Keuses om te maak

Keuses

Keuses 1Keuses 2

Ai hoe lekker is dit nie, om ‘n outobiografie van ‘n sendeling of ander werker van God op te tel en te lees hoe so ‘n persoon die goeie nuus van die Evangelie van die Here verkondig het en hoe hulle deur geloof selfs onmoontlike struikelblokke oorkom het nie. Dit is lekker om van hulle hoogte en lae punte te lees, en te lees hoe die Here so ‘n persoon deur al die moeilike tye bygestaan het. Dit laat mens sommer weer goed voel. Dan word mens weer herinner dat daar wel mense is wat werklik God op Sy Woord neem en in hierdie bose wêreld in Hom glo. Mens lees ook van gelowiges wat hulle lewens verloor het in die proses om die Evangelie aan ander te bring, sodat hulle hoorders nie verlore hoef te gaan nie. Wat ‘n voorbeeld van opoffering en geloof is dit nie? Sulke verhale gee mens sommer weer moed om verder voort te stry in diens van God. Dit is immers ons taak. Ons het egter die keuse of ons die Here gaan glo en doen wat Hy ons beveel, of ons ongehoorsaam aan Hom gaan wees. Wat ek egter oor wil gesels, is wat kan gebeur as ons die wêreld, en dus indirek, die duiwel kies en dan deur hom verlei word. Ons almal het keuses om te maak en ons gaan persoonlik vir daardie keuses van ons verantwoordelik gehou word. Kyk mooi na die eerste foto hierbo. Mens kan maklik dink dat die bogenoemde vrouens soos eenvoudige sendelinge lyk wat hulle lewens aan die verkondiging van die Evangelie toegewy het. Dit is egter nie die geval nie. Hulle almal is konsentrasiekamp wagte van Stutthof konsentrasiekamp in die tweede wêreld oorlog. Die meeste is ter dood veroordeel, omrede hulle skuldig bevind is aan misdade teen die mensdom. Daar word selfs beweer dat een van die dokters wat by die konsentrasiekamp werksaam was, seep van sy slagoffers se liggaams vet gemaak het. Ek gaan nie al die misdade hier noem nie, want dit is skokkend en sal sensitiewe mense net omkrap. Dit is ook nie my doel met die skryf van hierdie artikel nie. Ek sal ‘n paar skakels onderaan die artikel plaas vir diegene wat verder oor hierdie onderwerp wil oplees.

Wat ek wel wil bespreek is die feit dat ons as geskape wesens, wat in die beeld van God geskape is, morele keuses kan uitoefen en dus ‘n vrye wil het om keuses te maak. Om te beweer dat die mens tot so ‘n mate na die sondeval verduister het, dat hy nie meer tussen reg en verkeerd kan kies nie is vals en maak God die skepper van boosheid. Die Bybel stel dit egter duidelik dat God lig is, en dat daar geen duisternis in Hom is nie. Dus kan God geen aandeel in boosheid hê nie!
1Johannes 1:5 “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie.”
Ook versoek Hy niemand met kwaad nie.
Jakobus 1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 1:14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 1:15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

Die vraag wat ons dan moet vra, is wat is sonde en waar kom dit dan vandaan? Sonde is enige daad wat teen God se geopenbaarde Wil gepleeg word. As Skepper het God die reg om sekere reëls op te stel en dan te verwag dat Sy skepsels daardie reëls moet gehoorsaam. Hy doen dit uit liefde uit, want net Hy alleen ken die mens ten volle en weet wat goed vir hulle is. Die gebooie is ‘n openbaarmaking van God se karakter en wie Hy is. Hy het egter ook die reg om te verwag dat ons soos Hy moet wees, omrede Hy ons juis na die gelykenis van Sy Beeld geskape het. God wil dus hê dat ons Sy karakter eienskappe ten volle reflekteer. Ons het egter gekies om dit nie te doen nie en om die duiwel te glo en hom te gehoorsaam. Dit is seker een van die hartseerste keuses wat die mens nog gemaak het.

Baie mense neem die Here kwalik vir al die lyding en boosheid op die aarde, omrede volgens hulle mening, Hy boosheid en lyding op aarde toelaat. Die antwoord hierop is eindelik eenvoudig. Vir die Here, om mense na Sy Beeld te skape, met die doel om Hom lief te kan hê, beteken dat Hy hulle ‘n vrye wil moes gee om Hom werklik te kan liefhê, anders sou hulle niks anders as robotte gewees het, wat net sê dat hulle die Here lief het, omrede hulle so geprogrammeer is en niks uit eie wil kon doen nie. Om waarlik lief te kan hê moet die persoon vrye keuses kan uitoefen. Dit sou nie ware liefde wees indien die mens nie oor ‘n vrye wil beskik het, en op grond van daardie vrye wil kon kies om die Here lief te hê nie. Dus moes God hulle ‘n vrye wil gee, sodat hulle kon kies om Hom lief te hê of Hom te verwerp, maak nie saak wat hulle keuse sou wees nie. Omrede God die mens dus met ‘n vrye wil geskape het, en daardie persoon besluit om boos op te tree, dan is dit mos nie God wat boosheid in die wêreld ingebring het nie, maar die mens  en sy keuses self. Die mens moet homself eerder kwalik neem vir al die boosheid op aarde.

Vir God om nou die mens se wil weg te neem, omrede die mens boosheid bedryf, sou beteken dat God onregverdig is. Dink net daaraan. Hoekom moet God die mens se wil wegneem, of selfs die mens glad nie skape nie,  net omdat die mens in eie wil boos wil optree en God nie gehoorsaam nie. Wat dan van al die mense wat wel God se aanbod van die Evangelie in geloof sou aanvaar. En a.g.v. die feit dat ‘n sekere getal mense, uit vrye wil, sou besluit om die Here te verwerp, moet diegene wie die Evangelie wil gehoorsaam die geleentheid vir die seëninge van die ewige lewe ontneem word, net omdat sekere mense nie die Here se geskenk van die ewige lewe deur geloof wil ontvang nie. (hulle eie keuses) Vir God om so iets te doen, sou beteken dat Hy onregverdig is! Die mens moes dus oor ‘n vrye wil beskik, anders sou God hulle nooit verantwoordelik kon hou vir die morele keuses wat hulle sou maak nie. Omdat God die mens ‘n vrye wil gegee het, maak nie van Hom ‘n bose en wrede God nie. Dit is die mens en sy keuses om boos op te tree wat die wêreld gemaak het wat dit vandag is. Die mens self het gekies om God se Woord te verwerp en a.g.v. sy eie gierigheid, liefdeloosheid en hoogmoed trap en verskeur hulle mekaar. Sonde en swaarkry kan nie voor God se deur gelê word nie! Dit is die mensdom se rebellie wat al die lyding en smarte op aarde veroorsaak het.

Dus is dit die mens wat sonde en swaarkry in die wêreld ingebring het. Dit is nie God wat mense vermoor, besteel en beskinder nie, maar dis die mens wat dit aan sy medemens doen. Dink maar net hoe sou die wêreld regtig gewees het, indien die mensdom God se woord gehoorsaam het en God se Wil op aarde uitgevoer het. Die wêreld sou drasties anders gelyk het! Maar dit is ongelukkig nie die geval nie, want die mens gehoorsaam God nie, en dit is hoekom dinge so lyk soos wat dit lyk. (en dinge sal toenemend erger word, soos wat die mens God toenemend verwerp) Dit het met Adam en Eva begin en duur vandag nog steeds voort. Die wêreld is onder God se vloek, omrede die mens gesondig het. God het alles perfek geskape en wou hê dat die mens sonder enige swaarkry of seerkry in Sy teenwoordigheid woon. Die mens het egter anders besluit en Satan gehoorsaam. (en die oorgroot meerderheid van die mensdom doen dit nog steeds vandag)
Jakobus 4:1 “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 4:2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Die Bybel maak dit duidelik dat sake net sal vererger, tot en met so ‘n mate dat die Here ‘n einde daaraan sal moet maak, anders sal die mens a.g.v sy eie keuses homself vernietig.
2Timoteus 3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
Markus 13:20 En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort.”

Nou voordat ons klippe na die vroue hierbo begin gooi, moet ons, onsself die vraag afvra of ons nie maar ook soos hulle is nie? Miskien is ons nie aan presies dieselfde misdade as hulle skuldig nie, maar op ‘n ander wyses is ons maar net so skuldig en sondig soos hulle. (Dink byvoorbeeld aan jou gedagte wêreld!)
Romeine 1:29 “hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; 1:30 nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; 1:31 onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, 1:32 mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.”
Beskryf bostaande teksgedeelte ons nie baie mooi nie? Die wagte in die konsentrasiekampe het magsposisies ontvang en het dit gruwelik misbruik. Indien ons na ons samelewing van vandag kyk, sal ons opmerk, dat van die hoogste vlakke tot die laagste vlakke, misbruik mense nog steeds hulle mag. Die Here het egter gesê dat ons mekaar in liefde moet dien en nie mekaar moet mishandel of misbruik nie. Verdien ons ook nie maar die dood nie? Ek weet dat volgens my verlede verdien ek niks meer as daardie dames nie. En dit alles oor die keuses wat ek vrylik gemaak het. En laat ons nie vergeet, dat die Here die harte oordeel, en sien wat in die hart van die mens aangaan en Hy beskou ons begeertes net so ernstig as die daad van die misdaad self.
Mattheus 5:28 “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”

Ons moenie soos Barábbas in die Bybel wees nie. Jesus het in sy plek gesterf, maar Jesus se dood het niks vir Barábbas gedoen of beteken nie, omrede hy vry gegaan het om maar net weer in sy sondige leefwyse voort te sit. Die Here het nie gesterf sodat ons in ons sondes kan voortgaan nie, maar Hy het gesterf sodat ons van ons sondes vrygemaak kan word. (Lees asb die artikels “Drie fases van verlossing“, asook “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” vir meer besonderhede rondom hierdie belangrike onderwerp.)
1Petrus 2:16 “as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.
Romeine 6:18 en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.”
En laastens
2Petrus 2:18 Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. 2:19 Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. 2:20 Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste.
2:21 Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. 2:22 Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.”

Ons het keuses om te maak. Die vraag is net wat gaan daardie keuses wees? Dit kom neer op meer as net lippetaal. Die Here het self die vraag aan ons gestel, naamlik:
Lukas 6:46 “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?
En nog ‘n teksgedeelte om oor na te dink:
Jacobus 2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood”.
Die vraag wat ons aan onsself moet afvra is, hoe lyk die voetspore wat ons agter laat? (wat gewoonlik ‘n refleksie is van hoe lief ons die Here in werklikheid het) Is ons lewens ook besaai met lyke, dalk nie fisiese lyke nie, maar geestelike lyke, soos wat ons mense loop en belaster, besteel en benadeel nie? Hoeveel mense kan met alle eerlikheid die vinger na ons wys en sê dat ons die Here Jesus Christus aan die wêreld daarbuite reflekteer? Hoeveel gebroke huwelike los ons agter, omdat ons nie tevrede is met wat ons het nie? Hoeveel mense is daar wat deur ons besteel of beskinder is? Ek kan nog baie voorbeelde opnoem. Is ons nie ook maar lewendig dood nie? (Lees asb die artikel “Sewe verskillende vorms van dood in die Bybel“) Is ons lewens nie ook maar niks meer as stinkende konsentrasiekampe nie? Vol dooie beendere nie?  Dit alles bewys maar net weereens een feit, dat so ‘n mens nie werklik God dien nie, maar homself en dit het gewoonlik katastrofiese gevolge wat ons dan weer op die Here wil blameer.
Gal 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. “

Ons moet ons in geloof vereenselwig met Jesus se dood, en in geloof op sonde reageer soos wat ‘n dooie mens teenoor sonde sou reageer. Hy reageer nie, want sonde heers nie meer oor die dooie persoon nie. Ons moet na Christus, in tye van versoeking, kyk en bid dat Hy ons van die sonde bewaar. Dit is Sy begeerte om ons te help. Ons moet egter die keuses maak om op Hom te fokus en op die instaatsllende krag van die heilige Gees vertrou.
Romeine 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Kom ons wandel as kinders van God, sodat ons soos ligte in ‘n donker wêreld kan skyn. Mense behoort ons nie te vra in wie ons glo nie, hulle behoort dit te kan waarneem!

Onthou, as mense kan ons maklik deur ons omstandighede verlei en bedrieg word,  en sodoende verskriklike dade pleeg wat soms net as afskuwelik omskryf kan word. Ons moet waak, en bid, en nugter op ons hoede wees! Ons vyand loop rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verskeur.
1Korintiers 16:13 “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
Kolossense 4:2 Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging;
1Thesalonisence 5:6 Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.
Efesiërs 4:27 en gee aan die duiwel geen plek nie.
Efesiërs 6:11 Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
1Petrus 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Kom ons vra die Here om ons van die Bose te weerhou. En onthou, ons almal het keuses om te maak en ons gaan verantwoording doen vir daardie keuses.

Seën Groete

Vic

Om hierdie artikel te skryf was vir my ‘n moeilike ondervinding, omrede ek baie oor die afskuwelikhede wat daar in die konsentrasiekampe van die tweede wêreldoorlog gepleeg was, moes oplees. Ek het ook tot die gevolgtrekking gekom, dat ek nie beter as enige van daardie mense is nie en dat ek maklik ook so sou optree. Ek kan net die Here dank dat Hy my verlos het en besig is met heiligmaking in my lewe en my sodoende verlos van die houvas wat sonde op my lewe na wedergeboorte het. ‘n Persoon waardeer net werklik wat vryheid is, indien daardie persoon eers bevry is van die sondes wat oor hom geheers het. Ek kan daarvan getuig en dank die Here daarvoor. Ek het egter nog ‘n ver pad om te loop.

Groete

Vic

Hier is ‘n paar skakels wat ek gelees het.
Herta Oberheuser
Female guards in Nazi concentration camps
Stutthof concentration camp
Soap made from human corpses
Rudolf Spanner
Gerda Steinhoff
Wanda Klaff
Jenny-Wanda Barkmann
Ewa Paradies
Elisabeth Becker

Deel met ander asb.