Laaste Dae Herlewing?

Laaste Dae Herlewing?

Vraag:
Wanneer gaan die groot Herlewing begin wat almal van praat? Ek hoor baie daarvan maar sien nie in werklikheid enige verandering in ons samelewing nie. Ek sal graag jou opinie hieroor wil hoor.

Antwoord:
Goeie vraag. Hang af wat jy as herlewing beskou. Met ware herlewing bedoel ek, dat die mens altyd ‘n terugkeer na God en Sy Woord  (die Bybel) maak. Met ware herlewing bely die mense hulle sondes, en laat staan dit, en laat die Heilige Gees toe om hulle lewens te beheer. Ware herlewing het nog altyd na ‘n heilige lewenswandel gelei, en die mense het die waarheid weer in God se Woord opgesoek, om vas te stel wat God se wil is en dit gedoen. Die Bybel is dan as maatstaf gebruik waarteen alle gedrag en handelinge gemeet is. Met ware herlewing het die gelowiges meer sensitief vir die leiding van die Heilige Gees geraak en het hulle ook op die Heilige Gees se leiding gereageer.

Mens hoor nogal gereeld van herlewing deesdae. Ek het al gehoor hoe sekere Christelike leiers verkondig, dat die Kerk eerstens die wêreld gaan oorneem en dan eers sal Jesus Christus terug kom aarde toe. Om ‘n ware antwoord op hierdie vraag te kry, moet ons na die Skrif gaan en hoor wat die Here daaroor te sê gehad het. Het Jesus, of die apostels, geleer dat daar ‘n herlewing in die laaste dae gaan plaasvind?
Luk 18:8 “Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Jesus Christus self het hierdie vraag gevra, en is dit nie ‘n indikasie dat Hy iets weet nie?

Mattheus 24:3 “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? 24:4 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 24:5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. 24:6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. 24:7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. 24:8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. 24:9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. 24:10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. 24:11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 24:12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. 24:13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” 
Opmerking: Indien ons na die bogenoemde teksgedeelte kyk, lyk dit nie of daar ‘n ware herlewing gaan plaasvind nie, maar dat daar baie mense gaan opstaan en sê dat hulle Christus (die gesalfde [The anointed]) is, en ‘n baie groot verlyding gaan plaasvind. Mens hoor gereeld deesdae van mense wat beweer dat hulle Jesus is. Maar dit is nie die ergste gevaar vir die gelowige nie, omrede ‘n mens maklik kan opmerk dat die persoon nie werklik Jesus Christus is nie.

Die gevaar ontstaan wanneer mense begin beweer dat hulle die Christus is. Die woord Christus beteken Gesalfde. In Engels beteken dit “Anointed”. Skakel maar jou televisie aan en kyk op die TBN kanaal en ander Christen kanale, dan sal jy verbaas wees om te hoor hoeveel mense beweer dat hulle die “ anointing” het . En kyk maar hoeveel mense stroom na die sogenaamde genesings dienste toe. Dit maak ook nie saak hoeveel keer die sogenaamde gesalfdes (anointed) uitgewys word as vals nie. Die mense stroom net dood eenvoudig na hulle dienste toe, omrede hulle dink dat hierdie mense hulle gesond kan maak, of hulle ryk kan laat word.
Jeremia 23:21 “Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer.
23:25 Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!”
Klink bogenoemde teksgedeeltes nie bekend nie? Hoeveel keer hoor mens van profesieë wat uitgespreek word, en wat nooit bewaarheid word nie of wat net blootweg as vals omskryf kan word?

Kom ons kyk nou wat die Apostels oor die saak te sê gehad het.
2Timoteus 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. 3:6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, 3:7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. 3:8 En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof. 3:9 Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos ook dié van daardie manne geword het.”
En verder:
3:13 “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 3:14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 3:15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”                                                                              
Opmerking: Uit bogenoemde gedeelte is dit baie duidelik, dat die wêreld nie ‘n beter plek gaan word nie, maar baie erger gaan word. Dit is duidelik dat ‘n herlewing nie gaan plaasvind nie. Onthou Paulus praat hier van selferkende gelowiges,  wie se lewens nie hulle geloof reflekteer nie. Kyk om jou rond, of kyk na die meeste televisie predikers. Oor wat preek hulle? Geld en gesondheid, saai jou saad en kry ‘n wonderwerk ens. Asof enige iemand God kan koop. Waar word sonde, jou self verloën, jou kruis opneem en Jesus volg en die komende oordeel gepreek? Waar word heiligmaking gepreek, waarsonder niemand die Here sal  nie? (Hebreërs 12:14) Waar word gepreek wat ons moet doen en nie net wat God vir ons kan doen nie? God is nie ons dienaar nie, maar ons is veronderstel om Sy diensknegte te wees. Dit is hoekom mense hulle opblaas en soms van God af wegloop, as Hy nie aan hulle gebedsversoeke wil voldoen nie. Hulle loop met die idee rond, dat hulle God ‘n guns bewys om na Hom te kom. Hy kan dan maar voorgesê word wat om te doen, en Hy moet maar net gehoorsaam wees. Dit is egter nie die God van die Bybel nie. Die teendeel is egter waar. God bewys aan ons Sy genade, deur om ons nie te gee wat ons verdien nie, en ons sal wys wees om dit te begryp en Hom vir Sy geduld en genade te dank. God se geduld gaan net so lank hou, dan gaan daar ‘n tyd vir afrekening kom.

Kom ons lees verder.
2 Thessalonicense 2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 2:4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die   ongeregtigheid.”                   
Opmerking: Uit die bogenoemde gedeelte is dit baie duidelik, dat daar nie ‘n wêreldwye herlewing gaan plaasvind nie, maar dat die teenoorgestelde egter gaan plaasvind. Die wêreld gaan waarneembaar erger word, en ‘n groot verlyding gaan plaasvind, tot en met so ‘n mate, dat mense die mens van sonde (Die Antichris) as die ware God sal aanbid. Moenie dwaal nie! Al hierdie gebeure gaan onder die vaandel van die belydende Christendom plaasvind!

Jesus self het ons daaroor gewaarsku. Hier is nog ‘n waarskuwing van Jesus self af.
Mattheus 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”                                                            
Daar gaan baie mense wees wat in die Naam van Christus duiwels uitgedryf, wonderwerke gedoen  en geprofeteer het wat die Here gaan wegwys, omdat Hy hulle nooit geken het nie. Hulle is dus werkers van ongeregtigheid, wat voorgee dat hulle God dien, maar wat in werklikheid God se kinders verlei. Is dit nie wat ons vandag orals onder die vaandel van herlewing sien gebeur nie? Orals word profesie links en regs uitgeblaker, wat nooit waar word nie, en dit alles in die Heilige Naam van God. Wat sal gebeur met ‘n ambassadeur van ‘n land, wat valse stellings maak in die naam van die land se Presedent? Maar die hedendaagse vals profete het die arrogansie om in God se Naam leuens uit te spreek! Hulle moet nie dink dat hulle ongestraf sal bly nie. Om blatant in God se Naam te lieg, is nie ‘n baie wyse ding om te doen nie. Om ‘n profesie in God se Naam uit te spreek, en dit word nie waar nie, is om van God ‘n leuenaar te maak, want die profeet spreek mos namens God. God kan nie lieg nie, en Hy kan ook nie foute maak nie. God gaan sulke optrede nie vir ewig toelaat nie. ‘n Persoon wat valse profesie in God se Naam maak demonstreer maar net dat hy nie God se Wil regtig geken het nie, en dalk God self nie ken nie.
Deuteronomium 18:22 “as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.
18:20 Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.”
Ons hoef maar net na die Skrifte te gaan, om vas te stel wat God van ‘n persoon dink, wat valse profesie in Sy Naam uitspreek.  Indien jy wil sien hoe ernstig God ‘n spesifieke sonde beskou , gaan kyk maar in die Ou Testament watter strawwe God vir daardie spesifieke sonde opgelê het en jy sal sien wat God van daardie spesifieke sonde dink. Maar dit skrik nie die hedendaagse super profete af nie! Dink hulle, hulle gaan God se oordeel vryspring? Daagliks hoor mens van herlewing, en profesie oor ‘n beweerde herlewing  en wat nooit waar word nie. Baie mense verkondig dat ons alreeds in ‘n herlewing is. Indien ons egter eerlik is, sal ons moet erken dat sake in die grootste gedeelte van die belydende Christendom maar sleg lyk en dat sake selfs in sekere opsigte opmerklik vererger. Dit het niks met Herlewing te doen nie, en demonstreer maar net eindelik die teenoorgestelde. Dit is nie werklik ‘n Skriftuurlike herlewing nie.

Die Kerk gaan ook nie die wêreld oorneem nie, want die Bybel stel dit duidelik dat die wêreld die Antichris gaan aanbid. Verder stel die Bybel dit duidelik, dat die Here Jesus Christus, na afloop van die Groot Verdrukking, en met Sy wederkoms self met die Antichris sal afreken en nie die Kerk nie.
Openbaring 19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 19:12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 19:13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 19:14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. (Die groep sluit die Kerk in)
19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 19:16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.
19:17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God,
19:18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. 19:19 En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. 19:20 En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 19:21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”
Opmerking: Soos ons weer uit bogenoemde teksgedeelte kan waarneem, is dit die Here Jesus Christus self, wat met Sy wederkoms die leërs van die Antichris en die wêreldse weermagte sal vernietig en nie die Kerk nie. Die ware Kerk kom saam met Jesus Christus met Sy wederkoms aarde toe, omrede Hy hulle alreeds sewe jaar tevore deur middel van die wegraping kom haal het en na Hom in die Hemel geneem het. (1Thessalonisense 4:15-18, Openbaring 3:10 ens) Net vir stawing vir wat ek hier bo genoem het, raai ek die leser aan om Daniël 2 te lees, wat oor die Koninkryke van die wêreld asook die stigting van die laaste koninkryk, nl. die Koninkryk van Jesus Christus handel. Jesus Christus se Koninkryk sal begin met die Millennium en dan vir ewig voortduur. Ek gaan egter net ‘n paar teksgedeeltes uitlig wat sal bewys dat niemand God help om Sy Koninkryk op aarde op te rig nie, maar dat Hy dit self doen.
Daniël 2:34 “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.  35 Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.
2:44 Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan— 2:45 net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.
Hierdie Koninkryk sal ontstaan sonder die toedoen van menslike hande. Jesus Christus self, sal Sy Koninkryk op aarde oprig en nie die Kerk nie. Dit is arrogant van sommige mense om te verkondig, dat die Kerk, die Koninkryk van Christus op aarde tot stand kan bring, en dit in stryd met wat God self in Sy Woord aan ons leer. Wie is reg, ons of God?

Iemand wat beweer dat daar ‘n groot herlewing gaan plaasvind verkondig dinge in stryd met wat ons in God se woord lees en verkondig dus leuens. Om hierdie rede beweer sekere persone, dat die boek openbaring nie volledig is nie, maar dat daar nog openbarings kennis van God bekom is wat ons op dieselfde vlak as die Bybel moet respekteer en eerbiedig. Hulle weet dat die Bybel nie met hulle siening oor die sogenaamde herlewing saam stem nie en dus moet hulle deur sogenaamde nuwe openbarings. (“new Revelation”) die Bybel herskryf. Hulle vergeet egter God se woorde in Openbaring 22:18-19.
Openbaring 22:18 “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.
22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”
Miljoene mense gaan nog deur sulke valse leerstellings mislei word, omrede hulle nie die moeite gedoen het om self die Bybel te bestudeer nie.

Die Bybel stel dit baie duidelik dat daar ‘n toename in boosheid en valse profete sal wees, wat mens ook deesdae maklik kan waarneem. Vra maar net ‘n paar ou mense om jou te vertel hoe dit in hulle tyd was. Hulle sal jou deur die bank meedeel, dat hulle met oop deure en vensters geslaap het. Probeer dit vandag doen! Die wêreld word toenemend boser en meer geweldadig. Dit bewys maar net weer dat God se Woord waar is. Indien daar ‘n herlewing plaasvind is dit nie ‘n Bybelse herlewing nie. Ek hoop my antwoord help. Ek kan nog verder oor hierdie punt uitbrei, maar ek dink hierdie paar Bybel gedeeltes stel die punt duidelik genoeg dat daar nie ‘n ware herlewing gaan plaasvind nie. Onthou, dat die Here ons nie uitgestuur het om die wêreld te verower of om die wêreld te hervorm nie, maar Hy het ons gestuur om die Evangelie te gaan verkondig. Ons is nie hier om koninkryke op te rig nie, maar om die Evangelie te verkondig.
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

Ons moet God se opdragte, soos wat dit in die Bybel opgeteken staan, uitvoer en daarteen waak om deur valse leerstellings meegesleur te word. Ons slagspreuk moet soos volg lees: “Wat sê die Skrifte” en nie “Wat sê die mense nie”

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.