Skinder

Skinder

Spr 20:19 “Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.”
Ai die seerkry en trane wat ‘n skindertong nie al veroorsaak het nie, en nog steeds is dit nie die einde nie. Nou praat ek nie eers van ongelowiges nie, maar van gelowiges wat veronderstel is om Jesus se ambassadeurs op aarde te wees. Hoeveel keer het ons nie al selfs in ‘n Bybelstudie groep gesit waar ‘n persoon bespreek en sleg gesê word en die persoon nie eers teenwoordig is om homself te verdedig nie. Ons verskoon ons gedrag deur om te beweer, dat ons die persoon net bespreek omdat ons hom wil help en vir hom omgee. Die eenvoudige waarheid is dat ons nie werklik vir die persoon omgee nie, maar dat ons lekkerkry om ander sleg te sê en ons eie foute liefs ignoreer. As ons werklik vir die persoon omgee dan sal ons hom nie met ander bespreek nie, maar direk na hom gaan en hom sy foute meedeel. Sal dit nie meer voordeliger wees vir die persoon nie? Maar dit is egter nie wat gebeur nie. Dit is baie makliker om ons tonge soos skerp messe in die persoon se rug in te laat glip, as wat ons hom prontuit sal aanvat. Hy sal hom dan immers kan verdedig en ons kan dalk net tweede kom, nie waar nie. Miskien weet hy dalk van ons tekortkominge en noem hy dit dalk en dan sal die groep mos regtig rede hê om te skinder.

Die Heilige Gees het Jakobus geïnspireer om ons in te lig wat die oorsprong van skinder in werklikheid is.
Jak 3:6 “Die tong is ook ‘n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ‘n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek.”
‘n Beter beskrywing van ‘n skindertong as dit kan nie gegee word nie. Vir die Here is niks onsigbaar nie en Hy weet waar skinder vandaan kom, al beweer ons die teenoorgestelde. Verder vermaan die Here ons ook in Sy Woord oor skinder.
Jak 1:26 “As iemand onder julle meen dat hy godsdienstig is en sy tong nie in toom hou nie, maar sy hart mislei, die godsdiens van hierdie man is tevergeefs.”

As daar nou een ding is wat van die Christendom ‘n bespotting in die oë van die ongelowige wêreld maak, dan is dit ‘n persoon wat beweer hy ‘n Christen is en in openlike sonde leef. Ongelukkig is skinder een van die maklikste sondes om raak te sien, aangesien dit so gereeld plaasvind. ‘n Persoon wat van skinder hou, sal altyd ‘n gewillige oor soek om na sy gif te luister, en dit beteken noodwendig dat iemand van sy sonde weet al is dit net die hoorder. Ek sê nie dat sonde in ‘n gemeente nie aangespreek moet word nie, maar as ‘n fout uitgelig moet word, moet die stappe gevolg word wat die Here in Sy Woord aan ons gee, en gee dit ons nie die reg om mense agter hulle rug te beskinder nie.

Paulus het aan ons ‘n mooi voorbeeld gelos om na te volg indien iemand ‘n spesifieke sonde in die gemeente wil uitwys.
1Ko 1:11 “Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.”
Waar ‘n persoon voel dat hy ‘n berig oor iemand die lig moet laat sien, moet hy bereid wees dat sy naam genoem word. As hy nie bereid is dat sy naam genoem word nie, dan wil hy net skinder en moet ons nie eers verder na die persoon luister nie. Om na so ‘n persoon te luister, help ons hom net in sy sonde voort, en word ons ook self deel van die probleem.

Ons sal nooit ware getuies van die Here kan wees indien ons bekend staan as skinderbekke nie. ‘n Skindertong bou nooit enige iemand op nie ,maar los net spore van vernietiging soos wat hy mense se karakters verkrag en afbreek. Dink net bietjie! As die persoon van ander by jou skinder, kan jy maar verseker wees hy gaan jou by ander beskinder. Met die mate waarmee hy ander by jou slegsê, gaan hy jou by ander slegsê. Daarvan kan jy maar verseker wees. Wat is die nut om so iemand as vriend te hê? Hy is nie in werklikheid jou vriend nie , maar een wat jou ondergang wil bewerkstellig anders sou hy jou nie beskinder het nie. Hoe gaan jy ooit ‘n persoonlike probleem met so iemand kan bespreek indien hy loop en almal beskinder. Iemand sal dwaas wees om ‘n skindertong met enige persoonlike probleem te vertrou. Daar is absoluut geen nut om met mense vriende te wees as hulle jou net gaan beskinder nie. ‘n Ander probleem is, dat mense assosieer ons met die mense wie ons mee meng. Ons mag miskien self nie skinder nie, maar om na sulke mense te luister neem ons deel aan hulle kwaad en skend dit ons getuienis vir Jesus .

Dit is ook die rede waarom Paulus ons beveel het om nie met mense om te gaan wat beweer dat hulle Christene is, maar ander beskinder nie.
1Ko 5:11 “maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”
Kom laat ons tot inkeer kom en die Here se Naam verheerlik, deur om mense waarlik lief te hê en hulle nie te beskinder nie. Kom ons hou op om in ander se sake te wil inmeng en bepaal ons by ons eie sake. Gun ander om hulle lewens vir die Here te lewe, soos wat Hy hulle lei en nie soos wat ons dink hulle moet lewe nie. As ons voel hulle sondig , moet ons die moed hê om hulle van aangesig tot aangesig te spreek om sodoende die probleem op te los. Ons het egter nêrens die reg om hulle agter hulle rug met ander te bespreek nie. Dit is skinder en God sien dit.

Om mee af te sluit. As wat staan ons in ons gemeenskap bekend? Staan ons as die dorp se skinderbek of ‘n lopende koerant bekend, of kan die mense werklik Jesus in ons raaksien? Weet mense dat hulle op jou kan staatmaak om hulle nie te beskinder of sleg te sê nie? Hoe gaan ons onthou word? Onthou, ons kan dalk ‘n persoon se enigste geleentheid wees om Jesus se Beeld op hierdie aarde raak te sien. Hoe sien hy ons? Sien hy Jesus in ons raak of sien hy ‘n duiwel? Dink mooi oor hierdie stelling na. Skinder laat jaarliks meer trane vloei as wat al die oorloë saam bloed laat vloei het! Dit is werklik hartverskeurend!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.