Satan d

Satan se nagemaakte Godsdiensstelsel

Soos wat deeglik in die reeks artikels “ Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” gedemonstreer is, is Satan se grootste begeerte en doelstelling om soos God, en God self te wees, en derhalwe poog hy om die Here na te maak. Indien die leser nie alreeds bogenoemde reeks artikels gelees het nie, word hy/sy ten sterkste aangeraai om daardie reeks artikels deeglik te bestudeer, en daarna hierdie artikel te lees wat nog meer lig op Satan se bedrywighede werp. Onkunde aangaande God se woord (die Bybel) sal daartoe bydra dat die mensdom oningelig, en dus oor ‘n gebrekkige kennis van Satan se strategieë en werkwyses sal wees, wat daartoe sal bydra dat hy hulle makliker sal kan mislei of selfs verblind. Onthou die waarskuwing soos in die Skrifte gevind, naamlik:
2Ko 4:2 Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.
Luk 8:11 “Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. 8:12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
2Ko 4:3 Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”

Ongelukkig is daar baie mense wat vas oortuig is dat hulle oppad hemel toe is, maar wat te laat gaan uitvind dat hulle inderdaad die hele tyd op ‘n breë dwaalweg is en wat nooit werklik die ware Evangelie verstaan en geglo het nie! Die Here Jesus Christus het nie sonder rede die volgende stelling gemaak nie, naamlik:
Mat 7:13 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Derhalwe is dit van uiterste belang om kennis van Satan se werkwyses, strategieë, asook sy valse godsdiensstelsel te bekom, maar dit is net so belangrik om hierdie inligting vanuit slegs God se woord (die Bybel) te bekom, en nie op buite Bybelse spekulasies, profesie, drome en boeke en ander media as bronne, staat te maak nie! Slegs die Bybel en niks anders nie! Anders gaan ons deur die duiwel mislei word en ons sal niemand anders daarvoor kan blameer nie!


1. Satan het sy eie nagemaakte drie-eenheid:
Opn 13:2 “En die dier (die Antichris) wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak (Satan) het hom sy krag gegee en sy (Satan se troon) troon en (Satan se) groot mag.
Opn 16:13 En ek het uit die bek van die draak (Satan) en uit die bek van die dier (Antichris) en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.”
Dus beskik die duiwel ook oor ‘n drie-eenheid, naamlik Satan self, die Antichris en die valse profeet, wat gedurende die verdrukking almal sal dwing om Satan en die Antichris te aanbid.

2. Satan beskik oor sy eie nagemaakte sinagoges:
Opn 2:9 “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.”

3. Satan beskik oor sy eie nagemaakte godsdiens:
Opn 13:4 “En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?”

4. Satan beskik oor sy eie engele:
Opn 12:7 “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;” 

5. Satan beskik oor sy eie valse offer stelsels:
1Ko 10:19 “Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? 10:20 Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.”

6. Satan beskik oor sy eie nagemaakte sisteem van gemeenskap:
1Ko 10:20 “Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. 10:21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.”

7. Satan beskik oor sy eie valse leerstellings:
1Ti 4:1 “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 4:2 deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, 4:3 wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.”
Huidiglik maak ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom hulle aan valse leerstelling skuldig en ek glo die situasie sal vererger soos wat die einde van die Kerk Dispensasie nader kom.
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Is Bybelse leerstellings werklik so belangrik” asook “Koninkryk nou vs Koninkryk kom” te lees.)

8. Satan beskik oor sy eie valse evangelie:
2Ko 11:3 “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 11:4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bekering, geloof en die ewige lewe” asook “Die Evangelie” deeglik te bestudeer, om seker te maak dat hy/sy die ware Evangelie ken en glo, omrede daar baie valse Evangelies in die belydende Christendom verkondig word  wat op die een of ander wyse  werke  by die ware evangelie voeg en die ware Evangelie dus so verander dat dit nie daartoe sal lei dat die hoorders daarvan gered word nie. Baie mense verkeer verkeerdelik onder die indruk dat hulle wel wedergebore is, maar in werklikheid is hulle mislei en is die slagoffer van ‘n ander evangelie.) Enige evangelie, wat as vereiste vir wedergeboorte, goeie werke, direk of indirek, by slegs geloof in Christus se voltooide werk aan die kruis vir die sondaar maak, verkondig ‘n ander evangelie en moet vermy word. Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom en Hom alleen daarvoor vertrou.
Rom 11:6 “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.
Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.” 

9. Satan beskik oor sy eie vervalste bedieninge:
2Ko 11:13 “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.”

10. Satan beskik oor sy eie valse christus: 
2Ts 2:3 “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval
(wegraping) kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 2:4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”  (Die Antichris, wat gedurende die middel van die sewejarige verdrukking, homself as God in die herboude tempel in Jerusalem sal verklaar, en almal dwing om hom te aanbid. Die leser word aangeraai om die reeks artikels “Die profetiese rede op die Olyfberg” te lees.)

11. Satan beskik oor sy eie valse verborgenhede:
2Ts 2:5 “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom (die antichris) teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;” (Hy wat teëhou is die Heilige Gees, wat tydens die Kerk dispensasie, in alle wedergebore kinders van God verseël is,  en derhalwe verhoed die Heilige Gees die openbaarmaking van die Antichris, totdat die ware Kerk d.m.v. die wegraping uit die weg geruim is en dan sal die Heilige Gees die Antichris vrystel om sy opmars tot wêreldheerser te voltooi.)

12. Satan beskik oor sy eie nagemaakte kragte, tekens en wonders:
2Ts 2:8 “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” 

Ter Afsluiting: Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat die gelowige sy Bybel self lees, en leer om dit korrek uit te lê, omrede daar deesdae baie valse leerstellings verkondig word, en boonop moet ons weet dat Satan besig is om sy eie verdraaide en nagemaakte godsdiensstelsel/godsdiensstelsels aan die mensdom voor te hou. Ek hoop hierdie artikel werp bietjie meer lig op die onderwerp te werp. En onthou:
Mat 7:13 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” 
Ons nader die einde van die Kerk dispensasie en derhalwe moet ons waaksaam wees!  

Seën groete

Vic



 

Deel met ander asb.