Meer oor ons

Meer oor ons

Ons is sondaars net soos jy, wat net deur God se genade alleen gered is, Wie al ons sondes aan die kruis namens ons betaal het. Noem my maar net Vic. Ek hoop om met hierdie webtuiste ook ander na die Here te lei. Daar is niks besonders aan my nie en dus het ek gelukkig nie veel om op te roem nie, en daarom sal ek slegs in die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die Kruis vir my roem! Alle lof en eer kom Hom alleen! Mag die fokus van hierdie webtuiste nie op my wees nie, maar op Hom allen, wat ons met Sy kruisdood losgekoop het. Dit is immers ons plig om mense aan die Here Jesus Christus voor te stel en die aandag op Hom te fokus, omrede slegs Hy alle eer verdien. (Ek sal dus teen die neiging waak om myself met hierdie webtuiste te bemark en sodoende die eer, wat slegs die Here toekom, te steel.) Die leser word versoek om ook die bladsy genaamd “Ons doel hier” te lees.

Ek onderhou hierdie webtuiste op my eie en met die bydraes wat getroue gelowiges op wie se harte God die begeerte plaas om hierdie werk te ondersteun.
Filip.2:13 “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.”
In hierdie opsig dank ek my mede broers en susters en bid dat Here alle donasies op hulle rekening mag plaas.  Ek dank die Here vir Sy hulp! Sonder Hom,  en die instaatstellende krag die Heilige Gees, sou ek nooit hierdie bediening kon begin en voortsit nie.
Filip4:19 “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Voel vry om my te kontak met enige Bybel vrae wat jou dalk mag kwel. Ek sal poog om alle vrae te beantwoord en slegs die Bybel as maatstaf gebruik. Alle korrespondensie word in die strengste vertroulikheid behandel. Soms mag ek dalk ‘n vraag op die webtuiste plaas, maar wees verseker dat alle persoonlike besonderhede, asook die dorp van oorsprong, nooit aan ander bekend gemaak sal word nie.  Indien jy nie die vraag op die webtuiste geplaas wil hê nie, meld hierdie feit asb in jou e-pos.

Ons verkies en gebruik van die ou 1953 vertaling van die Afrikaanse Bybel, omrede dit in my opinie meer akkuraat vanuit die oorspronklike tale vertaal is. (Ons, as Afrikaans sprekendes, is uiters geseën in hierdie opsig. Ek raai die leser ten sterkste aan om self die 1953 vertaling te bekom.) Indien jy dalk ‘n teksgedeelte vanuit jou vertaling van die Skrifte lees, en dit verskil van die aanhalings wat ek in my artikels gebruik, hou bogenoemde feite dan asseblief ingedagte.

Ek doen ook ‘n beroep op almal, om alles wat ek of enige iemand aan hulle mag verkondig, asseblief vanuit die Skrifte te bevestig. Ons lewe ongelukkig in ‘n tydperk, waar die sentrale plek van die Bybel, as God se geïnspireerde, onfeilbare en voltooide openbaring aan die mensdom, deur groot gedeeltes van die belydende Christendom bevraagteken en selfs aangeval en deur buite Bybelse openbarings en opinies vervang word. (Hierdie, glo ek, is een van die grootste redes waarom ons land, en samelewing, in so haglike toestand is.) Slegs die Bybel moet as maatstaf vir ons leerstellings dien! Die Skrifte is die enigste bron, asook maatstaf, waarteen ons ons geloofslewe in hierdie lewe behoort te meet.

Boonop moet die leser asb in gedagte hou, dat ek slegs ‘n mens is, en daarom kan ek foute begaan, maar gelukkig het ons God se woord, waarteen ons alles behoort te toets, alvorens ons dit as waarheid aanvaar.

Baie dankie dat jy die moeite gedoen het om hier te lees.

Mag ons Here Jesus Christus jou seën

Vic

Wat sê die Skrifte