Die Gelykenis van die Net

Die Gelykenis van die Net

Mattheus 13:47 “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; 13:48 en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. 13:49 So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei 13:50 en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
Opmerking: Hierdie gelykenis is eenvoudig, want die Here self verduidelik dit. Die tydperk wat hier bespreek word is die einde van die groot verdrukking, wanneer Jesus Christus terug aarde toe kom om Sy Koninkryk fisies hier te  kom vestig
Die vissermanne is die engele en die goeie visse is die gelowiges. Die slegte visse is die ongelowige mense wat die Evangelie wat gedurende die verdrukking verkondig sal word verwerp. (Openbaring 14:6-7). Hulle verwerp egter die aanbod en bevind hulleself in hulle sondes met Jesus Christus se wederkoms. Onthou altwee groepe mense sluit Jode sowel as mense van die Nasies in (Alle Volke). Die ware Kerk is sewe jaar tevore weggeneem Hemel toe.(1 Thessalonicense 4:13-18, 1Korinthiers 15: 51-58 Openbaring 3:10 ens.) Dus is hierdie die mense wat deur die verdrukking gaan, wat nog nooit voorheen die Evangelie gehoor het nie. Mense wat tydens die huidige Kerk Dispensasie die Evangelie gehoor en verwerp het, sal nie weer tydens die sewe jaar verdrukking ‘n kans kry om weergebore te word nie. Hulle sal egter ‘n gees van verlyding ontvang om ‘n leun te glo. Onthou, lig wat verwerp word, word naderhand lig wat weerhou word. (verharding van die hart) 2 Thessalonicense 2:8-12 stel dit baie mooi soos volg:“en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Daarom is dit vir ons, as gelowiges, uiters belangrik om seker te maak ons hoor wat die Here werklik aan ons wil sê. Ons moenie predikers aanstel wat net sê wat ons graag wil hoor nie. Die gevolge van so ‘n besluit kan katastrofies wees! Dus is die goeie visse die mense wat die Evangelie van die komende Koninkryk tydens die verdrukking hoor en glo. (Openbaring 14:6-7)

Daar vind dus ‘n skeiding plaas, net soos ons gesien het in die gelykenis van die onkruid, waar die koring van die onkruid geskei word. Die gelowiges gaan dan as normale mense sonder verheerlikte liggame saam met Jesus in Sy Koninkryk in. Hulle vorm dus die groep waaruit die wêreld weer herbevolk word, net soos wat Noag en sy gesin gedoen het na afloop van die vloed. Hierdie oorlewende gelowiges wat die Groot Verdrukking oorleef behou dus nog steeds hulle sonde natuur en natuurlike liggame, en hulle kinders moet dus nog steeds Evangelie glo alvorens hulle ook wedergebore sal raak.

Die oorlewende ongelowiges word egter verwyder en gedood en gaan nie die Here se Koninkryk op aarde binne nie.  (Openbaring 20:7-15) Ek hoop die leser vind baat uit die verduideliking van die gelykenis van die net uit.

Tot ‘n volgende keer.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.