Sukkel met Sonde

Sukkel met Sonde

Vraag: Ek hoop jy kan my raad gee. Ek sukkel met ‘n sonde wat ek net nie kan oorkom nie. Ek sal dit pleeg en dan geweldig skuldig voel en probeer ophou daarmee, net om weer te val en te sondig. Ek dink nie ek is gered nie en ek wil ook nie verlore gaan nie. Ek moet net noem dat ek die Evangelie glo, maar op een of ander rede bly ek struikel en dit maak my verskriklik bang vir verse soos 1Korintiers 6:10
Kan jy my help asb!

Antwoord: Eers sal ek jou aanraai om nie oorhaastig vreesagtig te word indien jy gestruikel het nie. Die feit is, dat ons almal struikel en die Here het goed geweet, dat ons as mens nie die wet volkome kan gehoorsaam nie. Onthou dat ons in sonde gebore word en daarom sondig ons ook. Dit is ons natuur. Dit is hoekom Jesus Christus gekom het om vir ons sondes te sterf. Indien ons dit ooit sou kon regkry om sondeloos te lewe, sou Jesus se kruisdood in ons plek onnodig gewees het.
Rom 5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Jy moet duidelik verstaan dat jy, deur God se genade alleen, deur geloof gered word, daar is absoluut niks wat jy kan byvoeg nie. Dit is nie jou werke wat jou red nie, maar jou geloof in Jesus Christus en die feit dat Hy aan die kruis vir jou sondes gesterf het. Dit is dus geloof in Jesus Christus wat jou red, nie jou werke nie. Dit is belangrik dat jy hierdie feit begryp en glo, want juis in hierdie feit lê jou oorwinning oor jou sondes.

Kom ons gaan na die teksgedeelte wat jy opnoem, dan bespreek ons dit verder.
1 Korintiers 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”
Gelees op sy eie kan hierdie vers nogal baie angstigheid veroorsaak. Maar jy moet in gedagte hou dat elke vers in konteks van die hele Skrif gelees en verstaan moet word. Kom ons kyk wat sê die teksgedeelte net na vers 10.
1Ko 6:11 “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”
Let mooi op. Paulus stel alles wat plaasgevind het in die verlede taal. Daar het jy dit. Die Vader het jou regverdig verklaar omrede Jesus jou sonde aan die kruis op Homself geneem en betaal het. Dit beteken nie net sommige sondes nie, maar al jou sondes. Dit sluit sondes wat jy in die verlede, hede en in die toekoms nog gaan pleeg, in. As jy dus die Evangelie gehoor, verstaan en geglo het, praat Paulus hier van jou. Al jou sondes is betaal nie net sekeres nie, en dit beteken dat alhoewel jy gestruikel het, jy nog steeds God se kind is, omrede ook hierdie sonde wat jy gepleeg het, aan die Kruis voor versoening gedoen is .

Ek sou bekommerd gewees het indien iemand beweer dat Hy ‘n gelowige is, maar in sonde kan voortleef asof daarmee niks verkeerd is nie. Indien iemand in sonde kan voortleef sonder sonde oortuiging deur die Heilige Gees , moet mens wonder hoekom. Want dit is immers die Heilige Gees wat met heiligmaking in ons lewens besig moet wees.
1Ts 4:7 “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.
2Ts 2:13 Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid,”
en laastens
Heb 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;”
Indien die Heilige Gees iemand nie oortuig van sy sonde nie, dan kan daar met opregtheid gevra word of die persoon die Heilige Gees enigsins in hom het. Sulke mense is die mense na wie Paulus verwys en sy waarskuwing rig. Nie na jou nie. Paulus praat dus van mense wat nie weergebore is nie. Dit is mense wat nog in die lys van sondes voortleef, sonder enige sonde oortuiging. Hulle sonde pla hulle nie en hulle het ook geen begeerte om te breek daarmee nie, omrede daar geen oortuiging van die Heilige Gees in hulle harte plaasvind nie.
Rom 8:9 “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie”

Ook moet jy daarop let dat kinders van die Here wel sonde doen. Ons sal nooit waarlik vry van sonde wees, solank as wat ons nog in hierdie sondige liggame woon nie. Ons het ‘n sonde natuur, wat eers met ons afsterwe of die wegraping weggeneem sal word. Johannes waarsku ons teen die idee dat ons nie sonde het nie.
1Jo 1:8 “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.”
Wat jy ook baie mooi moet verstaan is die feit dat sodra ware gelowiges wel in sonde val, die Heilige Gees hulle sal oortuig van hulle sondes, maar hulle nooit sal verdoem nie. Indien jy struikel en daarna verdoemd voel, kan jy maar verseker weet dat dit nie die Heilige Gees is wat jou wil oortuig nie, maar die duiwel wat jou angstig wil maak en jou vrede wil steel. Die Heilige Gees sal jou nooit verdoemd laat voel nie, want Hy weet alte goed dat al jou sondes vergewe is en dat jy geensins hel toe kan gaan nie. Hy sal jou van jou sonde oortuig, sodat jy jou sonde kan laat staan en vergifnis vra en die verhouding tussen jou en die Vader weer op die regte voet geplaas kan word. Jou kindskap is glad nie in gedrang nie.
Efs 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”
Daar is nie een vers in die Bybel wat sê dat ‘n ware kind van God on-seël kan word nie. Nie een nie. So wees gerus, indien jy die Evangelie geglo het kan niks jou uit God se Hande neem nie.
Joh 10:28 “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Dit sluit jou ook in.

Nog ‘n feit om op te let, is wanneer ‘n gelowige in sonde verval, en dit nie wil laat staan nie, die Here daardie persoon sal straf en selfs sal toelaat dat so ‘n persoon sterf eerder as om hom toe te laat om in sy rebellie voort te gaan.
Heb 12:5 “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.”
Die wyse ding om te doen is om tot inkeer te kom en sondevergifnis te vra, dan is dit asof jy nooit daardie sonde gepleeg het nie.
1Jo 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

Nou hoe oorwin mens die sondes wat ons so maklik laat struikel? Onthou jy sal nooit sonde oorwin solank as wat jy op die wet staatmaak om dit te doen nie. Jy is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade. (Rom 6:14) Jy moet jou reken as saam met Christus gekruisig en dan in die geloof soos ‘n dooie mens reageer op die versoekings. Die sonde kan nie iemand verly om te sondig as daardie persoon alreeds dood is nie. Ons moet in geloof ons dood reken vir die sonde en in die opstanding krag van Jesus leef en in die Gees vir God lewe. Dan sal ons nie aan die sonde en versoekings toegee nie. Jy moet weet dat al die krag wat jy nodig het om oor sonde te heers, deur die Heilige Gees tot jou beskikking gestel is. Al wat jy moet doen is dit in geloof aanvaar en daarvolgens te lewe. En bid altyd deur! Lees asb die onderstaande gedeelte deeglik deur en maak dit deel van jou lewe.
Rom 6:1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?  6:2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? 6:3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 6:4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 6:5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 6:7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. 6:8 As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, 6:9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. 6:10 Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 6:11 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 6:12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 6:13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. 6:14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. 6:15 Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! 6:16 Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? 6:17 Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, 6:18 en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid. 6:19 Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking. 6:20 Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. 6:21 Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood. 6:22 Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”

Daar het jy jou oplossing vir jou probleem, en indien jy dit werklik in geloof toepas, sal jy opmerk dat dit werklik werk. Indien jy sou struikel, moenie moed opgee nie, maar herbevestig jou geloof, staan op en vra die Here om verskoning en reken jouself as dood vir die sonde. Hou ook jou oë gevestig op Jesus, want Hy is die begin en voleinder van jou geloof. Vertrou op Hom om die werk in jou te voltooi en moenie op jou eie krag staatmaak nie, anders gaan jy weer struikel. (Heb 12:2) Jy moet ook baie mooi verstaan dat heiligmaking ‘n lewenslange proses is wat behoort plaas te vind totdat ons, ons verheerlikte liggame sal kry wat vry sal wees van die sonde natuur.

Onthou altyd, ‘n ware gelowige struikel en val in sonde in, maar ‘n ongelowige lewe daarin. Daar is ‘n groot verskil. Hou moet, staan op indien jy struikel en vra om vergifnis en lewe dan in in geloof, jou oë gevestig op die Here Jesus Christus en wees sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. (Lees asb die artikel “Heiligmaking op grond van genade deur geloof” asook “Die Ewige sekuriteit van die gelowige” en laastens “Drie fases van verlossing“)

Ek hoop my antwoord het jou gehelp!

Seën Groete

Vic

 

Deel met ander asb.