Man en Vrou

Man en Vrou

Efesiërs 5:22 “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. 5:23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
5:24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.”                               

Opmerking: Anders as wat sekere groepe in ons tyd beweer, verwag die Here dat die vrou haar eie man onderdanig moet wees. Daar is nie ‘n manier om hierdie opdrag van God te omseil nie. Daar is egter geen mate van minderwaardigheid hier ter sprake nie. Net soos wat Jesus vrywillig aan die Vader onderdanig is, is Hy op geen manier minderwaardig aan die Vader nie. Jesus is absoluut gelyk aan die Vader in alle opsigte. God is ‘n God van orde en waar daar geen orde is nie, is daar anargie. En dit geld vir ons land en families. In Genesis sien ons dat God opgemerk het dat dit nie goed vir die mens is om alleen te wees nie en dat Hy besluit het om vir hom ‘n hulp te maak. (Genesis 2:18) Die woord vir “hulp” word op presies dieselfde manier hier gebruik as vir die Here ons “hulp” in ander plekke in die Skrif. Daar is dus ‘n onmiskenbare edele konnotasie aan die woord “hulp” verbonde. Onthou dit!
Psalm 70:5 “Maar ek is ellendig en behoeftig: o God, kom tog gou na my! U is my hulp en my redder; HERE, vertoef tog nie!
Ek vir een sal maar ellendig gevoel het sonder my vrou. As die mans onder ons eerlik is, sal hulle saam met bogenoemde stelling stem.

Dit demonstreer maar net die feit dat die mens nooit sy volle potensiaal sou bereik het as hy alleen sou bly nie. Hy sou altyd onvolledig gewees het, indien die Here nie die vrou vir hom geskape het nie. Die vrou is oor die algemeen liefdevoller, sagter, en ontferm haar meer oor mense as die man. Daar is al ook beweer dat vrouens langer kan uithou in ongunstige emosionele toestande as mans. Dus kan dit met sekerheid gestel word dat die man en vrou werklik vir mekaar geskape is. (ons is dus pas-maatjies!) Wat die een kort kom vul die ander een aan. Verder moet ons ook onthou dat die huwelik een van die eerste institusies is wat deur God op aarde ingestel is, en daarom kan mens verwag die die institusie van die huwelik een van die eerste teikens van Satan sal wees. Dis ook geen wonder dat die huwelik, tussen een man en een vrou, deesdae so geweldig aangeval word nie. Die huwelik tussen een man en een vrou is die basiese bloubokke waarop ‘n stabiele samelewing gebou word. Satan weet dat indien hy die huwelik tussen een man en een vrou suksesvol kan aanval die samelewing as geheel ook met tyd sal verbrokkel. (Iets wat alreeds aan die gebeur is)

Vir ‘n ordelike samelewing en gesinslewe moet die vrou die man onderdanig wees. Eva het in die tuin van Eden gedemonstreer wat gebeur as die vrou die rol van die man oorneem. In pleks daarvan dat sy die saak met Adam bespreek het, het sy self besluit om God te wantrou en van die vrug geëet en die mens in ‘n bestaan van dood en lyding gedompel. Dit gebeur nog steeds in ons tyd.
Net vir interessantheid wil ek net noem, dat dit wil voorkom of Eva verlei is, maar dat Adam moedswillig gesondig het, omrede hy geweet het dat as hy nie van die vrug ook eet nie net sy sou sterf en hy haar dan gaan verloor. Dit is hoekom hy moedswillig God se opdrag verontagsaam het. Hy was nie verlei nie, maar het presies geweet wat God gesê het en wat hy op die punt staan om te doen. Die Here het immers die opdrag persoonlik aan hom gegee. Lees die onderstaande teksgedeelte sorgvuldig deur en besluit dan vir jouself.
1Timoteus 2:14 “En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”

Nou vir die manne!
Efesiërs 5:25 “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,
5:27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. 5:28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; 5:29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. 5:30 Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. 5:31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. 5:32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. 5:33 In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.”

Opmerking: Indien die mans hulle vrouens so lief het soos wat Jesus die Kerk het, dan sou dit nie eers nodig vir my gewees het om hierdie gedeelte aan te haal nie. Ek moet in skaamte my kop laat sak en erken ek respekteer my vrou nie soos wat ek moet nie, en dat ek haar selfs soms afskeep. Het ons, ons vrouens regtig so lief as wat ons, onsself het? En ek bedoel ons het geen probleem met selfliefde nie. Kyk net na ons lywe dan kan jy sien hoe mooi ons na ons self kyk. Sal ons, ons rugby, televisie en ander manlike bedrywighede opgee om meer tyd met ons vrouens te spandeer? Ons moenie ons vrouens afskeep, slegsê of sleg behandel nie, hulle is een van die grootste seëninge wat ons van die Here kan ontvang.
Spreuke 18:22 “Wie ‘n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ‘n welgevalle van die HERE verkry.”
Sien ons manne dit so? En dank ons Hom daarvoor deur ons vrouens met respek te behandel?

Om mee af te sluit gaan ek herhaal wat ‘n baie wyse ou man geskryf het. Net soos wat die Kerk gebore is uit die onbeskryflike lyding van haar Verlosser, die Here Jesus Christus, so is die vrou uit die man se liggaam geneem. Die vrou is uit die sy van die man geneem, nie uit sy kop nie, sodat sy nie op sy kop sal wil sit nie. Sy is ook nie uit sy voete geneem nie, sodat die man haar nie sal vertrap nie. Sy is uit die ribbes onder sy arm uitgehaal, sodat die man haar kan bewaar en oppas. Sy is uit sy ribbes uit geneem , wat naby sy hart geleë is, sodat hy haar moet lief hê. Is dit nie mooi nie en demonstreer dit nie ons God se wysheid en liefde nie? Kom laat ons Hom gehoorsaam wees en mekaar eerbiedig.

Seën Groete.

Vic

Deel met ander asb.