Die Koninkryk deel Twee

Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde. Deel 2

In deel een van hierdie reeks artikels genaamd “Die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde” is daar sonder enige twyfel gedemonstreer dat God se Koninkryk op aarde ‘n absolute vereiste is en daar is bewys dat dit nog ‘n toekomstige gebeurtenis is. In deel twee van hierdie reeks artikels sal die volgende feite vanuit die skrifte gedemonstreer word, naamlik: 1. Die Koninkryk van God was ongetwyfeld aan die Volk Israel voorgehou en aangebied. 2. Die Here het Sy dissipels geleer om vir die koms van die Messiaanse Koninkryk te bid. 3. Tydens Christus se eerste koms het die dissipels aanvanklik die Evangelie van die Koninkryk slegs aan Israel verkondig, omrede die koninkryk aan hulle belowe was. 4. Die aanbod vir die ontvangs van die Koninkryk was tydens Christus se eerste koms deur die Joodse leierskap van daardie era verwerp. 5. Die Messiaanse Koninkryk wel uitgestel is maar geensins afgestel is nie. 6. Terwyl die koninkryk op aarde uitgestel is, is Christus besig om Sy kerk op aarde te bou. 7. Die Koninkryk wel in die toekoms op aarde opgerig sal word wanneer God die Vader die Seun weer na die aarde toe terugstuur. Die leser word ten sterkste aangeraai om die Illustrasie “Bybelse Verbonde: God se verbond met die Volk Israel”, asook die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te weer sorgvuldig te bestudeer.

Die Koninkryk van God was ongetwyfeld aan die Volk Israel voorgehou en aangebied:

1.Johannes die Doper, sowel As Christus het verkondig dat die Koninkryk “het naby gekom”:

Tydens Sy eerste Koms, het die Here Jesus Christus die Evangelie van die Koninkryk aan die volk Israel voorgehou, en indien die volk hulleself bekeer het deur Hom as hulle Messias (en Saligmaker) aan te neem, dan sou Hy tydens Sy eerste koms die Messiaanse Koninkryk (wat aan Israel belowe is) op aarde gevestig het. Dit is belangrik om te onthou dat daar ‘n verskil is tussen die Evangelie van die Koninkryk (wat aan Israel verkondig was) en die Evangelie van God se genade, wat ons tydens die Dispensasie van Genade/Kerk, na afloop van Christus se kruisiging en opstanding vanuit die dood, moet verkondig. Die Kerk verkondig nie die Evangelie van die Koninkryk nie, maar eerder die Evangelie van God se genade. Johannes die Doper, sowel as die Here Jesus Christus, en Sy dissipels het aanvanklik slegs die Evangelie van die Koninkryk aan Israel verkondig.
Matt.10:5 “Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; 6 maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. 7 En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Soos wat ons uit bostaande teksgedeelte waarneem moes die Here se Dissipels ook die Evangelie van die Koninkryk aan slegs die Israeliete verkondig omrede dit die koninkryk was wat aan hulle belowe was.

Dit is ook opmerklik dat ‘n heidense vrou hierdie feit verstaan het toe sy die Here om hulp genader het, naamlik:
Matt.15:22 “En ‘n (heiden) vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! (Sy erken Christus se bloedlyn waaruit die Verlosser gebore moes word, asook die feit dat Hy God in die vlees is. Sy het dus die Joodse skrifte van die Ou Testament geken en geglo) My dogter is erg van die duiwel besete. 23 Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. 24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. 25 Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! 26 Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders (Israel) te neem en dit vir die hondjies (hondjies was onrein diere en Christus verwys hier na die heiden nasies) te gooi nie. 27 En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies (heidene) eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. (Die heidense vrou het meer kennis oor God se woord gehad as wat meeste in Israel gehad het. Sy het kennis van die Abrahamitiese Verbod gedra en geweet dat God belowe het dat die heiden nasies ook vanuit die verbond geseën sou word, naamlik: Gen.22:18 “En in jou nageslag {Jode, waaruit die Here Jesus Christus gebore is} sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.” Sy het na hierdie gedeelte van God se belofte verwys toe sy Jesus soos volg geantwoord het: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.”) 28 Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.”
In hierdie opsig is die Kananése vrou vir ons almal ‘n voorbeeld. Beskik ons oor dieselfde insig aangaande God se woord as wat sy getoon het? Die Boek van Mattheus moet nie uit die oogpunt van die Kerk van die Nuwe Testament benader word nie, maar eerder as ‘n voortsetting van God se progressiewe openbaring wat in die Ou Testament begin het en wat nou in Mattheus voortgesit word. En om hierdie rede het die skrywer van Mattheus, Christus se geslagregister slegs vanaf Abraham tot en met Josef, Jesus se stiefvader, aan die leser weergegee.

Matt.3:1 “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa 2 gepreek en gesê: (Israel ) Bekeer julle, (verander julle opinie en berei julle harte voor vir die ontvangs van julle Messias) want die koninkryk van (nie in nie, en dus het die Koninkryk wat uit) die hemele (kom) het naby gekom.”
Die term “die koninkryk van die hemele het naby gekom” verwys terug na die boek van Daniël toe, en praat van ‘n koninkryk wat van die Hemele af sou kom, en waarvan die Here Jesus Christus, (wie nou onder hulle, naamlik Israel) op aarde as die Koning en Verlosser van daardie aardse koninkryk teenwoordig was. Indien die volk as geheel Hom as hulle Messias sou aanvaar, dan sou Christus tydens Sy eerste koms Sy koninkryk op aarde gevestig het.
Matt.4:17 “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van (nie in) die hemele het naby gekom.”
Matt.5:2 “en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: 3 Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”

Let op die term “aarde”. Israel sou dus ‘n aardse koninkryk ontvang het, presies soos wat dit in die Ou Testament aan hulle belowe was.
Matt.5:20 “Want Ek sê vir julle (Israel) dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs (Israel se geestelike leierskap) nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”
Die geregtigheid waarna Christus in bogenoemde teksgedeelte verwys is Christus se toegerekende geregtigheid, en nie ‘n geregtigheid wat uit die Wet van Moses bekom sou kan word nie, want niemand kan die Wet van Moses volkome nakom nie. (Rom.3:20) Sonder Christus se toegerekende geregtigheid sal niemand ooit voor God geregverdig verklaar kan word nie. Ons weet egter dat Israel die Here Jesus Christus tydens Sy eerste koms verwerp het en a.g.v. hulle ongeloof is die koninkryk uitgestel soos wat ons later sal sien.

2. Die Here het Sy dissipels geleer om vir die koms van die Messiaanse Koninkryk te bid:

Matt.6:9 “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; 10 laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Onse Vader van nader bekyk” te lees. Let op die term “laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”. God se wil geskied nie noodwendig nou op aarde nie, omrede die meeste mense nog steeds teen Hom rebelleer. Die rede hiervoor is dat die koninkryk huidiglik afwesig van die aarde af is. Die Here Jesus Christus sal eers na afloop van Sy wederkoms die aardse gedeelte van Sy Universele Koninkryk weer oprig. Dit is juis omrede die koninkryk nie nou op die aarde aanwesig is nie waarom die dissipels daarvoor moet bid. Dus moes die dissipels God versoek om Sy koninkryk op aarde te vestig. Let op die stelling “Laat U koninkryk kom

3. Tydens Christus se eerste koms het die dissipels aanvanklik die Evangelie van die Koninkryk slegs aan Israel verkondig:

Die Rede hiervoor is eenvoudig. Indien Israel positief op die prediking van die Evangelie van die Koninkryk sou reageer, dan sou Christus die Messiaanse Koninkryk wat aan hulle belowe is onmiddelik opgerig het. Die Koning was immers alreeds teenwoordig, en het die koninkryk aan hulle aangebied en daarom het die Here aanvanklik die verkondiging van die Evangelie van die Koninkryk slegs tot Israeliete beperk, naamlik:
Matt.10:1 “En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. 2 En dit is die name van die twaalf apostels: die eerste Simon wat Petrus genoem word, en Andréas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer; 3 Filippus en Bartholoméüs; Thomas en Matthéüs, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alféüs, en Lebbéüs wat genoem word Thaddéüs; 4 Simon Kananítes en Judas Iskáriot, die een wat Hom verraai het. 5 Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; 6 maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. 7 En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Die Evangelie van die Koninkryk is aanvanklik slegs aan Israel verkondig. Moet nie hierdie feit miskyk nie. Die belofte van die Messiaanse Koninkryk is slegs aan Israel belowe.

Kontekstueel kan bostaande teksgedeelte sleg tot Christus se eerste koms beperk word, en kan nie goedsmoeds op die Kerk Dispensasie toegepas word soos wat baie sogenaamde geloofsgenesers verkeerdelik doen nie. Die mag om alle siektes te genees kan slegs tot die konteks van die Here Jesus Christus se opdrag aan hierdie gegewe lys Apostels van toepassing gemaak word en kan nie op die Kerk, wie tydens die Dispensasie van die Kerk leef, toegepas word nie. Onthou, konteks, konteks en weereens konteks! Enige persoon wat bogenoemde teksgedeelte as proefskrif gebruik om die bewering te staaf dat hy oor die mag beskik om enige siekte te genees verkondig leuens en kan maklik verkeerd bewys word. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels, Genesing, ‘n Skriftuurlike uitdaging aan geloofsgenesers” en “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood?” asook “Genees en Genesing tydens die Post Apostoliese Tydperk” te lees. ‘n Persoon se bedoelings mag dalk opreg wees, maar leerstellig kan so ‘n persoon ook opreg verkeerd wees. Dwaalleer bly dwaalleer en dit sal nooit vir God aanvaarbaar wees nie. Daarom moet ons onsself daarop toelê om God se woord korrek uit te lê.
2Tim.2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”

4. Die aanbod vir die ontvangs van die Koninkryk is deur die Joodse leierskap verwerp:

Die rede hiervoor was dit hulle die Koning van die koninkryk verwerp het. Nadat dit in Matt.12:22-32 duidelik geword het dat die Jode die aanbod van die koninkryk sou verwerp het die Here nie weer die stellings gemaak dat die koninkryk naby gekom het nie. Dit is belangrik om hierdie feit in die skrifte waar te neem, naamlik:
Matt.12:22 “Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. 23 En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie? (die skare het die vraag gevra omrede hulle vanuit die skrifte geweet het dat die Messias uit die bloedlyn van Dawid gebore sou word) 24 Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie. 25 Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. 26 En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? 27 En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. 28 Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. (Die Koninkryk in die vorm van die Koning was toe naby hulle, en die Koning het as God die vermoeë gehad om maklik die beloofde Koninkryk (wat aan hulle belowe was) op te rig indien die volk Die Here Jesus Christus as hulle Messias sou aanvaar.) 29 Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof. 30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. 31 Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie. 32 En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Lastering teen die Heilige Gees” te lees waarin hierdie spesifieke teksgedeelte in meer diepte bespreek is. Die onvergeeflike sonde wat die ongelowige Joodse volksleiers in bostaande teksgedeelte gepleeg is, het finale uitdrukking in Christus se verwerping, en kruisiging deur die Joodse volk gevind, naamlik:
Joh.19:14 “En dit was die voorbereiding vir die pasga en omtrent die sesde uur. Toe sê hy (Pilatus) vir die Jode: Dáár is julle Koning! 15 Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”
Die bewys dat die owerpriesters die onvergeeflike sonde van laster teen die Heilige Gees gepleeg het is bevestig toe hulle die volgende versoek aan Pilatus gerig het, naamlik:
Joh.19:21 “En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.”

Mens moet die chronologiese gebeure soos in Mattheus gevind in rekening hou wanneer ons die skrifte bestudeer. Nadat die ongelowige geestelike leierskap in Mattheus 12 die onvergeeflike sonde van lastering teen die Heilige Gees gepleeg het, het die Here Jesus Christus se bediening opmerklik verander. Dit is slegs na afloop van bogenoemde gebeure dat die Here Jesus Christus toe met die volk in gelykenisse begin praat het. Boonop het die inhoud van die Here se bediening ook verander deurdat Hy toe verkondig het dat Hy Sy kerk sou bou. Die Kerk is ‘n hele nuwe, en eiesoortige entiteit wat nêrens in die Ou Testament aan die Jode voorspel is nie. Dit is ook na afloop van die gebeure soos in Mattheus 12 gevind dat die Here vir die eerste keer Sy verwerping, dood en opstanding vanuit die dood begin verkondig het.
Matt.16:21 “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.”
Die pleeg van die onvergeeflike sonde sou outomaties in Christus se uiteindelike verwerping en kruisiging uitdrukking vind.
Matt.13:Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.”

Boonop het Hy toe vir die eerste keer die gelykenisse van die Koninkryk begin verkondig, wat ‘n aanduiding is dat die koninkryk wat aan Israel belowe was tydelik uitgestel sal word. Dit koninkryk wat aan Israel belowe is is slegs tydelik uitgestel en nie afgestel nie. Moenie hierdie feit vergeet nie. Die onderstaande gelykenis is een van vele voorbeelde hiervan, naamlik:
Luk.19:11 “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle (die gelowige dissipels) gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. 12 Hy het dan gesê: ‘n Man van hoë geboorte (die Here Jesus Christus) het na ‘n ver land gereis (na afloop van Sy dood en hemelvaart ) om vir homself ‘n koningskap (by God die Vader) te ontvang (sien Dan.7:13-14 onder punt 7 hieronder) en dan terug te kom. (Christus se wederkoms)13 En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. 14 Maar sy medeburgers (Ongelowige Joodse nasie) het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.15 En toe hy terugkom, (wederkoms)nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.16 En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. 17 En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. (genadeloon) 18 En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. 19 En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. 20 En ‘n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ‘n doek weggesit het; 21 want ek was bang vir u, omdat u ‘n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. 22 Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ‘n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. 23 Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. 24 En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het — 25 en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde 26 want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het. 27 Maar daardie vyande van my (ongelowige Jode wat die Fariseërs insluit) wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood. 28 En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.” (om gekruisig te word)
Die aanbod van die Messiaanse Koninkryk is na afloop van die gebeure in Mattheus 12 dus tydelik (vir daardie spesifieke generasie Jode) van die tafel af verwyder. Dit beteken dat die koninkryk eers op ‘n latere stadium, wanneer ‘n latere generasie Jode die Here Jesus Christus as hulle Messias sal aanneem en dan sal Hy die koninkryk oprig.

5.Die Messiaanse Koninkryk is wel uitgestel maar nie afgestel nie:

Die Messiaanse Koninkryk is ‘n tydlank uitgestel maar is nooit gekanselleer, of van Israel weggeneem en aan die Kerk oorgedra nie. Die koninkryk sal weer tydens die sewejarige Verdrukking, na afloop van die Dispensasie van die Kerk, aan Israel aangebied word wanneer die Evangelie van die Koninkryk weereens verkondig sal word
Matt.23:37 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! 38 Kyk, julle huis (die Jode se tempel) word vir julle woes gelaat! 39 Want Ek sê vir julle: (die Joodse nasie) Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle (die Joodse nasie) sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
Let op die term “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Genoemde stelling maak dit duidelik dat die aanbod van die Koninkryk nie vir altyd tersyde gestel is nie, maar wanneer Israel Hom as hulle Verlosser, Saligmaker en Koning sal aanvaar, dan sal Hy weer terugkom en die koninkryk op aarde oprig. (Hierdie gebeure sal na afloop van die Groot Verdrukking plaasvind) Let ook op die stelling “Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” Hierdie stelling van die Here weerlê ook die leerstelling van predestinasie soos wat die Calviniste (wat die gereformeerde kerke insluit) dit verkondig. Israel as geheel het ‘n vrye keuse gehad om die Here as hulle Messias te aanvaar maar hulle wou nie. Die Here sou nie hierdie aanklag teenoor die Jode geuiter het indien Hy alreeds hulle keuse gepredestineer het nie.

Die feit van Israel se herstel word herhaaldelik in die skrifte bevestig, naamlik:
Hos.3:4 “Want die kinders van Israel sal ‘n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. 5 Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.
Let op die stelling “in die laaste van die dae.” Hierdie stelling verwys na die gebeure aan die einde van die Groot Verdrukking.
Luk.22:18 Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.
Hand.1:6 Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?
Na afloop van die wegraping waartydens die Dispensasie van die Kerk/Genade afgesluit word sal die Evangelie van die Koninkryk weereens tydens die sewe jaarlange verdrukking aan die ganse mensdom verkondig word.
Matt.24:14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde
(van die verdrukking) kom.”
Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Die Kerk is nie die Messiaanse Koninkryk van Christus nie” asook “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang” te lees.

6. Terwyl die koninkryk op aarde uitgestel is, is Christus besig om Sy kerk op aarde op te rig:

Matt.16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie”
Dit is eers nadat Israel se leierskap Christus daarvan beskuldig het dat Hy die wonderwerke in die krag van Satan bewerkstellig het, waarna die Here vir die eerste keer in die Skrifte ‘n voorspelling gemaak het dat Hy sy kerk sal bou.
Ef.1:22 “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente
(die universele kerk) gegee, 23 wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Die Kerk het nie in die Ou Testament bestaan nie en sal ook nie tydens die komende verdrukking op die aarde teenwoordig wees nie. Die Verdrukking is God se oordeel oor die wêreld en die skrifte stel dit baie duidelik dat die kerk nie vir God se oordeel bestem is nie.
1Thess.1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, (wegraping) wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn (verdrukking) verlos.
1Thess.5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”

7. Die Koninkryk sal op aarde opgerig word wanneer God die Vader die Seun weer na die aarde terugstuur:

Dan.7:13 “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, (God die Seun) en Hy het gekom tot by die Oue van dae, (God die Vader) en hulle het Hom (die Here Jesus Christus) nader gebring voor Hom. (God die Vader en ons Vader) 14 En aan Hom (die Seun) is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”
Na afloop van die Groot Verdrukking, met die Here se wederkoms, sal die Here Jesus Christus, as Koning van die Konings, Sy voete op die Olyfberg neersit vanwaar Hy ongeveer 2000 jaar gelede van opgevaar het na die hemel toe.
Sag.14:4 “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”

Die Here Jesus Christus sal letterlik, en liggaamlik met Sy wederkoms na die aarde terugkeer en sal Sy voete op die Olyfberg (net buite die huidige Jerusalem in Israel neersit) en as Koning oor die hele aarde regeer.
Sag14:9 “En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.”
Die gebeure teen die einde van die Groot Verdrukking soos in Openb.11:15 gevind bevestig hierdie feit, naamlik:
Openb11:15 “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.

Petrus het die feit verstaan dat die Here Jesus Christus net sal terugkom aarde toe wanneer die volk Hom as hulle Messias sal aanvaar en aanroep. Daarom het hy tydens sy gesprek op pinkster die volgende toespraak aan die Jode wat daar bymekaar was gemaak, naamlik:
Hand.3:19 “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, (die Joodse nasie) sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, 20 en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, 21 Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.”
Israel sal in ongeloof bly voortgaan tot en met die einde van die Groot Verdrukking, wanneer hulle in hulle nood die Here Jesus Christus as hulle Messias en Verlosser sal aanvaar, en Hom aanroep om hulle van gewisse uitwissing te red, wat Hy ook met Sy wederkoms sal doen, naamlik:
Openb.19:15 “En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”

Satan wat nou as die god van hierdie wêreld regeer, sal met Christus se wederkoms gevang en toegesluit word sodat hy nie meer die nasies van die aarde kan verlei nie. Hierdie gevangenisskap van Satan sal aanvanklik duisend jaar lank duur en dan sal hy weer vir ‘n kort tydjie vrygelaat word. Maar dit is egter die onderwerp vir die komende artikels in hierdie reeks.
Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. 4 En ek het trone gesien, en hulle (getroue gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie gelewe het. Openb.2:26 ) het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, (gelowiges wat tydens die Verdrukking tot geloof in Christus kom en vir hulle geloof gedood word) en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode (ongelowiges van alle tye) het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
Later in hierdie reeks artikels sal ons die verskillende fases van die opstanding in meer detail bespreek, asook die feit dat die Kerk in die oordeel van die nasies gaan deelneem.
Openb.2:26 “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, (genadeloon) 27 en hy (die getroue Kerk Dispensasie gelowige) sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het.

Ter Afsluiting: God het dit vanuit die skrifte duidelik gemaak dat die koninkryk wat aan Israel belowe is wel eendag onder lyding van die Here Jesus Christus opgerig sal word. God gebruik die verloop van die geskiedenis, wat Israel se keuses insluit, om aan hulle te toon dat Hy ‘n liefdevolle en genadige God is en dat Hy boonop altyd Sy beloftes sal nakom al misluk die mens herhaaldelik.
Eseg.20:42 “En julle (Israel) sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders (Abraham, Isak en Jakob) te gee. 43 Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het. 44 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek met julle handel ter wille van my Naam en nie volgens julle verkeerde weë of julle verdorwe handelinge nie, o huis van Israel, spreek die Here HERE.”
Alhoewel bostaande teksgedeelte kontekstueel op Israel van toepassing is, geld die beginsel ook vir ons wat tydens die Kerk Dispensasie lewe. Dit leer ons dat God genadig is en dat Hy nooit ‘n persoon wat die Evangelie van God se genade geglo het a.g.v. daardie persoon se tekortkominge sal verwerp nie. Die feit dat God nie Israel as volk vir hulle sondes verwerp het nie, gee aan ons die gerusstelling dat Hy ons ook nie sal verwerp wanneer ons struikel nie. Gegewe hierdie feite bly dit egter uiters belangrik om nie God se plan vir die volk Israel met Sy plan vir die Kerk te verwar of te vermeng nie. Die twee entiteite het beide hulle plek in God se raadsplan en elkeen het ‘n rol om in daardie raadsplan te speel. In die volgende artikel in hierdie reeks sal ons nog verdere feite aangaande die Messiaanse Koninkryk van Christus op aarde bestudeer. En onthou, hierdie lewe is die enigste geleentheid om genadeloon te versamel.

Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.