Dispensasie van Onskuld

Dispensasie van Onskuld

Met hierdie artikel gaan die Dispensasie van Onskuld van nader bestudeer word. Die Dispensasie van Onskuld is die eerste dispensasie van sewe dispensasies wat ons in die Skrifte vind. Die ander dispensasies is soos volg: Die Dispensasie van Gewete; Die Dispensasie van Menslike Owerheid; Die Dispensasie van Belofte; Die Dispensasie van die Wet; Die Dispensasie van Genade/Kerk; en laastens die Dispensasie van die Koninkryk. God het die mens in onskuld geskape en daarom noem ons die eerste dispensasie die Dispensasie van Onskuld. (die leser word aangeraai om die illustrasie “Die Sewe Dispensasies” te bestudeer.)

Gen.1:26 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. 29 Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. 30 Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ‘n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so. 31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”
Die feit dat God alles as “baie goed verklaar” beteken dat daar geen boosheid, sonde, dood of enige smart of moeite op aarde was nie, maar eerder dat alles perfek was.

Opmerking:

  • Die mens is in God se beeld en gelykenis geskape as man en vrou: Die mens is as God se beelddraer met die doel geskep om as Sy verteenwoordiger, oor die aardse gedeelte van God se universele koninkryk te regeer en ongehinderde gemeenskap met Hom te geniet. Onthou, God se doel met Sy raadsplan van die eeue is om Homself deur Sy Soewereiniteit, en genade, te verheerlik d.m.v. die skepping, en Sy verlossing daarvan, wat volkome in die oprigting van Sy Koninkryk op aarde in Christus uitdrukking vind. God het dus ‘n plan vir Sy hele skepping en Hy sal in die proses ‘n einde aan alle goddeloosheid op aarde en die hemele maak. God het ook die mens as “man en vrou” geskape en dus is dit God wat oorspronklik die biologiese onderskeid tussen die man en vrou daar gestel het, en daarom vind ons dat daar biologiese verskille tussen mans en vroue is. Ons lewe huidiglik in ‘n samelewing wat teen hierdie orde van God rebelleer en poog om alle verskille tussen mans en vroue uit te wis. Soos wat die mens toenemend teen God se openbare wil rebelleer, vind ons ook dat die mens teen die geslagsonderskeiding soos wat God dit bepaal het wil rebelleer. Die Transgender Beweging dien as goeie voorbeeld van hierdie vorm van rebellie. Boonop het die mens met emosies, mentaliteit en ‘n wil geskape, en in hierdie opsig is die mens in die beeld van God geskape. So ook het God die mens met ‘n gees en siel geskape, waarin hierdie emosies, mentaliteit en wil hoofsaaklik gesetel is en daarom is die mens in staat om gemeenskap met God te geniet. (indien hy wil) In hierdie opsig verskil die mens se siel van die van diere. Diere beskik nie oor die vermoë en vrye wil om God te aanbid nie, en daarom sien ons nie dat diere die Here aanbid nie.
  • Die mens in onskuld geskape: Die feit dat die mens in God se beeld geskape is, en die feit dat God alles as “baie goed” verklaar het, dien as bewys dat daar geen boosheid, sonde, dood of enige smart in God se skepping teenwoordig was nie. Die mens was dus sonder sonde en was fisies (geneties) asook geestelik perfek. Omrede die mens in onskuld, en sonder sonde geskape was, was hy positief ten opsigte van God georiënteer. Die mens het egter oor ‘n vrye wil beskik, en was dus in staat om anders te besluit indien hy dit so sou verkies. In hierdie opsig was die mens nie in sy sondeloosheid bevestig nie en kon dus ter enige tyd teen God rebelleer. In die ewigheid, wanneer ons as gelowiges, met ons verheerlikte liggame oorklee sal wees, sal ons in ‘n bevestigde toestand van onskuld bevestig word en sal nooit weer in staat wees om te sondig nie. Die rede hiervoor is dat gelowiges gekies het om die evangelie te glo, en sodoende het hulle gekies om God deur Christus te glo en sodoende verseker dat hulle nooit weer verlore sal kan gaan nie. (wat noodwendig ‘n bevestigde toestand van sondeloosheid vereis.) Die mens sal dus nog steeds oor ‘n vrye wil beskik, en nog steeds keuses maak, maar hy sal altyd die regte besluit maak omrede hy in ‘n toestand van absolute positiewe oriëntasie tot God (wat Sy wil insluit) bevestig sal wees.
  • God het die mens geseën: Die Dispensasie van Onskuld begin dus met God se seën, maar soos wat ons later sal sien, eindig die Dispensasie van Onskuld in God se oordeel omrede die mens willens en wetens teen Hom gerebelleer het.
  • God het aan die mens ‘n heerskappy mandaat oor die aarde gegee: Die mens was as God se beelddraer en verteenwoordiger (en dus ‘n rentmeester) opdrag gegee om oor die aarde, en alles daarop, namens Hom en tot Sy eer, te heers.

Die mens se getoets d.m.v. ‘n Godgegewe beperking en meegaande sondeval:

Gen.3:1 “Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaar gewerk en vir hulle skorte gemaak.”

Opmerking:

  • Adam se perke vasgestel d.m.v ‘n spesifieke toets wat vooraf aan hom gegee is: Ware liefde en gemeenskap vereis ‘n vrye wil, en daarom het God die mens met ‘n vrye wil geskape. Die mens kon dus van sy wil gebruikmaak, en besluit of hy God wil eerbiedig en met Hom ‘n verhouding wil hê of nie. (Waar ‘n vrye wil ontbreek kan ware liefde nie bestaan nie) Vir hierdie rede het God aan die mens een spesifieke toets gegee, naamlik om nie die perke wat God daar gestel het te oorskry nie, en poog om soos God die verskil tussen goed en kwaad te ken nie. Satan het egter die mens verlei, en Adam het willens en wetens teen God gerebelleer. As die man se helper, is die vrou deur Satan verlei, maar Adam het willens en wetens teen God gerebelleer en van die vrug geëet. En om hierdie rede het sonde deur Adam in die wêreld gekom.
    1Tim.2:14 “En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”
  • Die mens misluk: Satan wat deur die slang gewerk het, het aan die vrou die belofte voorgehou, dat indien hulle van die vrug sou eet hulle nie sou sterf nie, maar eerder dat hulle oë sou oopgaan, en soos God sou word wat die onderskeid tussen goed en kwaad ken. Die mens het toe die beperking wat God daar gestel het oorskry, en het van die verbode vrug geëet, met die verwagting dat hulle soos God sou word. (wat niks anders as ‘n poging is om hulleself met God gelyk te stel nie) Om hierdie rede is die meerderheid van die mensdom nog steeds slagoffers van hierdie delusie, omrede hulle dink dat hulle God is. Hindoeïsme, asook die Nuwe Era Beweging dien as voorbeelde van die groepe.) Toe die mens van die verbode vrug geëet het, het hulle oë wel oopgegaan, maar hulle het nie soos God geword wat slegs kennis van goed en kwaad ken nie, maar hulle het dit beleef en sonde het deel van hulle bestaan geword. (die mens se strewe om homself tot God se vlak te verhoog, het toe eerder tot sy val aanleiding gegee.) Die mens het geestelik gesterf en boonop ‘n sonde natuur ontvang. In stede daarvan dat hulle soos God sou word, het hulle eerder soos Satan geword. Die perke wat God daar gestel is vir die mens se eie voordeel en daarom moet ons nie God se perke oorskry nie. Sonde het altyd gevolge! Adam en Eva was die enigste mense wat sondaars geword het, maar die hele menslike ras wat uit hulle voortgekom het (alle mense op aarde) word a.g.v. Adam se rebellie as sondaars gebore omrede Adam sy sondige natuur aan sy kinders oorgedra het. Om hierdie rede het Dawid die volgende stelling gemaak, naamlik:
    Ps.51:7 “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”
    Ons almal, as Adam se nasate, word as sondaars gebore, Adam het het egter ‘n sondaar geword omrede hy gekies het om een te word.
  • Adam het van sy Godgegewe wil gebruik gemaak om te rebelleer: Die vier aspekte van Adam se sonde was soos volg: 1. In stede daarvan dat hy sy vrou gelei het, het hy toegelaat dat sy hom lei. 2. Die mens moes boonop oor die diere heers, maar die mens het toegelaat dat ‘n dier oor hulle heers. Daar het dus ‘n omkeer van God se orde plaasgevind. 3. Adam het willens en wetens God se verbod verontagsaam. 4. En laastens was daar ‘n element van trots/hubris want hy het gedink dat hy soos God sou word, iets wat nooit kan gebeur nie. Daar is slegs een God. Daarenteen was Eva mislei, want God het sy verbod aan Adam gegee, en as hoof van die huis moes hy die korrekte leiding verskaf het. Adam was egter nie mislei nie en het willens en wetens God se opdrag verontagsaam.
    1Tim.2:10 “maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. 11 Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. 12 Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. 13 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. 14 En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”

  • A.g.v. die sondeval is die mens deur sonde geskend: Na die sondeval het Adam nie meer God se beeld volkome gereflekteer nie. As ‘n gevalle wese, wat nou oor ‘n sonde natuur beskik het (met al die meegaande sondige karaktertrekke, soos byvoorbeeld die begeerte om homself te verheerlik en onafhanklik van God sy eie ding te wil doen), het Adam eerder nou Satan se beeld gereflekteer. Dit beteken egter nie dat die mens glad nie meer God se beeld reflekteer nie. ‘n Mens besit nog steeds ‘n wil met die meegaande kapasiteit om kreatief te wees, mooi musiek te geniet en die mooi in die skepping/lewe waar te neem en te geniet. In hierdie opsig reflekteer dit nog steeds God se beeld, maar daardie beeld van God is egter deur sonde geskend. En omrede Adam nou ‘n gevalle natuur bekom het, het hy hierdie sonde natuur aan al sy nasate oorgedra en daarom is dit nodig dat alle mense deur God verlos moet word.
    Rom.5:19 “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.
    Rom.3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Die slang, Satan, die vrou asook Adam word geoordeel, naamlik die vloek:

Gen.3:6 “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. 7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaar gewerk en vir hulle skorte gemaak. (‘n gevalle mens se poging om hulleself by God deur hulle eie goeie werke met God te versoen. Alle valse godsdienste vereis goeie werke en sal deur God verwerp word. Dit sluit ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom in) 8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. 9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. 11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?12 En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. 13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet. 14 Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. 16 Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. 17 En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. 18 Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. 19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. 20 En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe. 21 En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.”

Opmerking:

  • God oordeel die slang:
    Noudat die sondeval plaasgevind het, het Adam ‘n sonde natuur ontvang, en dit manifesteer hier in sy antwoord aan God, deurdat hy indirek God blameer omrede dit God is wat Eva aan hom gegee het. Eva verskuif die blaam weer na die slang waarop God eerste by die slang begin en hom oordeel deurdat die slang op sy maag sal seil en stof sal eet. (Dit wil voorkom dat die slang voor die sondeval regop kon beweeg anders sou dit nie ‘n straf vir hom wees om op sy maag te seil nie. Dit mag ook wees dat die slang ‘n prominente dier was, en omrede hy homself teen die mens, wie oor hom moes regeer wou verhef, deur ongewensde raad te gee, het God hom die laagste plek in die diereryk gegee.) Onthou, die mens moes oor die dier regeer, nie die dier oor die mens nie!
  • God se oordeel oor die Satan: Satan, die goddelose invloed wie die heeltyd agter die slang se optrede gesit het, word nou deur God geoordeel. God sal vyandskap tussen die saad van Satan en die saad van die vrou stel. Die vrou se kind, naamlik die Here Jesus Christus, wie uit die vrou in die wêreld sou kom (nie uit Adam nie) sou die slang se kop vermorsel, deurdat Hy met Sy kruisdood die oorwinning oor Satan sal behaal wat tot Satan se ondergang in die poel van vuur aanleiding sal gee. In die proses sou Satan egter die kind seermaak, deurdat Satan die hoof aanhitser agter Christus se kruisiging was. God gebruik egter Satan se plan om die mensdom se verlossing te bewerkstellig. (Die leser word aangeraai om die artikel “Christus se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees.)
  • God se oordeel oor die vrou:
    Vir die vrou se rol in die sondeval, sou sy met pyn geboorte skenk. A.g.v. die sondeval, beskik die vrou nou oor ‘n sonde natuur, en sy sal nou geneig wees om die man se rol as hoof van die gesin vir haarself toe te wil eien. Die man daarenteen sal nou a.g.v. sy sonde natuur geneig wees om met hardhandigheid oor die vrou te wil regeer, eerder daarvan om haar in liefde te lei, koester, beskerm en te versorg. (Sien verder Ef.5:22-30.)

  • God se oordeel oor die aarde, waaroor die mens met genot moes heers:
    God het direk aan Adam die opdrag gegee om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie. Hy moes dus gekeer het dat sy vrou van die vrug eet in stede daarvan om saam met haar die vrug te eet. In hierdie opsig het hy nie sy rol as hoof van die gesin vervul nie.Dit is nie geensins verkeerd vir ‘n man om na sy vrou se raad te luister nie, in een opsig sou dit baie dwaas wees om dit nie te doen nie, maar die vrou se raad moet verwerp word wanneer daardie raad met God se woord in stryd is. En dit geld nie net vir raad wat van ‘n vrou mag afkom nie, maar vir enige raad wat met God se opdragte soos in die Skrifte gevind in botsing kom. A.g.v. die mens se rebellie sal die aarde ook nie meer so vrugbaar wees nie en die mens sal van nou af met moeite ‘n lewe uit die grond maak. Waar daar voor die sondeval geen bossies en dorings was nie, sal die grond nou bossies en dorings voortbring wat die lewe vir die mens aansienlik sal bemoeilik.

  • God se oordeel oor die mens en sy arbeid: Genotvolle arbeid was ‘n Godgegewe seën net soos wat seks is. Omrede die mens teen God gerebelleer het sou dit wat hy baie moes geniet nou ‘n moeitevolle ondervinding word. Dit is vanselfsprekend dat voor die sondeval menslike arbeid verskriklik genotvol en moeiteloos was. Om hierdie rede is die bevel om die aarde te bewerk nie as toets aan die mens voorgehou nie, omrede die mens nie oor ‘n sonde natuur beskik het nie, en die feit dat arbeid vir die mens lekker was sou die mens dit outomaties doen. Dus was daar geen moontlikheid dat die mens nie hierdie opdrag van God sou verontagsaam nie, maar dit was eerder iets wat hy baie sterk begeer het om te doen. Die feit dat die Here vir hulle klere van vel gemaak het, demonstreer dat dit God is wat die mens d.m.v. die dood van ‘n plaasvervanger sou verlos. Om hierdie rede kan ons nou met reikhalsende verlange begeer om met ons verheerlikte liggame oorklee te word. God sal alles wat Satan, asook die mens, deur hulle rebellie ongedaan gemaak het weer volkome herstel en nog onbeskryflik meer byvoeg. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Waarom gaan gelowiges nog steeds dood” te lees.)

Die Dispensasie van Onskuld kom tot ‘n einde:

Gen.3:22 “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!23 Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. 24 So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.”

Opmerking:

  • Boonop sou die mens nou fisies ook tot sterwe kom, en met sekere uitsonderings sou fisieke dood deel van die mens se bestaan word. (Elia en Henog is in die Ou Testament weggeraap, en wanneer die Kerk Dispensasie tot ‘n einde kom, sal die gelowiges wat nog leef ook weggeraap word en fisiese dood vryspring.) In God se straf is daar egter ook ‘n versteekte seëning. Omrede die mens nou vatbaar vir siekte en lyding is, sou dit beter vir die mens wees om tot sterwe te kom. Omrede die mens met ouderdom agteruitgaan, sou ‘n persoon wat vir ewig in daardie toestand moes voortlewe se lewe toenemend in ‘n lewende hel verander het, veral indien mens die smarte van siektes soos kanker in ag neem. Boonop sou die mens in sy gevalle toestand moreel agteruitgaan, wat tot die Antichris se een man wêreld diktatorskap sou uitloop. Die lewe onder die komende bevind van die Antichris sal die lewe onder tiranne soos Stalin, Hitler en Mao Zedong soos ‘n vakansie sou laat lyk.

Ter Afsluiting: God het die mens in onskuld geskape, en hom in ‘n perfekte omgewing geplaas, met die doel dat hy namens God oor die aarde sal heers. Dus is die mens na God se beeld geskape om as Sy verteenwoordiger oor die aardse gedeelte van God se universele koninkryk te regeer en ongehinderde gemeenskap met Hom te geniet. Vir liefde om ware liefde te wees, moes God die mens met ‘n vrye wil skape, sodat die mens uit vrye wil kan besluit of hulle God wil liefhê en gemeenskap met Hom wil geniet. (Gedwonge liefde is nie liefde nie) Vir hierdie rede het God aan die mens een toets gegee, naamlik om nie sy perke te oorskry en poog om soos God die verskil tussen goed en kwaad te ken nie. Satan het egter die mens verlei, en Adam het willens en wetens teen God gerebelleer. As die man se helper, is die vrou deur Satan verlei, maar Adam het met opset teen God gerebelleer en van die vrug geëet, naamlik:
1Tim.2:14 “En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”
Die Dispensasie van Onskuld het tot ‘n einde gekom toe God die betrokke partye vir hulle sondes gestraf het en die mens uit die tuin van Eden gesit het. God se plan vir Sy skepping was egter nie deur Satan en die mens se rebellie gekniehalter nie, maar het eerder tot die volgende dispensasie in God se raadsplan aanleiding gegee, naamlik die Dispensasie van Menslike Gewete. Ons sal die dispensasie van Menslike Gewete in die volgende artikel van nader bekyk.

Seën groete

Vic

Deel met ander asb.