Alles Werk Ten Goede vir die wat in Jesus glo!

Alles Werk Ten Goede vir die wat in Jesus glo!

Rom 8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Ons wat weet dat ons die Here liefhet, hoef nooit terneergedruk of bang te voel nie. Dit maak nie saak hoe hopeloos ons saak mag lyk, of hoe donker ons lewe op hierdie oomblik mag voorkom nie. Ons kan verseker weet dat die Here alle omstandighede en gebeurtenisse gebruik en dit vir ons ten voordeel laat saamwerk.

Al beteken dit dan ons vir ‘n kort tydjie lyding moet deurstaan. Ons moet net op God vertrou en weet, dat Hy net die beste vir ons wil hê. Ons moet ook besef, dat God nie net met die kort tydsduur van hierdie wêreld werk nie, maar met die ewigheid. Hy werk ook alles met ‘n plan en ons moet ons daarin berus. Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie.
Rom 8:18 “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. “
Ons as gelowiges word nie gevrywaar van lyding nie, maar ons het die versekering dat die Here met ons is en Hy ons die genade sal skenk om ons deur al die lyding te bring. Boonop het ons ook ‘n beter verwagting as net hierdie tydelike wêreld. Ons sal saam met Jesus verheerlik word, wanneer Hy aarde toe kom, om as Koning hier te regeer. Dan sal ons saam met Hom kom, om saam met Hom verheerlik te word.
Rom 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Die Here gebruik soms lyding en swaarkry juis om ons tot geestelike volwassenheid te bring.
Rom 5:3 “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge (Swaarkry), omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid (Volharding) werk, 5:4 en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; 5:5 en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”
Onthou dit is net geloof wat God behaag.
Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Daar is ‘n ou gesegde wat so lees: “Geloof wat nie getoets is nie, is nie ware geloof nie.” Dink maar aan Abraham, Dawid , Josef en Job om maar net ‘n paar gevalle te noem. En lees maar op en kyk watter wonderlike getuies en werktuie was hulle vir die Here toe hulle die toets deurstaan het. Ons moet mekaar met die selfde woorde troos en mekaar in gebed na die Vader van alle genade neem.
1Pe 1:13 “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.”
Onthou ook dat geen lyding of swaarkry by God onopgemerk verbygaan nie. Daar sal altyd een of ander loon aan die einde van die lyding wees. Alles het ‘n doel al maak dit nie nou vir ons sin nie, maar ons moet nie op onsself vertrou nie, maar op God wat oor alle wysheid beskik en alleen alwetend en almagtig is.

Die Here weet wat belangrik is en Hy weet, dat geloof wat beproef is baie kosbaarder as goud of edelgesteentes is. Dit is God se doel om ons geloof te ontwikkel.
1Pe 1:7 “sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry. “
Ware, beproefde geloof is vir die Here baie meer belangriker as ‘n lekker sorgvrye lewe op hierdie wêreld, ‘n wêreld wat ons God vyandiggesind is. Die Here wil ons geloof tot so ‘n mate ontwikkel, sodat ons net soos Jesus in die tuin van Getsémané sal bid.
Mat 26:39 “En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.
Mat 26:42 Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

Net soos Jesus, moet ons tot die vaste oortuiging kom, dat ons nie van hierdie wêreld is nie, maar dat ons tuiste by God in die Hemel is. Ons lewens daar sal vir altyd voortduur en nie aan tyd verbonde wees soos hier op aarde nie. Ons moet in die geloof verby hierdie tydelike wêreld kyk, na die ewigheid waar ons nooit weer sal swaarkry nie.
1Jo 2:16 “Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 2:17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”
En verder:
2Ko 5:1 “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. 5:2 Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,”

Dit klink miskien nie baie aangenaam nie, maar dit is nodig dat ons deur beproewinge gaan. Hoe ons in daardie omstandighede optree is ‘n indikasie van ons geloof in God. Soms kom swaarkry en beproewinge oor ons pad, om ons los te maak van hierdie wêreld en sy begeertes. Sonder swaarkry en beproewinge sou baie min van ons werklik na die Here toe gedraai het.
Jak 1:2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 1:3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 1:4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. “
God is die Leermeester en die lewe is ons klaskamer. Eendag as ons in die Hemel saam met Christus is, sal ons terugkyk en die Here dank vir die beproewinge wat Hy in ons lewe toegelaat het. Ons kan maar verseker wees daarvan.

Die vraag wat dan ontstaan is hoe mens dit ooit sal regkry om in moeilike omstandighede onsself te verheug en God te prys. Jesus het die antwoord aan ons in Sy Skrif gegee, naamlik:
Luk 9:23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”
En verder:
Joh 12:25 “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.”
Ons moet op die punt kom waar God en Sy wil bo alles gestel word en onsself bereid verklaar om as offers vir God uitgegiet te word, indien dit nodig sou wees. Ons moet in onsself sterf en volkome in Christus rus ,tot so ‘n mate dat God se wil en heerlikheid al is wat vir ons saak maak. Dus moet ons, ons lewens laat gaan en alles aan God toevertrou, sodat Hy daarmee kan maak wat Hy wil.
Rom 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”
Dan eers sal ons besef dat ons werklik lewe en sal ons omstandighede ons ook nie onderkry nie.

Onthou, dit is die Vader se wil om ons meer soos Christus te maak.
Rom 8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;”
Dit sluit noodwendig die weg van die kruis in. Dit gaan nie maklik wees nie, en die Here het ons vooraf gewaarsku. Hy het ons ook egter die versekering gegee dat Hy ons nooit sal verlaat nie.
Joh 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Ons kan ook verseker weet dat die Here ons die genade sal skenk om enige struikelblok te oorkom.
2Ko 12:9 “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”

Jim Elliot die sendeling wat in 1956 in die Amasone as martelaar gesterf het, het ‘n baie mooi gesegde gehad wat ek hier sal vertaal. Dit is insiggewend en sal ons almal bemoedig.
“Hy is geen dwaas wat opgee wat hy nie kan vashou nie, om te verkry wat hy nie kan verloor nie.”
Die mate waaraan ons aan ons besittings en geld verknog is, is ‘n indikasie van ons geloof of die gebrek aan geloof. So ook is die mate waarmee ons vrees en ons oor more bekommer ‘n indikasie van ons geloof of gebrek daaraan. Dink daaraan.

Dit mag soos ‘n onmoontlike taak lyk, maar die Here Jesus het so ‘n lewe gelei en wil weer deur ons so ‘n lewe lei.
Gal 2:20 “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Vir die mens is dit onmoontlik, maar vir God is niks onmoontlik nie. (Mat 19:26) Kyk in geloof verby die tydelike na die ewigheid. Dit is ons almal se bestemming en die Here het belowe om alle gelowiges te neem waar Hy is. (Joh 14:3) Indien ons daardie feit as waarheid aanvaar, weet ons dit so sal wees en kan geen probleem ons van stryk bring nie. Ons ken dus die toekoms en weet waar ons vir ewig sal woon. Die probleme van hierdie wêreld begin dan hulle grootheid verloor. Die Here het ons mos belowe dat ons vir ewig by Hom gaan wees, hoekom is ons dan bekommerd? Hy sal mos Sy Woord hou en ons daar kry. As ons nie die Here vir die tydelike vertrou nie, hoe gaan ons Hom met die ewigheid vertrou?

Geloof moet getoets word, Daarom moet ons die Here dank vir toetse, dit is dalk een van die grootste geskenke wat Hy ons kon gegee het. Beproefde geloof is van meer waarde as enige rykdom wat ons mag besit en so ook is die ewigheid baie belangriker as die tydelike.
Jak 5:8 “Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. 5:9 Moenie teen mekaar sug (Kla) nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. 5:10 Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. 5:11 Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra.(Volhard) Julle het gehoor van die lydsaamheid (Volharding) van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”

Ons moet met ons hele wese op God vertrou, dit is die les van die lewe.
Psa 84:12 “HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!
Ook moet ons op die punt kom waar ons Job se woorde, sonder om te twyfel, kan aanhaal en dan alleenlik sal ons kan  sê dat ons beproefde  geloof het.
Job 13:15 “Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.”
Kom ons bid dat die Here ons help en ons geloof versterk.

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.