Jes.54:17

Jes.54:17 en vraag aangaande teksgedeeltes op sportklere

Vraag: Ek het nogal ‘n vreemde vraag aangaande Jes.54:17 waarvoor ek nog nie ‘n antwoord kon kry nie. Hoekom verloor Christene dan wanneer hulle ‘n spesifieke teksgedeelte, wat verklaar dat hulle oorwinning sal behaal, aan hulle klere aanbring? Ek het nou die dag na ‘n boksgeveg gekyk waarop een deelnemer Jes.54:17 aangehaal het. Is dit dan nie ‘n verklaring van geloof nie? Die spesifieke persoon het egter verloor en dit het my geloof nogal ‘n knak gegee. Kan jy my vraag beantwoord indien dit moontlik is? Dankie.

Antwoord: Baie goeie vraag, en dit is ‘n vraag waaroor ek ook al baie gewonder het. Ek sal poog om jou vraag vanuit die Skrifte te beantwoord. Maar eers gaan ek die teksgedeelte wat jy genoem het aanhaal, naamlik:
Jes.54:17 “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.”

Ons moet altyd seker maak dat ons teksgedeeltes binne die korrekte konteks bestudeer voordat ons dit as ‘n belofte aan ons gebruik, en dit geld vir Jes.54:17 ook. Die hele konteks van genoemde teksgedeelte handel oor die volk Israel wat nou a.g.v. hulle rebellie teen God tydelik as Sy instrument tersyde gestel is, en as nasie, oor die hele wêreld verstrooid is. Maar wanneer hulle egter teen die einde van die Groot Verdrukking tot die Here bekeer, sal God hulle as volk vergewe en Hy sal tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus weer Israel tot hoof van die nasies herstel. Die spesifieke belofte geld vir gelowige Israel as ‘n nasie, nie indiwiduele Christene wat tydens die Kerk Dispensasie lewe nie. (Die leser word aangeraai om die artikel “Het die Kerk Israel as God se verbondsvolk vervang?” te lees) Israel as nasie sal slegs teen die einde van die verdrukking as volk tot God bekeer en dan weer in hulle vorige glorie herstel word. Slegs wanneer Israel weer in hulle posisie van diensbaarheid onder die direkte heerskappy van hulle Messias (die Here Jesus Christus) herstel is, sal geen tong wat teen hulle in die gereg opstaan in hulle doelwit slaag nie, want hulle aanklaers sal weerlê word. (omrede hulle as volk die Here Jesus Christus se toegerekende geregtigheid deur geloof ontvang het en daarom kan niemand hulle suksesvol by God aankla nie.) Boonop sal geen wapen wat teen Israel gesmee word enigsins iets kan bereik nie, want hulle sal dan direk onder God se beskerming staan. Genoemde teksgedeelte handel dus oor die volk Israel (nie die Kerk nie) en is ‘n spesifieke belofte aan hulle. Hierdie belofte sal slegs tydens die Duisendjarige Vrederyk van Christus, wat ook as die Millennium bekendstaan, volkome vervul word.

Ongelukkig het die proponente van “Voorspoed Teologie” hierdie teksgedeelte buite konteks aangehaal en is ongelukkig deur baie Christene so aanvaar. Indien geen wapen wat nou teen ons, as Christene, gesmee word teen ons kan slaag nie, hoekom het daar al miljoene Christene, na aanvang van die Kerk Dispensasie, vir hulle geloof in Christus hulle lewens en besittings verloor? En hierdie feit geld ook vir meeste van die apostels, wie almal behalwe Johannes, vir hulle geloof om die lewe gebring is. Die feit dat baie mense Jes.54:17 buite konteks as belofte aanhaal, dat hulle in alle sportsoorte die oorwinning oor hulle teenstanders sal behaal is verkeerd. Gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie tot bekering kom is nie van martelaarskap gevrywaar nie, en indien dit God se wil vir ons is sal mense wat wapens teen smee wel soms in hulle doel slaag. Ek moet net bysê dat nie alle gelowiges geroep is om as martelare te sterwe nie, en indien dit nie God se wil is dat ons as martelare moet sterwe nie, dan sal ons nie op daai wyse tot sterwe kom nie. Inteendeel, ‘n baie klein gedeelte van gelowiges word tydens die Kerk Dispensasie geroep om as martelare te sterwe. Indien die Here egter ‘n gelowige roep om as martelaar te sterwe, dan sal Hy ook aan die gelowige die nodige krag gee. Ons kan egter nie Jes.54:17 as belofte aanhaal dat ons nie om die lewe gebring kan word nie. Waar ‘n gelowige nie bereid is om as martelaar te sterwe nie, moet hy die saak met die Here in gebed bespreek en op Sy leiding wag.

Nog ‘n verdere rede: Wanneer sportmanne hulleself aan die ongeoorloofde gebruik van steroïede (soos byvoorbeeld die geval met Lance Armstrong) skuldig maak en hulleself sodoende ‘n ongeoorloofde voorsprong teen hulle teenstanders gee, dan verklaar ons dat daardie mense slegste sportmanne is en dat hulle boonop hulle teenstander gekul het. Daarenteen is God regverdig. Sou dit nie onregverdig van Hom wees om gelowiges wat ‘n gegewe teksgedeelte op hulle klere aanbring te bevoordeel nie? Veral indien ons in gedagte hou dat God niks sonder ‘n spesifieke rede doen nie. Indien God nie ‘n spesifieke rede het om ‘n gelowige die oorwinning te gee nie, dan sou dit verkeerd van Hom wees om gelowiges net goedsmoeds die oorwinning te gee. Wanneer sportmanne hulle sport beoefen, dan doen hulle dit met die wete dat hulle teen hulle medemens kragte meet en nie teen God nie. Om hierdie rede dink ek dat die Here nie ‘n gelowige outomaties van ‘n oorwinning sal verseker nie, maar in Sy geregtigheid verwag die Here dat die gelowige sportman in sy eie kragte die oorwinning moet behaal (dit is immers net sport), maar boonop kan die gelowige deur sy optrede op die sportveld die Here verheerlik. (al wen of verloor hy.)

Ter afsluiting: Ons moet baie versigtig wees om nie teksgedeeltes buite konteks aan te haal nie. ‘n Meer gepaste teksgedeelte vir gelowiges wat tydens die Kerk Dispensasie leef sal Rom.8:28 wees, naamlik:
Rom.8:28 “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.”
Al beteken dit dat ons soms verloor of self vir ons getrouheid aan Christus moet ly. Wanneer ons eendag voor die Regterstoel Oordeel van Christus staan sal ons weet dat God alles ten goede vir ons laat meewerk het, al beteken dit dat ons in sport verloor, vir ons geloof gely het en selfs as martelare in Sy naam gesterwe het. Die loon sal onberekenbaar groter as ons aardse lyding en opofferings wees.
Jak.1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.”
En onthou Christus se waarskuwing, naamlik:
Joh.16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Waarom heg God waarde in geloof wat beproef is?” asook “Beproewing van die gelowige se geloof” te lees.)

Gelowiges hoef egter nie bekommerd te wees wanneer hulle geloof getoets word nie. Die Here het belowe om deur die Heilige Gees ons die krag te gee om die toetsing van ons geloof te deurstaan. Gelowiges kan egter nie Jes.54:17 as belofte gebruik dat hulle altyd is sport sal seëvier nie. Dit is om die teksgedeelte buite konteks aan te wend. Ek hoop my antwoord beantwoord jou vraag.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.