Here Jesus Christus

Wie is die Here Jesus Christus vir die Gelowige?

Soms is dit vir ons, as gelowiges, weer nodig om vir ‘n slag stil te gaan sit, en oor ons Verlosser en Sy liefde vir ons, wat Hy alles vir ons is, en wat Hy deur Sy voltooide werk aan die kruis vir ons bewerkstellig het, na te dink. In hierdie artikel gaan net ‘n gedeeltelike lys van feite uitgelig word, wat aan ons ‘n idee sal gee wat Jesus werklik vir die gelowige beteken. Die leser word versoek om biddende oor hierdie lys na te dink, en self die ander waarhede, wat nie in hierdie artikel genoem is nie, in die Bybel op te soek en dit self by hierdie lys te voeg.

Indien ons werklik tot die volle besef kom, van Wat en Wie die Here Jesus Christus vir ons is, en oor watse mate van liefde die Vader vir ons moes koester, om Sy geliefde Seun in ons plek kruis toe te stuur, sal ons nooit weer God se liefde vir ons bevraagteken nie. God se liefde vir ons is net so onbeperk soos wat Hyself is. God se liefde vir ons beskik oor geen perke nie! Dink mooi oor hierdie feit na. God het ons nie lief, nie omdat ons dit verdien nie, maar Hy het ons grensloos lief omdat Hy is Wie Hy is! God is liefde!

Die Here Jesus Christus is jou God.
2Pe 1:1 “ Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus:
Joh 1:1 In die begin was die Woord, (die Here Jesus Christus) en die Woord was by God, en die Woord was God.”

Die Here Jesus Christus is jou persoonlike Verlosser in wie jy geglo het, om jou van jou sondeskuld God, te verlos.
2Ti 1:10 “maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie,
1Ts 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”

Die Here Jesus Christus is jou Heer, Wie jy, as dissipel, getrou moet navolg.
Luk 9:23 “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.
Luk 14:27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.”

Die Here Jesus Christus is jou Lewe, op wie jy daagliks moet vertrou.
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Kol 3:4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.”

Die Here Jesus Christus is jou Hoop, op Wie se koms vir jou, jy moet wag.
Tit 2:13 “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,
Joh 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Die Here Jesus Christus is jou Wysheid.
1Ko 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
Kol 2:2 dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, 2:3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is.”

Die Here Jesus Christus is jou geregtigheid.
1Ko 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
Rom 5:17 Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. 5:18 Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. 5:21 sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die genade kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus, onse Here.”

Die Here Jesus Christus is jou Heiligmaking.
1Ko 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. 17:18 Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. Joh 17:19 En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.”

Die Here Jesus Christus is jou verlossing.
Efs 1:7 “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
Rom 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Die Here Jesus Christus jou Hoof. (As gelowige vorm jy deel van Christus se liggaam en dit maak jou outomaties deel van Sy Kerk. Jy kan slegs deel van Christus se liggaam word, indien jy die Evangelie glo en niks anders nie. Die ware Kerk bestaan uit alle wedergebore mense, en dit maak nie noodwendig saak in watter denominasie hulle mag behoort nie.)
Kol 1:18 “En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.
Efs 1:22 En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, 4:15 maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,”

Die Here Jesus Christus is jou Hoëpriester.
Heb 4:14 “Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. 4:15 Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. 4:16 Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Die Here Jesus Christus is jou Advokaat.
1Jo 2:1 “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2:2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
Rom 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”

Ter Afsluiting:

Om hierdie rede is dit belangrik, dat ons die Evangelie ken en weet hoe om dit aan ander oor te dra. ‘n Gelowige is ‘n persoon wat glo, dat die Here Jesus Christus die Seun van God is, en dus self God is, en wat glo dat Jesus Christus aan die kruis, in sy plek, gesterf het en daardeur sy volle sondeskuld betaal het, en wat verder glo, dat Jesus Christus liggaamlik uit die dood uit opgestaan het, en as opgestane Verlosser, Hom alleen vertrou, om die gelowige volkome van die gevolge van sy sondeskuld te verlos.
1Ko 15:1 “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”
Glo jy dit?

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.