Die Bybel onder die arm

Bybel onder die arm

Vraag:
My vriende beweer dat ek te heilig wil lewe en dat ek die heeltyd met die Bybel onder die arm loop. Dit is nogal afbrekend vir my want ek wil graag die Here volg. My vriende het my ook gewaarsku om nie te eng te wees nie, wat moet ek doen?

Antwoord:
Mens hoor nogal gereeld hierdie woorde en veral van belydende Christene af. Vir die antwoord moet ons egter na de Bybel gaan.
Markus 12:30 “en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.
Ek dink nie die Here kon ‘n duideliker stelling as bogenoemde teksgedeelte gemaak het nie! Sover as wat dit die Here aangaan, kan mens nooit te veel van Hom weet of wil weet nie. Dit is eindelik wat die Here wil hê ons moet doen, maar die hartseer feit van die saak is, dat min mense werklik die moeite wil doen om regtig naby die Here te wil lewe. Daar is egter baie meer wat oor die saak gesê kan word.

Deesdae is daar nie meer werklik plek vir die Here in baie mense se lewens nie. (dit sluit ‘n baie groot persentasie van die belydende Christendom in)Hulle beweer egter hulle glo in Hom, maar hulle lewenswandel demonstreer heeltemal iets anders. Die Heilige Gees wat die Bybel geïnspireer het, het deur Jakobus aan ons ‘n waarskuwing gerig.
Jakobus 2:14 “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Jakobus 2:26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.
1:22 En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”
Vir ‘n volledige uiteensetting van hierdie onderwerp word die leser aangemoedig om die artikel “Geloof sonder Werke is Dood? Jak 2:14-26” te lees

Ware geloof kan egter net op kennis van die Bybel gebaseer word. Ware geloof is nie ‘n krag in homself nie, maar dit is ‘n vaste vertroue in ‘n persoon. In die Christen se geval is dit die HereJesus Christus. Hoe gaan ek egter leer om op Hom te vertrou as ek nie tyd saam met Hom spandeer en Sy Woord bestudeer nie? Ek kan net iemand vertrou wat ek leer ken het. Verder is dit belangrik om te weet wat jy glo, voordat jou geloof werklik in aksie kan gaan.(Romeine 10:14) Praat maar met jou vriende en jy sal gou agterkom hoe min mense deesdae werklik hulle Bybel ken. Vra dieselfde mense wat die nuutste artikel in die Huisgenoot is, en hulle sal jou kan vertel. Kyk ook maar watter tydskrifte die top verkopers is en jy sal weet wat die mense se grootste begeertes is. Dit mag na harde woorde klink, maar dit is die eenvoudige waarheid.
Mattheus 6:21 “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Onthou die Here weet alles en sien alles!

Jesus het in die briewe aan die sewe gemeentes in Asië dieselfde onderwerp aangespreek. Ons moet Jesus se waarskuwings daarin baie ernstig opneem.
Openbaring 2:4 “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. 2:5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.
3:15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 3:16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”
Ek sien nie hier of in enige ander plek in die Bybel waar die Here iemand waarsku dat hy te eng is, of dat hy Jesus te veel soek nie. Ons grootste probleem lê daarin dat ons nie die Here genoeg soek nie en spandeer ver te min tyd saam met Hom, Sy woord die Bybel en in gebed!

Oor die stelling dat jy te heilig wil lewe, gaan ons weer na die Bybel.
Hebreërs 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
Romeine 6:22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.
Soos wat jy kan sien, is dit die Here se wil dat daar heiligmaking in ‘n gelowige se lewe na wedergeboorte moet plaasvind!Die Bybel self verwys na mense wat deur die hoor van die Woord gewas is, (wedergebore geraak het) maar nooit werklik heiligmaking in hulle lewens toegepas het nie. Sulke gelowiges sal met leë hande voor Christus by die Regterstoel Oordeel wegloop.
2Petrus 2:20 “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. 2:21 Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. 2:22 Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.”
Die Here verys dit van ons om heilig te lewe!
1Petrus 1:15 “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 1:16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
Weereens sien ons dat die Here heiligheid van Sy kinders verwag, niks minder nie. (lees asb die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof“)

Sover as wat dit die Bybel onder die arm betref sal ek hierdie teksgedeelte gebruik.
1 Petrus 3:15 “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;”
As Christene wat weet dat ons gered is deur God se genade, behoort ons, ons nie te skaam vir ons Verlosser nie. Ek is ook nie skaam om die Bybel as my maatstaf vir die lewe te gebruik nie en steek die feit ook nie weg nie. Baie mense het soveel van die wêreld onder hulle arm dat daar geen plek vir die Bybel is nie.
Bowenal hierdie dinge wees bly as iemand kan raaksien dat jy vir die Here wil leef en lief is vir Hom.
Johannes15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.
1Jonannes 3:13 Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.”
As ek jy is, sal ek bekommerd raak as almal van my hou en my goedpraat, dit beteken net dat ek iets verkeerd doen en dat ek die Here nie volg soos wat ek moet nie. Die Here het ons gewaarsku dat die wêreld ons sal haat. As die wêreld jou liefhet moet dit beteken dat jy ‘n vriend van die wêreld is. Die Bybel stel hierdie feit baie duidelik al wil ons dit nie graag hoor nie.
Jakobus 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”
En verder:
Mattheus 10:32 “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. 10:33 Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”
Lees asb die artikels “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook “Die Gelykenis van die Ponde

Wat dink jy sal die moderne mens van Paulus gesê het as hy nog gelewe het? Het Paulus ons nie beveel om soos hy te word nie?
1 Korintiërs 4:16 “Ek vermaan julle dan, word my navolgers.”
Nee wat, ek dink jy is op die regte pad en ek raai jou aan om op hierdie weg te bly. Jy is ‘n pragtige getuie vir God. Mense wat jou aanval praat net so, want jou leefwyse spreek hulle lewenswandel aan en hulle hou nie daarvan nie. Die eenvoudige rede is dat die meeste mense wat beweer dat hulle Christene is, die wêreld liewer het as vir God, en mense soos jy herinner hulle te veel daaraan.
2Timoteus 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”

Sterkte met jou pad vorentoe, en weet dat jou loon groot sal wees met die verskyning van ons Here Jesus Christus. Ek los jou met die volgende teksvers en dankie,  jy is ook ‘n voorbeeld vir my.
1 Korintiërs 9:24 “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. 9:25 En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike.
Filippense 3:8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry”
En laastens:
Openbaring 22:12 “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
My raad aan jou sal wees om maar jou Bybel onder jou arm te hou. Ten minste sal daar baie minder plek vir die wêreld wees!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.