Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?

Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?

Baie mense vra my hoekom die mens dan nog steeds doodgaan indien die Here Jesus Christus alreeds aan die kruis vir hulle sondes versoening gedoen het. Met die skryf van hierdie artikel, sal ek poog om daardie vraag oor die dood te beantwoord en slegs vanuit die Skrifte my gevolgtrekkings maak. (lees ook gerus die artikels “ Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk” asook “Pyn en Lyding en God se Liefde

Die mens: Die mens is ‘n wese wat uit ‘n fisiese (materiële) gedeelte, naamlik die fisiese liggaam wat die vyf sintuie insluit, asook ‘n nie materiële gedeelte, naamlik die gees en siel bestaan. Ons weet egter nie wat lewe werklik is nie, en weet net dat dit van God afkomstig is en dat dit nie iets fisies is nie. Lewe, wat die gees insluit, animeer ons fisiese liggaam, maar vorm nie deel van die fisiese liggaam nie. (en kan dus apart van die fisiese liggaam voortbestaan.) Boonop sluit lewe die siel in en het definitief iets met die siel te make. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik, naamlik:
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
Die Skrifte verklaar nie aan ons wat die siel is nie, maar dit wil voorkom dat alle wesens wat asemhaal, en wat bloed in hulle het, oor siele beskik. Alhoewel dit van diere gesê word dat hulle oor siele beskik, word dit nooit gestel dat hulle oor geeste beskik nie. God is Gees, en omrede die mens in God se beeld geskape is beskik die mens ook oor ‘n gees, iets wat diere nie besit nie.
Gen.1:26 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”
Derhalwe beskik die slegs die mens oor ‘n siel en ‘n gees en verskil van die diereryk in hierdie opsig.
Hebr.4: 12 “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.
1Thess.5:23 “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”
Die mens is dus nie ‘n dier nie, en is ook nie van diere afkomstig soos wat die teorie van ewolusie beweer nie.

As sulks is die mens nooit werklik volledig, en in sy ideale toestand, soos wat God dit oorspronklik bedoel het, indien die mens se materiële, sowel as nie materiële gedeeltes, in een sondelose persoon versoen is en daardie persoon nooit tot sterwe kom nie. Dit is slegs nadat die mens in hierdie ideale toestand geskape is waar God, die skepping, wat die mens insluit as “baie goed” beskryf het.
Gen. 1:31 “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”

Die mens is dus ‘n gees, wat in ‘n liggaam inwoon en waardeur hy d.m.v. sy fisiese liggaam homself in die fisiese wêreld uitleef/uitdruk of funksioneer. Wanneer die gees die fisiese liggaam verlaat kom die fisies liggaam tot sterwe.
Jak.2:26a “Want soos die liggaam sonder gees dood is”
Maar die immateriële, of onstoflike, gedeelte van die mens bly bewustelik, of in die hemel saam met God (gelowiges) of in die hel (ongelowiges) voortbestaan. Die ongelowige persoon gaan onmiddellik hel toe om die Wit Troon Oordeel af te wag.
Luk.16: 23 “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”
Die Gelowige gaan egter met sy afsterwe onmiddellik na die Here in die hemel toe.
2Kor.5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
Die bewering dat ‘n afgestorwe persoon se gees tussen die lewendes ronddwaal, en by ander kan spook, kom vanuit die okkulte en nie vanuit die Bybel nie. Hierdie sogenaamde afgestorwe geeste is niks anders as demone wat hulle as afgestorwe mense voordoen nie.

Toe Adam en Eva God ongehoorsaam was, en van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het, het hulle geestelik gesterwe. Daar het dus ‘n skeiding tussen God se Gees, en die gees van die mens plaasgevind, en in hierdie opsig het die mens dus geestelik gesterwe, al het hulle nog vir ‘n tydlank in hulle fisiese liggame voort geleef. Boonop het hulle sondelose natuur in ‘n sonde natuur verander, iets wat hulle nie voorheen gehad het nie. Die mens se hele natuur is deur die sondeval aangetas en word totale verdorwenheid genoem. Nog ‘n gevolg van die mens se rebellie teen God, was die feit dat die mens se liggaam ook begin agteruitgaan wat tot uiteindelike afsterwe sou lei. Hierdie proses het dus die menslike liggaam vatbaar vir siektes, deformiteit, gebreklikheid asook fisiese dood gemaak.
Gen.3:17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
En daarom het die Here die mens verhoed om toegang tot die boom van die lewe te hê, en sodoende het Hy boonop verseker dat die mens nie in sy sondige toestand vir altyd bly voortleef nie.
Gen.3:22 “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! 23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.”

Omrede die mens na sy soort voortplant, word alle mense met ‘n gevalle natuur, en dus geestelik dood gebore (en moet dus die Evangelie glo om wedergebore te raak) en kom die een of ander tyd ook fisies tot sterwe.
Rom.5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood,
(fisiese sowel as geestelike dood) en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”
Rom.6:23 “Want die loon van die sonde is die dood,
(fisiese sowel as geestelike dood) maar die genadegawe van God is die (fisiese sowel as geestelike) ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (die leser word aangeraai om die artikel “Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel” te lees.)

Nou die vraag: Indien die Here vir al ons sondes aan die kruis versoening gedoen het, hoekom gaan ons nog fisies dood? Die antwoord is eindelik eenvoudig. Dit is van uiterste belang om te besef dat die mensdom, sowel as die skepping se verlossing in fases plaasvind. Op dieselfde wyse, na afloop van die sondeval, het die mens eers geestelik gesterwe en daarna het hy fisies tot sterwe gekom. Boonop het God die hele fisiese skepping onder die vloek geplaas, en hierdie vloek op die skepping is nog nie weggeneem nie.
Gen.3:17 “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
En in die brief aan die Romeine bevestig Paulus hierdie feit, naamlik:
Rom.8: 20 “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.”
En soos ons kan sien is die fisiese dood deel van hierdie vloek.

Nie alles wat Christus vir ons deur Sy kruisdood bewerkstellig het, word onmiddellike na wedergeboorte in ontvangs geneem nie. Baie van die seëninge wat Christus vir ons bekom het, sal slegs op God se tydsberekening aan ons geskenk word en nie voor die tyd nie. (waarvan onsterflike/verheerlikte liggame een so ‘n gawe is.) Omrede God die mens met ‘n materiële sowel as nie materiële deel geskape het, is die die mens slegs in sy ideale toestand wanneer hierdie dele van hom in een mens saamgevoeg is en hy in ‘n toestand van absolute sondeloosheid vir ewig bly lewe. (Dan alleen sal God die mens weer as “baie goed” kan beskryf. Hierdie ideale toestand sal egter eers bereik word wanneer fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking d.m.v. die wegraping/ fase een van eerste opstanding afgehandel is. (‘n gebeurtenis wat nog in de toekoms moet plaasvind.) In hierdie opsig verskil ons van die engele wat slegs geestelike wesens is en wat nie oor ‘n materiële liggaam beskik nie. Die gevalle engele hou nie by hulle geskape toestand nie, en wil dit verander, en daarom maak hulleself ook skuldig om hierdie toestand te probeer verander, deur om in mense in te vaar en dan die menslike liggaam te gebruik om aan hulle bose planne in die fisiese wêreld uiting te gee.

Fase een van ons verlossing: Dit is egter van uiterste belang, om te besef dat die mens se verlossing op ‘n tydskaal plaasvind en daarom word gesê dat ons verlossing in drie fases plaasvind. (bestudeer asb die illustrasie “Drie fases van verlossing” en lees gerus ook die artikel “Drie fases van Verlossing”) Fase een, naamlik wedergeboorte vind plaas wanneer ‘n persoon die Evangelie op ‘n spesifieke punt in tyd glo. By hierdie geleentheid word die gelowige met die Heilige Gees gedoop en verseël, wat beteken dat hy nooit verlore sal kan gaan nie, omrede die probleem aangaande sy sondeskuld voor ‘n Heilige God vir eens en vir altyd opgelos is.
Ef. 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, (fase een, naamlik wedergeboorte)2Kor.1:22 wat ons ook verseël het en die Gees (fase een, naamlik wedergeboorte) as onderpand in ons harte gegee het. (wat fase drie, naamlik die verheerliking waarborg) Ef.4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, (fase twee, naamlik heiligmaking/dissipelskap) deur wie julle verseël is (fase een, naamlik wedergeboorte)tot die dag van verlossing.” (fase drie, naamlik die verheerliking wat met die wegraping/fase een van die eerste opstanding plaasvind. ‘n Gebeurtenis wat nog in die toekoms moet plaasvind.)
Boonop ontvang die gelowige ‘n nuwe natuur, wat van God afkomstig is, en is dit nou vir die mens moontlik om vanuit hierdie natuur, in die instaatstellende krag van die Heilige Gees, vir God te lewe.

Fase twee van ons verlossing: Nadat ‘n persoon die Evangelie geglo en wedergebore geraak het, begin fase twee van sy verlossing, naamlik die heiligmaking fase. Tydens hierdie fase word die houvas van sonde in die gelowige se lewe verbreek, wat ‘n lewenslange proses is, en wat slegs tot ‘n einde sal kom indien daardie persoon tot sterwe kom, of indien die wegraping plaasvind nog voordat die gelowige te sterwe kan kom. In die heiligmaking proses is die gelowige se samewerking nodig, en bestaan daar ‘n moontlikheid dat die gelowige die Heilige Gees kan weerstaan en selfs in daardie toestand tot sterwe kan kom.
Ef.4:30 “En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
1Kor. 11:30 “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. 31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. 32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”
Rom.8:29-31 bevestig ook hierdie feit, en daarom noem die Heilige Gees nie heiligmaking in die proses van God se verlossing nie, omrede heiligmaking gedeeltelik van die mens se samewerking afhang en in hierdie opsig is dit nie ‘n gewaarborgde feit nie. Rom.8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. 31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”
Tussen die stelling “en die wat Hy geregverdig het, (fase een, wedergeboorte) dié het Hy ook verheerlik.” (fase drie, verheerliking) ontbreek die stelling van heiligmaking wat logies tussen hierdie twee gebeure inpas, en noem God slegs fase een en drie omrede hierdie fases volkome van Homself afhanklik is en wat Hy wel getrou sal vervul. Waar die mens se samewerking vereis is die moontlikheid vir mislukking groot.

Alhoewel ons goeie werke nie aan ons wedergeboorte kan skenk nie, kan, en moet, die gelowige na afloop van fase een, naamlik wedergeboorte, en tydens fase twee, naamlik heiligmaking met goeie werke besig wees, waardeur ons genadeloon, krone en gesagsposisies in die komende koninkryk van Christus kan verdien. In hierdie opsig is geloof werke van uiterste belang. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Krone, loon en goeie werke” en “Die gelowige se werke gaan beoordeel word” asook “Die gelykenis van die Ponde” te lees wat hierdie leerstelling duidelik uitbeeld. Ons huidige lewe op aarde het ewigdurende implikasies en ons moet hierdie uiters belangrike feit nooit vergeet nie. (Lees gerus ook die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” wat uiters belangrik is.)

Fase drie van ons verlossing: Vind plaas wanneer fase een van die eerste opstanding, waaraan slegs gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot geloof gekom het, deel van sal uitmaak. Dit sluit ook gelowiges wat nog tydens die afsluiting van die Kerk Dispensasie in hulle fisiese liggame gevind word, waarna hulle in ‘n oogwink verander sal word en met hulle verheerlikte liggame oorklee sal word (sonder om te sterf) Hierdie gelowiges sal d.m.v. die wegraping uit die wêreld verwyder word. (lees asb die reeks artikels genaamd “Die Wegraping”)
1Thess.4: 13 Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. 14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
1Kor.15-57 gee aan ons die metode wat die Here sal gebruik wanneer fase drie, naamlik ons verheerliking afgehandel sal word, naamlik:
1Kor15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning .55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? 56 die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. 57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”

Slegs na afloop van fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking sal ons verlossing volkome afgehandel wees, en tot die verheerliking, wat deel van die eerste opstanding/wegraping vorm sal ons nog steeds fisies siek word, verouder en fisies tot sterwe kom. Ons fisiese liggame, met die meegaande sonde natuur, is nog steeds onder die vloek totdat die wegraping/fase een van die eerste opstanding plaasvind, wanneer ons met ons sondelose onsterflike verheerlikte liggame oorklee sal word.
Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Ons kan nie bepaal wanneer, en hoe God Sy gawes aan ons wil uitdeel nie. Ons moet dit in afhanklikheid van Hom, as ons Skepper, afwag en in ontvangs neem wanneer Hy so besluit en nie wanneer ons dink ons moet dit in ontvangs neem nie. Om so iets te bedink, skep ons maar net vir onsself ‘n valse godsdiensstelsel, wat op menslik opinies, en teksgedeeltes wat soms buite konteks aangehaal, gebaseer is en nie op God se woord binne die korrekte konteks nie. Wanneer die Here ons kom haal het, dan sal Hy ons voor die Regterstoel Oordeel van Christus, vir ons werke na wedergeboorte beloon, en waarna ons na afloop van die Groot Verdrukking saam met Hom aarde toe sal terugkeer, om as deel van Sy administrasie, die aarde vir duisend jaar lank te regeer. (Bestudeer asb aangehegde illustrasie “Gebeure net voor, tydens en na afloop van die Groot Verdrukking”)

Ter Afsluiting: Dit is slegs tydens Christus se Duisendjarige Vrederyk waar die vloek op die skepping gelig sal word en nie voor die tyd nie. (Lees asb die artikel “Koninkryk nou vs Koninkryk kom”) Om hierdie rede het die Here Jesus Christus nog nie Sy Koningskap op aarde opgeneem nie en daarom word Satan nog steeds die god van hierdie wêreld genoem.
2Kor.4:3 “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.
I Joh.5:19 Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.
1Pet.5:8Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Derhalwe ly ons nog steeds, en ervaar en beleef vervolging.
Rom.8:15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! (Fase een, wedergeboorte) 16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God (alle gelowiges word erfgename van God en ontvang ‘n basiese erfporsie) en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, (daar is egter ‘n groter erfporsie of genadeloon wat deur werke, wat lyding insluit, verdien kan word. Hierdie erfporsie sluit baie dinge soos krone, gesagsposisies ens in, maar dit moet alles deur werke verdien word.) sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. 18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd (ons spring nie lyding tydens die Kerk Dispensasie vry nie. Fase twee, heiligmaking) nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. (fase drie, verheerliking.)19 Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. 20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, (die skepping is nog steeds onder die vloek, en sal eers vrygemaak word wanneer Christus dit met die aanbreek van Sy Duisendjarige Vrederyk uit die weg begin ruim) maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. (die wêreld is nog steeds onder die vloek) 23 En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. (fase drie, verheerliking) 24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? 25 Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. (fase twee, heiligmaking) Al hierdie dinge vind in fases is die loop van die geskiedenis plaas.

Gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie lewe, sal nie vry van die dood wees, tot en met die wegraping/eerste opstanding, wanneer ons, ons verheerlikte liggame sal ontvang en dan eers sal ons nie meer doodgaan, verouder, siek word ens nie. Om hierdie rede is dit van uiterste belang om die Skrifte volgens die konsekwente, letterlike, grammatiese en historiese metode van interpretasie te bestudeer en uit te lê. Indien ons dit nie doen nie, gaan ons ernstig mislei word en tot verkeerde gevolgtrekkings kom. Boonop moet ons, ons leerstellings slegs vanuit die Skrifte bekom en nie op buite Bybelse profesieë, tradisies, manifestasies en belewenisse staatmaak nie.

God het ‘n raadsplan waarvan die wêreld se geskiedenis deel van vorm. Die geskiedenis het ‘n begin en ‘n einde waarin sonde in die wêreld ingekom het, en openbaar ook aan ons hoe God die Satan se verwoestingswerk stelselmatig ongedaan maak, waardeur Hy Homself sal verheerlik, en aan Sy skepsele sal demonstreer dat slegs Hyself as God van die hele skepping kan dien en dat daar geen ander God naas Hom is nie. Net soos wat ons verlossing in fases plaasvind, net so word Satan se ondergang in fases bewerkstellig en sal eindig waar hy in die poel van vuur gewerp sal word. Dit is op hierdie aarde waar Satan die oorwinning oor God se verteenwoordiger, die eerste Adam, behaal het en dit sal ook op hierdie aarde wees waar die tweede Adam, naamlik die God-Mens, Christus, die Duiwel sal oorwin en tydens die duisendjarige vrederyk die wêreld sal regeer soos wat God oorspronklik van die mens verwag het. (Bestudeer gerus die illustrasie genaamd “Sewe Dispensasies”) Die Duisendjarige Vrederyk van Christus dien dan as die eerste fase van God se ewige koninkryk wat nooit sal vergaan nie. (Lees asb die reeks artikels “Profetiese rede op die Olyfberg” asook die reeks artikels genaamd “Die duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref“vir meer besonderhede oor die verloop van die laaste dae.)

Tot en met die wegraping/fase een van die eerste opstanding sal gelowiges nog steeds fisies tot sterwe kom, siek word en lyding ervaar, omrede ons nog nie verheerlik is nie. Ons moet dus nooit ons vergeet dat ons maar net vreemdelinge in hierdie bose wêreld is en met ‘n deurreis besig is.
1Pet.1:17 “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;
1Pet.2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”
Ons kan dus nie nou alreeds, soos wat sommige mense verkeerdelik beweer, genesing en onsterflikheid as geboortereg by God opeis nie. Ons moet geduldig wag en bid, sodat God ‘n einde aan die dispensasie van die Kerk kan maak, en ons met die wegraping kom haal, en sodoende fase drie van ons verlossing, naamlik die verheerliking voltooi.
Openb.22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!”

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.