Gelykenis van die Saaier

Die Gelykenis van die Saaier

Die gelykenis van die Saaier kom in Mattheus 13:1-23 , Markus 4:1-20 en Lukas 8:4-15 voor. Vir ons studie sal ons die gedeelte in Lukas gebruik en aanvullende besonderhede by die ander twee Evangelies verkry.
 Lukas 8:4 “En toe daar ‘n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur ‘n gelykenis: 8:5 ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. 8:6 En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. 8:7 En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik. 8:8 En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! 8:9 En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?”

Hierdie gelykenis het ons Heer aan sy dissipels uitgelê, omrede dit die sleutel tot die uitleg van al die hieropvolgende gelykenisse bevat. Dus is dit van kardinale belang dat die eerste gelykenis verstaan moet word, alvorens daar gepoog word om al die ander gelykenisse te verstaan.
Markus 4:13 “En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?”
Ons moet verstaan dat ‘n gelykenis ‘n hemelse waarheid is, wat die Here in ‘n aardse storie omsit sodoende wil die Here ‘n sekere punt van waarheid aan Sy hoorders oordra. Ons kan die Here se woorde in Mattheus hier byvoeg om n meer duideliker beeld te verkry.
Mat 13:10 “En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 13:11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 13:12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13:13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 13:14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 13:15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
13:16 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. 13:17 Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.
En nou, terug by Lukas:
Luk 8:10 “En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.”

Uit bogenoemde teksgedeelte wil dit voorkom asof die Here nie wil hê dat Sy hoorders Hom moet verstaan nie, en dit blyk so te wees. Die rede hiervoor lê in die Here se genade. Uit die Skrif is dit duidelik dat Hy met die Joodse volk praat, wat Hy deur middel van Sy voorkennis, geweet het Hom sou verwerp. Ons weet ook uit ander gedeeltes uit die Skrif, dat daar vlakke van straf in die Hel sal wees vir alle mense wat die Here se aanbod van die ewige lewe verwerp het. Jesus het in Mattheus 10:1-15 Sy dissipels uitgestuur om die Koninkryk te verkondig, en Hy het vers 15 gesê dat dit verdraagliker vir Sodom en Gomorra in die oordeelsdag sal wees, as vir daardie stad wat sy dissipels nie ontvang het nie. In Mat 10:40 lees ons: “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” 
Luk 12:48 kan hierby gevoeg word wat soos volg lees:
“maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.”

Die Here het derhalwe doelbewus in gelykenisse gespreek, en daardeur het Hy verseker dat Hy die meerderheid van die volk, wie Hy geweet het Hom sou verwerp, nie so erg hoef te straf indien hulle nie Sy gelykenisse verstaan het nie. Indien die  meerderheid van die volk Hom sou verstaan, en dan nog steeds Sy woord verwerp, sou Hy hulle met ‘n baie erger straf in die Hel moes gestraf het en Hy wou dit nie doen nie. Hierdie is maar net een van die baie fasette van God se onbeskryflike genade! In my opinie is hierdie een van die redes waarom baie mense in die verlede gesterf het sonder om die Evangelie te hoor. Tot ‘n groot mate is dit aan God se genade te danke, want indien hierdie mense die Evangelie gehoor, verstaan en toe die Evangelie verwerp het, sou hulle sonde erger gewees het en sou hulle ‘n erger straf moes ondergaan.  Ek baseer my opinie op die feit dat die Here vooraf kennis het, en Hy weet wie Hom gaan aanneem en wie Hom gaan verwerp. Dit maak hulle geensins minder verantwoordelik vir hulle sonde teenoor God nie, maar in genade hoef God hulle nie so erg te straf, as wanner hulle die Evangelie gehoor en verwerp het nie.

Die ander punt waarop ons moet let, is die feit dat waar lig verwerp word, dit daartoe sal lei dat lig weerhou sal word. Ons sien die tendens in die evangelie van Mattheus. In die openings gedeeltes van die evangelie praat Jesus openlik met die volk. Slegs nadat hulle Sy boodskap herhaaldelik verwerp het, begin Hy in Mattheus 13  in gelykenisse met die skares praat.  Ons geslag sal wys wees om hierdie beginsel te onthou. Die wat het sal meer ontvang, en die wat nie het nie, dit wat hulle het, sal weggeneem word en aan iemand gegee word wat het. Die Here dwing nie Sy wil op iemand af nie, elke persoon sal op die einde net kry wat hy regtig begeer. As hy die Here begeer, sal hy die Here kry, indien nie, sal hy Hom ook nie kry nie. As die persoon die waarheid begeer, soos wat dit in God se Woord uitgedra word, sal hy die waarheid kry, of indien so ‘n persoon nie die waarheid lief het nie, dan sal hy oorgegee word om ‘n leun te glo. Elke persoon gaan op die einde van die dag net kry wat hy regtig begeer. Hierdie beginsel sal in ander artikels verder bespreek word.

Kom ons laat die Here nou toe om Self deur Sy woord verder te verduidelik:
Lukas 8:11 “Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.
8:12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.” Let op die woord “Glo”. Hulle glo nie en dus kom die duiwel en neem die woord by hulle weg. In die parallelle teksgedeelte in Mattheus lees ons dat die hoorders nie verstaan het nie. Dus kan ons aflei dat die hoorders die woord moet verstaan wat hulle hoor, voordat hulle kan glo. In hierdie geval gebeur dit nie en die mense bly ongered, omrede die duiwel dan kom en die woord uit hulle harte wegneem en sodoende verhoed dat hulle gered word. Die duiwel het baie metodes waarmee hy sy doel bereik, maar ek gaan dit nie nou hier bespreek nie, maar op ‘n later stadium sal ek dit wel behandel as dit die Here se wil is. Onthou, dit alles kom op n keuse neer! ‘n Persoon mag dalk moontlik nie iets verstaan nie, maar kan kies om God te soek met die doel om Hom beter te leer ken en glo. God sal dan die Evangelie op die een of ander wyse aan daardie persoon bied, d.m.v  die Bybel, of deur een van Sy kinders op aarde ens. Die Heilige Gees verlig dan so ‘n persoon se verstand, deur die lees en hoor van die Woord, sodat hy die Evangelie kan glo en gered word. Maar enige mens kan verseker weet, dat indien hy God met ‘n opregte hart soek, God, Homself aan daardie persoon sal openbaar en die Evangelie aan hom sal bied, maak nie saak hoe erg hy mag gesondig het of waar op aarde hy homself mag bevind nie.

Lukas 8:13 “En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.” 
Let asseblief op die woorde “net vir n tyd glo” Ons moet nou kyk wat ‘n mens moet doen om die ewige lewe te ontvang. Dit is belangrik, want dit gaan bepaal of hierdie persone gered is of nie. Soos enige goeie Bybel uitleg moet ons toelaat dat Skrif, Skrif verduidelik. In hierdie geval kyk ons na die vraag wat n mens moet doen om gered te word? Die Bybel gee aan ons die antwoord in Handelinge 16:30-33
Hnd 16:30En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. 16:32 En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was. 16:33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.”
Soos wat uit bogenoemde teksgedeelte afgelei kan word, is geloof die enigste vereiste vir wedergeboorte, en sodra ‘n persoon geglo het waarborg die Here daardie persoon dat hy die ewige lewe as huidige besitting beërwe. Nog n punt om in gedagte te hou, is die feit dat Paulus die woord van God aan hom en sy hele gesin verduidelik het. Dus was almal in staat om die Apostel se boodskap te verstaan (wat die boodskap van die Evangelie insluit het) en hulle het daardie boodskap ook dan geglo. Ons vind ‘n verdere bewys in Efesiërs 1:13 wat die volgende stelling maak:
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
Uit bogenoemde gedeelte is dit duidelik dat die Heilige Gees ons verseël en aan ons die ewige lewe waarborg. Maar wat nou as die persoon se geloof sou verswak weens versoekinge? Ons ontrouheid maak nie God ontrou nie. 2 Timoteus 2:13 stel dit duidelik: 
2Ti ” As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”

Die enigste gevolgtrekking wat dan gemaak kan word is dat hierdie persoon gered is die oomblik toe hy geglo het, want dit is wat Jesus belowe het, maar a.g.v versoekinge val hy van die Here af weg en gaan dan in die wêreld in. Onthou ons moet hier fokus op Jesus se getrouheid en nie op die onbetroubaarheid van die mens nie. Die mens se onbetroubaarheid maak nie God onbetroubaar nie! Die Here self het hierdie belofte gemaak. Die probleem lê by die mens en nie in God se getrouheid nie.
Mattheus 13:21 “maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.”
So die persoon doen sy Heer ‘n oneer aan, en a.g.v vrees of versoeking val hy van die Here af weg. Hy bly dus gered, omrede God die persoon gered hou. Dit maak nie die Here se belofte ongeldig nie, want God bly altyd getrou aan Sy woord. Vir verdere bevestiging sal nog ‘n skrif as bewys aangehaal word.
Johannes 12:42 “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. 12:43 Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God.”
Hierdie mense het uit vrees van die Jode nie die Here openlik as dissipels gevolg nie, maar dit moet in gedagte gehou word dat wedergeboorte op grond van God se genade deur geloof alleen bekom word, maar dat dissipelskap, wat vrugte van die Gees insluit, op grond van genade deur geloof plus werke plaasvind. (lees asb die artikel “Onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n Dissipel“)

Lukas 8:14 “En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”
Weereens is hierdie mense ook gered, maar hulle is meer besorg oor die huidige wêreld met sy tydelike genot, rykdom en probleme. Kyk maar rondom jou en jy sal merk dat die kerk, in hulle alledaagse lewenswandel en optrede, oor die algemeen net soos die wêreld vertoon . Daar is oor die algemeen nie ‘n merkbare verskil tussen die belydende Christendom en die wêreld nie, en mens weet soms nie wie ongered of wie gered is nie. Dit is presies net soos wat die Woord ook dan voorspel het!

Lukas 8:15 “En wat in die goeie grond val—dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.”
Hierdie is die mense wat hulle kruis opneem en die Here volg waar Hy ook al mag gaan. Hulle is ook die lote wat in die Wynstok bly.
Joh15:4 “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
Anders as wat soms beweer word, handel hierdie gedeelte nie oor verlossing nie, maar die dra van vrugte en die feit dat ons in Jesus moet bly, omrede die Heilige Gees die vrugte voortbring en nie ons eie goeie werke nie. Onthou dit is vrugte van die Gees en nie werke van die vlees nie, en dit verkry ons slegs indien ons in ‘n noue verbintenis met Jesus bly en in gemeenskap met Hom wandel.

Lukas 8:16 “En niemand steek ‘n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder ‘n bed nie; maar hy sit dit op ‘n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien. 8:17 Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.”
Hierdie gedeelte beveel ons aan om nie ons Christenskap weg te steek nie, maar as ligte in ‘n donker wêreld skyn. Jesus het Sy dissipels ook aangesê om alles wat Hy in die geheim aan hulle meegedeel het, (private lesse) hulle aan die hele wêreld moet uitbasuin. (na Sy opstanding en hemelvaart)

Lukas 8:18 “Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.”
Die verpligting lê op ons, en dit alles hang daarvan af met watter gesindheid die Here se woord ontvang. Gaan ons erns met God se Woord maak of gaan ons dit ligtelik opneem en in die wêreld bly. Onthou die Here weet wat ons besluite gaan wees, nog voordat ons enige besluit geneem het, maar die keuse is ons eie en ons gaan verantwoordelik vir ons keuses gehou word. Die wat hulleself verloën en die Here volg, sal veel vrug dra en baie loon in die ewigheid verkry. Die wat die wêreld en dit wat in die wêreld is, liefhet, sal die bietjie wat hulle het ook verloor. As die persoon wedergebore is sal hy verlies ly aan die Hemelse loon wat getrouheid hom sou besorg het. As die persoon ongered bly, gaan hy na die poel van vuur gestuur word  en dit sal a.g.v. sy eie toedoen wees. Die Here is baie implisiet oor hierdie feit en ons moet die Here se woorde ernstig opneem!

Lukas 8:19 “En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie. 8:20 Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien. 8:21 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen.”
Jesus was nie hier onbeskof met sy familie nie, maar Hy het daarop gewys dat net diegene wat in werklikheid in Hom glo, Sy broers en susters is. Verder moes Hy ook besig wees met die werke wat die Vader Hom hier op aarde gegee het om te doen. Hy verwag dieselfde van ons. Wat moet ons dan doen? Ons moet op die een of ander wyse betrokke by die verkondiging van die Evangelie wees.  Ons is nie hier om die wêreld te hervorm nie, maar om die Evangelie aan die hele mensdom te verkondig, sodat hulle uit die bose wêreld uit gered kan word. Is ons besig met wat die Here ons beveel het om te doen? Daar is baie verskillende maniere om hierdie doel te bereik. Mag ons Here Jesus Christus ons die krag en leiding gee om Sy wil op aarde te doen. Amen.

Mag ons Here jou ryklik seën

Vic.

Deel met ander asb.