God se Liefde en Alwetendheid vs die Mens se Rebellie

God se Liefde en Alwetendheid vs die Mens se Rebellie

Vraag: Hi Vic, ek het al jou artikels op die blad gelees. Dit is baie leersaam. Ek het ‘n vraag wat lank in my gedagtes is. Ek glo volkome in God en dat Hy alwetend is. Die vraag vra ek met die grootste respek. Hoekom het God die mens gemaak as hy geweet het dat die mens gaan sondig en dat dit sy Seun se lewe gaan kos om ons te red. Hy het ons nie as robotte gemaak nie maar met ‘n wil. Nogtans…..
Groete.

Antwoord: Dit is ‘n baie goeie vraag en ek dink daar is baie gelowiges wat met dieselfde vraag worstel. Die antwoord op jou vraag, glo ek, is gesetel in wie God is, soos wat Hy Homself in die Bybel aan die mens openbaar. Hierdie feit is nogal belangrik, want daar is groot gedeeltes van die belydende Christendom wat ‘n konsep van die Here handhaaf wat nie ooreenstem met hoe God Homself in die Bybel aan ons openbaar nie. Daar is dus teoloë wat beweer dat die Here liefde is, en om hierdie rede sal Hy niemand na die poel van vuur verdoem nie. Alhoewel die Here ‘n God van liefde is, stel die Bybel dit egter duidelik, dat Hy ook ‘n God van geregtigheid is en daarom moet Hy sonde straf. Dit wil dus voorkom asof daar ‘n paradoks is, maar die oplossing lê in wie die Here is. (Ek sal later meer oor hierdie punt uitbrei) God kan op geen stadium in stryd met enige van Sy attribute optree nie, want dan sal Hy nie meer God wees nie. Die Bybel stel dit egter baie duidelik, dat iemand wat die Evangelie verwerp in die poel van vuur gewerp sal word.
Joh 3:35 “Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”

Ander beweer weer, dat die mens nie oor ‘n vrye wil beskik nie, en dat die Here sommige mense uitverkies het om gered te word en die ander het Hy uitverkies om verdoem te word. Hierdie leerstelling beweer, dat sommige mense nog voordat hulle gebore is deur God bestem is om in die poel van vuur gewerp te word. Die Bybel stel dit egter duidelik, dat die mens wel oor ‘n vrye wil beskik, en dat die mens vir sy eie keuses verantwoordelik gehou gaan word. Indien die mens nie oor ‘n vrye wil beskik het nie, sou sulke waarskuwings sinneloos wees. Die Here kan nie sinneloos optree nie, want Hy is heilig en alwetend. Die Bybel is egter vol waarskuwings, asook oproepe van God aan die mensdom om hulleself tot Hom te bekeer. (Hoekom sulke oproepe maak, indien dit nie die Here se wil is om hulle te red nie?)
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
Daarom is dit belangrik om seker te maak, dat ons ‘n korrekte konsep van God handhaaf, soos wat Hy Homself in Sy woord aan ons bekendstel en nie ons teologie in die Bybel inlees of op die Bybel afdwing nie. Onthou, dit is die Here se plig om Homself deur Sy woord aan ons te openbaar. Ons moet daarteen waak om nie God volgens vooraf opgestelde teologiese idees op te maak nie, anders bestaan die gevaar dat ons maar net besig is om ‘n afgod in ons eie verbeeldings en na ons eie smaak te skep. ‘n God wat nie die ware God van die Bybel is nie en wat ons ook nie sal kan verlos nie!

Vervolgens net ‘n kort opsomming van God se attribute en wese, soos wat die Bybel Hom aan ons bekendstel.
Die Drie-Enige God (God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees) se self bestaan. ( God is die absolute ongeskape Bron en Skepper van alles. Hyself beskik egter oor ‘n ewige bestaan en is dus nie geskape nie.)
God is eindeloos en onbeperk. (God is alwetend – Hy beskik oor onbeperkte kennis. God is almagtig – Hy beskik oor onbeperkte krag. God is alomteenwoordig – Hy beskik oor onbeperkte teenwoordigheid. Daar is dus nie ‘n plek waar God nie teenwoordig is nie of daar is niks wat Hy nie weet of sien nie.)
God is Gees (God is ‘n eindelose Gees)
God is onveranderlik (God is getrou – Hy is absoluut betroubaar. God is waarheid – Hy is absoluut eg, outentiek en geloofwaardig.)
God is Heilig (God is absoluut geregtig – Hy doen altyd wat reg is. God is absoluut eerlik – Hy is nooit partydig nie en is ook nie die die aannemer van die persoon nie.)
God is Liefde (God is absoluut goedertieren – Hy is altyd barmhartig en goedhartig. God is absoluut genadig – Hy is altyd vrygewig en vergewensgesind. Sy vrygewigheid en vergewensgesindheid verskaf altyd wat Sy heiligheid verrys.)

Vir die Here om ‘n moreel verantwoordelike wese te skep, wat oor die vermoë beskik om waarlik lief te kan hê, moes God die mens met ‘n vrye wil geskape het, anders sou die mens nie werklik oor die vermoë beskik het om waarlik lief te kon hê nie. Vir God om ‘n mens te skep wat nie oor ‘n vrye wil beskik nie, sou beteken dat daardie mens maar net ‘n vooraf geprogrammeerde robot is, wat geprogrammeer is om lief te hê, en boonop sou die Here hom nie vir sy keuses verantwoordelik kon hou, en nog steeds geregverdig optree as Hy hom vir daardie keuses verantwoordelik hou nie. Boonop sou so ‘n persoon nie werklik oor ware liefde beskik het nie en sy liefde sou maar net ‘n vooraf geprogrammeerde reaksie gewees het. Die mens sou dus ‘n robot wees en liefde sou nie werklik liefde gewees het nie. Vir liefde om ware liefde te wees, moes die Here die mens met ‘n vrye wil skep, met die vermoë om op grond van daardie vrye wil te kan kies om lief te hê of nie lief te hê nie. As die mens nie oor ‘n vrye wil beskik het om te kan kies om lief te hê nie, dan sou liefde nooit ware liefde kon wees nie. Slegs om hierdie rede kon die Here Jesus Christus die onderstaande stelling aan Sy dissipels gemaak het.
Joh 14:15 “ As julle My liefhet, bewaar my gebooie. 14:21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Indien Jesus se dissipels nie oor ‘n vrye wil beskik het om Jesus Christus lief te kon hê nie, sou die bostaande stelling van Jesus sinneloos wees. Jesus kon en het die bostaande stelling aan Sy dissipels gemaak, omrede Hy bewus van die feit was, dat hulle oor ‘n vrye wil beskik het en hulle liefde vir Hom, deur die onderhouding van Sy gebooie, te demonstreer. (‘n Keuse wat hulle en ons self moes maak.)

Die Here is boonop alwetend en weet alles ten alle tye. Daarom het Hy geweet dat die mens in sonde sou val, nog lank voordat Hy hulle geskape het. Soos alreeds in die paragraaf oor God se Wese genoem is, is God onveranderlik en dus absoluut betroubaar. Ja, Hy het geweet dat die mens sou val, en Hy was geensins onder die verpligting om Sy Seun te stuur om vir ons sondes te kom sterf nie, maar onthou God is liefde! En Hy tree nooit teenstrydig met Sy wese of attribute op nie!
Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
En omdat die Here absoluut betroubaar is, het Hy op grond van nog ‘n attribuut van Hom, naamlik Sy liefde, Sy enigste Seun na die aarde gestuur, sodat Hy die Seun in die plek van die sondige mensdom kon veroordeel en daardeur Sy attribuut van geregtigheid bevredig. God moes so optree, omrede Hy wat God is, Heilig en regverdig is, en Hy kan nie sonde ongestraf verby laat gaan, sonder om Sy attribuut van geregtigheid te skend nie.
Rom 3:21 “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 3:22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. 3:25 Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God 3:26 om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.”

Maar kon die Here nie maar net die mens gelos het, sodat die mens vir sy eie rebellie betaal nie? Ja, die Here kon dit doen, en dan sou Hy nog boonop regverdig gewees het! Maar ons moet onthou, dat een van God se attribute liefde insluit, en soos reeds gestel, kan God nie teen Sy wese in optree nie. Die Here se liefde sluit Sy goedertierenheid, genade, barmhartigheid, asook Sy vergewensgesind in, en dit is juis hierdie eienskappe van God wat verseker dat Hy sal verskaf wat Sy Heiligheid en geregtigheid verys, naamlik die Seun en Sy voltooide werk aan die kruis. Daar was geen ander manier waarop die Here die mens kon red nie, en daarom het die Seun, wat God self is, Sy lewe in genade en liefde vir ons aan die kruis neergelê. God kan nie teen Sy wese en attribute optree nie, en daarom kan ons verseker wees, dat Hy altyd in Sy alwetendheid ‘n plan sal kan uitwerk, wat nie met Sy ander attribute in botsing sal kan kom nie, en wat Sy attribuut van genade en vergewensgesindheid ook kan bevredig. Al kos dit die dood van Sy eniggebore Seun! Hy kan nie anders optree nie! Hy doen wat Hy doen, omdat Hy is wie Hy is! Om hierdie rede kom alle eer en heerlikheid God toe, en is dit ‘n gruwelike sonde om die eer wat Hom toekom op onsself te wil neem, of om Sy liefde vir ons te bevraagteken. Die Here is geheel en al toegewyd aan ons!

Die Here se wese en attribute (dit is wie Hy is) verhoed dus dat Hy Sy enigste Seun sou spaar as Hy die mensdom van verderf kon red. (God kan nie teenstrydig met enige van Sy attribute optree nie! Onthou hierdie waarheid) Dit is nie slegs die Vader wat Sy Seun gestuur het om Sy lewe vir ons af te lê nie, maar die Seun, wat een is met die Vader in wese asook in doel, het self besluit om Sy lewe vir ons af te lê.
Joh 10:15 “Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. 10:18 Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.”
Soos reeds gestel: “God doen wat Hy doen omdat Hy is wie Hy is!”

Sou dit dan nie beter gewees het as die Here nie die mens geskape het en daardeur Homself al die lyding en seer gespaar het nie? Nee, want soos reeds hierbo verduidelik, kan God nie ten koste of teen enige van Sy attribute optree nie. Omdat die Here alwetend is, het Hy geweet dat die mens deur Satan verlei sou word en in sonde sou val. Maar God het op dieselfde oomblik geweet, dat Hy Sy enigste Seun sou stuur om vir die sonde van die mens aan die kruis versoening te doen. Verder was God bewus van die feit, dat daar wel uit die mensdom sekere mense sou wees, wat die voltooide werk van Christus aan die kruis vir hulle in geloof sou aanneem, en dus vir ewig in die onuitspreeklike vrede, vreugde en heerlikheid in Sy teenwoordigheid sou deurbring.
Rom 8:29 “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; 8:30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”
Dit is opmerklik dat van die wat die Here deur Sy voorkennis geweet het die Evangelie sou glo, almal ook verheerlik is en dat daar niemand van hulle deur die hele proses vanaf God se voorkennis, hulle roeping, hulle regverdiging, en uiteindelik hulle verheerliking verlore sal gaan nie. Die wat dus vooraf geken is, is dan ook verheerlik. Onthou Jesus se woorde:
Joh 10:27 “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 10:30 Ek en die Vader is een.
Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”

Met die voorkennis dat daar vir ewig saam met Hom, gelowiges sou wees wat nie daar sou wees indien Hy hulle nie geskape het nie, net omdat hulle sou sondig en dat dit Sy Seun se lewe sou kos om hulle te verlos, is nie vir die Here, wie se een attribuut liefde is, genoeg rede om nie die mens te skape nie. Onthou die Here doen wat Hy doen, omrede Hy is wie Hy is! God is liefde en Hy het ons so lief dat Hy Homself niks sal spaar om ons van die gevolge van ons sondes te red nie! Hierdie is die ware God van die Bybel, omrede Hy is wie Hy is! En onthou Paulus se woorde:
Rom 8:38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 8:39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
En asof dit alles nie genoeg is nie!
1Ko 2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Vir ons as gelowiges lê die beste nog voor!

Maar wat van die arme mense wat vir ewig na die poel van vuur gestuur gaan word? Daardie mense sal net hulleself kan blameer. Die Here het in Sy genade alles moontlik gedoen om hulle van die gevolge van hulle sondes te red, en het selfs nie Sy eie Seun gespaar nie. Diegene wat God se geskenk van die Evangelie verwerp sal, deur God, op hulle werke veroordeel moet word. Onthou God kan nie ten koste van een van Sy attribute optree nie. Alles moontlik is deur die Here gedoen wat gedoen kon word, en daar bly geen oplossing buite die Here Jesus se voltooide werk aan die kruis oor nie. Om hierdie rede is slegs Jesus Christus die weg na die ewige lewe en is daar geen verlossing buiten Hom nie.
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Boonop sou die Here onregverdig gewees het, om glad nie die mens te skep, net omrede daar sekeres sal wees wat Hom sou verwerp het, want dan sou God die gelowiges wat nooit geskep sou word, die voorreg van Sy teenwoordigheid moes ontneem, iets wat onregverdig sou wees. Onthou God is nie onregverdig nie en is ook nie die aannemer van die persoon nie. Dit is nie die Here se wil dat enige persoon verlore moet gaan nie. Mense gaan verlore, omrede hulle kies om nie God se gawe van die ewige lewe in geloof te aanvaar nie. Dit is hulle keuse en hulle gaan vir daardie keuse verantwoordelik gehou word.
2Pe 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.
Joh 12:47 En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie; want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red. 12:48 Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.”
Dit is nie God se wil dat iemand verlore moet gaan nie, maar omdat die mens oor ‘n vrye wil beskik, gaan daar wel mense wees wat verlore sal gaan, maar hulle sal nooit God vir hulle eie keuses kan blameer nie.

Ons aanbid ‘n onbeskryflike wonderlike God en kan met absolute sekerheid weet dat Hy ons liefhet, so liefhet dat Hy nie eers Sy eie Seun gespaar het nie! Hy het ons so lief, dat selfs nadat Hy geweet het dat die mens sou sondig, en dat dit Sy Seun se lewe sou kos om ons te verlos, hy nog steeds voortgegaan het en die mens geskape het met die wete dat daar van hulle Sy Evangelie in geloof sou aanneem en vir ewig in Sy teenwoordigheid saam met Hom sou wees. Dit is liefde! God het die hoogste prys betaal, wat kon betaal gewees het, om ons te red!
Rom 8:32 “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”
Alle gelowiges behoort mooi oor die implikasies van bostaande stelling na te dink. Alle eer aan die Here, want net Hy verdien dit werklik! Om hierdie rede behoort alle gelowiges, uit dankbaarheid, Christus as toegewyde dissipels na te volg. Dit is ‘n tragedie dat sekere gelowiges, ten koste van hulleself, kies om dit nie te doen nie! (Lees asb die artikel “Gelowiges se werke gaan beoordeel word“)

Ek hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag, en die lees daarvan seën jou soos wat dit my geseën het om dit te skryf! Ons dien ‘n ongelooflike groot God!!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.