Wat ons Glo

Wat ons glo

Die Woord

Ons glo in die Inspirasie van die Woord deur die Heilige Gees, in die Ou en Nuwe Testamente. Ons Glo ook die die Woord van God onfeilbaar is en dat dit foutloos is soos vervat in die oorspronklike tale. Verder glo ons dat die Woord die finale gesag is in alle sake en al wat nodig is om ‘n Goddelike lewe te ly. Die Woord is ook die finale gesag sover dit geloof en doktrines betref. 2 Timoteus 3:16-17; 2 Petrus 1:20-21; Mattheus 5:18; Johannes 16:12-13

God

Ons glo verder dat God ‘n ewige bestaan het in drie Persone nl. die Vader, die Seun en die Heilige Gees en dat die Drie, ‘n Drie-Eenheid is. Verder glo ons dat hulle dieselfde attribute, volmaaktheid en natuur het en dat hulle geregtig is op dieselfde eerbetoning, aanbidding, vertroue en gehoorsaamheid. Mattheus 28:18-19; Markus 12:29; Johannes 1:1-2, 14; 4:24; 10:30; Handelinge 5:3-4; 2 Korintiërs 13:14; Hebreërs 1:1-3; Openbaring 1:4-6

Die Here Jesus Christus

Ons glo dat Jesus Christus, God is en ‘n ewige bestaan het. Ons glo dat Hy gebore is deur die maagd Maria, dat Hy sondeloos is, dat Hy gekruisig is vir ons sondes, dat Hy gesterf het en op die derde dag liggaamlik opgestaan het, waarna Hy opgevaar het na die Vader waar Hy sit aan die regterhand Van God die Vader vanwaar Hy nou vir ons intree. Ons glo in Jesus se plaasvervangende versoenings dood, in Sy Persoonlike pre-millenniale, voor-verdrukking en skielike wederkoms. Mattheus 1:18-25; Romeine 4:25; 1 Thessalonicense 4:13-18; Openbaring 3:10

Die Heilige Gees

Ons glo dat die Heilige Gees die derde Persoon in die Drie-Eenheid is. Aan die Heilige Gees is dit gegee om sekere werkinge in hierdie dispensasie te verrig, nl. om die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig, die regenerasie (Wedergeboorte) inwoning , verligting, en verseëling van elke ware kind van die Here. Ons glo verder dat dit die Heilige Gees is wat elke wedergebore kind van die Here in die liggaam van Jesus Christus indoop. (Die ware Kerk ook bekend as die Bruid van Christus.) Johannes 3:6; 16:7-11; Romeine 8:9; 1 Korintiërs 12:13; Efesiërs 4:30; 5:18; 2 Thessalonicense 2:7; 1 Johannes 2:20-27

Die Mens

Ons glo dat God die mens na Sy beeld en gelykenis geskape het en dat die mens gesondig het deur ongehoorsaam te wees aan God se Woord, dat hy gesterf het (geestelik en liggaamlik) en dat die sonde en dood na alle mense versprei het, en dat net die God-Mens Jesus Christus onaangeraak is. Om geestelik dood te wees beteken dus om van God geskei te wees , en alle mense is dus geestelik dood en van nature sondaars. Genesis 1:26; 2:17; 6:5; Psalms 14:1-3; 51:5; Jeremia 17:9; Johannes 3:6; 5:40; 6:53; Romans 3:10-19; 8:6-7; Efesiërs 2:1-3; 1 Timoteus 5:6; 1 Johannes 3:8

Verlossing

Ons glo dat Jesus Christus vir ons sondes en in ons plek aan die kruis gesterf het, volgens die skrifte. Ons verlossing is geheel en al deur Christus se dood/bloed aan die kruis bewerkstellig, en geen goeie werk is nodig of mag daarby gevoeg word nie. Net geloof in Jesus en wat Hy aan die kruis vir ons gedoen en volbring het kan ons van die skuld van ons sondes red. Ons glo ook dat Jesus se dood aan die kruis volkome voldoende was en volkome versoening vir ons sonde gemaak het. Geen gevoel, daad, kerkbywoning, ordinansie, sakrament, doop, tiendes gee, die wet of enige ander werk kan bygevoeg word by die voltooide werk van Christus aan die Kruis nie. Levitikus 17:11; Jesaja 64:6; Mattheus 26:28; Johannes 1:29; 3:5, 18; Romans 3:25-26; 5:6-9; 2 Korinthiërs 5:14, 21; Galasiërs 3:13; 6:15; Efesiërs 1:7; Filippense 3:4-9; Titus 3:5; Hebreërs 10:5-14; Jakobus 1:18; 1 Petrus 1:18-19, 23

Om Gered Te Word

Verlossing is deur genade alleen, deur geloof alleen, in Jesus Christus alleen plus niks.

Om wedergebore te word moet elke mens deur ‘n eie wilsbesluit geloof uitoefen soos wat ons dit in die Skrifte sien . Sodra n ongeredde persoon dus geloof uitoefen in wat Jesus aan die Kruis gedoen het gaan hy uit die koninkryk van die duisternis uit in die koninkryk van die Lig in. Hy word gereken in Jesus Christus te wees en word onmiddelik geregverdig verklaar van alle ongeregtigheid, Hy word onmiddelik deur die Vader aangeneem. Die Vader het hom dan so lief soos wat Hy die Seun het, en die geregverdigde word dan mede-erfgenaam saam met Jesus. So ‘n persoon is dan een met Christus en sal vir ewig saam met Christus lewe. Johannes 5:24; 17:23; Handelinge 13:39; Romeine 5:1; 1 Korinthiërs 3:21-23; Efesiërs 1:3; 2:8-9; Kolossense 2:10; 1 Johannes 4:17; 5:11-12

Bewaring Van die Heiliges

Ons glo verder dat elke wedergebore kind van die Here , deur God self bewaar word in Christus Jesus en dat die Skrif hierdie versekering aan al God se kinders in hierdie dispensasie gee. Johannes 5:24; 10:27-30; 13:1; 14:16-17; 17:11; Romeine 8:29, 35-39; 1 Korinthiërs 1:4-8; Galasiërs 5:13; Hebreërs 7:25; 1 Petrus 1:5; 1 Johannes 2:1-2; 5:13; Judas 24

Die Duiwel

Ons glo dat die duiwel ‘n geskepte wese is en dat hy sy eie persoonlikheid het. Ons glo dat hy die oorsaak van alle boosheid is en dat hy die vader van die leun is. Sy doel is om ‘n teenstander van God en die mens te wees, en staan ook as die Draak bekend. Verder glo ons dat sy eindbestemming die poel van vuur is wat God vir hom en sy demone voorberei het. Job 1:6-7; Jesaja 14:12-17; Mattheus 4:2-11; 25:41; 2 Korinthiërs 4:3-4; Openbaring 20:2, 10

Wat Lê Voor In Die Ewigheid

Ons glo verder dat die persone wat in Jesus Christus sterf, se geeste en siele onmiddelik by die Here aanwesig is nadat hulle tot sterwe gekom het. Die liggaam lê in die graf maar die gees en siel van die afgestorwene is by sy volle verstand in ‘n toestand van geluksaligheid in die teenwoordigheid van die Here. Ons glo ook dat die persone wat in Christus gesterf het met die opstanding van uit die dode, met hulle nuwe verheerlikte liggame verenig sal word en dan saam met die Here vir ewig sal wees. Ons glo ook dat al die mense wat in hulle sondes tot sterwe kom, nie saam met die geregverdige sal opstaan nie, maar in ‘n toestand van bewustelike pyniging, bewaar sal word tot na die duisendjarige vrederyk, waar hulle dan met hulle liggame verenig sal word en in die poel van vuur gewerp sal word. Weg van die aangesig en teenwoordigheid van God af, die tweede dood, vir ewig afgryslik. Lukas 16:19-26; 23:43; 2 Korinthiërs 5:8; Filippense 1:23; 2 Thessalonicense 1:1:7-9; Judas 6-7; Openbaring 20:11-15

Die Kerk

Ons glo dat Die Kerk op die die huidige oomblik as die liggaam van Christus bekend staan, en dit word saamgestel uit alle wedergebore kinders van die Here, maak nie saak in watter denominasie of Christelike organisasie hulle, hulleself mag bevind nie. Verder glo ons ook dat die kerk op pinkster amptelik tot stand gekom het, en dat dit sal voortduur tot en met die wegraping, wanneer die dispensasie van genade(ook bekend as die dispensasie van die kerk.) tot ‘n einde sal kom. Die kerk sal dan as die bruid van Christus bekend staan wanneer Christus die Bruidegom, Sy Bruid kom haal om haar met Homself verenig. Ons glo ook dat die Kerk die ordinansies van die doop (Onderdompeling) en die nagmaal moet nakom totdat die Here kom. Verder glo ons in die stigting en voortsetting van lokale gemeentes soos wat in die Nuwe Testament uiteengesit is. Elke gemeente is onafhanklik onder die gesag van Jesus Christus wat dmv ouderlinge en diakens leiding gee. Efesiërs 1:22-23; 5:25-27; 1 Korinthiërs 12:12-14; Kolossense 3:14-15

Dispensasionalisme

Ons glo in die letterlike, grammatiese en historiese interpretasie van die Bybel wat ons glo lei na die leer van Dispensasionalisme. Ons glo ook nie aan die vergeesteliking van die skrifte nie, en glo dat dieselfde metode wat gebruik word om die Ou Testament mee te interpreteer ook vir die interpretasie van die Nuwe-Testament geld. Mattheus 28:19-20; Handelinge 2:41-42; 18:8; 1 Korinthiërs 1:14-16; 11:23-26

Verantwoordelikhede Van Die Gelowiges

Ons glo dat die Here beveel het dat elke gelowige gevul en beheer moet word deur die Heilige Gees en so voorbeeldig in hierdie huidige wêreld moet loop dat die Here nie beskaamd hoef te wees nie. Elke gelowige word ook verder aangesê om so te lewe dat hulle lewens en wandel ‘n getuienis vir die Here sal wees, en dat gelowiges op elke geleentheid bereid moet wees om die goeie nuus van die Evangelie te verkondig. En laastens glo ons dat elke gelowige aangesê word om by te drae tot die werk van die Here soos wat God hom mag seën en dat gelowiges ook moet voorbidding doen, vir alle mense. Efesiërs 5:17-18; Galasiërs 5:16; Handelinge 1:8; 1 Korinthiërs 16:20; 2 Korinthiërs 9:7

Wat sê die Skrifte