Die Opstanding deel 1

Die opstanding en meegaande implikasies deel 1.

1Kor.15:1-58 kan as die opstandings-hoofstuk van Paulus se skrywes beskryf word. Omrede die Korinthiërs vanuit ‘n hoofsaaklike Griekse agtergrond afkomstig was, was hulle veral vatbaar vir valse leerstellings wat vanuit daardie bron afkomstig was. Meeste Grieke van daardie tydperk het wel in die siel se onsterflikheid na die dood geglo, maar nie in ‘n toekomstige fisiese/liggaamlike opstanding vanuit die dood nie. Om hierdie rede was die gedagte van Christus se kruisiging vir die Grieke dwaasheid.
1Kor.1:23 “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke”
So ook was die idee van ‘n liggaamlike opstanding vir die Grieke ‘n uiters vreemde konsep om te verwerk, naamlik:
1Kor.1:32 “Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.”
Dit wil voorkom dat hierdie dwaalleerstelling, wat beweer dat daar geen fisiese opstanding vanuit die dood is nie, die gemeente in Korinthe binnegedring het en groot verwarring onder die gelowiges daar veroorsaak het. In 1Kor.15:1-58 spreek die apostel Paulus hierdie dwaalleerstelling aan en weerlê dit heeltemal. Met die skryf van hierdie artikel sal die hele hoofstuk van 1Kor.1-58 sorgvuldig bestudeer en bespreek word en in vier hoofafdelings van vier artikels opgedeel word.

1Kor.15:1-58 kan in vier hoofafdelings opgedeel word, naamlik:

  • Deel 1: (Artikel 1) In 1Kor.15:1-11 lê die apostel Paulus uiters belangrike geskiedkundige feite aangaande die Here Jesus Christus se opstanding vanuit die dood aan die lesers voor.
  • Deel 2: (Artikel 2) In 1Kor.15:12-34 demonstreer Paulus dat die Here Jesus Christus se opstanding direk met die Korintiërs (en dus alle gelowiges) se opstanding gekoppel is.
  • Deel 3: (Artikel 3) In 1Kor.15:35-57 word die aard van die opstanding-liggaam, of te wel die gelowige se verheerlikte liggaam verduidelik.
  • Deel 4: (Artikel 4) In 1Kor.15:58 moedig die apostel die gelowiges in Korinthe aan om nie moed te verloor nie, omrede hulle in die toekoms vir hulle getrouheid aan die woord van die Here beloon sal word. Hulle moet dus getrou aan Paulus se leerstellings vashou, sodat hulle nie genadeloon by die Regterstoel oordeel van Christus sal verbeur nie. Onthou die briewe is aan gelowiges gerig, nie aan ongelowiges nie.

Die histories se feit aangaande Christus se opstanding vanuit die dood:
1Kor.15:1: “Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, (fase een, naamlik wedergeboorte)waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, (Fase twee, naamlik suksesvolle heiligmaking.) of julle moet tevergeefs geglo het.”
Opmerking: Paulus spreek gelowiges aan, wie alreeds die Evangelie geglo het en wat dus alreeds wedergebore was. Daar het ongelukkig ‘n dwaalleerstelling die gemeente in Korinthe binnegedring wat beweer het dat daar geen liggaamlike opstanding vanuit die dood moontlik was nie. Om te beweer dat daar geen liggaamlike opstanding vanuit die dood is nie, beteken dat die Evangelie waardeloos is en daarom kan hierdie valse leerstelling as ‘n direkte aanval op die ware Evangelie bestempel word. Omrede die waarde/krag van ons geloof uitsluitlik in die voorwerp van ons geloof gesetel is, (in hierdie geval die Evangelie wat die feite van Christus se dood en opstanding vanuit die dood insluit) beteken dit dat hulle geloof heeltemal misplaas, en dus waardeloos is, indien hulle sou beweer dat daar geen opstanding vanuit die dood is nie, omrede die feit van die opstanding uit die dood ‘n kardinale deel van die ware Evangelie vorm. Onthou, gelowiges staan in Christus omrede hulle die Evangelie geglo het, wat ook die feit van Christus se opstanding vanuit die dood insluit. Enige Evangelie wat nie die feit van Christus se opstanding vanuit die dood insluit nie, is nie die ware Evangelie nie en sal niemand kan red nie!

Die stelling waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het,” maak die feit duidelik dat die Evangelie meer as net aanvanklike wedergeboorte is. (fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) Dit sluit ook die fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking in. Vir suksesvolle heiligmaking, is voortgesette geloof in die Evangelie ‘n vereiste, anders gaan so ‘n persoon met leë hande voor Christus by die Regterstoel Oordeel van Christus staan. Daaglikse heiligmaking, na aanvanklike wedergeboorte, hou ewige implikasies vir die gelowige in, en gaan ‘n uitwerking op die kwalitatiewe aspek van die gelowige se ervaring van die ewige lewe meebring. (die gelowige word aangeraai om die artikels “Wat is die ewige lewe” asook “Drie fases van Verlossing” te lees.) Die gelowige kan dus genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus verbeur, wat ewige implikasies vir die gelowige sal meebring indien hy nie heiligmaking in sy lewe bewerkstellig nie. En soos reeds genoem, sluit geloof in die Evangelie geloof in die opstanding vanuit die dood in. Indien die gelowiges in Korinthe nie aan hierdie feite van die Evangelie vashou nie, sal hulle geloof tevergeefs wees en sal hulle nie werklike heiligmaking in hulle lewens kan bewerkstellig nie. Derhalwe sal hulle nie van die houvas wat sonde in hulle lewe, na aanvanklike wedergeboorte, verlos word nie, wat sou beteken dat hulle ‘n negatiewe beoordeling by die Regterstoel Oordeel van Christus sal ontvang en met leë hande wegstap.
1Joh.2:28 “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.”
Onthou, die gelowiges in Korinthe het alreeds in die Evangelie wat Paulus oorspronklik aan hulle verkondig het geglo, en was dus alreeds wedergebore. (fase een van hulle verlossing was dus alreeds afgehandel) Maar nou het hulle aan die opstanding begin twyfel, omrede daar nou valse leerstelling in die gemeente verkondig is. Hierdie stand van sake sou verhoed dat hulle in Christus tot volwassenheid opgroei en sou heiligmaking onmoontlik maak.

1Kor.15:3-6: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; 5 en dat Hy aan Céfas (Petrus) verskyn het; daarna aan die twaalf. 6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.”
Opmerking: In 1Kor.15:3-4 vind ons die Evangelie wat Paulus aan die Korinthiërs verkondig het en wat tot hulle verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) aanleiding gegee het. Omrede daar nou ‘n valse leerstelling in die gemeente verkondig is, (wat die opstanding vanuit die dood verwerp), vind Paulus dit weer nodig om die Korinthiërs aan die historiese feite aangaande die Evangelie (wat hy oorspronklik aan hulle verkondig het) te herinner. Dit is hierdie Evangelie, wat hy oorspronklik aan hulle verkondig het, wat tot hulle verlossing (fase een, naamlik wedergeboorte) aanleiding gegee het. Indien hulle nou (na aanvanklike wedergeboorte) aan die feite van die ware Evangelie vashou, sal dit tot suksesvolle heiligmaking (fase twee) in hulle lewens aanleiding gee, wat op sy beurt weer deur God by die Regterstoel Oordeel van Christus beloon sal word. Dus verklaar Paulus die feit van Christus se dood, die feit dat Hy begrawe is, en op die derde dag liggaamlik vanuit die dood uit opgestaan het. Dit is op grond van hierdie historiese feite aangaande Christus se dood en suksesvolle opstanding vanuit die dood waarop Hy aan almal, (wie die Evangelie glo) die waarborg kan gee dat hulle ook vanuit die dood sal opstaan en die ewige lewe sal ontvang. Die feit dat Christus vir die mensdom se sondes sou sterf, is nie ‘n nuwe leerstelling nie en was al lankal deur die Ou Testamentiese profete voorspel, naamlik:
Jes.53:10 “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. 11 Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. 12 Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.”
Die historiese feit aangaande die Here Jesus Christus se dood word deur die feit dat Hy begrawe is bevestig. Boonop was die feit dat Hy op die derde dag vanuit die dood sou opgestaan, ook in die Ou Testamentiese Skrifte voorspel, naamlik:
Ps.16:10 “want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.”
Na Sy dood en opstanding is Christus deur baie getuies gesien, waarvan Petrus die eerste manlike getuie was. Daarna het die Here aan die twaalf apostels en toe later aan oor die vyfhonderd dissipels verskyn. Die groep van vyfhonderd, is heel waarskynlik die groep op die Olyfberg aan wie Christus die Kerk se mandaat, om die Evangelie aan die ganse mensdom te verkondig, gegee het naamlik:
Matt.28:18 “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. (alle mag is aan Christus gegee nie die Kerk nie)19 (Op grond van hierdie gesag wat Hom gegee is, beveel Hy nou dat ons die Evangelie aan die ganse mensdom moet verkondig. Nêrens gee Christus Sy mag aan die Kerk nie!) Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”
Omrede die meeste van die getuies wat Christus na Sy opstanding uit die dood gesien het nog op daardie stadium gelewe het, kon enige persoon wat sy getuienis wil betwis hierdie getuies gaan spreek wat sou bevestig dat Christus wel uit die dood uit opgestaan het.

1Kor.15:7 “Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; 8 en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.”
Opmerking: Net soos Paulus het Jakobus, Christus se halfbroer, eers na Christus se opstanding tot geloof in Hom gekom.
Voor Christus se kruisiging het Sy broers nie in Hom geglo nie. Hulle het heel moontlik op grond van Sy opstanding vanuit die dood tot geloof in Hom gekom, omrede mens duidelik die idee kry dat Christus se broers nie in Hom, tydens Sy bediening voor Sy kruisiging, geglo het nie, naamlik:
Joh.7:5 “Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.”
Jakobus het eers na Christus se opstanding vanuit die dood tot geloof in Hom gekom, en dit slegs nadat die Here Jesus Christus persoonlik aan hom verskyn het. Daarbenewens beskryf Paulus ook homself ook as ‘n apostel wie ‘n ontydige geboorte gehad het, omrede hy die “dragtigheidsperiode” van Christus se aardse bediening misgeloop het. Om as apostel te kwalifiseer moes ‘n persoon die opgestane Christus persoonlik gesien het. In hierdie opsig het Paulus ook gekwalifiseer, naamlik:
1Kor.9:1 “Is ek nie ‘n apostel nie? Is ek nie vry nie? Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie?”
Omrede Paulus die laaste apostel is aan wie die Here verskyn het, kan daar nie vandag iemand wees wat as apostel kwalifiseer nie. (anders sou Paulus nie die laaste Apostel gewees het aan wie die Here verskyn het nie.) Indien iemand beweer dat die Here ook aan hom verskyn het, soos wat baie televisie-evangeliste, proponente van die Nuwe Apostoliese Reformasie en vele ander sulke groepe beweer, lieg hulle omrede die Bybel dit onomwonde stel dat Paulus die laaste apostel is aan wie die Here persoonlik verskyn het. Die amp van Apostels en Nuwe Testamentiese profete was die fondasie, waarvan Christus die hoeksteen is, en waarop die kerk gebou word.
Ef.2:20 “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”
Ons bevind onsself nie meer in die fondasie stadium (apostoliese tydperk) van die Kerk nie, maar eerder aan die einde van die Kerk Dispensasie. (post-apostoliese tydperk) Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bestaan die gawe van profesie nog” te lees. Die leser kan gerus die meegaande illustrasies naamlik, illustrasie een “Die Kerk” asook illustrasie twee “1Kor,13:8 en die Ware Kerk” te bestudeer.

1Kor.15:9-11: “Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. 10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is. 11 Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.”
Opmerking: Paulus verwys na homself as die geringste van die apostels omrede hy die gemeente van Christus vervolg het. Hy sou hierdie bose optrede van hom nooit vergeet nie en noem hierdie feit gereeld in sy briewe, naamlik:
Gal.1:13 “Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;
1Tim.1:12 “En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, 13 my wat vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. 14 En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is.”
God se genade het egter Paulus as mens verander, en hierdie genade van God was nie tevergeefs gewees nie. Dit is op grond van sy geloof in die Evangelie waardeur hy harder as al die ander apostels gearbei het. Hy het immers meer as die ander apostels gereis, meer Nuwe-Testamentiese briewe as hulle geskryf, het boonop meer kerke as hulle begin, en het meer vervolging, lyding en teëstand as hulle verduur. Hy het egter altyd bewus van die feit gebly dat hy slegs hierdie uitsonderlike dade op grond van God se genade, Wie deur hom gewerk het, bereik het. Net soos Paulus, moet alle gelowiges besef dat die boodskap groter (en belangriker) as die boodskappers wie dit verkondig is. En die Boodskap/Evangelie wat Paulus verkondig het, en wat die Korinthiërs geglo het, en wat tot hulle weergeboorte aanleiding gegee het, het die historiese feit van die opstanding ingesluit. Sonder die feit van die opstanding sou niemand gered kon word nie. ‘n Dooie persoon wat in die graf lê kan immers niemand anders red nie. Vir ons verlossing om ‘n werklikheid te wees, moet ons oor ‘n lewende Verlosser beskik, en hierdie Persoon, naamlik die Here Jesus Christus, Wie uit die dood uit opgestaan het, om nooit weer te sterwe nie, is daardie Verlosser. Indien ‘n persoon nie in ‘n liggaamlike opstanding glo nie, dan glo daardie persoon nie die Evangelie nie.

Ter Afsluiting: Dit is en bly ‘n historiese feit dat Christus gekruisig is, gesterf het en op die derde dag liggaamlik vanuit die dood uit opgestaan het. Christus se opstanding vanuit die dood is vir die volgende redes ‘n onontbeerlike gedeelte van die Evangelie en ware Christendom.

  • Christus se opstanding vanuit die dood dien as onomwonde bewys dat God, Christus se offerdood as ons Plaasvervanger aanvaar het. Indien Christus se kruisdood nie volledige versoening vir die mens se sondes gemaak het nie, dan sou God die Vader Hom nie uit die dood uit opgewek het nie.
    Hand.2:24 “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.”
  • Die Opstanding dien as bewys dat Christus as die God-Man (volkome God en volkome mens) vir die mensdom ‘n oorwinning oor die dood en Satan bewerkstellig het.
    Hebr.2:14 “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel — 15 en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”
  • Die Opstanding dien as bewys dat die oprigting van die komende aardse, geopolitieke Messiaanse Koninkryk, (die Teokratiese Koninkryk) wat Christus aan Israel in die Ou Testament belowe het, nie vir ewig tersyde gestel het nie. Toe Christus aan die kruis gesterwe het, het Sy dissipels alle hoop dat Hy die beloofde Messiaanse Koninkryk op aarde sou vestig verloor.
    Luk.24:21 “En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.”
    Hulle was egter verkeerd in hulle berekening gewees. Christus se opstanding vanuit die dood het Christus weereens as die Koning van die beloofde komende Teokratiese, aardse, geopolitieke Koninkryk beskikbaar gestel, wat as bewys dien dat Hy wel Sy koninkryk in die toekoms op die aarde gaan vestig. (God kan en sal nie Sy woord breek nie!)
    Hand.1:3 “aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het.
    Hand.1:6 “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk
    (die Teokratiese, duisendjarige, aardse geopolitieke koninkryk van Christus) vir Israel weer oprig 7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;”
  • Nadat Christus vanuit die dood uit opgestaan het, het Hy gedurende veertig dae aan verskeie getuies verskyn, waarna Hy opgevaar het Hemel toe waar Hy sal bly totdat Israel aan die einde van die Groot Verdrukking tot bekering kom.
    Matt.23:37 “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! 38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! 39 Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”
    Wanneer Israel tot bekering gekom het, sal Christus se wederkoms plaasvind, en sal Hy Israel van gewisse uitwissing verlos en Sy Koninkryk op aarde oprig.
    Hab.3:13 “U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek. Sela.
    Openb.19:11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.”

Die Opstanding vorm dus ‘n uiters belangrike (en onontbeerlike) deel van die Evangelie, en vir die ware Christendom as geheel. Om die opstanding te ontken, is om van God ‘n leuenaar te maak, wat maar net nog ‘n faset van ongeloof is. Om hierdie rede is dit van uiterste belang, om wanneer ons die Evangelie met ander deel, ons die feit van Christus se opstanding vanuit die dood moet verkondig. En onthou: Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om al jou persoonlike sondeskuld (verlede, hede en toekomstige sondes) voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou. Glo jy dit?

Seën Groete!

Vic

Deel met ander asb.