Die Kerk

Belangrike feite aangaande die kerk. Deel 1

Omrede daar so baie verwarring aangaande die Kerk in God se raadsplan bestaan, is dit belangrik om paar verdere feite aangaande die Kerk hier weer te gee. Dit is belangrik om God se plan vir die Kerk met Sy plan vir Israel te onderskei, en in die korrekte kontekstuele verband te verstaan alvorens ons met die Dispensasie van die Koninkryk begin. Diegene wat die moeite doen om dit te lees se insig aangaande hierdie uiters belangrike onderwerp sal verbreed word en dit sal boonop help om valse leerstellings i.v.m. hierdie belangrike onderwerp te weerlê. Die artikel sal ook in twee dele opgedeel word en die leser word versoek om die inligting daarin sorgvuldig te bestudeer en in gebed te oordink. Die leser word ook aangeraai om die teksgedeeltes wat ek nie hier aanhaal nie self in hulle Bybel te lees anders gaan die artikel te lank raak. Hierdie reeks van twee artikels moet verkieslik saam met die artikel “Die Dispensasie van die Kerk/Genade” gelees word, maar kan ook afsonderlik bestudeer en toegepas word.

Die betekenis van die term “Ekklesia”:

Die Griekse woord “ Ekklesia” beteken in kort “uitgeroepe vergadering” of te wel ‘n uitgeroepe vergadering van mense wat saam vergader.

In ‘n algemene sin kan die Griekse woord “ Ekklesia” enige vergadering of samekoms van mense beteken. In Hand.19:32-40 merk ons dat die die silwersmid Demétrius, wie silwertempeltjies van die Griekse afgod Diana gemaak het, het finansieel bedreig gevoel omrede baie mense in Éfese tot geloof in Christus gekom het, en hy en ander soortgelyke ambagsmanne het toe ‘n oproer in die stad veroorsaak. (Die leser word versoek om self genoemde teksgedeelte te lees) Ek gaan slegs Hand.19:39 hier aanhaal om te demonstreer dat die Griekse woord “ekklesia” ‘n vergadering van enige soort kan wees, naamlik:
Hand.19:39 “Maar as julle nog iets anders verlang, dit sal in die wettige vergadering “ekklesia” beslis word.” (Sien ook Hand.19:32,41)
In nog ‘n verdere voorbeeld merk ons dat die volk Israel se samekoms by die Berg Sinai ook i.t.v. ‘n vergadering “ekklesia” beskryf word, naamlik:
Hand.7:38 “Dit is hy wat in die vergadering (“ekklesia”) in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.”
Bogenoemde teksgedeelte kan dus nie gebruik word om te demonstreer dat Israel en die Kerk dieselfde entiteit is nie. Die Griekse woord “ekklesia” verwys net na ‘n vergadering van mense, en die konteks waarin genoemde term gevind word moet bepaal na watse spesifieke groep mense verwys word.

In ‘n tegniese sin beteken “ekklesia” die ware universele en plaaslike kerk. Die universele kerk, wat ook as die liggaam van Christus bekendstaan, bestaan slegs uit alle gelowiges (Jood en nie-Jood) wat die evangelie van God se genade geglo het, en dek die tydperk vanaf pinkster (die uitstorting van die Heilige Gees, waar gelowiges in Christus se liggaam, naamlik die kerk, deur die Heilige Gees ingedoop is) en eindig met die wegraping. (die Kerk gaan nie deur die Verdrukking soos wat baie mense verkeerdelik beweer nie. 1Thess.5:9) Die universele kerk bestaan boonop uit alle afsonderlike plaaslike gemeentes/kerke wat deel van Christus se liggaam vorm, soos byvoorbeeld die gemeente/kerk in Jerusalem, of die Kerk/gemeente in Éfese, ensovoorts. ‘n Paar voorbeelde sal hier gepas wees, naamlik:
Hand.11:22 “En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem (die plaaslike kerk in Jerusalem) was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochië.”
So ook die gemeente was die gemeente in Antiochíë ‘n plaaslike gemeente, naamlik:Hand.31:1 “En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus.”
Op ander plekke in die Bybel verwys die term “gemeente” na die universele kerk, wat uit alle ware gelowiges bestaan, en dit maak nie saak in watse plaaslike gemeente hulle behoort nie, naamlik:
Ef.1:22 “ En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, 23 wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Ef.2:14 “Want Hy is ons vrede, Hy wat albei
(Jode en heidene/nie-Jode) een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; (Wet van Moses) sodat Hy, deur vrede te maak, die twee (groepe mense) in Homself tot een nuwe mens kon skep 16 en albei in een liggaam (Universele kerk)met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.”
Die ware kerk bestaan uit mense en is nie ‘n gebou nie. Die lokale gemeente mag dalk in ‘n gebou vergader, maar dit is die gelowiges wie daar saam vergader wat die kerk vorm nie die gebou nie. ‘n Gemeente kan op straat vergader en dan sal dit nog steeds die kerk wees wat daar vergader. Ons moet hierdie feit nooit vergeet nie.

Christus voorspel die Kerk vir die eerste keer tydens Sy eerste koms:

Die Kerk het nie in die Ou Testament bestaan nie, en die Here Jesus Christus het vir die eerste keer die verborgenheid van die Kerk tydens Sy eerste koms voorspel, naamlik:
Matt.16:13 “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? 14 En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. 15 Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente
(in Grieks “Ekklesia”) bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”

Die fondasie van die Kerk is die Here Jesus Christus:

Matt.16:18 “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots (Petrus se belydenis dat die Here Jesus Christus die Seun van God is) sal Ek my gemeente bou”
Die Here Jesus Christus (wat Sy voltooide werk aan die kruis insluit) is dus die Rots waarop die kerk gebou word. Mense word deel van die liggaam van Christus wanneer hulle die evangelie hoor, verstaan en glo. Die Kerk is nie op Petrus gebou soos wat die Rooms Katolieke Kerk beweer nie. Petrus self het in Hand.4:5-12 en 1Pet.2:4-9 na die Here Jesus Christus as die hoeksteen verwys en nie na homself nie.
Hand.4:7 “en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen? 8 Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, 9 as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, 10 laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. 11 Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. 12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”
1Pet.2:4 “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; 5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.
(let op die feit dat dit die individuele gelowiges is wat die kerk vorm nie ‘n gebou nie) 6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling — 8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.”

Die apostel Paulus verwys ook na die Here Jesus Christus as die fondament waarop die kerk gebou is, naamlik:
1Kor.3:9 “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. 11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” (wat noodwendig Sy voltooide werk aan die kruis vir ons insluit.)

Die bouer van die Kerk is die Here Jesus Christus:

Die Here Jesus Christus is nie slegs die Rots waarop die kerk gebou is nie, maar Hy is ook die bouer daarvan.
Matt.16:18b “en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou”
Let op die term “Ek”. As die Here Jesus Christus nie Sy kerk gebou het nie dan sou daar geen ware kerk gewees het nie. ‘n Pastoor se werk is om die woord van God aan die gemeente te verkondig, hulle te lei en vir hulle te bid. Dit is nie die pastoor se werk om die gemeente te vermaak nie, maar om die gemeente korrekte Bybelse leerstellings te leer, sodat hulle weer in staat sal wees om die evangelie met ander te deel en om die nuwe gelowiges in dissipelskap te leer. Soos wat gelowiges die evangelie met ander deel, werk die Here Jesus Christus in en deur hulle en bou so Sy kerk. Dit is ‘n ernstige mistasting om van wêreldse besigheid-modelle gebruik te maak in ‘n poging die kerk se getalle te vermeerder. Wanneer kerkleiers van mensgemaakte metodes gebruik maak om die ledetal in hulle gemeentes te vermeerder, is die gevolg hiervan gewoonlik kerkbanke wat met baie gekerkte ongelowiges gevul word. Hierdie ongelowige gekerkte mense mag dalk deel van ‘n plaaslike gemeente vorm maar hulle is nie deel van die ware kerk nie. Die Kerkgroei Beweging en baie mega kerke dien as voorbeeld hiervan en het in hierdie opsig die ware Christendom ernstige skade berokken.

Die Kerk het nog nie bestaan nie en was nog vir die toekoms voorspel:

Matt.16:18b “en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou”
Let op die term “en op hierdie rots sal Ek my gemeente ( Ekklesia) bou” wat in die toekomstige tydvorm gestel word. Dus is die Kerk iets wat die Here Jesus Christus toe nog in die toekoms sou oprig en kon dus nie alreeds bestaan het nie. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang” te lees) Mense wat beweer dat die Kerk in die Ou Testament te vinde was begaan dus ‘n ernstige mistasting. In bogenoemde teksgedeelte merk ons dat die Here Jesus Christus ‘n voorspelling maak en nie na ‘n entiteit verwys wat alreeds bestaan het nie. Boonop het Petrus en die ander apostels geen idee gehad waarvan die Here gepraat het nie. Onthou God het aan Israel ‘n aardse koninkryk belowe, en hulle het verwag dat die Here Jesus Christus tydens Sy eerste koms hierdie koninkryk op aarde sou oprig. Om hierdie rede het hulle na Sy opstanding, net voor Sy hemelvaart, die volgende vraag aan Hom gestel, naamlik:
Hand.1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Hulle het nie die konsep van die kerk verstaan nie, want die Kerk was nooit in die Ou Testament voorspel nie. Met Christus se eerste koms het Hy wel die koninkryk aan Israel voorgehou en is deur hulle ongeloof van die hand gewys. Deur die vertel van gelykenisse het Christus bekendgemaak dat die koninkryk op aarde uitgestel sal word waarna Hy Sy Kerk, as aparte entiteit, sou oprig. Net ‘n paar verse later maak die Here Jesus Christus die feit bekend dat Hy in Jerusalem gedood sou word, naamlik:
Matt.16:21 “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.”
Christus sou nie die ontstaan van die kerk kon voorspel indien dit alreeds met Sy eerste koms in die vorm van die volk Israel bestaan het nie.

Die ware Kerk behoort aan Christus:

Let op die term “ My gemeente” . Die Kerk behoort aan die Here Jesus Christus en nie aan die pastoor of kerkraad nie. Die kerkleierskap is wel onder Christus vir die gemeente verantwoordelik, om as God se onderdane en medewerkers, die gemeente te lei en te onderrig. Hulle moet egter onthou dat die kudde Christus se kudde is, en dat hulle maar net ‘n rentmeesterskap van dienende leiers (servant leaders) opgelê is en waarvoor hulle verantwoording sal moet doen. So ook behoort die gemeente nie aan diegene wat die grootste bydraes aan die kerk maak nie. Mense wat hulle gewig in die gemeente rondgooi asof die gemeente aan hulle behoort moet weer in die Bybel gaan kyk aan wie die gemeente behoort. Daarbenewens behoort die kerk ook nie aan ‘n spesifieke denominasie nie. Die kerk is boonop ‘n lewende organisme, wat uit alle gelowiges wat in Christus deur die Heilige Gees ingedoop is, bestaan en nie ‘n organisasie nie.
Hand.20:28 “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van Godte versorg, wat Hy (die Here Jesus Christus) deur sy eie bloed verkry het.”
Bostaande teksgedeelte weerlê ook die bewering wat deur Jehova Getuies, Islam en sekere dele van die Hebreeuse wortel beweging gemaak word dat die Here Jesus Christus nie God is nie. Dit is die Here Jesus Christus wat Sy bloed aan die kruis uitgestort het en as sulks kan Hy niemand anders as God wees nie. Let op die term “wat Hy deur sy eie bloed verkry het.”

Die Kerk is sentrale liggaam waardeur die Here huidiglik werk:

Dit is elke afsonderlike gemeente se plig om seker te maak dat God se woord korrek verkondig word, en alle lidmate moet in ware dissipelskap opgelei word. Universiteite, en ander soortgelyke instansies kan handig wees, solank as wat hulle die Skrifte as God se onfeilbare foutlose woord aanvaar en korrekte leerstellings verkondig. Ongelukkig voldoen die meeste universiteite deesdae nie meer aan hierdie vereistes nie. Die plaaslike gemeente is geensins onderdanig aan die universiteite of enige ander instansie nie. Wanneer universiteite dwaalleerstelling verkondig moet hulle leerstellings verwerp word en moet daardie universiteit vermy word. Onthou, die plaaslike gemeente se leierskap is verantwoordelik om toe te sien dat korrekte Bybelse leerstellings verkondig word. In hierdie opsig is die universiteite onderdanig aan die kerk. Baie gemeentes het juis interne programme wat hulle pastore/kerkleierskap oplei (soos wat dit in werklikheid hoort) juis omrede so baie universiteite die Bybel aanval, of afwater en selfs poog om sondige leefstyle vanuit die Bybel te regverdig. Onthou, die Here Jesus Christus het nie gesê dat Hy universiteite gaan bou nie, maar dat Hy Sy kerk gaan bou en dit is hoofsaaklik deur die Kerk wat Hy werk. Dit is aan die kerk wat geestelike gawes gegee word, nie aan die universiteite nie. Boonop moet aspirante kerkleiers aan die onderstaande Bybelse vereistes voldoen alvorens hulle as herders oorweeg kan word.
Tit.1:5 “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het — 6 as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. 7 Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie; 8 maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers; 9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, (korrekte Bybelse leerstellings) sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.” (Lees gerus ook 1Tim.3:2-16)

Die Kerk is die pilaar en grondslag van die waarheid:

1Tim.3:15 “Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.”
Dit is die kerk se plig om die waarheid volgens die Skrifte te verkondig. Boonop is dit die kerk se plig om korrekte leerstellings te verdedig en dwaalleerstelling te identifiseer en te bestry. Hierdie feite skakel by bogenoemde punt in. Dit is die kerk aan wie God die gawes van herders, leraars en evangeliste gegee het en aan wie die Heilige Gees die vermoeë gegee om hulle take uit te voer.
Ef.4:11 “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,”
Geestelike gawes kan nie aangeleer word nie, maar is ‘n gawe wat die Heilige Gees uitdeel soos Hy wil, en wat deur voortgesette bybelstudie, onder leiding van die Heilige Gees, ten volle ontwikkel moet word. Ek los met opset die gawes van apostels en profete uit, omrede genoemde gawes slegs vir die Apostoliese Tydperk bedoel was, en nodig was vir die tydperk voordat die woord van God volledig op skrif gestel is. Ons leef nou in die Post-Apostoliese tydperk, wat met die voltooiing van die Bybel, en dood van die apostel Johannes tot ‘n einde gekom het. (Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Is die gawe van profesie nog in werking vandag” , asook “Ware Apostels vs Valse Apostels” te lees)

Die Kerk sal nie deur die doderyk oorweldig kan word nie:

Matt.16:18ff “en die poorte van die doderyk sal dit (die kerk) nie oorweldig nie.”
Die rede hiervoor is eenvoudig, die ware kerk bestaan uit gelowiges wat met wedergeboorte deur die Heilige Gees in Christus ingedoop is, en as sulks besit ons die ewige lewe as ewige besitting.
Rom.8:34 “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. 35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? 36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Lees gerus die artikel “Die ewige sekuriteit van die gelowige)

Ter afsluiting: In deel twee van hierdie reeks artikels sal daar nog bykomende inligting aangaande die kerk aan die leser gegee word. Indien die leser dit nie alreeds gedoen het nie word hy aangeraai om die artikel “Die Dispensasie van die Kerk” te lees. Wanneer die Bybel korrek uitgelê, en verstaan word, dan gee dit rus vir ons onstuimige siele en openbaar tot ‘n groot mate God se raadsplan aan ons. En omrede ons Sy kinders is sal Hy ons nooit uitwerp nie, en ons weet boonop dat ons alreeds ‘n erflating besit wat deur God in die hemele vir ons bewaar word.
1Pet.1:4 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, 4 sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is (verlede taalvorm)vir ons 5 wat in die krag van God bewaar word (teenswoordige tydvorm) deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om (met die wegraping) geopenbaar te word in die laaste tyd.”
Niemand sal ooit ons erflating van ons kan wegneem nie! En omrede ons alreeds genoemde erflating het, beteken dit dat ons, in Christus, alreeds die oorwinning het en net wag om ons erflating in ontvangs te neem. Om ons erflating in ontvangs te neem vereis dat ons in die hemel, in God se teenwoordigheid moet wees om dit in ontvangs te neem wat weer beteken dat ons nooit verlore sal kan gaan nie. (Dit is net logies dat indien ons alreeds ‘n erflating het, wat God in die hemel vir ons bewaar, dat ons nooit verlore sal kan gaan nie anders kan dit nie gestel word dat ons alreeds ‘n erflating besit nie.) Ons staan boonop aan die einde van die Kerk Dispensasie en daarom is dit belangrik om nie nou in ons diens vir die Here te verslap nie. Die wegraping kan nou enige tyd plaasvind en ons moet nou heelhartig poog om genadeloon te versamel. En onthou, dit alles op grond van God se genade deur geloof alleen. Mag ons Hom vir altyd prys en dien. Amen!

Seën groete!

Vic.

Deel met ander asb.