doop met die Gees

Doop met die Heilige Gees vs Vulling met die Heilige Gees

Daar heers huidiglik groot verwarring rondom die kwessie van doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees. Baie mense gaan dus van plek tot plek om die teenwoordigheid van die Gees te beleef, of om daar deur die Heilige Gees gedoop te word, en dit in teenstelling met die feit dat God dit baie duidelik in Sy woord (die Bybel) stel dat die gelowige wat tydens die Dispensasie van Genade/Kerk lewe slegs een maal met die Heilige Gees, by wedergeboorte, gedoop word, en daarna word dit van die gelowige verwag om met die Gees gevul te word, wat nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, maar wat ‘n gereelde/herhalende gebeurtenis in die gelowige se lewe behoort te wees, en waar die vulling met die Gees van die gelowige se samewerking afhang en word daar geensins bedoel dat die gelowige die Gees by byeenkomste weer moet vang of die Gees aan ander oor te dra nie. (voorbeelde van hierdie mistasting is die sogenaamde “Catch the fire” konferensies of waar dit beweer word dat die Gees by ‘n gegewe samekoms teenwoordig was. Hierdie terme skep die idee by mense dat die Heilige Gees slegs op sekere konferensies en samekomste teenwoordig is, en dit in teenstelling met die Bybel se opdrag om met die Gees vervul te word, en dit maak nie saak waar die gelowige homself mag bevind nie. Baie keer word dit beweer dat die Heilige Gees by die spesifieke samekoms teenwoordig was. Is Hy dan nie altyd in die gelowige teenwoordig nie? In hierdie artikel gaan hoofsaaklik van twee afsonderlike teksgedeeltes gebruik gemaak word om die onderskeid tussen die doop met die Heilige Gees en die vulling met die Gees te kontrasteer, wat tot ‘n groot mate hierdie misverstand sal opklaar en meer duidelikheid rondom hierdie aangeleentheid sal verskaf.

Die twee kontrasterende teksgedeeltes wat bestudeer gaan word is soos volg:

Doop met die Heilige Gees:
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”

Vulling met die Heilige Gees:
Efs 5:17 “Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.”

1. Doop met die Heilige Gees: Die gelowige word nêrens in die Nuwe Testament beveel om met die Heilige Gees gedoop te word nie. (‘n Uiters belangrike feit!) Die Skrifte stel dit duidelik dat alle gelowiges alreeds, by die glo van die Evangelie, deur die Heilige Gees gedoop is. Ongeredde persone word nooit aangesê om met die Heilige Gees gedoop te word nie, maar hulle word aangesê om die ware Evangelie te glo, waarna hulle outomaties met die Heilige Gees gedoop sal word! ( of die Heilige Gees sal ontvang.) Die Here het ons die opdrag gegee om die Evangelie te gaan verkondig, waartydens mense met wedergeboorte met die Heilige Gees gedoop sal word!
Mar 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” (dit is alle gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie lewe se mandaat!)

Vulling met die Heilige Gees: Gelowiges (Mense wat alreeds wedergebore is, omrede hulle alreeds die ware Evangelie gehoor, verstaan en geglo het.) word egter beveel om met die Gees vervul te word. (‘n Opdrag wat slegs aan wedergebore Christene gerig kan word!))
Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Hierdie teksgedeelte is aan gelowiges gerig, wat hulleself alreeds in fase twee van hulle verlossing, naamlik die heiligmaking fase bevind! Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Drie Fases van verlossing” te lees.)

2. Doop met die Heilige Gees: Is ‘n eenmalige gebeurtenis en word nooit weer in die gelowige se lewe herhaal nie. Gedurende die Post-Apostoliese gedeelte van die Kerk Dispensasie ontvang ‘n persoon die Heilige Gees, die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Daar is ongelukkig baie mense wat rondgaan en beweer dat hulle die Heilige Gees deur handoplegging aan ander mense kan oordra. (Holy Spirit impartation.) Boeke, soos die Boek van Handelinge, wat vertellend van aard is, (wat dus vir ons die historiese feite van gebeure weergee soos wat dit plaasgevind het, en hoe die Here op ‘n gegewe tydstip verkies het om op te tree.) moet altyd in lig van voorskrywende dele van die Bybel, soos veral die briewe bestudeer word, alvorens enige gebeurtenis as reël vir die hele Kerk Dispensasie vasgelê kan word. Net omdat die Here in sekere gevalle verkies het om die Heilige Gees, deur handoplegging van Sy Apostels op mense uit te stort, beteken dit geensins dat hierdie verskynsel of gebeurtenis noodwendig as reël vir die hele Kerk Dispensasie moet geld en op die Kerk as reël van toepassing gemaak kan word nie. Bostaande teksgedeelte weerlê baie duidelik so ‘n mistasting. ‘n Persoon ontvang die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo en op geen ander wyse nie. Die Skrifte stel hierdie feit baie duidelik, maar daar is ongelukkig nog steeds baie mense wat hierdie mistasting aanhang en selfs in sommige gevalle vir hulle eie finansiële gewin aanwend. Om hierdie rede is dit belangrik om self die Bybel te bestudeer, en alles wat aan ons verkondig word self, en binne die korrekte konteks, met die Skrifte te vergelyk. (Lees ook asb die artikel “ Bekering, Geloof en die Ewige Lewe.”)

Vulling met die Heilige Gees: Is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar moet gereeld herhaal word. Dit is ook iets wat van die gelowige verwag word en nie iets wat die Here outomaties sonder die samewerking van die gelowige doen nie!
Efs. 5:18 Moenie dronk word van wyn nie (iets wat die gelowige moet doen)—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (iets wat die gelowige moet doen!) Let ook mooi op die term “maar word met die Gees vervul.” Dit is in die teenswoordige tydvorm gestel, as iets wat ons nou moet doen en nie iets wat in die verlede al afgehandel is nie. Dus behoort die gelowige nou met die Heilige Gees vervul te word, en soos reeds gestel, iets wat die gelowige moet doen, nie God nie! ‘n Geesvervulde gelowige is ‘n gelowige wat homself aan die Here onderwerp het en wat deur die Heilige Gees beheer word. Dit is nie iemand wat in die Gees val of rondrol en in ‘n vreemde brabbeltaal praat nie! Om met die Heilige Gees vervul te wees, beteken om volkome tot beskikking van God en Sy wil gestel te wees.  So ‘n persoon sal die woord van God volkome gehoorsaam, maak nie saak wat dit mag kos nie. Om met die Gees vervul te wees, verg dus om met God se woord gevul te wees, want God kan nie van Sy woord (die Bybel) geskei word nie. Boonop is dit net logies dat ‘n Geesvervulde persoon ‘n persoon is wat met alle bewuste sondes gebreek, en dit bely het, en so ‘n persoon sal dus van homself ontledig wees, sodat hy deur die Gees vervul/gevul kan wees. ‘n Gelowige wat met die Gees vervul is, sal dus deur die Gees beheer kan word, en so ‘n persoon sal die Here sonder versuim gehoorsaam wees. ‘n Geesvervulde gelowige sal deur sy lewe en woorde die Here Jesus Christus aan die wêreld reflekteer en as sulks sal so ‘n persoon die vrug van die Gees openbaar. Die eienskappe van die vrugte van die Gees is dieselfde eienskappe as die van Christus! Oordink hierdie feit deeglik!
Gal 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 5:23 Teen sulke dinge is die wet nie. 5:24 Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. 5:25 As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.
Efs 5:9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
En onthou, geloof wat op valse leerstellings gebaseer is, is nie Bybelse geloof nie, maar eerder ‘n delusie!
(NB!: Efs 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” (Dit beteken geensins jy slinger rond soos ‘n dronk man “in die Gees” nie. ‘n Dronk man word deur die drank wat hy gedrink het beheer en daarom slinger hy rond. Dit is na hierdie teenstelling waarna die skrywer verwys. In teenstelling met ‘n dronk man, is ‘n Geesvervulde persoon in volle beheer van al sy fakulteite, juis omrede die Gees die vrug van selfbeheersing in die gelowige se lewe voortbring, maar die gelowige moet egter sy samewerking gee. Jesus Christus het nooit geloop en in die Gees rondgeslinger of op die grond  “in die Gees geval” of in ‘n onbeheerste wyse rondgerol of wanordelik opgetree nie! Die Here Jesus Christus was ten alle tye ten volle in beheer van Homself!) Lees asb ook die artikel “Word met die Gees vervul” vir meer besonderhede om hoe oor met die Gees vervul te word, asook die artikel “Val in die Gees“.)

3. Doop met die Heilige Gees: Vind die oomblik met wedergeboorte plaas. Gedurende die Post-Apostoliese tydperk van die Kerk dispensasie, wanneer ‘n persoon op ‘n gegewe punt in tyd die ware Evangelie hoor, verstaan en glo, word daardie persoon met die Heilige Gees gedoop en vir ewig met die Gees verseël.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Nou, huidiglik, tydens die Post-Apostoliese tydperk van die Kerk Dispensasie, ontvang ‘n persoon die Heilige Gees die oomblik wanneer daardie persoon die Evangelie glo en op geen ander tydstip nie en ook nie deur handoplegging nie. (lees weer bostaande teksgedeelte aandagtig deur!)

Vulling met die Heilige Gees: Is iets wat herhaaldelik moet plaasvind soos wat die gelowige homself van homself ontledig en toelaat dat hy deur die Heilige Gees gevul kan word. ‘n Gelowige kan op enige tydstip, of deur die Gees gevul wees, of a.g.v sonde, sy eie persoonlike eiewilligheid, ensovoorts die vulling van die Heilige Gees in sy lewe verhoed, of self aktief teenstaan, wat dan sou beteken dat daardie persoon vanuit daardie posisie uit sal moet bekeer, homself tot God se beskikking stel en Hom as getroue dissipel navolg, sodat daardie persoon weer met die Heilige Gees vervul kan word. Tot die mate waarop ‘n persoon homself van die eie ek, sonde en rebellie ontledig, en die Here as getroue dissipel navolg, tot daardie mate kan die Heilige Gees daardie persoon vul, sodat Hy in en deur daardie persoon Sy lewe kan lewe, en die vrugte van die Gees in daardie gelowige se lewe kan voortbring. Hierdie gebeurtenis is ‘n voortdurende gebeurtenis, waar dit van die gelowige verwag word om sy kant te bring.
Gal 5:24 “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. (Fase een van ons verlossing, wanneer die gelowige die Evangelie glo en waar hy Christus se toegerekende geregtigheid ontvang a.g.v. Christus se voltooide werk aan die kruis, waar Hy vir die persoon se sondes gesterwe het.) Gal 5:25 As ons deur die Gees lewe, (en ons doen omrede ons met wedergeboorte met die Heilige Gees gedoop en verseël is – Fase een.) laat ons ook deur die Gees wandel. (fase twee – heiligmaking wat getroue dissipelskap vereis, en waar ons moet toelaat dat die Gees ons vul, sodat Hy die vrugte van die Gees in ons lewens kan voortbring en deur ons Christus aan die wêreld openbaar/reflekteer.)

4. Doop met die Heilige Gees: Is ‘n afgehandelde realiteit, wat op ‘n punt in tyd, in die gelowige se lewe plaasgevind en voltooi is.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal (alle gelowiges! Geen uitsonderings nie!) van een Gees deurdronge.
Efs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,” (alle gelowiges! Geen uitsonderings nie!)

Vulling met die Heilige Gees: Dit is die Here se wil vir elke gelowige om huidiglik (en voortdurend) met die Heilige Gees gevul te wees. ‘n Toestand wat gereeld deur sonde en eiewillige arrogansie onderbreek word!
Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; (die gelowige moet in die Gees wandel en is dus iets wat hy moet doen!)
Rom 8:4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 8:5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.” (iets wat elke gelowige moet doen! Om hierdie opdragte te verontagsaam beteken dat daardie gelowige nie met die Gees gevul sal wees nie, ‘n posisie waaruit hy moet bekeer!)

5. Doop met die Heilige Gees: Is ‘n werklikheid vir alle ware gelowiges wat die Evangelie gehoor verstaan en geglo het.
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”
Let op die woorde “Ons is almal” daar is geen uitsonderings sover dit ‘n ware gelowige aanbetref nie.

Vulling met die Heilige Gees: Is nie noodwendig waar ten opsigte van alle gelowiges nie! Dit is slegs waar vir gelowiges wat hulleself aan die Here onderwerp het en wat op Hom en Sy krag staatmaak.
Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
Rom 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Rom 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 6:12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 6:13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”
Bostaande teksgedeeltes is aan wedergebore Christene gerig, nie aan ongeredde persone nie!

6. Doop met die Heilige Gees: Plaas ons in Christus en is dus posisioneel van aard.
Rom 6:3 “Of weet julle nie dat ons almal (alle ware gelowiges) wat (deur die Heilige Gees) in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
Gal 3:26 “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (ons beklee onsself met Christus, omrede ons die Evangelie glo, waardeur ons outomaties deur die Heilige Gees in Christus gedoop word, wat beteken dat ons met Christus beklee is!)
1Ko 12:13 “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”

Vulling met die Heilige Gees: Is prakties van aard.
Efs 5:18 “Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
Gal 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;”
Om bostaande opdragte getrou uit te voer, beteken dat ons, ons toegerekende geregtigheid (wat met wedergeboorte ontvang is) op ‘n praktiese wyse aan, en in, die wêreld, in en deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees, uit moet leef.

7. Doop met die Heilige Gees: Plaas die gelowige in eenheid met God en vorm derhalwe vir altyd deel van God se familie.
Gal 3:26 “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (die oomblik wanneer ‘n persoon die Evangelie glo, doop die Heilige Gees daardie persoon in Christus in.)

Vulling met die Heilige Gees: Stel die gelowige in staat om gemeenskap/genootskap met Christus op ‘n praktiese wyse te geniet.
Joh 15:6 “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 15:7 As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. 15:8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. 15:9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.”
Bostaande teksgedeelte het absoluut niks met die hel te make nie, maar handel oor dissipelskap/genootskap/gemeenskap met Christus wat opofferings en gehoorsaamheid van die gelowige vereis. Boonop dien hierdie teksgedeelte ook nie as bewys van iemand wat geglo het, en toe later deur God a.g.v sonde na die poel van vuur verdoem sal word, omrede daardie persoon uit God se genade geval het nie! (Bostaande gedeelte handel dus oor fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap en nie fase een, naamlik aanvanklike wedergeboorte, wat sleg op grond van geloof in die Evangelie bekom word nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Ewige sekuriteit van die gelowige” asook “Bekering, Geloof en die Ewige lewe” en “Die onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n Dissipel” te lees.) Bestudeer asb ook die aangehegde illustrasie getiteld “Familie van God vs Gemeenskap met God” deur om hierdie skakel te volg, naamlik “Familie van God vs Gemeenskap met God

Ter Afsluiting: Vanuit bostaande teenstellings is dit duidelik dat die indoping met die Heilige Gees ‘n eenmalige gebeurtenis, tydens die Post-Apostoliese gedeelte van die Kerk Dispensasie is, en dat die Here dan van die alreeds wedergebore persoon verwag om met die Gees gevul te wees/word, iets waarin dit van die gelowige verwag word om sy samewerking te gee. Om met die Gees vervul te word is dus nie ‘n eenmalige gebeurtenis op ‘n punt in tyd nie, maar ‘n voortdurende proses soos wat die gelowige homself aan die Here tot beskikking stel en met sonde in sy lewe breek. Ek vra om verskoning omrede ek die genoemde teksgedeeltes herhaaldelik herhaal het, maar deur dit te doen illustreer dit die onderskeid tussen doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees duideliker. Dit is my bede met die skryf van hierdie artikel dat die misverstand rondom hierdie aangeleentheid deeglik verduidelik en opgeklaar is. 

Seën  Groete

Vic

Deel met ander asb.