Kategorie se argiewe: Valse leerstellings

Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige vs die Volharding van die Heiliges


Daar bestaan groot verwarring onder gelowiges tussen die leerstelling van die Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige (ook bekend as die Bewaring van die Heiliges) en die leerstelling van die Volharding van die Heiliges. Die twee leerstellings is nie dieselfde nie en is ook nie met mekaar versoenbaar nie. Met die skryf van hierdie artikel sal daar gepoog word om enige verdere misverstande t.o.v. hierdie verskillende teologiese leerstellings uit die weg te ruim.

Calvinisme (gereformeerde teologie) En Hulle Leerstelling van Volharding

Calvinisme (gereformeerde teologie) leer dat, aangesien die mens totaal verdorwe is, slegs die onvoorwaardelik uitverkorenes Christus se versoening en onweerstaanbare genade ontvang. Die verlostes, sowel as die uitverkorenes het dus geen sê in die saak nie en hulle wilsbesluite (wil) speel geen rol in die keuse van hulle verlossing nie. Volgens Calvinisme beskik die mens nie oor ‘n vrye wil om die evangelie te glo of te verwerp nie. In kort beteken dit dat God in Sy raadsbesluit kies om slegs sekere mense te red en die res los Hy om verlore te gaan. God gee dus slegs aan diegene wat Hy uitverkies het om te verlos die geloof om te glo en by implikasie weerhou Hy dit van diegene wat Hy nie tot verlossing uitverkies het nie. Die geloof wat die uitverkorenes ontvang, verseker ook dat hulle tot die einde van hulle lewens toe sal volhard. Eenvoudig gestel, hierdie siening leer dat ‘n ware Christen in geloof en goeie werke sal voortgaan tot die dood – en indien nie, was hulle nooit werklik gered nie. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Wil God almal verlos”, asook “Die Proponente van werkheiligheid se herdefiniëring van geloof” vir ‘n meer in diepte studie aangaande hierdie onderwerpe te lees.

Lees meer Die Ewige Sekuriteit van die Gelowige vs die Volharding van die Heiliges

Die wet van nie-teenstrydigheid en die ewige lewe

Vraag: Een van my kinders het op ‘n stadium die evangelie soos wat jy dit op jou webtuiste geplaas het geglo. Hy het daarna ook ‘n tydlank Jesus as ‘n dissipel gevolg, maar het in tussentyd net soos Demas in wie wêreld teruggeval. Hy lewe nie meer as ‘n dissipel van Christus nie maar jaag eerder rykdom en genot na. Ek is baie bekommerd oor hom en wil nie hê dat hy verlore gaan nie. Ons predikant het gesê dat my kind verlore sal gaan indien hy in daardie toestand tot sterwe kom. Hy het Joh.3:18 aangehaal om sy bewering te staaf. Ek het boonop ook op ‘n ander webtuiste gelees dat ‘n wedergebore persoon wel die ewige lewe kan verloor. Ek hoor graag jou opinie.

Antwoord: Ek het ‘n soortgelyke gesprek met ‘n vriend van my gehad en ek glo daar is baie mense wat met dieselfde vraagstuk as jy worstel. Hierdie vraag kom veral onder Gereformeerde Calvinisme voor, wie beweer dat indien ‘n persoon nie tot die einde van sy lewe bly glo nie, hy nooit in die eerste plek werklik geglo het nie. Die skrifte, asook die tweede wet van logika, naamlik die wet van nie-teenstrydigheid verklaar egter onomwonde dat indien jou kind die evangelie op ‘n punt in tyd geglo het, dan het hy die ewige lewe as ewige besitting en kan nooit verlore gaan nie. Hy het God se woord daarvoor. Mense wat glo dat ‘n gelowige wel verlore kan gaan (Armenianisme) weerspreek ook die skrifte en die wet van nie-teenstrydigheid.

Lees meer Die wet van nie-teenstrydigheid en die ewige lewe

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike Perspektief. Deel 4

Omrede die Sewendedag Adventiste Kerk nie ‘n skriftuurlike onderskeid tussen die Kerk en Israel tref nie maak hulle die fout deur om fasette wat slegs vir die Dispensasie van die Wet gegeld het met die fasette wat slegs vir die Dispensasie van die Kerk/Genade geld te vermeng. Daarbenewens maak hulle nie van gesonde beginsels van eksegese gebruik om hulle leerstelling oor eindtydse gebeure (eskatologie) te bepaal nie, en verdraai sodoende die Bybelse leerstelling van eindtydse gebeure wat die leerstelling van Israel as God se verbondsvolk insluit. So ontneem hulle, hulle lidmate van een van die duidelikste tekens dat ons die einde van die Kerk Dispensasie vinnig nader en maak dit vir hulle moeilik om die gebeure wat ons nou rondom Israel (en die wêreld) waarneem korrek te interpreteer. Die hervestiging van Israel in hulle land, waar hulle die verskriklike oordele van die Verdrukking afwag, en waarna hulle weer as volk met God versoen sal word, word sodoende heeltemal deur die Sewendedag Adventiste geïgnoreer. Omrede Sewendedag Adventiste verkeerdelik die kerk met die volk Israel vereenselwig gee dit daartoe aanleiding dat hulle die Wet van Moses, wat sabbatsonderhouding insluit, met die Wet van Christus verwar en kyk sodoende die feit die Here Jesus Christus ons Sabbatsrus is heeltemal mis. Die Sewendedag Adventiste se hele leerstelling van Saterdag sabbatsonderhouding is dus op totaal verkeerde aanname gebaseer omrede hulle verkondig dat die kerk ‘n voortsetting van Israel is. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk die volk Israel as God se Verbondsvolk vervang?” sorgvuldig deur te lees, waar daar vanuit die skrifte bewys word dat die Kerk nie Israel is nie, maar eerder ‘n hele nuwe entiteit is wat op pinksterdag ontstaan het. Die leser word ook aangeraai om die artikel “ Die Sabbatdag Kontroversie” te lees waarin ook baie belangrike inligting te vinde is en wat nie noodwendig in hierdie artikel herhaal sal word nie.

Lees meer Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike Perspektief. Deel 4

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 3

Sewendedag Adventiste, net soos die Jehova Getuies, verkondig die dwaalleerstelling van sieleslaap en uiteindelike totale uitwissing van alle ongeredde mense. (annihilationiste/uitwissingsgesindes). Hulle glo nie dat ongelowiges vir ewig in ‘n bewustelike toestand van smart in die poel van vuur sal deurbring nie, maar eerder dat hulle heeltemal vernietig sal word. Hulle maak daarop aanspraak dat die betekenis van “siel” (Hebreeus “nephesh”) na die hele mens as ‘n onskeibare eenheid verwys en dat ‘n mens se siel nie bewustelik apart van sy fisiese liggaam kan bly voortbestaan nie. Sewendedag Adventiste glo dus dat God die mens nie met ‘n nie-stoflike faset (gees en siel) geskape het wat apart van sy stoflike liggaam voortbestaan nie. Volgens hulle is die hele persoon (sy stoflike, asook sy nie-stoflike fasette) ‘n lewende siel. Die persoon wat tot sterwe gekom het lê dus onbewustelik in die graf. Hulle gebruik byvoorbeeld Genesis 2:7 wat kontekstueel na die hele menslike wese, insluitende sy fisiese aspek verwys, om hulle leerstelling te regverdig, naamlik:
Gen.2:7 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.”
In hierdie opsig wend hulle die term “siel” kontekstueel korrek aan, deurdat die term lewende “siel” in hierdie konteks die hele mens, naamlik sy stoflike, sowel as sy nie-stoflike aspekte insluit. Maar dan maak hulle hulleself aan bewustelike ongeoorloofde identiteitsoordrag skuldig, deurdat hulle hierdie spesifieke betekenis vir die term “siel” na alle gevalle waar die term “siel” in die Bybel voorkom oor te dra sonder om die spesifieke konteks waarin die term “siel” in voorkom in ag te neem.

Lees meer Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 3

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 2

Soos ons in die vorige artikel waargeneem het, beskou die Sewendedag Adventiste Ellen G White se profetiese uitlatings as gesaghebbend omrede hulle haar as ‘n boodskapper van God bestempel. Hulle sal hierdie feit nie openlik erken nie, maar dit is ‘n feit dat hulle die Bybel deur die verwysingsraamwerk van Ellen G White filtreer, en dan die skrifte buite konteks aanhaal en verdraai om by haar verwysingsraamwerk in te pas. Sewendedag Adventisme is ‘n valse godsdiensstelsel wat menslike werke die bepalende faktor in ‘n persoon se verlossing maak, en in hierdie opsig verkondig hulle ‘n ander evangelie (valse evangelie/werke evangelie) waarteen Paulus ons so sterk in Galasiërs gewaarsku het. Al mag die normale lidmaat van die Sewendedag Adventiste Kerk nie noodwendig daarvan kennis dra nie, versteek die leierskap van die Adventiste kerk hulle valse (en selfs godslasterlike) godsdiensstelsel agter Christelike terme weg. Met die skryf van hierdie artikel sal hierdie feit duidelik gedemonstreer word. Om hierdie rede is dit belangrik dat ons na hulle leerstelling van die ondersoekende oordeel gaan kyk en met die skrifte vergelyk.

Lees meer Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n Skriftuurlike perspektief. Deel 2

Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n skriftuurlike perspektief. Deel 1

Die Sewendedag Adventiste Kerk gaan uit hulle pad uit om te demonstreer dat hulle ware Bybelse Christenskap bevorder. Indien mens egter mooi na hulle leerstellings gaan kyk, dan merk mens dat hulle leerstelling drasties van ware Bybel se Christenskap afwyk. Die gevaarlikste vorm van dwaalleer is wanneer die waarheid op ‘n baie subtiele wyse verander word. Ons moet onthou dat dit moeilik is om mense met groot en openlike leuens te verly. Satan weet dat dit moeilik is om mense met opsigtelike leuens te verlei, maar wanneer daardie leuens op ‘n subtiele wyse van die waarheid afwyk, dan word daardie leuens maklik deur mense aanvaar. Die skrifte verklaar dat Satan die bron agter alle valse leerstellings is en dat hy van mense gebruik maak om sy dwaalleer te versprei.
2Kor.11:3 “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”
2Kor.11:14 “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

Alvorens die leerstellings wat deur die Sewendedag Adventiste Kerk verkondig met die skrifte vergelyk word, is dit belangrik om net kortliks hulle geskiedenis hier weer te gee.

Lees meer Sewendedag Adventiste Kerk, ‘n skriftuurlike perspektief. Deel 1

God se genade word in gelyke maat aan alle mense aangebied

Omrede die vraag betreffende die mensdom se sonde vir ewige deur die Here Jesus Christus se kruisdood uit die weg geruim is, word God se genade, wat net soos God geen limiete het nie, kosteloos aan alle mense voorgehou. Op grond van eenvoudige geloof in die evangelie word God se perklose genade aan alle gelowiges in gelyke maat geskenk en nie op grond van hoe min of hoe baie die persoon al gesondig het nie. Die rede hiervoor is eenvoudig! God se genade kan nie vermeerder word nie, omrede Sy genade ‘n uitdrukking van Sy perklose liefde is. Ons moet dus nie die fout begaan om te dink dat God die mens se sonde as iets gerings beskou nie. So ‘n proposisie sal ver van die waarheid af wees. God haat sonde en neem dit ernstig op. Maar omrede al die sondes van die hele mensdom (verlede, hede en toekomstige sondes) op die Here Jesus Christus geplaas is, en die Vader Hom daarvoor aan die kruis gestraf het, is die probleem van die mens se sonde vir ewig uit die weg geruim. God se perklose genade word dus sonder enige perk daarop kosteloos aan alle mense sonder enige uitsonderings voorgehou. Dit is derhalwe nie ‘n kwessie van verskillende grade van genade nie, of selfs die grade van die mens se tekortkominge nie.
1Kor.1:18 “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
Kol.1:20 en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.
Rom.3:22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;”

Lees meer God se genade word in gelyke maat aan alle mense aangebied

Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie

God se genade word nooit teruggehou op grond van die mens se sonde nie. Daar heers groot verwarring wanneer dit by die onderwerp van God se genade sover dit by die verlossing van die mens kom. Boonop dek God se genade ‘n baie breër spektrum as slegs die mens se verlossing. Genade sluit God se motief vir die skepping, onderhouding en die voleinding van die heelal in. Indien ‘n persoon nie die volle omvang, asook implikasies van God se genade verstaan nie, gee dit daartoe aanleiding dat die persoon menslike werke of voor, of deel van die evangelie, of aan die agterkant van die evangelie sal byvoeg om sodoende sy verlossing te bewerkstellig of te behou. Hierdie feit gee daartoe aanleiding dat die persoon in werklikheid ‘n werke evangelie glo wat hom nie sal red nie, en die gevaar bestaan dat die persoon hierdie werke evangelie met ander sal deel wat hulle verkeerdelik onder die indruk sal plaas dit hulle gered is. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ‘n persoon die konsep van genade reg verstaan en omskryf. Genade kan dus soos volg omskryf word, naamlik: Genade beteken suiwere onverdienstelike, onbetaalbare en ongekompenseerde goedheid en guns.” Om dus die voorwerp van God se guns te wees beteken dit net logies dat die persoon ook die onderwerp van God se genade is. God se genade is dus ‘n sinoniem vir God se guns. Die onderwerp van hierdie studie handel oor God se genade, en omrede God se attribute onbeperk is kan Sy genade ook geen perke hê nie. Indien ‘n persoon hierdie feit nie mooi begryp nie, gee dit aanleiding tot verkeerde gevolgtrekkings wat weer tot misplaaste teologiese leerstellings aanleiding gee. God se liefde, wat Sy genade insluit, dien dus as die fondasie waarop Hy die verlossing van die mens bewerkstellig het.

Lees meer Die mens se sondeskuld verhoed nie God se genade nie

Ons verklaar en God moet doen!

Vraag: Ek het ‘n vraag en wonder of jy my kan help. Ek het op Facebook ‘n boodskap gesien wat alle ouers aanmoedig om ‘n spesifieke gebed oor hulle kinders te bid. Met die lees van die gebed het ek egter ‘n gevoel gekry dat daardie gebed nie heeltemal met die Bybel ooreenstem nie. Ek haal graag die gebed aan en vra jou om asseblief kommentaar daaroor te lewer. Die gebed lees soos volg: “Here, ek roep uit en lig my kinders (name verwyder) op na U. Vader, U het hulle aan my geleen en ek verklaar dat GEEN wapen wat teen hulle gevorm word, voorspoedig sal wees nie! Ek kanselleer elke opdrag van die vyand wat poog om hulle te vernietig. Ek spreek die bloed van Jesus oor hulle… hulle sal lewe en nie sterf nie en die werke van die Here in die land van die lewendes verkondig! Hulle SAL suksesvol wees, hulle SAL voorspoedig wees, hulle SAL guns in oorvloed ontvang, en hulle SAL U liefhê en dien met hulle hele wese! Ek verwag hierdie met vrymoedigheid en verklaar dit gedoen, in die magtige Naam van Jesus!!!Amen
Ek daag alle ouers uit om te herpos. Daar is KRAG in ons gebede vir ons kinders. Amen”

Lees meer Ons verklaar en God moet doen!

Pleit van Jesus se bloed ‘n skriftuurlike perspektief

Is die pleit van die bloed van Jesus oor omstandighede, mense, huise, enige voorwerp, en selfs dorpe en stede ‘n skriftuurlike leerstelling? Wanneer dit by korrekte Bybelse leerstellings kom is dit van uiterste belang dat ons, ons leerstellings vanuit slegs die Skrifte bekom. Daar is baie onbybelse leerstellings wat van buite die Bybel in die Kerk ingebring is en dit het in baie gevalle tot ernstige dwaalleerstelling aanleiding gegee. Valse leerstellings bring nooit ‘n persoon nader aan die Here nie en dien eerder as barometer van hoe ver ons in werklik van die Here af wegbeweeg het. Onthou, die mate waarin ons getrou aan korrekte Bybelse leerstellings vashou tot daardie mate is ons naby aan God. Ons kan nie aan dwaalleerstelling vashou, net omrede dit goed klink, en verwag dat ons naby die Here moet wees nie. Dit werk nie so nie. Die gevaar van dwaalleerstelling is juis dat dit ‘n persoon verkeerdelik onder die indruk plaas dat hy in God se wil leef juis wanneer dit nie in werklikheid die geval is nie. Om hierdie rede is dit uiters gevaarlik om op ons gevoelens staat te maak, omrede ons gevoelens in baie gevalle misleidend kan wees. Slegs die Bybel moet as barometer vir ons leerstellings dien en niks anders nie. Met die skryf van hierdie artikel sal slegs die Skrifte (wat God se woord aan ons is) as maatstaf dien waarteen die leerstelling van die pleit van Jesus se bloed gemeet sal word.

Lees meer Pleit van Jesus se bloed ‘n skriftuurlike perspektief