Christelike Lewenswandel

Die Christelike Lewenswandel; ‘n Skriftuurlike Perspektief

Inleiding: Wat behels die Christelike lewenswandel? As ons na die belydende Christendom, as geheel kyk, dan is dit baie opmerklik dat die Christendom wat ons nou sien en beleef, oneindig ver verwyderd geraak het met wat God se doelwit daarvoor was. Wat ons huidiglik in die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom sien gebeur, is ‘n tragedie van ongekende proporsies, en ek is seker daarvan, dat dit ons hemelse Vader se hart moet breek.

Meeste moderne Christene bely God met die mond, maar dien egter met toegewyde ywer voor die altaar van die groot self, Mammon en hedonisme. Christus word as God en Heerser bely, maar in werklikheid word van Hom verwag, om met toepaslike ywer, wat ons slegs van ‘n getroue slaaf kan verwag, op al ons deklarasies en uitsprake te regeer. Mens kry soms die idee, dat die postmoderne Kerk op die troon sit, met Christus as sy slaaf. Selfaangestelde apostels en profete lewer dawerende uitsprake, en sogenaamde profete lewer profesieë wat lynreg met God se woord, die Bybel, in botsing is, en daar word selfs in sekere kringe beweer dat die Bybel nie voltooi is nie, maar dat daar nog steeds nuwe openbarings, wat met die Skrifte gelyk gestel word, ontvang word. Hulle weet immers meer as wat God self weet en verontagsaam God se waarskuwing dat ons nie by Sy woord mag byvoeg nie.
Opn 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. 22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”

En wat van die Christelike Sielkundiges wat ons wil wysmaak, dat die Bybel nie volkome genoeg, vir die suksesvolle uitleef van die Christelike lewe is nie. Nee daar moet van onskriftuurlike en selfs okkultiese metodes gebruik gemaak word om die mens se siel te genees. Teksgedeeltes soos 2 Tim 3:16 word met minagting oor die hoof gesien en en menslike uitsprake en menings vervang.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.
Het die Heilige Gees gelieg toe hy die apostel Paulus geïnspireer het om die bostaande teksgedeelte neer te skryf? Wie moet ons dan glo? Die selfaangestelde moderne apostels ,profete en sogenaamde Christelike Sielkundiges?

Of God en Sy woord, naamlik die Bybel, soos wat ons dit in die 66 boeke, vanaf die boek Genesis tot en met die einde van die boek Openbaring, opgeteken sien staan? Indien die oorgrote meerderheid van die hedendaagse Christene nie in die kerkgebou vermaak word nie, sal hulle dood eenvoudig nooit in die kerkgebou gesien word nie. O ja, en moet asseblief nie die Bybel op ‘n sistematiese wyse deurwerk, en die doktrines wat daarin opgeteken staan, verkondig nie, want dit gaan verdeeldheid veroorsaak! Nee, slegs enkele teksgedeeltes moet uit konteks aangehaal word, om die selfvoldane gehoor se ore te streel! En as ons nie met die woorde in die Bybel saamstem nie, dan ryk ons ons eie vertaling uit, wat daarin sê wat ons wil hê dit moet sê. Of indien bogenoemde metode nie voldoende is nie, dan verwyder ons slegs die teksgedeeltes wat ons nie daarin wil raaksien nie, of verdraai dit, of haal dit so buite konteks aan, dat dit geensins die oorspronklike skrywer se bedoeling daarmee weergee nie. God het ons egter vooraf oor hierdie tendens gewaarsku, toe die ware Apostels onder inspirasie van die Heilige Gees, die volgende profesieë gemaak het:
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Dit is egter nie hierdie artikel se doel om breedvoerig oor hierdie tendens uit te brei nie, dit is al male sonder tal, deur God se getroue dienaars in ander boeke en artikels gedoen. Die doel van hierdie artikel is om weer na die Skrifte te kyk, om daarin vas te stel wat God oor die Christelike lewenswandel te sê het. In hierdie artikel gaan daar 21 punte vanuit die Bybel uitgelig word, wat die Christelike lewe vanuit God se oogpunt sal weergee. Die leser word aangeraai om hierdie teksgedeeltes, onder lyding van die Heilige Gees, en in gebed met God, te oordink. ‘n Verdere doel met die skryf van hierdie artikel, is om aan die leser God se opinie oor die uitleef van die Christelike lewe weer te gee, soos wat ons dit in Sy woord, die Bybel, opgeteken vind, en nie vanuit die sondige mens se oogpunt nie. Daar het ongelukkig soveel valse leerstellings die Kerk binne gedring, dat dit soms vir gelowiges moeilik is om die baie leuens van God se waarheid te onderskei. Daarom is dit belangrik om slegs die woord van God, die Bybel, vir ons leerstellings te gebruik. Indien ons bereid is om deur die Heilige Gees gelei te word, sal Hy ons met graagte in die waarheid lei, maar dan moet ons nie ons eie leerstellings in die Bybel inlees of op die Bybel afdwing nie.

Die Christelike lewe handel nie hoofsaaklik oor my en jou nie, maar oor die Here Jesus Christus! Fil 1:20 “volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is. 1:21 Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Jer 9:23 So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; 9:24 maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.”

Die Christelike lewe draai nie om my of jou glorie en roem nie, maar alles draai om God en Sy Glorie! 1Ko 1:31 “Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem. 10:31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.

Die Christelike lewe gaan nie oor my of jou verdienstelikheid en hulpmiddele nie, maar alles draai om God se genade en Sy voorsiening aan ons! Joh 1:16 “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Rom 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; 5:2 deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God. 1Ko 15:10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

Die Christelike lewe gaan nie oor ons wysheid nie, maar oor God se woord, die Bybel. Jes 55:8 “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 55:9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. 55:10 Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur. Psa 1:1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 1:2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 1:3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

Die Christelike lewe gaan nie oor my of jou wil nie, maar oor God se wil! Mat 26:39 “En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. Rom 12:1Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Die Christelike lewenswandel word nie in ons eie krag uitgeleef nie, maar word in die onbeperkte krag van die Heilige Gees uitgeleef. Romeine 7-8 (lees asb self genoemde teksgedeeltes.) Die leser word aangeraai om die drie artikels “Heiligmaking op grond van Genade deur Geloof” te lees om ‘n meer omvattende omskrywing van hierdie waarheid te bekom. Dit is van uiterste belang om te besef, dat ons nooit ons Christelike lewenswandel met die Here in eie krag sal kan uitleef nie. Hierdie enkele punt is seker een van die grootste redes waarom baie mense in die suksesvolle uitleef van hulle Christelike lewenswandel misluk! Sag 4:6 “Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. Efs 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Die Christelike lewenswandel word nie op ons terme uitgeleef nie, maar op God se terme. Rom 6:11 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 6:12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 6:13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Rom 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Die Christelike lewenswandel gaan nie eerstens oor dienslewering en goeie werke nie. Dit gaan eerstens oor geestelikheid, wat tot goeie werke, wat in die krag van die Heilige Gees verrig is, behoort te lei. Joh 15:1 “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. 15:2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. 15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Die Christelike lewe draai nie rondom die Eie Ek, of om die Eie Ek tevrede te stel nie, dit gaan oor om God tevrede te stel. 2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. 5:9 Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

Die Christelike lewenswandel word nie op gevoelens, of sigbare manifestasies, suksesvol uitgelewe nie, maar om deur geloof in die algenoegsaamheid van die Here Jesus Christus, te wandel. Kol 2:6 “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom, (Hoe het ons Hom aangeneem, deur Hom te sien of in geloof? Ja, geloof!) 2Ko 5:7 Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Jer 17:5 So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. 17:6 En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. 17:7 Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. 17:8 Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” Bogenoemde stellings geld vir mense wat so graag vorms in die wolke waarneem en dan as die gesig van Christus of God se hand te bestempel. God is nie ‘n wolk of enige ander teken in die lug nie, Hy is God! Om sulke tekens as God aan te sien, is afgodediens! Om op sig en gevoelens te lewe, is om ons rug op God se metode vir die Kerk, naamlik geloof te draai. Ons wandel nie deur sig of aanskouing nie, maar deur geloof. Dit geld ook vir die sogenaamde tekens en wonders groepe, wat ons orals vandag in die belydende Christendom waarneem, wat die geloofsgenesers soos Benny Hinn, Kenneth Copeland en baie ander soos hulle, insluit.

Die Christelike lewenswandel gaan nie oor die toesmeer van ons sondes nie, maar oor die feit dat ons ons sondes moet bely en in die krag van die Heilige Gees laat staan! 1Ko 11:28 “Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. 11:29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 11:31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie. 1Jo 1:5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. 1:6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 1:10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie. Spr 28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”

Die sleutel tot die suksesvolle uitleef van die Christelike lewenwandel draai om ons vertikale verhouding met God, wat weer op sy beurt die horisontale aspek van ons geloofslewe sal beïnvloed. Psa 127:1 “‘n Bedevaartslied. Van Salomo. As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Gal 3:1 o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 3:2 Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3:3 Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? 3:4 Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! 3:5 Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Joh 15:1 Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.15:2 Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. 15:4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Die leser word ook aangeraai om Efs 5:18-6:9 self te lees, en dan in gebed daaroor na te dink, omrede ek nie daardie teksgedeelte hier gaan weergee nie, want dan gaan hierdie artikel te lank raak.

In die ware Christelike lewe vind ons lyding in hierdie wêreld plaas en ons sal eers in die hiernamaals saam met Christus verheerlik word. Rom 8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. 8:19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 8:21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 8:22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 8:23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. 8:24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? 8:25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. 2Ko 4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 4:17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 4:18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

Sonder ‘n gesonde vertikale verhouding met God, is die mens miserabel en het sy lewe geen werklike betekenis nie. Ek self kan persoonlik van hierdie waarheid getuig! Die leser word aangeraai om die hele boek van Prediker te lees. Om bostaande stelling te staaf, gaan ek slegs een enkele teksvers hier aanhaal. Prd 1:14 “Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” Ons moet ook ingedagte hou, dat bostaande teksgedeelte deur Salomo geskryf is, wat omtrent alles besit het wat sy hart kon begeer. Net soos die filmsterre van Hollywood moes hy leer dat rykdom, seks en hedonisme nie die leemte in sy gees kan vul nie. Slegs God kan daardie leemte, deur die inwoning van die Heilige Gees, vul.

Ons moet ons oë op Jesus Christus en Sy getrouheid vestig en nie op mense en hulle mislukkings nie. Heb 12:1 “Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. 2Ti 2:13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie. 1Ts 5:24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen. Klg 3:22 dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; 3:23 hulle is elke môre nuut; u trou is groot. 3:24 Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.”

Ons grootste probleem is onsself, ons onafhanklikheid van Christus en ons eie ongeloof. Dit is nie ons omstandighede of ander mense nie. Rom 7:14 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. 7:15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 7:16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. 7:17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 7:18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Heiligmaking op grond van Genade deur geloof 1-3” vir die oplossing van hierdie probleem te lees.) Jak 1:2 Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1Pe 1:6 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 1:7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;”

Om in jouself teleurgesteld te wees, demonstreer dat jy op jouself vertrou het en nie op Christus nie. 2Ko 3:5 “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 3:6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.” Dink baie mooi oor hierdie stelling na en bid dat die Heilige Gees jou help om die hele omvang daarvan te verstaan. Hierdie is ‘n belangrike les wat ek moes leer, en hierdie waarheid het my gehelp om op Christus te vertrou, wat my met alles help. Die Here Jesus Christus moet Sy lewe deur ons lewe, en ons moet Hom in geloof en onderdanigheid toelaat om dit te doen, en op Hom vertrou om dit te doen, en nie op onsself nie!

Die weg op is af! Jesus Christus moet meer word en ons minder. 2Ko 4:8 “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; 4:9 vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. 4:10 Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. 4:11 Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.” Bostaande stelling, asook bostaande teksgedeeltes, sal bitter min uit die mense wat die Voorspoed-Evangelie, asook die proponente van die Woord-Geloof beweging en meeste postmoderne kerke, gehoor word. Joyce Meyer, Joel Osteen en baie ander soos hulle, kan nie hierdie teksgedeeltes preek nie, want God se woord bots lynreg met die valse leerstellings wat hulle verkondig, en daarom is dit belangrik dat ons die Bybel bestudeer en ons leerstellings daarvolgens bepaal en nie wat mense aan ons verkondig nie. Onthou geloof wat op leuens gebaseer is, is misplaaste geloof en God sal ons nie daarvoor beloon nie!

God weerstaan die hoogmoediges maar skenk genade aan die nederige. Jak 4:6 “Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 1Pe 5:5 Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. 2Ti 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” Materialisme; die Voorspoed-Evangelie; die Woord-Geloof beweging en by verre die oorgroot meerderheid van die belydende Christendom is aan hierdie gedrag skuldig. Wat nog meer tragies is, is die feit dat hierdie waarhede nie vanuit genoeg pastore se monde gepreek word nie. En hoeveel van ons moderne gelowiges sal nog kerk bywoon indien ‘n pastoor wel hierdie waarhede, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, verkondig? Ons sal egter nie God kan blameer indien ons begin maai wat ons gesaai het nie! Kyk om jou rond, dan sal jy moet erken dat ons nie die grootste herlewing ooit belewe nie, maar iets baie anders! (Ons wêreld val uit mekaar uit!) Pasop vir valse profete en apostels! (die leser word aangeraai om die artikels “Valse Apostels vs Ware Apostels, Ware Profete vs Valse Profete asook die artikel “laaste dae herlewing” vir meer besonderhede te lees.

God se genade is genoegsaam vir ons, want wanneer ons in onsself swak is, kan ons sterk in Christus wees. 2Ko 12:7 “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. (Paulus het nie positiewe uitsprake gemaak nie maar gebid.)12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. 12:10 Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”

Dit is by verre beter om by Christus se voete te sit, soos wat Maria gedoen het, en met Christus in gemeenskap te verkeer, as om baie besig te wees en geestelik onvrugbaar, soos Martha, te wees. Luk 10:38 “En op hulle reis het Hy in ‘n sekere dorp gekom, en ‘n vrou met die naam van Martha het Hom in haar huis ontvang. 10:39 En sy het ‘n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. 10:40 Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. 10:41 Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; 10:42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.”

Ter Afsluiting: Soos baie duidelik uit bostaande teksgedeeltes waargeneem kan word, verskil die wyse waarop die oorgrote meerderheid belydende Christene die Christelike lewenswandel uitleef, hemelsbreed van dit wat ons in die Skrifte vind. Dan praat ek nie eers van dit wat vanuit die kansels aan mense gepreek en geprofeteer word nie. Is dit nie hoog tyd dat ons die Heilige Gees vra om ons oë en verstand te open, sodat ons kan sien wat werklik in die oorgrote meerderheid van die Christendom aan die gebeur is, en weer na God en Sy woord, die Bybel, terugkeer en vir ‘n slag doen wat die Here van ons verwag, nie? Dit is weer hoog tyd, dat ons as gelowiges, weer in geloof na Christus kyk, en Hom toelaat, om deur Sy Gees, in en deur ons Sy bonatuurlike lewe te leef. Indien ons God nie in hierdie opsig gaan eerbiedig en gehoorsaam nie, kan ons nie kla indien ons samelewing geestelik, sosiaal, finansieel en moreel uitmekaar val en in chaos opeindig nie. Die oplossing lê nie in die Sosiale-Evangelie wat so gewild vandag is nie. Mense moet van binne af buite toe, deur wedergeboorte en die Heilige Gees, verander word anders skep ons maar net ongeredde morele fariseërs wat net tot verder verlyding en smarte gaan lei. Ons moet die ware Evangelie verkondig of daarmee besig wees en die pasgebore gelowiges in dissipelskap lei, nie hulle leer om in die gees te val en te profeteer nie! Ons moet weer die waarhede, soos wat dit in die Skrifte opgeteken staan, verkondig en nie op vleeslike en buite Bybelse profesieë staatmaak nie, anders gaan ons ernstig mislei word. Mag die Here ons vergewe, ons oë en verstand open, sodat ons ons self kan verloën, ons kruis opneem en Hom getrou navolg. Slegs dan sal ons in die uitleef van die Christelike lewe suksesvol wees. Mat 16:24 “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 16:25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. 16:26 Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” Die hedendaagse valse profete profeteer, vrede, vrede! Maar daar is geen vrede nie! En onthou: Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” Die skokkende waarheid is egter dat die meeste belydende Christene Bybel ongeletterd is. Die belydende Christendom is stadig maar seker besig om weg te skuif van die rasionele, objektiewe en Skriftuurlike benadering tot die uitleef van die Christelike lewe, na ‘n meer mistieke, subjektiewe en ervarings gebaseerde leer, wat nie op die Bybel gebaseer is nie, maar op mistieke ervarings, buite-Bybelse openbarings en profesie, wat tot grootskaalse verlyding gaan lei. Hos 4:6 “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.” Kom ons keer terug na God en Sy woord, die Bybel, en bestudeer dit weer op ‘n sistematies wyse, en pas dit met behulp van die Heilige Gees in ons lewens toe. Anders sien ek swarigheid vir hierdie land! Laat die sogenaamde profete maar profeteer! God het reeds gespreek!! Heb 1:1 “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Jesus Christus het nooit self Sy leerstellings opgeteken nie, maar Hy het egter daardie werk aan Sy dissipels oorgelaat, wat dit na afloop van Sy hemelvaart opgeteken het, soos wat ons dit in die Nuwe Testament opgeteken sien staan. Na Johannes die boek Openbaring voltooi het, is die Bybel voltooi en is daar geen verdere openbarings nie. Dit is om hierdie rede, dat ons die waarskuwing in die boek Openbaring vind om niks by God se woord te voeg nie. Mense wat gedeeltes van die Bybel uithaal maak hulleself skuldig aan hierdie waarskuwing. Dit geld ook vir mense wat beweer dat hulle nuwe openbarings ontvang , want dan maak hulle toevoegings aan God se voltooide woord, die Bybel!) Opn 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.” As jy met sekerheid wil weet wat God aan jou wil sê, lees dan jou Bybel!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.