Vergifnis Tussen Gelowiges

Vergifnis Tussen Gelowiges

Daar is deesdae in tendens in die Kerk wat sê dat alle gelowiges net moet vergewe. As ‘n gelowige deur ‘n ander gelowige benadeel word, dan word dit aan die benadeelde gesê hy moet vergewe. As hy nie vergewe nie, dan word die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser voor die benadeelde broeder gegooi om hom so ver te kry om te vergewe. Is hierdie optrede werklik geregverdig. Om die antwoord te kry moet ons na die Woord self gaan. Wat sê die Woord werklik oor vergifnis tussen gelowiges? Onthou ons praat hier van mense wat gelowig is, nie van ongeredde mense nie. Ons praat hier van ernstige geskille waar vergifnis ‘n vereiste vir versoening sal wees.

Mat 18:15 “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin;
18:16 maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.
18:17 En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”

Opmerking: Hierdie hele gedeelte handel oor geskille tussen broers in die gemeente. (Alle weergebore kinders van God) Eers gaan spreek jy hom privaat aan, dan saam met ‘n getuie, dan voor die gemeente. As hy nie erken en vergifnis vra nie, dan moet jy hom behandel asof hy nie jou broer in Jesus Christus is nie, omrede hy soos ‘n kind van die duiwel optree . Merk net op dat hy steeds God se kind is, maar net nie optree soos een nie, en buite die beskerming van die gemeenskap van die gemeente gesit behoort te word, en oorgegee word in die sfeer van die duiwel, soos wat 1 Korintiërs 5:5 dit duidelik stel:
1Ko 5:5 “om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.”

Ons lees verder. Onthou dat dit nog alles in dieselfde konteks is.
Mattheus 18:18 “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. 18:19 Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. 18:20 Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”

Opmerking: Al wat die Here hier bedoel, is dat indien die persoon nie vergifnis wil vra nie, en die gemeente stem saam dat hy teenoor sy broer gesondig het, dan moet hulle die skuldige, skuldig verklaar en die saak dan na die Here neem. Hy sal dan die skuldigbevinding bevestig. As hulle die persoon uit die gemeente sit, dan beskou die Here wat in die Hemel sit , die persoon as uit die gemeente gesit. Die skuldige word dan aan straf blootgestel. So die duiwel kan hom makliker bykom om hom so ver te kry om vergifnis te vra. Daar blyk ‘n definitiewe voordeel en beskerming te wees om in ‘n lokale gemeente te behoort. Die vraag ontstaan nou, wat word as ‘n gemeente beskou? Die Here gee die antwoord. Waar daar twee of drie in Sy naam vergader, daar is Hy teenwoordig, en dus word die vergadering as ‘n gemeente gesien.

Mattheus 18:21 “Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?
18:22 Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.”

Opmerking: Net om enige misverstand wat dalk hier kan ontstaan uit die weg te ruim, gaan ek die parallel gedeelte in Lukas hier insit om meer duidelikheid op die onderwerp te plaas.
Luk 17:3 “Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 17:4 En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe.”
Merk die volgorde van gebeure op, voordat God vergifnis vereis.
1. Sonde gepleeg.
2. Bestraf hom.
3. Vergifnis vra.
4. Vergifnis gee.

Vir bevestiging gaan ons na die plek toe waar sonde ontstaan het om te sien hoe God self met so ‘n geval gemaak het. Onthou die Ou Testament is die Nuwe Testament in versteekte vorm. Kom ons gaan lees.
Gen 3:11 “En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? 3:12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. 3:13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”

Opmerking: Die Here het nie die vraag gevra omdat Hy nie geweet het wat hulle gedoen het nie, (Hy is immers alwetend) nee Hy wou hulle kry om te erken wat hulle gedoen het en vergifnis vra. Hulle weier egter en Adam blameer God, omdat die vrou wat God aan hom gegee het hom laat sonde doen het. Lees die stuk weer mooi. Die vrou weier enige skuld en blameer die duiwel. En net daar begin ons probleme. As hulle net erken en vergifnis gevra het, sou ons dalk nie vandag gesit het waar ons nou sit nie. Sonde het gevolge en as ons dit nie keer en oplos nie, sal ons later die gevolge daarvan dra. Ons word dan maar net deel van die probleem. So ons word nie beveel om maar net ongeregtigheid onder die mat in te vee nie, maar ons moet dit aanspreek en oplos, anders gaan dit ons later byt. Van die begin van die Skepping af is hierdie beginsel duidelik en ons sal wys wees om God se voorbeeld van probleem oplossing te volg.

Mattheus 18:23 “Daarom word die koninkryk van die hemele vergelyk met ‘n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken. 18:24 En toe hy begin afreken, word daar een na hom gebring wat tien duisend talente skuldig was. 18:25 En omdat hy nie kon betaal nie, gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word. 18:26 Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal. 18:27 En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld. 18:28 Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. 18:29 Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. 18:30 En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het. 18:31 En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. 18:32 Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; 18:33 moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? 18:34 En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. 18:35 So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.”

Opmerking: Let op dat die skuldige party elke keer vergifnis gevra het, en toe eers vergewe of nie vergewe was nie. Dus moet ons hier tot die slotsom kom dat die Here van ons verwag om te vergewe nadat die skuldige persoon verantwoordelikheid geneem het vir sy misdaad, en dan vergifnis vra. Net nadat hy erken en vergifnis gevra het, verwag die Here dat ons die skuldige moet vergewe.
Soos ek voorheen gesê het is daar mense deesdae in die kerk wat rondloop en skinder, steel en goddeloosheid bedryf en nie eers die moeite doen om vergifnis te vra nie. Hulle slagoffers word aangesê om te vergewe en moet maar met die skade en seer vrede maak . Dit is ‘n siening wat die Bybel nie deel nie. Die Kerk se lig skyn nie meer in ‘n donker wêreld nie, omrede God en Sy Woord verag word deur mense wat hulleself Sy kinders noem. Ons sal wys wees om weer terug na die Woord te gaan en die Woord weer gehoorsaam te wees. Ek dink ons het rede on vergifnis van die Vader te vra, want ons gehoorsaam nie Sy woord soos wat ons moet nie.
1 Korintiers 5:9 “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie— 5:10 dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan— 5:11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. 5:12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? 5:13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”

Dit is tyd om weer God en Sy Woord te respekteer en gehoorsaam. Let maar net op hoe agteruit ons samelewing gaan, en dit alles omdat ons God se Woord nie meer respekteer en gehoorsaam nie. Ons begin maar net die gevolge van ons eie ongehoorsaamheid dra. Mag die Here ons help en ons genadig wees as ons vergifnis vra! Onthou vergifnis van ons sondes word ontvang by die aanhoor en glo van die Evangelie. As ons die Evangelie nie glo nie, sal ons nie vergifnis vir ons sondes ontvang nie!

Kom ons verheerlik die Here in alles wat ons doen!

Seën groete.

Vic

Deel met ander asb.