Heiligmaking

Heiligmaking op grond van Genade deur Geloof. Deel 1

Inleiding: As dit by die kwessie van heiligmaking in die gelowige se lewe kom, dan word daar in die meeste gevalle ‘n baie groot klem op die gelowige se werke geplaas, en dit ten koste van die feit dat heiligmaking, net soos aanvanklike wedergeboorte, op grond van God se genade deur geloof sonder werke deur God bewerkstellig word, alhoewel daar van die gelowige verwag word om sy samewerking in die proses van heiligmaking te gee. (Vir ‘n meer omvangryke verduideliking van die verskillende fases van verlossing, word die leser aangeraai om die artikel “Drie Fases van Verlossing” te lees”) In hierdie artikel sal gepoog word om te demonstreer, dat as dit by heiligmaking in die gelowige se lewe kom, die klem op God se genade en op Christus en Sy voltooide werk aan die kruis geplaas moet word en nie op die gelowige se eie pogings tot goeie werke vir heiligmaking nie.

‘n Kortlikse omskrywing van terme:

Wat is genade?

Genade is God se onverdiende goedhartigheid, barmhartigheid, vriendelikheid en teerhartigheid. Ware Christendom is op God se genade gebaseer en sonder God se genade sou daar geen ware Christendom gewees het nie. Indien mens ‘n studie van God se genade wil doen, dan moet hy die Bybel bestudeer, want net in die Bybel word God se genade breedvoerig uiteengesit. Genade kan soos volg omskryf word: “Genade is wat God d.m.v Sy Seun, die Here Jesus Christus, vir die mensdom doen, en dit terwyl die mens God se genade nie verdien, kan verdien of oor enige verdienstelikheid inherent in homself beskik nie.” Mens vind slegs in die ware Christendom die merkwaardige feit, dat God die sondes van Sy Skepsels op Homself neem en daarvoor gestraf word. Geen ander geloof in die wêreld handhaaf so ‘n konsep nie, want dit is nie iets wat enige mens sou kon uitdink nie, maar slegs God alleen.

Indien ‘n persoon werklik genade verstaan, dan sal hy waarlik die Evangelie verstaan. Indien ‘n persoon werklik genade verstaan, dan sal hy die grondbeginsel van die ware Christendom kan verstaan. Indien ‘n persoon werklik genade verstaan, dan sal hy die gedagtes van God kan verstaan. Indien ‘n persoon werklik genade verstaan, dan sal hy waarlik die Here Jesus Christus kan verstaan. Genade is die essensie asook die grondslag van die ware Christendom, insluitende alle korrekte Christelike leerstellings! Sonder genade sou die ware Christendom nooit kon bestaan nie!

Wat is Heiligmaking?

Heiligmaking is die teologiese term wat beskryf hoe God verandering in die gelowige teweegbring. In kort kan heiligmaking as die proses beskryf word, waardeur die Here toenemend die gelowige vir dienslewering aan Homself afsonder. In kort: Heiligmaking = Afsondering tot God. Met wedergeboorte ontvang die Here die sondaar soos wat hy is, maar dit is God se wil om die pasgebore gelowige te verander om daardeur die gelowige toenemend in die beeld van Sy Seun te verander. Heiligmaking is dus ‘n werk van God wat Hy d.m.v. die Heilige Gees in die lewe van die gelowige bewerkstellig. Heiligmaking het betrekking op fase twee, naamlik heiligmaking, van die gelowige se verlossing en moet nie met fase een van verlossing, naamlik wedergeboorte verwar word nie

Vind heiligmaking op grond van genade deur geloof alleen plaas, of vind heiligmaking op grond van geloof plus goeie werke plaas?

Die bogenoemde vraag kan op ‘n ander wyse gestel word, naamlik:”Vind heiligmaking op grond van verdienste vir goeie werke gedoen plaas, wat dan as bewys sou dien dat heiligmaking op meriete gebaseer is? Het ons werke enige meriete as dit by die proses van heiligmaking kom?” Uit die Skrifte is dit baie duidelik dat meriete nie ‘n rol in aanvanklike wedergeboorte speel nie. (fase een van ons verlossing – wedergeboorte) Dit is baie duidelik dat ons wedergebore word op grond van God se genade, deur geloof in Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis, sonder die doen van enige goeie werke. Om hierdie rede is dit uiters belangrik dat ons die inhoud van die Evangelie teen enige pogings om werke daarby te voeg moet verdedig. Om enige werk by die Evangelie te voeg, word die Evangelie in ‘n werke evangelie verander, en is dit nie meer die Evangelie volgens die Bybel nie, en sal die hoorders daarvan nie wedergebore kan raak nie.

Indien heiligmaking van die mens se goeie werke afhanklik is, dan sal ons moet erken dat ons heiligmaking op meriete gebaseer is en dan is dit iets wat die mens deur sy eie verdienste kan bekom. Indien heiligmaking op grond van meriete plaasvind, dan kan met alle eerlikheid beweer word, dat heiligmaking nie meer as genade bestempel kan word nie. Tot watter mate speel die gelowige se werke dan ‘n rol in sy heiligmaking? Dit is my beskeie opinie dat die Skrifte baie duidelik demonstreer, dat die gelowige se heiligmaking op grond van God se genade en slegs deur geloof alleen plaasvind en nie op grond van sy goeie werke nie.
Efs 2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
Dit is duidelik, dat bostaande teksgedeelte oor fase een, naamlik wedergeboorte handel, maar geld dieselfde beginsel nie dalk vir fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking nie? Ek sal poog om te demonstreer, dat dit wel die geval met heiligmaking ook is, en dat heiligmaking op grond van God se genade deur geloof alleen bewerkstellig word.

Dit is my oortuiging, dat net soos wat enige werke, wat by die Evangelie vir verlossing gevoeg word, die Evangelie in ‘n ander evangelie, wat nie kan red nie verander, so verhinder die byvoeging van goeie werke God se werk in die proses van Heiligmaking gedurende fase twee van ons verlossing. Dit mag dalk vreemd klink, en daarom herhaal ek hierdie stelling weer. Om enige werke as vereiste by die proses van heiligmaking te voeg, verhinder so ‘n daad God se werk in die proses van heiligmaking! Kom ek verduidelik. Vir God om verlossing in al drie sy fases, naamlik wedergeboorte, heiligmaking en verheerliking, as ‘n geskenk aan die mensdom te kan aanbied, moet God die gewer van alles wees en kan die mens slegs die ontvanger daarvan wees. Indien die mens enigiets moet doen, of iets by God se gawe voeg om verlos te word, dan verdien die mens sy verlossing deur sy eie meriete en kan God se gawe nie meer as ‘n geskenk beskou word nie, maar is dit eerder loon. Slegs God kan die Verlosser wees en ons is nie deelgenote in die verlossingsplan of mede verlossers nie. Daar is geen middelweg in hierdie verband nie!

Die Bybel stel dit baie duidelik, dat die hele verlossingsplan van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis afhang, en nie van enigiets of enigiemand anders nie. Dit sluit die mensdom se goeie bedoelings, werke ens… in. Om hierdie rede, wil Satan en die mens se sonde natuur altyd werke, as vereiste, by enige van die drie fases van verlossing byvoeg, om daardeur God se werk te verhinder. Die idee dat werke wat by God se genade, vir verlossing, gevoeg word die samestelling van genade in meriete verander, kan uit die Bybel gestaaf word.
Rom 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Bostaande teksgedeelte illustreer baie duidelik, dat genade en werke soos olie en water teenoor mekaar staan. Die twee kan nie vermeng word nie! Boonop stel die Bybel dit baie duidelik, dat die gelowige na aanvanklike wedergeboorte, die Christelike lewe op grond van genade deur geloof uit lewe en nie deur werke nie.
Gal 3:1 “Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?”
Antwoord: “Uit die prediking van die geloof nie werke nie!”
Gal 3:3 “Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, (fase een – wedergeboorte) eindig julle nou met die vlees? (fase twee – heiligmaking)
Die Galasiërs het die Gees ontvang (wedergeboorte) deurdat hulle doodeenvoudig die Evangelie geglo het, sonder die doen van enige werke. Hulle wou egter die Christelike lewe (fase twee) deur werk van besnyding (Ou-Testamentiese wette) uitleef en eindig in die vlees. Werke en geloof in God se genade kan nie meng nie! In Gal 2:20-21 stel Paulus hierdie feit baie duidelik.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. (fase een – wedergeboorte) En wat ek nou in die vlees lewe, (fase twee – heiligmaking) leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, (vir al drie die fases van verlossing) dan het Christus tevergeefs gesterwe.”

Vir ons goeie werke om enigsins God se goedkeuring weg te dra, moet seker gemaak word, dat daardie werke, d.m.v die Heilige Gees, in God se krag gedoen word en nie uit ons eie vleeslike pogings nie.
2Ko 3:5 “Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 3:6 wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.”
Solank as wat die gelowige heiligmaking in sy eie krag wil bewerkstellig sal hy misluk en homself frustreer. Dit is God, wat die Gees is, wat ons van binne af verander, soos wat ons, ons oë op die Here Jesus Christus in geloof vestig.
2Ko 3:17 “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”
Indien die gelowe in geloof saam met die Here wandel, sal die Here hom van binne af verander om soos Hyself te word. Dit is egter die Heilige Gees wat die verandering bewerkstellig en nie die gelowige self nie. Dit is egter die gelowige se keuse of hy in geloof, as dissipel, saam met die Here wil wandel of nie. Jesus Christus het in Johannes 15:5 hierdie waarheid duidelik aan Sy dissipels gestel.
Joh 15:5 “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Dit behoort nou al redelik duidelik te blyk, dat heiligmaking slegs deur God en in Sy krag kan plaasvind, en dat die gelowige net bereid moet wees om God in geloof daarvoor te vertrou en Hom dan te gehoorsaam. In die Bybel word die vrugte, wat in die gelowige se lewe sal manifesteer, altyd die vrugte van die Gees genoem, en word dit nooit in die Bybel as die vrugte van die gelowige omskryf nie. Om hierdie rede stel die Skrifte dit duidelik dat die gelowige Geestelike vrug dra, en word dit nooit gesê dat die gelowige die vrugte van die Gees self voortbring nie.

Dit kan dus met alle sekerheid gestel word, dat die gelowige nie in staat is, of oor die vermoë in homself beskik, om heiligmaking in sy lewe toe te pas nie. Die gelowige is van die Here Jesus Christus en die Heilige Gees afhanklik om vrugte in sy lewe voort te bring, waarvoor die Here die gelowige in Sy genade ryklik sal beloon. Al hierdie dinge bewerkstellig God op grond van Sy genade alleen, sonder dat die mens enigiets kan bydra. Werklike heiligmaking is nie deur geloof plus werke nie, maar deur geloof alleen in wat God in Sy genade sal voorsien!

Bepaal die gelowige se werke sy posisie, of bepaal die gelowige se posisie sy werke?

Met die gelowige se werke word sy optrede, handelswyses en algemene gedrag, soos wat hy dit in sy daaglikse lewe uitgeleef, bedoel. Die vraag wat dus beantwoord moet word is: “Wat dien as grondslag vir die gelowige se heiligmaking? Is dit sy optrede of is dit sy posisie?” Hierdie is ‘n baie belangrike vraag, en die korrekte beantwoording daarvan is van kardinale belang vir die praktiese uitlewing van die Christelike leefwyse. Romeine hoofstuk 5 handel hoofsaaklik oor die gelowige se identiteit, en kennis van sy identiteit in Christus vorm ‘n groot deel van die grondslag waarop suksesvolle heiligmaking in die gelowige se lewe bewerkstellig kan word. Daarom is dit belangrik om die gelowige se identiteit en posisie te bepaal. Soos reeds genoem, handel Romeine 5 hoofsaaklik oor die gelowige se identiteit en Romeine 6 hoofsaaklik oor die gelowige se posisie in Christus. Hierdie hoofstukke sal kortliks onder hierdie afdeling behandel word.

Wanneer God na die mensdom kyk, dan sien Hy net twee groepe mense. Hy sien die mensdom of in Adam of in die Here Jesus Christus.
Rom 5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het 5:15 Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. 5:16 En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. 5:17 Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. 5:18 Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad (Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis) van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. 5:19 Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. (almal wat in Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir hulle glo.) 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; (God se genade is altyd groter as die mens se sonde) 5:21 sodat, soos die sonde (Sonde natuur) geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”
Dit is opmerklik dat God se genade altyd meer as die mens se sonde is. Hierdie enkele feit alleen demonstreer die grootheid van God se genade wat, deur Sy Seun se voltooide werk aan die kruis, in sy volle maat gedemonstreer is.

Indien ‘n persoon egter in Adam bevind word, dan is daardie persoon ongered en is hy posisioneel nog in sy sondes. Indien ‘n persoon in die Jesus Christus bevind word, staan hy posisioneel in Jesus Christus se geregtigheid, en verklaar die Vader daardie persoon as geregverdig. Dit moet baie mooi verstaan word, dat net die Here Jesus Christus se daad van geregtigheid aan die kruis by die Vader aanvaarbaar is. Die Vader is heilig en daarom is slegs Jesus Christus, wat self God is, se werke van geregtigheid voldoende en nie die sondige mensdom se werke nie. Dit is belangrik om te onthou, dat die gelowige nie op grond van sy eie werke geregverdig verklaar kan word nie, maar op grond van die Here Jesus Christus se geregtigheid en Sy voltooide werk aan die kruis vir die gelowige. Om deur die Vader as geregverdig verklaar te word, moet die gelowige niks doen, behalwe die Evangelie in geloof te aanvaar nie. Jesus Christus het al die werk gedoen! Deur Jesus Christus se een werk van geregtigheid (Sy kruisdood vir die sondige mensdom) sal dit vir baie mense (almal wat die Evangelie glo) tot verlossing strek.

Indien ‘n persoon homself in Adam bevind dan staan hy onder die beheer van sy sonde natuur, wat na die dood en die poel van vuur sal lei. Hy is dus ‘n slaaf van die sonde natuur wat deur hom regeer. Dit kan dus gesê word, dat in Adam, daar ‘n wettige heerser as koning aan bewind van die persoon staan, naamlik die sonde natuur. Daarom kan ‘n persoon wat homself in Adam bevind nie anders doen as om te bly sondig nie, omrede sy sonde natuur oor hom gesag uitoefen en gebruik die sonde natuur die ongeredde persoon as slaaf. Indien ‘n persoon homself in Jesus Christus bevind, heers geregtigheid en genade wat na die ewige lewe lei. In Christus is die Here Jesus Christus die wettige Heerser en stel hierdie feit die gelowige vry om, in die krag van die Heilige Gees, nie die sonde natuur te gehoorsaam nie. Dit is uiters belangrik om hierdie feite te verstaan, en dit in die geloof aan te neem, want dit is die waarheid en is God se woord!

Die mens bestaan uit drie dele. Alle mense beskik oor ‘n fisiese liggaam, waardeur hy deur middel van sy vyf sintuie, met die fisiese wêreld om hom kommunikeer. Tweedens beskik die mens oor ‘n siel waarin sy intellek, emosies en vrye wil gesetel is. Derdens besit alle mense ‘n gees, en dit is hierdie faset van menswees, wat hom onderskei van die diereryk om hom. Omdat die mens oor ‘n gees beskik, besit hy die kapasiteit om geestelike ervarings na te jaag en dit te beleef. Boonop het die mens deur sy gees ‘n bewustheid van God, soos wat Romeine 1 dit duidelik maak, maar omdat die mens in sonde verval het, het die mens se gees van God se Gees gediskonnekteer geraak en is hy geestelik dood, solank as wat hy in sy ongeredde toestand verkeer, en daarom kan ongeredde mense nie geestelike waarhede in die Bybel werklik verstaan nie.
1 Ko 2:14 “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.”
Omrede alle mense van geboorte af hulleself in Adam bevind, beskik alle mense oor ‘n sonde natuur en daarom het alle mense ‘n inherente geneigdheid om teen God te rebelleer, te sondig en afhanklik van Hom op te wil optree.

Boonop moet ingedagte gehou word, dat die mens oor ‘n aartsvyand beskik, naamlik Satan, wat huidiglik in beheer van die wêreld sisteem is, en wat hierdie wêreld sisteem gebruik om die mens met sy eie boodskappe te bombardeer, om daardeur die sondige natuur van die mens, wat alreeds tot onafhanklikheid van God en sonde geneig is, te gebruik om sy wil deur die mens te bewerkstellig. Satan gebruik die wêreld sisteem om ons waardestelsels te bepaal; aan ons voor te skryf wat werklik van belang is; ons op onsself te laat staatmaak; onsself lief te hê; onsself te vergoddelik; en oor die algemeen afhanklik van God te laat op tree… ens. Al hierdie dinge bots egter met wat God in die Bybel aan ons meedeel. Kyk maar hoe ‘n geweldige invloed die musiek en rolprent bedryf op die morele waardes van die mensdom uitgeoefen het, en nog steeds doen! En dit word net erger!! En onthou dit is nie net die morele sondes soos egbreuk, hoerery en homoseksualiteit waarvan hier gepraat word nie, maar dit kan selfs goeie werke, wat met verkeerde motiewe uitgevoer is, insluit. Een so ‘n voorbeeld sal wees wanneer ‘n persoon ‘n goeie daad aan ‘n ander doen, met die doel om aandag op homself te vestig, en daardeur mense so ver te kry dat hulle van hom moet hou en daardeur die self verheerlik in pleks van God. Die mens is veronderstel om God, in alles wat hy doen, te verheerlik en nie homself nie.
1 Ko 10:31 “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God”

Die sonde natuur gebruik dan hierdie boodskappe van Satan en die wêreld om beheer oor die mens uit te oefen, en daardeur die mens sy slaaf te maak en as heerser oor hom te regeer. Op hierdie wyse is die mens se liggaam en siel in slawerny aan die sonde natuur vasgevang en is die noodwendige gevolg daarvan die dood. (Rom 5:21) Om hierdie rede, beskik die mens dan oor die sondige neigings en begeertes wat altyd poog om die self te bevoordeel en eerste te stel. Soos reeds hierbo verduidelik, sluit dit nie net openlike sondige optredes in nie, maar ook sondes wat die eie ek in alle omstandighede eerste wil stel en poog om die eie ek te wil verheerlik. Selfverheerliking kan dus ook deur goeie werke bewerkstellig word. Die Here beoordeel egter nie net die dade nie, maar ook die motiewe agter daardie dade, wat noodwendig die hart van die mens insluit. In sekere opsigte is selfverheerliking, in die morele domein, baie gevaarliker as openlike immorele optrede, want dit kan daartoe lei dat die mens homself as geregtig beskou en nie werklik agterkom dat hy ‘n Verlosser nodig het nie. ‘n Baie mooi voorbeeld van selfregverdiging is die Fariseërs tydens Jesus Christus se aardse bediening. Glo my, die belydende Christendom is nog steeds met Christelike Fariseërs besaai! Alle werke, insluitende goeie werke, wat in die vlees verrig word, gaan deur God verwerp word en dit sluit werke in Sy naam in! Slegs werke wat na wedergeboorte en in en deur die Heilige Gees voortgebring is, gaan deur God as aanvaarbaar beskou word, en daarom is dit belangrik om seker te maak dat die werke wat ons doen in die Gees gedoen word en nie in die vlees nie. Om hierdie rede is ons identiteit van uiterste belang, want alle werke wat ‘n persoon in Adam doen deur God verwerp gaan word. ‘n persoon wat in Adam is moet eers die Evangelie glo anders sal God hom moet verwerp. Daar is geen ander opsie nie! Ons identiteit in Christus speel ‘n bepalende rol, nie net in aanvanklike wedergeboorte nie, maar ook in heiligmaking, soos wat ons later sal sien. Nog ‘n aspek wat net so belangrik as ons identiteit in Christus is, is ons stand of posisie in Christus.

Ons Posisie in Christus (Romeine 6) Hierdie gedeelte skakel by bostaande gedeelte in.

Rom 5:19 “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word. 5:20 Maar die wet het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword; 5:21 sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit duidelik gestel, dat waar sonde meer geword het, God se genade nog meer oorvloediger geword het. God se genade is altyd meer as die mens se sonde asook sy sonde natuur!
Rom 6:1 “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?”
Iemand wat die Evangelie volgens die Bybel suiwer verkondig, kan verwag dat mense wat nie die Here Jesus Christus en Sy genade werklik ken en verstaan nie, hom sal beskuldig dat hy mense aanmoedig om in sonde voort te lewe. Soos wat meer feite vanuit die Skrifte in hierdie artikel uitgelig word, sal dit hierdie tipe bewering toenemend weerlê en as belaglik verwerp word. In Rom 3:7 vind ons ‘n soortgelyke stelling.
Rom 3:7 “Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel?”
Daar is nogal baie mense in die belydende Christendom wat gelowiges, wat die ware Evangelie verkondig, beskuldig dat hulle mense aanmoedig om in sonde voort te lewe. Hierdie beskuldiging kom ook soms van Christene af wat glo, dat die mens uit genade a.g.v. voortgesette sonde, kan verval en verlore sal kan gaan en dus op hulle werke staatmaak om hulleself gered te hou.
Rom 3:8 “En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit duidelik dat Paulus die mense wat hierdie bewering maak, van belastering beskuldig en verder voortgaan om te verduidelik dat hulle veroordeling regverdig is! Hierdie is gewoonlik mense wat nie die ware Evangelie, van God se genade deur geloof alleen, verstaan en glo nie, maar wat op die een of ander wyse werke by die Evangelie voeg om gered te word of om gered te bly. Hulle verander dus die Evangelie in ‘n werke evangelie en ken dus nie werklik die Here Jesus Christus nie! Hulle is die mense wat veroordeel sal word! Iemand wat nie God se genade verstaan nie, verstaan nie die Here nie! Indien ‘n persoon aan die ontvang kant van hierdie beskuldiging is, kan dit as bewys dien dat hy die Evangelie korrek verkondig net soos wat die apostel Paulus dit gedoen het, en demonstreer dus dat hy op die regte pad is. Indien ‘n persoon egter die beskuldiging maak, kan dit as bewys dien dat die persoon nie werklik die Evangelie volgens die Bybel verstaan nie. So ‘n persoon moet na sy leerstellings gaan kyk en seker maak of hy nie in werklikheid ‘n werke evangelie verkondig nie. As ‘n persoon saam met Christus gekruisig is, wat alle ware gelowiges wel is, dan is ons saam met Christus gekruisig en is ons dood vir die sonde.

Paulus gaan egter voort en verduidelik sy punt verder:
Rom 6:2 “Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?”
Indien ‘n persoon wedergebore raak, word hy deur die Heilige Gees, in Christus ingedoop en is daardie persoon in Christus en sien die Vader hom ook so aan.
Rom 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?”
Soos reeds gestel, wanneer ‘n persoon wedergebore raak, word hy deur die Heilige Gees in Christus in gedoop. Die gelowige se identiteit is dus in Christus en nie meer in Adam nie. Om ‘n duideliker begrip van hierdie waarheid te verkry, help dit nogal indien ‘n gelowige hierdie waarheid op ‘n visuele wyse aan homself demonstreer. Ek stel voor dat die leser sy Bybel in een hand neem en ‘n boekmerk of stukkie papier in die ander hand. Die Bybel verteenwoordig die Here Jesus Christus en die boekmerk verteenwoordig die gelowige. Maak die Bybel oop en plaas die boekmerk nou in die Bybel en maak die Bybel heeltemal toe, sodat die boekmerk nie gesien kan word nie. Hierdie illustrasie demonstreer mooi wat met die gelowige, die oomblik wanneer hy die Evangelie glo, gebeur. Hy word deur die Heilige Gees in Christus en Sy dood geplaas en staan dan saam met Christus in ‘n nuwe lewe op. Die Vader sien die gelowige nou in Christus en al Sy geregtigheid. Posisioneel beskou die Vader dan die gelowige as perfek en daarom sal Hy nooit die gelowige kan veroordeel, sodat die gelowige verlore sal kan gaan nie. (Lees asb die artikel “Ewige Sekuriteit van die Gelowige” vir meer inligting) Die Vader sien dus nie meer die gelowige in Adam nie, maar in die perfeksie van Sy geliefde Seun. Hou altyd hierdie waarheid ingedagte!

Rom 6:4 “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Omrede die gelowige in Christus geplaas is, word hy ,deur die Heilige Gees, by wedergeboorte met Christus se dood aan die kruis vereenselwig of geïdentifiseer, (ons is dus saam met Christus gekruisig) en net soos wat Christus uit die dood opgewek is, is die gelowige saam met Hom opgewek om in ‘n nuwe opstanding lewe (God se lewe in die gelowige) te lewe. Dit is nie iets wat die gelowige in die toekoms nog moet ontvang nie. Die nuwe lewe is iets wat hy alreeds het, naamlik God se lewe in die gelowige. (Lees asb die artikel “Wat is die Ewige Lewe” vir meer besonderhede) Die ritueel van water doop is nie hier ter sprake nie! Wat hier ter sprake is, is wat met die gelowige gebeur die oomblik wanneer hy die Evangelie glo en wedergebore raak.
Rom 6:5 “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”
Die oue mens is die gelowige toe hy nog in Adam was. Die ou mens wat in Adam was, is deur die Heilige Gees, in Christus geplaas en is saam met Christus gekruisig, wat beteken dat ‘n wettige sterfte plaasgevind het. God het dus alles wat die gelowige, voor wedergeboorte, in Adam was, as wettiglik dood verklaar. Die liggaam van sonde, is die sonde natuur wat as heerser die persoon se fisiese liggaam domineer en dit gebruik om sy begeertes uit te voer, naamlik sonde. Die sonde natuur word dus kragteloos gestel en daarom beskryf die Bybel dit as “tot niet maak” sodat ons nie meer die sonde natuur as slaaf sou dien nie. Dit is uiters belangrik om hierdie feit in geloof aan te neem en dit deel van die gelowige se lewe te maak!

Hierdie waarheid kan baie duidelik in ‘n algemene voorbeeld uit ons daaglikse lewens geïllustreer word. Indien ‘n persoon by die weermag aansluit en ‘n militêre leefwyse volg, dan is hy aan die drilsersant, wat hom oplei, onderdanig en kan daardie drilsersant sekere optredes van die persoon vereis, soos bv opstote ens. So ‘n drilsersant kan nogal veeleisend en onplesierig wees!
DrilsersantDie drilsersant in hierdie illustrasie verteenwoordig die sonde natuur, wat as drilsersant, gesag oor die ongeredde persoon, wat homself in Adam bevind, uitoefen en hom aan sy wil diensbaar maak. Wanner die persoon se kontrak met die weermag voltooi is, en hy verlaat die weermag, en begin ‘n lewe as ‘n siviele burger, het daar ‘n verandering in die verhouding van die persoon met die van die drilsersant plaasgevind, en is die persoon nie meer onder die geag van die drilsersant nie. Die siviele lewe verteenwoordig die lewe van die gelowige na wedergeboorte, onder die gesag van die Here Jesus Christus, omrede hy met wedergeboorte uit sy posisie in Adam verwyder is en deur die Heilige Gees in Christus ingedoop is. Daar het dus ‘n verandering van identiteit en stand plaasgevind. Indien die gelowige nou die ou drilsersant op straat raakloop, en die drilsersant beveel die gelowige om tien opstote te doen, kan die gelowige die opdragte weier en sou hy uiters dwaas wees as hy neerval en die opstote doen. Dieselfde beginsel geld vir die persoon wat die Evangelie geglo het. Hy is nie meer in Adam en onder die gesag van die sonde natuur nie. Hy in nou in Christus en sal dwaas wees indien hy nou die begeertes van die sonde natuur wil gehoorsaam. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, dat die gelowige bewus is van sy stand en nuwe identiteit in Christus en wat hierdie nuwe posisie en identiteit alles behels.
Rom 6:7 “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. 6:8 As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, 6:9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. 6:10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.”
So moet die gelowige ook reken dat hy saam met Christus gesterwe het, en saam met Hom, in ‘n nuwe lewe, opgestaan het om nou vir God te lewe. Hierdie is alles waarhede wat in geloof, op grond van ons rasionele denkprosesse, aangeneem en uitgeleef behoort te word. (Hier kom die samewerking van die gelowige ter sprake. Meer sal later oor hierdie waarheid uitgebrei word.)

Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.”
Uit bostaande teksgedeelte is dit duidelik dat Paulus van die gelowige verwag, om op grond van sy rasionele denkprosesse en logiese gevolgtrekkings, in geloof homself vir die sonde natuur as dood te reken en homself vir God as lewend te reken, omrede God deur Sy Gees nou in hom lewe. Onthou wat hy in Rom 6:5-6 verduidelik het!
Rom 6:5 “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde (die sonde natuur as drilsersant) sou dien nie.”
Elke gelowige kan dus opstaan en met sekerheid verklaar dat hy vry verklaar is en nie meer nodig het om die sonde natuur as harde drilmeester te gehoorsaam nie!
Rom 6:12 “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”
Omrede die gelowige nie meer in Adam is nie, en nou in Christus is, moet die gelowe nie toelaat dat die sonde natuur in sy liggaam regeer nie, en hoef die gelowige nie aan die sonde natuur toe te gee en sy sonde natuur gehoorsaam te wees nie. Die gelowige is nie meer in Adam nie, maar is nou in Christus, en daarom moet hy in geloof hierdie waarhede aanneem en dit in die krag van die Heilige Gees uitleef. Die sonde natuur kan dus nie oor die gelowige regeer wat in Christus is nie. Die Heilige Gees, sal die gelowe wat hierdie waarhede in geloof aanvaar, versterk en aan hom die nodige krag verleen om oor die sonde natuur te heers, omrede die Heilige Gees alreeds in die gelowige inwoon. Geen gelowige behoort dus aan die sonde natuur toe te gee nie! As gelowiges dien ons nie meer die sonde natuur nie, maar God! Al hierdie waarhede is op grond van die gesag van God se woord aan die gelowige gegee en is nie sommer net wensdenkery nie! Daarom is dit uiters belangrik om hierdie waarhede, soos wat God dit in Sy woord aan ons gegee het, te glo. Dit is immers God se woord!

Kom ons gaan voort!
Rom 6:13 “En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
In bostaande teksgedeelte vind ons ‘n negatiewe sowel as ‘n positiewe stelling. Gelowiges moet nie hulle liggame tot beskikking van die sonde natuur stel om te sondig nie, want om so iets te doen sal teenstrydig wees met wie die gelowige in Christus is. Die gelowige is nie meer in Adam, en dus onder gesag van die harde drilsersant om al sy opdragte uit te voer nie, maar sy posisie en identiteit is in Christus en daarom moet hy sy liggaam aan God tot beskikking stel, omrede hy nou ‘n nuwe lewe in Christus het. Dit is opmerklik dat Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis die sentrale punt is waarom die gelowige se nuwe lewe draai. Dit is op die kruis waar die die gelowige saam met Christus gesterwe het. By hierdie gebeurtenis is daar ‘n einde gemaak in alles wat die gelowige in Adam was. Daarom maak dit nie sin indien die gelowige sy liggaam nou weer aan die sonde natuur diensbaar maak nie. Dit is uiters belangrik vir die gelowige om te besef, dat hy posisioneel in Christus is en nie meer in Adam is nie. Boonop moet die gelowige besef dat die sonde natuur se heerskappy oor die gelowige, by die kruis, heeltemal weg gestroop is en hoef die gelowige nie meer die sonde natuur as slaaf diensbaar te wees nie. Dit is deur Christus se voltooide werk aan die kruis, en die gelowige se identifisering daarmee, waardeur die gelowige nou volkome in Christus is. Dit is op grond van Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis waarom die gelowige ‘n nuwe lewe geskenk word en waarom die Heilige Gees vir ewig Sy woning in die gelowige kom maak en hom verseël. Die gelowige het dus nou ‘n nuwe posisie in Christus en beskik hy oor ‘n nuwe identiteit. Hy is nie meer onder die gesag van die sonde natuur nie! Net so sal die Heilige Gees heiligmaking in die gelowige se lewe, op grond van Christus se voltooide werk aan die kruis bewerkstellig, soos wat die gelowige in geloof hierdie waarhede sy eie maak, en in afhanklikheid en in geloof na Christus kyk en op Hom staatmaak om Sy lewe deur die gelowige te lewe en nie op sy eie krag staat maak nie.

Net gou weer ‘n kort opsomming: “Wedergeboorte is wanner God in genade Goddelike lewe aan die sondaar skenk.”
Tit 3:5 “nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”
Met wedergeboorte (Joh 3:37) ontvang die gelowige ‘n nuwe natuur, wat God in die gelowige skep, en wat dus sondeloos is.
2Pe 1:4 “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.”
Boonop word die gelowige die tempel van die Heilige Gees wat permanent by hom kom inwoon.
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
Omrede die gelowige in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel.
2Ko 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Na wedergeboorte het die gelowige ook ‘n nuwe toekomsverwagting.
1Pe 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, 1:4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 1:5 wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.”
Al bostaande feite moet deur die gelowige in geloof vir homself toereken word en dit dan deel van sy lewe maak.

Omdat die gelowige met wedergeboorte in Christus geplaas is, en posisioneel nie meer in Adam is nie, behoort die Heilige Gees deur God se woord (die Bybel) die gelowige se denkrigtings, begeertes en optrede te bepaal. Soos wat die gelowige die Bybel bestudeer, dit met God in gebed bespreek, daaroor nadink ens, sal die Heilige Gees die Bybel gebruik om die gelowige Sy waardes te leer en Sy begeertes op die gelowige se hart lê. Boonop, sal Hy die gelowige leer wat werklik in die lewe saak maak. Met hierdie wete, dat die gelowige nou oor ‘n nuwe sondelose aard beskik wat graag die Here wil behaag, kan die gelowige verseker wees, dat die inwonende Heilige Gees aan hom die nodige krag sal verleen om die nuwe begeertes, wat God in die gelowige se hart geplaas het, in geloof uit te lewe . Daarom is dit uiters belangrik dat die gelowige die heeltyd bewus van sy nuwe identiteit en stand in Christus moet wees en hierdie feite in die geloof as absolute waarhede aanvaar. Hoekom sal die gelowige dan nou sy liggaam aan die sonde natuur as slaaf wil aanbied? Dit is mos nie wie hy in Christus is nie! In Christus is hy mos nie meer die sonde natuur se slaaf nie, en het hy ook nie meer nodig om die sonde natuur te dien nie. Dit maak nie logies sin indien die gelowige nou sy liggaam aan die sonde natuur as slaaf sou aanbied nie. Ja, die gelowige kan dit doen, maar dan tree hy in stryd met sy nuwe posisie in Christus op. Iets wat nie logies sin maak nie. Dit is mos nie wie die gelowige in die Here Jesus Christus is nie! Uit bostaande feite is dit duidelik, dat ons stand ons optrede moet bepaal en nie anders om nie. Dit is God se model vir heiligmaking, wat indien ons dit in die geloof toepas, daartoe sal lei dat ons in die Gees oorwinnend sal lewe.
Rom 6:14 “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.”
Wie ‘n persoon in Christus is, moet dus bepaal hoe daardie gelowige optree.

In deel twee van hierdie artikel sal ons Romeine 7 kortliks behandel, en in hierdie hoofstuk, sal die hopeloosheid van ‘n gelowige bespreek word, wat heiligmaking in sy eie krag wil uitvoer. In Romeine 8 vind mens God se oplossing vir die probleem en sal heiligmaking op grond van genade deur geloof breedvoerig bespreek en afgehandel word. Slegs indien ‘n persoon God se metode vir heiligmaking toepas, sal hy werklik in oorwinning en vryheid kan lewe. Vra my ek weet!

Seën Groete

Vic