God

Het God die politici se optredes gepredestineer?

Vraag: Baie dankie vir jou webtuiste, dit het my baie gehelp. Ek het egter ‘n vraag waarmee ek worstel. Ek weet dat de Bybel voorspel dat sake in die laaste dae erger gaan raak. Van my vriende beweer dat God alles gepredestineer het en dit sluit ons regering se besluite in. Het God werklik ons politieke leierskap se keuses en wette gepredestineer sodat hulle doen wat Hy wil hê hulle moet doen? Is die regering se beleid aangaande Eskom, en hulle agteruitgang en meegaande ongemak God se wil vir ons? Ek weet dit klink soos ‘n simpel vraag, en dat dit ‘n moeilike onderwerp is, maar versoek jou asseblief om my te antwoord omrede hierdie onderwerp nogal baie onenigheid kan veroorsaak. By voorbaat dankie, ek waardeer dit baie!

Antwoord: Dit is baie goeie vrae wat jy vra en hele boeke kan daaroor geskryf word. Ek gaan egter poog om kortliks jou vraag te beantwoord, en versoek jou om asseblief ook die artikels “Predestinasie, Voorkennis en God se Soewereiniteit” en “Wil God almal verlos?” te lees.

Die skrifte voorspel wel dat die wêreld toenemend goddeloos gaan raak, maar ons moet egter nie die fout maak om te dink dat die wêreld toenemend boser gaan raak net omrede God dit so wou hê en dan verkeerdelik tot die gevolgtrekking kom dat God dit so verordineer het nie. (‘n dwaalleerstelling wat Calvinisme verkondig) Hy het nie, en die skrifte verduidelik vir ons die redes waarom sake drasties gaan vererger. Selfsug en eiewaan is die grondslag vir baie lande se ekonomiese, asook morele agteruitgang wat as niks anders as ‘n krises omskryf kan word nie. Dit is egter nie omrede God dit so verordineer het nie, maar die oorsaak van die lyding in die wêreld vind ons in die optrede van die mensdom wie oor ‘n vrye wil beskik.
2Tim.3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”
In hierdie opsig vorm die vrye wil van die mens deel van God se algehele raadsplan, en Sy almag verseker dat die uitkoms van Sy raadsplan sal verloop soos wat Hy bepaal het, nieteenstaande die feit dat God nooit die gawe van ‘n vrye wil van die mens sal wegneem nie.
Rom.11:29 “Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.”
Bostaande konsep illustreer in werklikheid God se almag en weerlê die bewering dat God die mens se keuses en optredes (wat sonde insluit) verordineer het. Hy het nie en in my beskeie mening is dit ‘n godslasterlike leerstelling. Ons politieke leierskap se keuses vorm deel van God se raadsplan, omrede Hy dit alreeds voor die skepping in Sy alwetendheid waargeneem het, en Hy het die keuses wat hulle vrylik sou maak in ag geneem toe Hy Sy raadsplan bepaal het. Hierdie mense gaan egter vir hulle keuse by God moet rekenskap gee. God sou hulle nie kon straf as Hy die oorsaak van hulle optrede is nie. God kan nie sondig nie en ook versoek Hy niemand met sonde nie.
Jak.1:13 “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”

God kan, en sal nie in stryd met Sy attribute wat absolute heiligheid insluit optree nie. Net omdat God alwetend is, en nog voordat Hy enige iets geskape het, het Hy presies geweet wat elke skepsel se keuse sou wees. Dit beteken geensins dat Hy dit so verordineer het nie, Hy het nie, maar Hy het geweet dat dit sou gebeur. Sonde het in die wêreld ingekom toe die mens gekies het om saam met Satan teen God te rebelleer. Onthou dat “tyd” iets is wat God geskape het en vorm dus deel van die skepping. God bestaan egter onafhanklik van Sy skepping en dit beteken dat God buite tyd bestaan. (‘n Konsep wat soms moeilik is om te verstaan, omrede ons in tyd bestaan en nie weet hoe dit is om buite tyd te bestaan nie.) God sien dus die verlede, hede, asook die toekoms as ‘n ewige hede/teenswoordigheid, en weet dus op enige gegewe tyd alles en hierdie feit sluit ons besluite in. God is wel almagtig, en kon ons sonder die vermoë om te sondig geskape het, maar dit sou beteken dat ons Hom nie werklik sou kon liefhê nie. Om werklik lief te kan hê vereis die konsep van ‘n vrye wil, anders sou ons maar net robotte wees, wat geprogrammeer is om lief te wees en wat sou beteken dat ons nie waarlik liefhet nie.

Wanneer politici verkeerde besluite neem dan is dit gewoonlik die algemene man op straat wat die gevolge van daardie dwase besluite moet dra. Baie van hierdie mense misbruik God se algemene genade wat Hy aan die hele mensdom as geheel skenk en wend dit vir goddelose en selfsugtige doeleindes aan. Julius Malema, en baie ander politieke leiers soos hy is ‘n mooi voorbeeld hiervan. Hulle sal nie skroom om haat tussen groepe aan te blaas net om hulle eie selfsugtige doelwitte te bereik nie. Hierdie beginsel geld nie net vir politici soos Malema nie, maar geld vir die samelewing as geheel. In baie gevalle dra die goddelose nie in hierdie lewe die gevolge van hulle keuses nie, en hierdie feit dra net tot hulle verdere blindheid by. Hulle moet egter nie dink dat hulle God se oordeel sal vryspring nie! Hulle sal nie! Maar omrede hulle nie in God glo nie dink hulle dat enige optrede geregverdig kan word, en hierdie gesindheid is nog ‘n voorbeeld waar ‘n persoon se persepsie nie noodwendig met die werklikheid ooreenstem nie. ‘n Persoon se geloof skep nie die werklikheid nie. Net omrede ‘n persoon nie in God glo nie, beteken geensins dat Hy nie bestaan nie. God bestaan, en alle ongelowiges, indien hulle in daardie ongelowige toestand sterf, gaan hierdie feit op die harde manier uitvind en dit sluit ons land se leierskap in.
Rom.14:11 “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.”
Hulle vergeet dat hierdie lewe maar ‘n bliep in vergelyking met die ewigheid is, en dat die ewigheid ‘n lang tyd is!
Hebr.10:31 “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.”

God is almagtig en kan enige regering tot niet maak, maar vir redes wat ons dalk nie nou mag verstaan nie, doen Hy dit nie altyd nie. God verwag egter vir ons om vir ons regering te bid al stem ons nie saam met wat hulle doen nie. Ons moet bid dat hulle oë oopgaan en dat hulle wyse besluite maak en tot geloof kom.
1Tim.2:1 “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Die res moet ons vir God los, wetende dat Hy volkome in beheer van alles is, en dat ons burgerskap nie op hierdie aarde is nie maar in die hemel. Ons moet egter as God se ambassadeurs op aarde leef en alle landswette wat nie in stryd met Sy woord is nie eerbiedig. Onthou toe Paulus hierdie opdrag geskryf het was die goddelose Nero in bewind, en het op ‘n tyd wat God bepaal het tot sterwe gekom en sal boonop die ewigheid in die hel deurbring.
Ons moet egter doen wat God van ons verwag en dit is:
1Pet.2:13 “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here — of dit die koning is as opperheer, 14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys. 15 Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, 16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God.”
Lees gerus die artikel “Die Onse Vader van nader bekyk”. Om na jou vraag terug te kom, nee God het nie ons regering se besluite gepredestineer nie.

Ter afsluiting: So wat kan ons hieruit leer?In die Koine Grieks, wat die oorspronklike taal van die Nuwe Testament is, word daar van agt verskillende woorde gebruik gemaak om liefde te beskryf. Drie van die bekendstes wat ek hier gaan meld is: a. “Eros” is ‘n intieme, romantiese en passievolle liefde wat gewoonlik tussen verliefdes gevind word. b. “Philia” is ‘n hartlike intieme liefde wat ons gewoonlik tussen goeie vriende of broers vind. c. “Agape” wat ‘n onvoorwaardelike en universele liefde waarvan God se liefde die voorbeeld is. In beide “Eros-liefde” sowel as Philia-liefde is daar iets in die persoon wat ons van hou en wat ons na hom toe aantrek. Agape-liefde daarenteen het lief, al is daar geen rede in die persoon/voorwerp wat daardie liefde regverdig nie. Agape-liefde is allereers nie ’n emosie nie, maar is ‘n keuse/wilsbesluit wat ‘n persoon maak om lief te hê. Hierdie tipe van liefde is dus nie afhanklik vir ‘n rede om lief te hê nie. Dit is ‘n onvoorwaardelike liefde. Dit is ‘n geestelike gesindheid wat nie kwaadwillig is, of wat onnodiglik oordeel of jaloesie uitlok nie. Daarom is dit belangrik om onsself met korrekte Bybelse leerstellings te vul, sodat ons genoegsame wysheid kan bekom, wat besef dat ons ook maar slegs sondaars is wat deur God se genade gered is. Gegewe hierdie feit, behoort gelowiges alle mense met grasie (genade) te behandel net soos wat God, in Christus, ons behandel het. Toe die Here Jesus Christus ons beveel het om ons medemens lief te hê, het Hy agape liefde bedoel, wat ‘n onvoorwaardelike liefde is wat die gelowige in staat stel om mense met ‘n gesindheid te benader wat nie ‘n reaksie uitlok en wat twis aanblaas nie. ‘n Gelowige moet iemand wees wat nie onnodiglik aanleiding tot kwade gevoelens gee nie.
Rom.12:18 “as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

Indien iemand ons haat moet dit nie wees omdat ons dit verdien het nie, maar eerder omrede ons Christus se getroue dissipels is.
Kol.4:5 “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit. 6 Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.”
As gelowiges behoort ons nie mense te wees wat vinnig aanstoot neem nie. Dit beteken ook nie dat ons nou goddeloosheid moet aanvaar, goedpraat of regverdig nie, maar wanneer ons sonde uitwys moet ons dit met grasie doen. Om eerlik met jou te wees, ek sukkel nog steeds om altyd hierdie gesindheid te handhaaf, veral as dit by Julius Malema en ander mense soos hy kom. Maar dit is dalk een van die redes waarom God hierdie mense in ons lewens toelaat, juis om ons te leer om onvoorwaardelik lief te hê. Daarom behoort ons, net soos God, agape-liefde teenoor die hele mensdom wat Julius Malema insluit uit te leef. Een manier waarop ons hierdie tipe liefde kan demonstreer is juis om vir hulle te bid.

Ek hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag.

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.