Wettisisme vs geloof in Christus

Wettisisme vs geloof in Christus

Wettisisme is die begeerte om op die toegerekende geregtigheid, wat God op grond van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis vir ons, te verbeter of ons werke daaraan by te voeg, sodat die Here ‘n groter rede kan hê om ons as geregtig te beskou. So ‘n persoon vergeet dat God ons slegs geregtig verklaar op grond van ons geloof in die voltooide werk van Christus aan die kruis en niks anders nie. Dit is God, wat in die Here Jesus Christus, alles gedoen het om die mens te verlos, en die mens kan niks tot sy eie verlossing bydra nie. Hy kan slegs die gawe van die ewige lewe, as geskink, by God deur geloof aanvaar.

Selfs die apostel Petrus het op geleentheid presies dieselfde fout begaan, en Paulus moes hom openlik berispe, omrede die Evangelie  van God se genade op die spel was, en sekere ander broeders ook deur sy mistrap meegesleur was.
Gal 2:11 “Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het. 2:12 Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is. 2:13 En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins. 2:14 Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? 2:15 Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie, 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. 2:17 Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan ‘n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie!
2:18 Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself ‘n oortreder; 2:19 want deur die wet is ek vir die wet dood om vir God te lewe.
2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”

Soos uit bostaande teksgedeelte waargeneem kan word, het Petrus uit vrees vir mense toegegee aan wettiese mense, wat vanaf Jerusalem by hulle aangesluit het, en toe nie meer in die waarheid van die Evangelie gewandel het nie. Dit is ‘n ernstige misstap en daarom het Paulus hom voor al die broeders aangespreek, sodat Petrus tot inkeer kon kom, en besef dat mens slegs geregverdig verklaar kan word, deur om die  Evangelie te glo.
Rom 3:28 “Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.”

Werklike geestelikheid kom nie tot stand deur middel van die wet nie, maar kom tot stand deur die Gees van God. Om ‘n stel uiterlike reëls te wil gehoorsaam, maak nie van mens werklik geestelik nie. Ware geestelikheid vind net plaas wanneer ‘n persoon in die Heilige Gees wandel.
Rom 7:6 “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.
8:1 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
So ‘n persoon word van binne, deur die Heilige Gees, verander en is dus nie onder die wet nie. Die Gees sal die persoon dan in die wet van Christus lei, wat as doel, ware liefde het.  die gelowige word dus deur die Gees van God gelei en die persoon rig dan sy lewenswandel volgens die Gees se leiding in. Boonop sal die gelowige vind dat hy ‘n heilige lewe wil lei, goeie dade aan ander wil verrig, en vir God getuig, omrede die Gees van God hom lei om dit te doen. Die Heilige Gees is die lewenskrag en aansporing om die wil van die Vader te doen en nie die wet nie.
Rom 8:14 “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”

Die wet was nooit gegee om mens met God te versoen nie, maar is gegee om die sondigheid van die mens uit te lig en dan die persoon tot bekering na Jesus Christus te lei, omrede enige iemand wat eerlik is, weet dat hy nooit die wet volkome kan gehoorsaam nie, en indien God nie sy Verlosser is nie, staan so ‘n persoon skuldig voor ‘n heilige en regverdige God. Die wet is dus ons tugmeester na Jesus toe, wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Slegs God kan die mens verlos. 
Gal 3:24 “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 3:25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.”

Mense wat die wet wil gebruik om hulleself aanvaarbaar vir God te maak, verwar die wyse van ware geestelikheid met die resultate van ware geestelikheid. ‘n Persoon wat waarlik geestelik is, sal ‘n waarde sisteem hê, en sal nie ‘n losbandige, of wettelose mens wees nie. Hy sal ‘n lys van dinge hê wat hy as toelaatbaar sal beskou en sekere dinge wat nie vir hom toelaatbaar is nie, maar die motivering van sy optrede kom van die Heilige Gees af en nie van die wet af nie.
Rom 8:2 “Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 8:3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 8:4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 8:5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,”

Al wat ons aanvaarbaar maak voor God, is die feit dat Jesus aan die kruis vir ons sondes gesterf het, en dat ons die geskenk van die ewige lewe in geloof aanvaar het, niks anders nie.
Rom 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
As ons dus in Jesus Christus is, dan is ons volkome aanvaarbaar vir God en kan ons niks daarby voeg om ons stand voor God te verbeter nie. Indien ons hierdie waarheid werklik besef, sal ons werklik vry wees, en sal die Gees van God deur ons kan werk en ons meer soos Jesus Christus maak. Iets wat die wet, en die vlees, nooit sal kan regkry nie.
Joh 8:36 “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”
Die Heilige Gees sal ons lei om heiligmaking in ons lewens toe te pas, en ons moet nie na die wet of die vlees draai om heiligmaking te verseker nie. Dit sal net op mislukking uitdraai.
Joh 16:13 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Onthou die vlees (ons sonde natuur) bring werke voort en lei na die dood. (Gal 5:18- 21) Die sonde natuur is ‘n harde drilmeester en dit neem bonatuurlike krag om ons van ons sonde natuur te verlos. Iets wat net God self kan doen. Die Gees bring vrugte voort (nie ons nie). (Gal 5:22) So ook word niemand regverdig verklaar deur wetsonderhouding nie, maar slegs deur die glo van die Evangelie. (Rom 3:20)

Mense wat in sonde kan leef, sonder dat dit hulle pla, of dat die Heilige Gees hulle oortuig, kan met regte vra waar die Gees van God dan is. Hy is immers die Heilige Gees en sal mens altyd na heiligheid lei. Indien daar nie sonde oortuiging plaasvind nie, moet so ‘n persoon seker maak of hy in die geloof is.
2Ko 13:5 “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!”
Gelowiges wat in sonde leef sal gestraf en getugtig word. Die Here sal hulle nooit in hulle sonde laat voortgaan nie, dit is immers Sy werk om hulle heilig te maak en hulle in die waarheid te lei.
Heb 12:6 “want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?”

Ter Afsluiting: Ons moenie na die wet kyk om ons regverdig te verklaar nie, maar in geloof na Jesus Christus kyk. Dit geld ook vir heiligmaking. Ons is nou vrygekoop om vir Jesus te leef en nie vir onsself nie.
Gal 3:26 “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;”
En laastens;
1Ko 6:19 “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” te lees.)

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.