Die Kerk

Is die Kerk nog relevant?

Is die Kerk nog relevant? Om hierdie vraag te beantwoord is dit belangrik dat ons vasstel wat die Kerk volgens die Bybel is, omrede die Bybel die maatstaf is waarteen ons alle feite moet meet. Volgens die Bybel is slegs wedergebore persone, wat die Evangelie geglo het, deel van die ware Kerk. Met wedergeboorte doop die Heilige Gees die gelowige in Christus in. (Gal 3:27) Verder doop die Heilige Gees ook die gelowige in die liggaam van Christus in. (Die Kerk) (1Ko 12:12-13) Die ware Kerk bestaan dus nie uit ‘n denominasie, gebou of organisasie nie. Die ware Kerk is ‘n lewende organisme wat uit alle wedergebore kinders van God uit bestaan en wat direk onder die gesag van Jesus Christus moet funksioneer en wat deur die Heilige Gees gelei moet word.
Efs 2:19 “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God,
2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is,
2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here,
2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
4:15 “maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,”

Omrede die Kerk dus slegs uit wedergebore Christene bestaan, is dit ook net logies dat dit volgens God se woord die Bybel bedryf moet word. Slegs die Bybel kan as maatstaf vir die doktrines en bestuur van die Kerk gebruik word. Om die Skrif met buite Bybelse metodes te vervang of om buite Bybelse metodes met die Skrifte gelyk te stel sal ‘n gemeente oopstel vir ernstige verleiding. Jesus Christus het vooraf geweet wat ons, as Sy liggaam, gaan nodig kry om reg te funksioneer en daarom het Hy dit in Sy woord vir ons laat opteken.
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Dit is baie duidelik dat die Skrif al is wat ons nodig het en daarin sal ons ook die nodige doktrines ontvang om as Kerk reg te funksioneer. Hierdie feite alleen weerlê die bewerings wat deur seker teoloë en leraars gemaak word, wat beweer dat die Kerk nie meer relevant in die moderne samelewing is nie.

Ware Christenskap is baie meer as net ‘n godsdiens! Dit is ‘n persoonlike verhouding met ‘n Persoon, naamlik Jesus Christus, en as sulks transendeer hierdie verhouding alle tydperke, gelowe, nasionaliteite, rasse en kulture en kan ook nie deur hierdie groepe voorgeskryf of beheer word nie. Ook kan die standaarde vir lidmaatskap tot die ware Kerk geensins aangepas of verlaag word om mense te akkomodeer, soos wat sommige teoloë deesdae wil beweer nie. Nêrens in die Bybel het die Here ooit vir Sy dissipels gesê dat die Kerk gewild op aarde sal wees nie. Inteendeel het Hy hulle gewaarsku dat hulle dit moeilik in hierdie wêreld sal hê en dat die wêreld hulle sal haat omrede die wêreld Hom haat.
Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.
15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”
Die Bybel stel dit ook baie duidelik dat hierdie bose wêreld in die mag van Satan is en as sulks kan ons verseker weet dat die Kerk of enige gelowige nie in hierdie wêreld verwelkom sal word nie. Die eenvoudige waarheid is dat die ware Kerk nooit deur ongelowiges as relevant beskou sal word nie. Hoekom wil die hedendaagse predikers en teoloë die kerk dan gewild op aarde maak, as Jesus dit alreeds duidelik gestel het dat die ware Christene nie gewild op aarde sal wees nie. Weet die hedendaagse geleerdes meer van God se Kerk af as wat God self weet?

Nêrens in die Bybel word ons aangesê om die Kerk meer relevant vir die wêreld te maak nie, nêrens! Inteendeel word ons aangesê om mense wat beweer dat hulle gelowiges is en in openlik sonde leef uit die gemeentes uit te sit, om sodoende die ware Kerk te suiwer van sonde.
1Ko 5:13 “Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”
Deesdae hoor mens dat mens nie te veel oor sonde, die Hel en die Kruis van Jesus moet preek nie, want dit sal mense aanstoot gee en verhoed dat hulle kerk toe kom. Of daar word beweer dat die Kerk koud en dood is. Wel as jou kerk koud en dood is dan beteken dit dat Jesus en die Heilige Gees nie daar werksaam is nie en dat jou kerk dalk nie werklik deel van Jesus Christus se liggaam is nie. Verder word beweer dat doktrines die kerk verdeel en dat ons in die naam van liefde verby doktrines moet kyk en punte soek waaroor ons saam kan stem en daarop bou. Dit is egter net mooi die teenoorgestelde wat die Bybel ons leer. In die Pastorale Briewe van Paulus het hy juis doktrines beklemtoon!
1Ti 4:16 “Let op jouself en op die leer;(Doktrines) volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.
2Ti 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer (doktrines) nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
Tit 1:7 “Want ‘n opsiener moet as ‘n rentmeester van God onberispelik wees, nie eiesinnig, nie oplopend, geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie;
1:8 maar gasvry, een wat die goeie liefhet, ingetoë, regverdig, heilig, een wat homself beheers;
1:9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer (Doktrines) is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer (Doktrines) te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.”

Hoe verder ‘n kerk weg van die doktrines, wat in die Bybel opgeteken staan, beweeg en op eie interpretasies, wêreldgesindeid, tradisies en buite Bybelse openbarings en programme staatmaak hoe verder word die Kerk van Jesus Christus, die kerk se Hoof en Lewensbron, verwyder en word dus deur hierdie optredes irrelevant. Hierdie is een van die grootste gevare wat die Kerk van vandag in die gesig staar. Die relevansie van die Kerk word nie deur die mens of deur die samelewing waarin die mens hom mag bevind relevant gemaak nie. Wie bepaal of die Kerk relevant is of nie is Jesus Christus self en nie die mens nie. As mens die briewe, wat aan die sewe gemeentes van Openbaring gerig is, lees sal ons gou agterkom dat dit Jesus Christus self is wat Sy Kerk beoordeel en kan mens ook sien tot watter mate daardie gemeentes vanaf Jesus vervalle geraak het, tot en met so ‘n mate dat Jesus Christus buite die gemeente van Laodicense gestaan het en nie deel van daardie gemeente was nie.
Op 3:14 “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:
3:15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!
3:16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.
3:17 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
3:18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.
3:19 Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.
3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”
Hierdie gemeente was saliglik onbewus dat die meeste van hulle heeltemal ongered was, alhoewel hulle gedink het dat alles in orde met hulle was. Kyk maar hoe ver gaan die Kerk uit sy weg om die wêreld te akkomodeer, inplaas daarvan dat hulle getrou aan Jesus Christus en Sy woord bly. Die Bybel waarsku ons om egter uit die wêreld uit te kom en niks met die bose werke van die wêreld te make te hê nie, maar baie van die geleerde teoloë van ons tyd het besluit dat die Kerk nie meer relevant is nie en dat daar nou van wêreldse metodes gebruik gemaak moet word om mense na die Kerk te lok. Soos reeds genoem, kan net mense wat werklik wedergebore is, deel van die ware Kerk word. Om die Evangelie af te water om sodoende kerk geboue vol ongeredde mense te prop is nie om God se wil te doen nie. Dit is ook waarom daar geen verskil tussen die optrede van hierdie soeker vriendelike Kerke en die wêreld daarbuite is nie. Is dit nie omdat altwee groepe ewe ver van die Here af beweeg het nie? Jesus het aan ons die opdrag gegee om uit te gaan en die Evangelie te verkondig en nie om hulle te vermaak nie.
Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.”

Ons moet baie mooi verstaan dat net mense wat in Jesus Christus is, deel van die ware Kerk is. Om buite Jesus Christus te wees is om buite die Kerk te wees en almal wat buite Jesus Christus gevind gaan word gaan by die wit troon oordeel na die poel van vuur getuur word, en dit maak nie saak hoe gekerk hulle mag voorkom nie. Hierdie mense gaan aan die ontvang kant van die volgende boodskap wees:
Op 20:11 “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom (Jesus Christus) wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.
20:12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
20:13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.
20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.
20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Dit maak nie saak of hulle in die bestaan van die hel en die poel van vuur geglo het of nie, hulle sal dan met ‘n skok uitvind dat God se woord waar is en dat hulle ernstig mislei is. Dit sal egter te laat wees, en daar sal ‘n geween en ‘n gekners van tande wees. My raad aan die leser sal wees om seker te maak dat sy gemeente wel in Jesus Christus se oë relevant is. Dit maak nie saak wat die teoloë mag beweer nie. Bestudeer die Bybel vir jouself en maak seker dat jou kerk die Bybel nougeset navolg. Indien die Evangelie af gewater word en openlike sonde in die gemeente geduld word is dit dalk tyd om na ‘n meer Bybel gesentreerde gemeente te gaan soek.
Dus vir sommige teoloë om te beweer dat die ware Kerk nie relevant genoeg is nie is om te beweer dat die Here Jesus Christus nie relevant genoeg is nie. Dink mooi oor hierdie stelling na. Die ware Kerk kan nie van Jesus Christus geskei word nie.

Vervolgens ‘n paar gevaartekens waarop die Christen op die uitkyk kan wees , wat moontlik as aanduiding kan dien dat die betrokke gemeente van Jesus Christus verwyderd is of besig is om van Jesus Christus verwyderd te raak.

Die manier waarop hulle die Bybel interpreteer. Vergeestelik hulle groot gedeeltes van die Bybel? As die profesieë oor Jesus se eerste koms letterlik vervul is, kan ons verseker weet, dat die profesieë wat oor Sy wederkoms handel ook letterlik geïnterpreteer moet word. Pasop vir gemeentes wat die profesieë in die Bybel allegories verklaar of vergeestelik. Wees ook versigtig vir gemeentes wat glad nie op die profetiese woord soos in die Skrifte opgeteken is ag slaan nie.
2Pe 1:19 “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;
1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;
1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Ek vind dit baie vreemd en hartseer dat groot gedeeltes van vandag se Kerk op buite Bybelse profesieë staatmaak, waarvan die oorsprong nie duidelik bepaal kan word nie, maar versuim om die profesieë wat God in Sy woord aangeteken het, nie bestudeer nie. Daarom is groot gedeeltes van die moderne Kerk baie ernstig verlei.

Die mate waarop hulle die gemeente as geheel aanmoedig om die Skrifte vir hulleself te bestudeer en dan daarvolgens vra te vra. Dit sluit die hele Bybel in en nie net die gedeeltes waarop die Kerk konsentreer nie.
2Ti 2:15 “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.”
‘n Mens kan net die Bybel reg vertolk as die Bybel sistematies bestudeer word. Nog ‘n rede waarom die Kerk verlei is, is omrede die lidmate staatmaak op predikers om die Bybel vir hulle te verklaar en bestudeer, en nie die Bybel vir hulleself bestudeer nie. Dus as die prediker verlei is of selfs bewustelik sy gemeente wil verlei, sal die gemeente dit nie agterkom nie, want hulle is gewoond om met die woord gevoer te word en wil nie die Bybel vir hulleself lees en bestudeer nie. Dit is ‘n tragedie waarvoor hulleself verantwoordelik gehou gaan word!

Lê hulle klem op buite Bybelse profesieë en stel hulle hierdie profesieë gelyk met die Bybel?
Baie van die hedendaagse kultusse het ontstaan a.g.v buite Bybelse profesieë wat met die gesag van die Bybel gelykgestel is. Omdat spasie nie sal toelaat om ‘n volledige lys van hierdie kultiese bewegings hier te lys nie, gaan ek net ‘n paar voorbeelde weergee. Die leser word aangeraai om ‘n meer volledige studie oor die kultiese bewegings te doen. “Christian Science” waarvan baie gewilde filmsterre lidmate is, het ontstaan a.g.v. buite Bybelse profesieë wat Mary Baker Eddy na bewering ontvang het en wat met die Bybel gelykgestel is. Sewedaagse Adventiste beskou amptelik dat Ellen G White se buite Bybelse profesieë net so geïnspireerd as die Bybel is. Ek het ook persoonlik na ‘n preek geluister waarin Joyce Meyer verduidelik dat Jesus Christus in die Hel deur demone aangerand is omdat Hy daar vir ons sondes moes betaal en dat sy hierdie leerstelling direk by God ontvang het. Die Woord-Geloof Beweging glo hierdie Godslasterlike leerstelling en dit is ‘n tragedie wat miljoene mense Hel toe gaan sleep. Die Bybel stel dit baie duidelik dat God die Vader Jesus Christus aan die kruis vir ons sondes gestraf het en nie die duiwels in die Hel nie. Onthou mense wat die Bybel aanhaal dien nie noodwendig die Here nie! Satan self haal die Bybel aan en ken die Bybel beter as enige Christen.

Bestudeer hulle die profesieë wat in die Bybel duidelik gestel word en glo hulle dat hierdie profesie vervul sal word of vergeestelik hulle hierdie profesie weg of ignoreer dit heeltemal. Onthou ons word aangesê om die hele woord van God te verkondig Doen jou gemeente dit?
Hnd 20:26 “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal.
20:27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.
20:28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.”

Water hulle die Evangelie af om dit meer aanvaarbaar vir alle mense te maak?
2Pe 3:15 “En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,
3:16 net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.
3:17 Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie.
3:18 Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in”

Word daar verkondig wat die gemeente die graagste wil hoor, of word die waarheid van God se woord onvoorwaardelik verkondig?
2Ti 4:3 “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Is wedergeboorte ‘n vereiste vir lidmaatskap?
Efs1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
1:14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
12:12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.
12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.”

Gebruik hulle wêreldse metodes om die kerk meer relevant vir die wêreld te maak, of bly hulle getrou aan die manier waarop die Here in die Bybel aan ons voorsê om die Evangelie te verkondig?
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”

Word daar gepoog om met ander gelowe saam te werk en om gesamentlike vertrekpunte te vind sodat hulle kan saamwerk?
Joh 14:6 “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Ware Christendom is eksklusief en kan nie met ander gelowe saamwerk of sinchroniseer nie. Ons is veronderstel om die waarheid te praat en om mense die weg na die ewige lewe te wys, nl Jesus Christus en Sy voltooide werk aan die kruis vir ons. Daar is geen ander weg na God behalwe deur Jesus Christus alleen nie!

Word Christus in alle besluite geraadpleeg en word alles met die Bybel vergelyk om seker te maak dat hulle nie verlei word nie?
Psa 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
Joh 8:31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
Fil 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”

Is die Bybel die finale gesag oor die bestuur en besluite wat die kerk mag neem?
2Ti 3:16 “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2Ti 3:17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Word daar vereistes by die Evangelie gevoeg, buiten geloof alleen, om gered te word? Soos bv die doop (doop saligheid ), sabbatdag onderhouding, kerkbywoning, tiendes, ens
Om enige vereiste by die Evangelie te voeg vir wedergeboorte is om die Evangelie te verander in ‘n evangelie wat nie tot redding van die betrokke persoon sal lei nie, maar die persoon sal verdoem.
Gal 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.
1Ko 15:1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
15:2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;”

Word daar op vleeslike manifestasies in plaas van suiwer doktrines gekonsentreer?
1Ti 4:16 “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.
5:17 Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.
Rom 1:17 Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
Die Here verwag van ons om volgens geloof te lewe en nie op sig nie! Om op vleeslike manifestasies en emosies staat te maak is om nie in geloof te wandel nie. In baie gemeentes van vandag gaan dit meer oor manifestasies en gevoelens as wat dit oor die waarheid, gesonde leerstellings en Bybelse geloof gaan!
Heb 11:1 “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”

Word daar op rykdom en jou beste lewe nou gefokus, of op die verkondiging van die Evangelie en om as ligte in ‘n donker wêreld te skyn. Onthou die Here het ons gewaarsku dat die wêreld ons sal haat omdat dit Hom haat, tot en met so ‘n mate dat hulle Hom gekruisig het. Ons word in die Bybel aangesê om ons hoop op Jesus se koms vir ons en op Sy komende Koninkryk te vestig en nie op ons beste lewe nou nie.
Fil 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
Fil 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.”
Vir die ware gelowige lê sy beste nog in die toekoms en word daar van ons verwag om die smaad in ‘n Goddelose wêreld te dra. Iets wat nie baie aangenaam is nie.
2Ti 3:12 “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.
3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
Joh 15:18 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.
15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”

Stel die Kerk dit duidelik dat die Skrifte deur God geïnspireer is en dat dit God se onfeilbare woord aan die mens is? Paspop vir mense wat hierdie vraag beantwoord met baie woorde soos byvoorbeeld, dat die Bybel alles in hulle lewens is en dat hulle daarvolgens lewe, maar dit nie pertinent en duidelik stel dat die Bybel God se Geïnspireerde Onfeilbare Woord aan die mens is nie. Wees versigtig vir mense wat eenvoudige vra met baie niksseggende woorde beantwoord wat mooi klink, maar wat nie werklik die vraag beantwoord nie.

Staan die gemeente was op die Woord alleen, al is kos dit hulle ledemate en geld? Of word daar gefokus op getalle ten koste van suiwer doktrines?

Bepaal Jesus Christus en Sy woord die gemeente se beleid of bepaal die rykste mense in die gemeente die beleid wat gevolg moet word?

Ter afsluiting: Hoe maak mens dus die Kerk relevant in hierdie bose wêreld? Net soos wat die Apostels dit in die Bybel gedoen het en niks meer of niks minder nie. Paulus het die hele raadsplan van God verkondig (Doktrines). Openlike sondes is nie in die gemeentes geduld nie. Die kerk was nie gewild nie en was vervolg, omdat hulle as relevant deur Jesus Christus alleen beskou wou word en nie deur die wêreld nie. Hulle is vervolg omdat hulle bevriend was met God en daarom deur die wêreld verwerp en vervolg is. Ek glo dat ons alreeds in die groot wegval lewe waarvan die Bybel ons waarsku. As die leser dit dalk nie besef nie is dit heel waarskynlik dat die leser self alreeds verlei is en dus nie besef dat hy alreeds verlei is nie. Ek bid dat die Heilige Gees ons almal se oë sal open, sodat ons weer na die waarheid terug sal keer.
Jak 1:5 “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”
Ons doel moet wees om altyd die waarheid te soek, en God se woord is die waarheid.
Joh 4:23 “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Onthou ons moet op grond van wat in die Bybel opgeteken staan, bepaal of die Kerk relevant is of nie. Die mens asook die tydperk waarin die mens leef bepaal nie of die Kerk relevant is of nie, slegs God alleen kan die relevansie van die Kerk bepaal. Ons word ook nêrens is die Bybel aangesê om te bepaal of die Kerk relevant is of nie, ons word aangesê om die Here getrou na te volg, Hom te dien en Sy opdragte uit te voer.
Luk 6:46 “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

Iemand wat beweer dat die Kerk nie meer relevant in die moderne tydperk is nie beweer dus dat Jesus Christus nie meer relevant is nie. Wat ‘n tragiese stelling om te maak en dit bewys maar net dat die persoon wat hierdie stelling maak self nie werklik relevant is nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.