Lukas 12:22-26: “En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?”
Opmerking: Hoe maklik raak ons nie beangstig wanneer dinge begin skeefloop nie? Dit moet ons Here bedroef wanneer ons deur ons optrede demonstreer dat ons nie volkome op Hom vertrou nie. Waarom bekommer ons onsself so maklik?
Lukas 12:27-28: “Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!”
Opmerking: Ons moet op die punt kom waar ons besef dat die Here Jesus Christus ons met Sy bloed losgekoop het. Ons behoort nie meer aan onsself nie, maar aan Hom. Ons hoef onsself nie te bekommer nie; ons is Sy eiendom!
1 Korintiërs 6:19-20: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Noudat ons weet dat ons nie aan onsself behoort nie, waarom bekommer ons ons dan oor alles? In die Here Jesus Christus het die Vader ons net so lief as wat Hy die Seun het. Oordink hierdie feit en die geweldige implikasies wat dit vir ons as gelowiges inhou. Sal God die Vader vir Jesus Christus in die steek laat? Nee—net so min sal Hy ons in die steek laat. Kom ons verheerlik Hom vir Sy genade deur op Hom te vertrou; aangesien ons aan Hom behoort, is dit Sy prerogatief om na ons om te sien. Ons moet ophou om ons oor alles te kwel.