat die term “die volmaakte” na ‘n tydperk na afloop van die huidige Kerk dispensasie verwys, wanneer ons die Here Jesus Christus fisies van aangesig tot aangesig gaan sien. Dus verwys hulle na die “Perfekte model” soos hierbo uiteengesit. Hulle mis dan egter die hele doel van die spieël analogie en kom dus tot die verkeerde slotsom. Indien ons egter ingedagte hou, dat ons ons eie beeld in ‘n spieël sien en ook Jak. 1:23-25 ingedagte hou, dan is dit duidelik, dat Paulus na die Bybel verwys, waarin ons onsself in lig van God se woord sien, vir wie en wat ons werklik is. Indien die “voltooide grondtekste” siening gehandhaaf word, is daar geen probleem met hierdie teksgedeelte nie. Omrede God se hele openbarings kennis, soos in die Bybel saamgevat, nog nie teen die tyd toe Paulus hierdie brief aan die Korintiërs geskryf het, voltooi was nie, en daarom was die beeld van hulleself, wat hulle in die spieël van die Skrifte ontvang het, onduidelik (‘n raaisel) gewees. Die Skrifte was toe nog nie volledig gewees nie en kon dus nog nie ‘n volledige beeld van hulleself aan hulle terug reflekteer nie. Die Bybel was dus nog onvolledig.

Nou gaan Paulus verder en tref ‘n verdere kontrastering, naamlik tussen nou (die hede) en dan. (iewers in die toekoms).
1Ko 13:12b “Nou (Grieks “arti” wat ‘n die tydsbegrip, tot die oomblik wat hy hierdie stelling gemaak het, beperk.) ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”
Daar moet ook net kennis geneem word, dat die woord “nou” wat vanuit die oorspronklike Griekse woord “arti” korrek as “nou” in die Afrikaanse Bybel vertaal is. Die Grieke het ook ‘n ander woord vir “nou” gebruik en dit is die woord “nuni” wat ook korrek as “nou” in ons Afrikaanse Bybel vertaal is. Wat ons egter moet besef is, dat daar ‘n subtiele onderskeid tussen die woord “arti” en die woord “nuni” in die oorspronklike Grieks is. Die woord “arti” het ‘n meer beperkende idee, en wanner hierdie woord gebruik word, word die klem sterk op die tydstip van nou, op hierdie oomblik, of hierdie uur gelê en is dus beperkend tot die tyd waarin dit gebruik word. Die woord “nuni” het egter ‘n minder beperkte tydsbegrip en kan ‘n wyer tydsverloop insluit. So, as ek die woord “arti” vir nou vertaal, sal ek dit gebruik vir nou onmiddellik, en is die term baie meer beperkend as “nuni” wat ‘n breër tydperk kan insluit. Die tydstip toe Paulus hierdie brief geskryf het, maak hy dit duidelik dat sy kennis slegs gedeeltelik was. Dit geld dus vir sy hoorders en die vroeë Kerk as geheel. Hy stel dit egter duidelik, dat iewers in die toekoms, daar ‘n tyd sou kom waar hy “ten volle sal ken, net soos wat hy geken was.” Soos reeds vroeër in hierdie studie genoem, is net God alwetend en sal die mens, as geskape wese, nooit alles kan weet nie. As mens kan ons egter alles leer ken wat die Here wil hê ons moet weet, omdat Hy die Hele openbarings kennis wat Hy aan ons wou gee, en wat Hy wil hê ons moet weet, aan ons in Sy Skrifte bekend gemaak het. Hierdie feit sal nooit tot alwetendheid van die mens kan lei, wat met die attribute, wat slegs God toekom, in botsing kan kom nie. Alwetendheid is ‘n attribuut van God, en sou ‘n mens ooit alwetend kon wees, dan sou hy God wees. So iets is onmoontlik, want die Bybel stel dit duidelik dat daar net een God is.
Jes 45:5 “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,”
Dit is dus baie duidelik, dat Paulus hier na die voltooide Grondtekste verwys en nie na die “Perfeksie model” nie, anders sou die Bybel homself weerspreek. Iets wat nooit kan gebeur nie.

1Ko 13:13 “En nou (Grieks: “nuni” wat breër tydperk insluit) bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”
Opmerking: Indien die hele gedeelte vanaf 1Kor. 13:1 tot 1Kor.13:13 in gedagte hou en in konteks bestudeer word, sal opgemerk word dat Paulus ook hier ‘n kontras tref. Onthou die stelling soos wat ons dit in 1Ko 13:8 gevind het.
1Ko 13:8 “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.
As ons egter verder lees en by 1Kor.13:13 kom, merk ons op dat Paulus nie meer die gawes van profesie, kennis en tale noem nie, maar hy gebruik die Griekse woord “nuni” wat ‘n breër tydperk as “arti” weergee, om te verduidelik dat geloof, hoop en liefde nou “nuni” (wat ‘n breër tydperk insluit.) sal voortgaan. Dus gedurende die breër tydsverloop van die Post-Apostoliese tydperk het die gawes van profesie, kennis en tale opgehou om te funksioneer en duur geloof, hoop en liefde egter nog voort. Paulus het duidelik in 1Kor 13:8 te kenne gegee dat die gawes van profesie, tale en kennis op die een of ander stadium gedurende die kerk dispensasie tot ‘n einde sou kom, en was bedoel vir die onvolwasse stadium van die Kerk, omrede die Grondtekste nog nie voltooid was nie. En onthou, die Apostels en Nuwe Testamentiese profete was die fondasie waarop die Kerk gebou sou word.
Efs 2:20 “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,” (Die teksgedeeltes skakel mooi op ‘n logiese wyse by mekaar in.)
Mens bou tog nie in fondasie in die mure of dak van ‘n gebou in nie. Ons is ook nie meer aan die begin van die Kerk dispensasie nie, maar aan die einde daarvan, en dit kan met redelike akkuraatheid gestel word, dat die afrondingswerk nou gedoen word. Die Here Jesus Christus is nie nou meer besig om die fondasie van die Kerk te lê nie, maar om sy Liggaam (Die Kerk) te voltooi en een van die dae, (dit kan vandag ook plaasvind) gaan Hy ons kom haal en na Sy Vader se woning in die hemele neem. (sien illustrasie 2 aan einde van die artikel)

Baie mense beweer dat 1Kor. 13:13 net sowel na die “Perfeksie model” kan verwys wat die Wederkoms; die wegraping, dispensasie van die ewigheid ens kan insluit. Indien hierdie sienswyse gehandhaaf word, ontstaan daar ‘n baie ernstige weerspreking in die Bybel. Ek gaan weer 1Kor. 13:13 aanhaal en dan my opinie daaroor lig.
1Ko 13:13 “En nou (Grieks: “nuni” wat breër tydperk insluit) bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”
Indien hierdie teksgedeelte enigsins na een van die “Perfeksie model” se stadiums verwys, ontstaan daar ‘n baie ernstige probleem. Onthou dat in die “Perfeksie model” daar een gemeenskaplike eienskap is, en dit is dat ons dan die Here van aangesig tot aangesig sal sien. Die Bybel stel dit egter baie duidelik dat geloof ‘n vaste vertroue op dinge is wat ons hoop, en ‘n bewys is van die dinge wat ons nie sien nie.
Heb 11:1 “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”
Wanneer ons die Here van aangesig tot aangesig sien, dan verval hoop en geloof onmiddellik en sal nie meer in die fisiese teenwoordigheid van die Here Jesus Christus bly voortbestaan nie.
Rom 8:24 “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?”
Geloof en hoop verdwyn in die fisiese teenwoordigheid van God. Net die liefde bly vir ewig, soos Paulus dit vroeër baie duidelik gestel het. Geloof en hoop bestaan dus nie in die fisiese teenwoordigheid van die Here Jesus Christus nie, en dus kan 1Ko 13:8 nie na enige stadium, waar ons die Here fisies sal waarneem, verwys nie, maar kan dit slegs op die Post-Apostoliese tydperk van die Kerk dispensasie van toepassing wees, anders het Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees ‘n foutiewe stelling gemaak. (iets wat nooi sou kon plaasvind nie.) Die Bybel stel dit baie duidelik dat hoop wat gesien word geen hoop meer is nie. Ons hoop tog nie op iets wat ons alreeds het nie! In lig van bogenoemde feite is dit duidelik dat die “Perfeksie model” in lig van die Skrifte platval en dat die “Voltooide Grondtekste model” die enigste model is wat die toets van gesonde Bybelse eksegese kan deurstaan. God het deur Sy woord met ons gepraat! Gaan ons dit so aanvaar?

Opsommend: Dit is opmerklik dat Paulus ‘n kontras tussen die gawes van profesie, kennis en tale (1 Kor. 3:8) (Apostoliese Tydperk toe die Skrifte nog nie voltooi was nie.) en geloof hoop en liefde (1 Kor.13:13) [Post Apostoliese Tydperk, in omstreeks 95nC, toe die Apostel Johannes die laaste boek in die Bybel, naamlik Openbaring voltooi het], getref het. Op ‘n sekere stadium tydens die Kerk dispensasie sou die gawes van profesie, kennis en tale ophou (Post-Apostoliese tydperk) om te funksioneer en dan sou die gawes van geloof, hoop en liefde voortduur tot en met wanneer ons die Here Jesus Christus met die wegraping (beëindiging van die Kerk dispensasie) of ons afsterwe van aangesig tot aangesig sal sien. Dan sal slegs die liefde voortduur, want Paulus het dit duidelik gesetel dat die liefde nooit tot ‘n einde sou kom nie.
1Ko 13:8a “Die liefde vergaan nimmermeer;”
Die nodigheid vir geloof en hoop sal ook dan by hierdie geleentheid tot ‘n einde kom, en sal ook nie meer nodig wees nie, want dan is die Kerk dispensasie afgehandel en is ons almal veilig by die Here Jesus Christus, waar ons Hom van aangesig tot aangesig sal aanskou. Die liefde sal egter vir ewig bly voortbestaan. (sien illustrasie 2)

Ter Afsluiting: Daar is egter mense wat beswaar aanteken en beweer dat die gawes van profesie nie gedurende die Kerk dispensasie tot ‘n einde kon kom nie, omrede ons dan gedurende die verdrukking profete kry wat profeteer. Wat hulle egter vergeet, is dat die Verdrukking nie deel van die Kerk Dispensasie uitmaak nie, en die gawes van profesie wat Paulus in 1Kor. 13:8 bespreek, slegs van toepassing op die Kerk is. Die gawes van die Gees soos in 1Kor. 13:8 is deur die Heilige Gees aan die Kerk gegee, en die Kerk dispensasie kom met die wegraping tot ‘n einde. Ja, daar gaan profete gedurende, en na die verdrukking wees, maar hulle tree as profete na afloop van die Kerk Dispensasie op, en daardie gawes het niks met die geestelike gawes, wat die Heilige Gees gedurende die Kerk Dispensasie aan lede van Sy Kerk uitdeel, te make nie. Ons moet teen die versoeking waak, om die verskillende dispensasies in die Bybel, met mekaar te vermeng. Om so iets te doen gaan tot erge verdraaiing van God se woord lei. Die gawes wat in hierdie artikel bespreek is, handel hoofsaaklik oor die geestelike gawes wat tydens die Kerk Dispensasie, deur die Heilige Gees uitgedeel is, en nie die in anders dispensasies nie.

Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die gawes van profesie, kennis en tale (nie aangeleerde menslike tale) na afloop van die Apostoliese tydperk tot ‘n einde gekom het. Mense wat tydens die Post-Apostoliese tydperk leef en beweer dat hulle die gawe van profesie by God ontvang het, is of ernstig mislei of lieg openlik. Die Here sal Homself nie weerspreek of anders optree as wat Hy dit in die Bybel bekendmaak nie. Baie mense praat van herlewing, maar daar sal nie werklik herlewing kan plaasvind, alvorens hierdie sogenaamde profete tot inkeer kom, en werklik weer die Bybel bestudeer om van te stel wat die Here werklik oor hulle sogenaamde amp of gawe te sê het nie. Ek hou egter nie my asem op nie, want die Bybelse profesieë stel dit duidelik dat sake nie sal verbeter nie, maar eerder gaan vererger.
2Ti 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. (nie wêreldwye herlewing soos deesdae geprofeteer word nie.) 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. 3:6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, 3:7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.
2Ti 3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs (wat valse profete insluit) sal voortgaan van kwaad tot erger, (nie verbeter nie) hulle wat (ander) verlei en (self) verlei word. 3:14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid (fase twee van verlossing, naamlik heiligmaking) deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, (leerstellings) tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome (ons het niks anders as die Skrifte nodig om te weet hoe ons, as gelowiges, in hierdie wêreld moet lewe nie) kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (die Skrifte is voldoende! Ons het nie buite Bybelse profesie of profete nodig, om te weet wat in die toekoms gaan gebeur en hoe ons moet lewe, nie. Alles wat die Here wou hê ons moet weet, is alreeds vir ons in die Skrifte opgeteken. Indien ‘n persoon wil weet wat God te sê het, dan moet daardie persoon sy Bybel, onder leiding van die Heilige Gees, bestudeer en nie na sogenaamde moderne profete toe gaan nie.) Voordat ons enigiets glo wat aan ons verkondig word, moet ons eerstens vra:” Wat sê die Skrifte?”Ons doel moet altyd wees, om in alle onderdanigheid en eerbied aan God, in alle nederigheid die waarheid, na te speur, soos wat God dit, in Sy woord, aan ons bekend gemaak het. Indien ons die Here nie in die waarheid aanbid nie, dan aanbid ons Hom nie werklik nie.
Joh 4:24 “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”

Seën Groete

Vic

apostels-en-profete-as-fondament

1kor-138

Deel met ander asb.