Wegraping 2

Die Wegraping. Deel 2

In deel twee van hierdie reeks artikels, sal ‘n paar spesifieke Voor-Verdrukking Wegraping argumente voorgelê word, wat die slotsom wat in deel een van hierdie artikels uitgelig is, sal onderskryf en bevestig. Dit moet egter gelet word, dat die argumente wat vervolgens as bewyse vir die Voor-Verdrukking Wegraping voorgelê word, nie al die argumente is wat aangebied kan word nie. Baie meer kan oor hierdie onderwerp gesê word, en diegene wat meer navorsing oor hierdie onderwerp wil doen, kan gerus die boek “The Rapture Question” wat deur Dr John F Walvoord geskryf is, lees. Hierdie boek is ‘n uitsonderlike werk, en volgens my beskeie mening is geen teologiese boekrak volledig indien hierdie boek nie deel daarvan uitmaak nie.

A. Verskille tussen die Wegraping (fase een van Christus se wederkoms) en Sy Wederkoms aarde toe om sy Koninkryk hier op aarde te kom vestig: (Fase twee van Christus se wederkoms)

‘n Noukeurige bestudering van die teksgedeeltes wat oor Christus se Wederkoms handel, dui duidelik daarop, dat die wegraping en die wederkoms van Jesus Christus na die aarde toe, om Sy koninkryk hier te kom vestig, twee afsonderlike gebeurtenisse is. Ons moet daarteen waak om nie die twee afsonderlike gebeurtenisse met mekaar te verwar nie. Vervolgens sal ‘n paar verskille tussen hierdie twee gebeurtenisse uitgelig word, wat ‘n duidelike aanduiding is, dat die wegraping en die wederkoms van Jesus Christus aarde toe nie dieselfde gebeurtenis is nie. Om my punt te staaf, gaan ek net enkele teksgedeeltes volledig aanhaal, en die leser word aangeraai om enige teksgedeeltes wat nie hier volledig aangehaal word nie, self in die Bybel op te lees, omrede spasie ‘n beperkende element in artikels van hierdie aard is.

1. Tydens die Wegraping: Kom Jesus in die lug en sit nie Sy voete op aarde nie. (1 Thess 4:17)
1Ts 4:17 “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
Ons gaan die Here in die lug tegemoet. Hy sit geensins by hierdie geleentheid Sy voete op aarde nie.

Met Jesus se Wederkoms aarde toe: Kom Hy aarde toe en sit Sy voete op die Olyfberg neer, wat op aarde geleë is (Sag 14:4; Mat 24:27-31)
Mat 24:27 “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 24:28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom. 24:29 En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. 24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.
Sag 14:4 “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”
Dit is baie duidelik, dat die Here by hierdie geleentheid, wel Sy voete op aarde sal neersit, vanwaar Hy vanuit die huidige stad Jerusalem vir duisend jaar lank sal regeer.

2. Tydens die Wegraping: Kom Jesus vir Sy heiliges (Die Kerk) (1 Thess 4:16-17)
1Ts 4:16 “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
Let daarop, dat slegs diegene wat in Christus gesterf het, by hierdie opstanding betrokke sal wees en nie die ongelowiges nie. ‘n Ongelowige wat tot sterwe kom, sterf in sy sondes en kan dus nie as “in Christus” beskryf word nie! Dit is belangrik om hierdie feit raak te sien en om dit te begryp. Verder praat Paulus van “ons” wat alle oorlewende gelowiges insluit, en weereens is geen sprake van ongelowiges nie. Dus praat Paulus slegs met die Kerk.

Met Jesus se Wederkoms aarde toe: Kom Hy saam met Sy heiliges (1Thess 3:13; Judas 1:14)
1Ts 3:13 “sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.
Jud 1:14 En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tien duisendtalle, 1:15 om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.”
Die Kerk kan slegs saam met Christus aarde toe terugkeer, indien hulle alreeds op ‘n vorige geleentheid hemel toe geneem is. Hierdie is ‘n baie sterk aanduiding, dat die wegraping alreeds moes plaasgevind het en dat die twee gebeure nie dieselfde is nie.

3. Die Wegraping: Is ‘n verborgenheid d.w.s. ‘n waarheid wat gedurende die Ou Testamentiese tydperk onbekend was. (1Kor 15:51)
1Ko 15:51 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. 15:53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”
Ek is van mening, dat hierdie teksgedeelte nie die wegraping self is nie, maar dit illustreer wel die werking of meganisme wat gebruik gaan word, om gelowiges, wat met die aanbreek van die wegraping nog lewe, in ‘n oogwink te verander en waar hulle met hulle verheerlikte liggame oorklee sal word. In ‘n oogwink, nadat die verandering plaasgevind het, vind die wegraping plaas, wanneer die  opgestane gelowiges, (wie se geeste nou alreeds met hulle nuwe verheerlikte liggame verenig is) asook die gelowiges wat nog met die aanbreek van die wegraping nog lewe, saam die Here in die wolke tegemoet sal gaan. (Hierdie finale gedeelte van die hele proses staan as die wegraping self bekend.  1Ts 4:16-17) Hierdie hele proses vind egter in ‘n oogwink, voor die aanvang van die sewe jaar lange Verdrukking plaas.

Jesus se Wederkoms aarde toe: Word nooit as ‘n verborgenheid in die Bybel beskryf nie. Die Wederkoms van die Here was openlik in die Ou Testament bekend gemaak en is dus glad nie ‘n verborgenheid nie. (Ps 72; Jes 11; Sag 14 ens)
Sag 14:1 Kyk, daar kom ‘n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! 14:2 Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. 14:3 En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. 14:4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. 14:5 En julle sal vlug in die dal van my berge—want die dal van die berge sal loop tot by Asal—en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U! 14:6 En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees. 14:7 En dit sal ‘n enige dag wees wat aan die HERE bekend is—geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word. 14:8 En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. 14:9 En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.”
Dit is baie opmerklik, dat Jesus Christus se wederkoms aarde toe, om Sy koninkryk hier te kom oprig, duidelik in die Ou-Testament voorspel is en dus kan dit nie as ‘n verborgenheid beskou word nie.

4. Die Wegraping: Daar is geen tekens wat in die hemelruim sal aandui dat die Wegraping op hande is nie. Daar is ook geen verdere profesie wat vervul moet word, alvorens die Wegraping kan plaasvind nie. Daarom is dit ook verkeerd van mense om datums vir die Wegraping vas te stel.

Jesus se Wederkoms aarde toe: Jesus se Wederkoms aarde toe, om Sy Koninkryk hier te vestig, sal met tekens in die hemelruim aangedui word. (Mattheus 24:29-30)
Mat 24:29 “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.
24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.”

5. Die Wegraping: Die Wegraping word aan gelowiges voorgehou as ‘n dag van seën. (1 Thess 4:18)
1Ts 4:18 “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Watse seën kan dit vir die gelowige wees, indien hy weet dat hy deur die Verdrukking sal moet gaan en heel moontlik met sy lewe daarvoor sal boet, om nie eers te praat van verskriklike lyding wat die tydperk van die Verdrukking sal veroorsaak nie! Onthou die Kerk d.w.s alle gelowiges, is nie vir God se oordele bestem nie.
1Ts 5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”

Jesus se Wederkoms aarde toe: Met Jesus se Wederkoms aarde toe, is die klem op God se oordele. (2 Thess 2:8-12)
2Ts 2:8 “en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, ( die Antichris) hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy (die Antichris) wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”

6. Die Wegraping: Vind in ‘n oogwink plaas. (1 Kor 15:52) Om hierdie rede sal dit nie noodwendig deur die hele wêreld waargeneem kan word nie.
1Ko 15:52 “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
Onthou, slegs gelowiges wat tydens die Kerk dispensasie wedergebore geraak het, sal by die Wegraping betrokke wees. Dus sal hierdie gebeurtenis nie deur alle mense waargeneem kan word nie. Ongelowiges sal slegs die gebeure na afloop van die Wegraping waarneem, maar nie die gebeurtenis self nie.

Jesus se Wederkoms aarde toe: Sal deur die hele wêreld waargeneem word en sal onmiskenbaar wees en elke oog sal Hom kan waarneem. (Mattheus 24:27; Op 1:7)
Mat 24:27 “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.
Opn 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!”

7. Die Wegraping: Handel hoofsaaklik met die Kerk wat as die Bruid van Christus bekendstaan. (Joh 14:1-4; 1 Kor 15:51-58; 1Thess 4:13-18)
Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Dus word hier slegs met gelowiges gehandel.

Jesus se Wederkoms aarde toe: Handel hoofsaaklik met die nasie Israel en dan sekondêr met die nasies van die aarde. (Mattheus 24: 1-Mattheus 25:46) Dus word hier met gelowiges sowel as ongelowiges gehandel.

8. Met die Wegraping: Word die wat weggeneem word, uit die wêreld uit geneem met die doel om hulle te seën. (1 Thess 4:13-18)
1Ts 4:17 “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”
Diegene wat agter gelos word, word gelos met die doel om geoordeel te word. (1 Thess 5:1-3)
1Ts 5:1 “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; 5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”
Let op die woord “hulle”. Dit is duidelik dat Paulus ongelowiges hier ingedagte het. Indien hy gelowiges ingedagte gehad het sou hy die woord “ons” gebruik het.

Die Wederkoms van Jesus aarde toe: Diegene wat weggeneem word, word weggeneem om geoordeel te word. Diegene wat gelos word, word gelos om geseën te word. (Mattheus 24:37-41)
Mat 24:40 “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.  24:41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.”
Kyk ook die gelykenis van die Maagde asook die oordeel van die Nasies (bokke en skape oordeel)

9. Die Wegraping: Geen tekens word aan die kerk voorgehou, wat sou aandui dat die Wegraping op hande is nie. Die Wegraping word altyd aan die Kerk voorgehou as ‘n gebeurtenis wat op enige tydstip en onverwags kan plaasvind. Daar is geen tekens wat sal aandui dat die wegraping gaan plaasvind nie. Die Kerk moet op die uitkyk wees vir Jesus se skielike koms na die wolke, om Sy Bruid by Hom in die wolke te vergader, alvorens Hy hulle Hemel toe neem om saam met Hom te wees. (1Thess 4:17; 1Kor 1:7; Fil 3:20; Titus 2:13; Heb 9:28; 1Pet 1:13; Judas 1:21 )
1Ko 1:7 “sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus,
Fil 3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
Titus 2:13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,”
Nêrens word die Kerk aangesê om op die uitkyk vir die verskyning van die Verdrukking of die Antichris te wees nie. Ons word egter aangesê om op die uitkyk vir ons Verlosser, die Here Jesus Christus te wees!

Jesus se Wederkoms aarde toe: Breedvoerige indikasies word gegee, soos bv 1260 dae ,42 maande, drie en ‘n halwe jaar asook baie ander tekens. (Dan 7:25; 12:7,11,12; Op 11:2; 12:14; 13:5 ens)
Dan 12:7 “Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.
Opn 11:2 Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap.
Opn 13:5 En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen.”

10. Die Wegraping: Die term Seun van die Mens word nooit in teksgedeeltes genoem wat oor die Wegraping handel nie.

Jesus se Wederkoms aarde toe: Jesus se Wederkoms aarde toe word altyd beskryf as die koms van die Seun van die Mens. (Mattheus 16:28; 24:27,30,39; 26:64; Markus 13:26; Lukas 21:27)
Mat 24:27 “Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”

Soos wat baie duidelik uit bostaande teksgedeeltes afgelei kan word, is die Wegraping en die Wederkoms van die Here Jesus Christus na die aarde toe, nie dieselfde gebeurtenisse nie . Aan die Kerk, wat gedurende die dispensasie van genade leef, word Jesus se koms altyd as naby of op hande voorgehou. Om hierdie rede word van die Kerk verwag om altyd waaksaam te wees en op die skielike verskyning van die Bruidegom vir Sy Bruid te wag.

Indien die Wegraping eers na die verdrukking sou plaasvind, sou die klem nie meer op Jesus se skielike koms vir Sy Bruid wees nie, maar sou die kerk as geheel op die uitkyk wees vir die teken wat sou aandui dat die Groot Verdrukking begin het, en dan kan met akkuraatheid bepaal word, dat die einde nog drie en ‘n halwe jaar in die toekoms is, en sou Jesus dus foutief wees om te verkondig dat ons, as gelowiges, waaksaam moet wees, omrede Sy koms vir ons skielik en sonder waarskuwing kan plaasvind.
Luk 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.”
Ons weet egter dat, as God, Jesus Christus geen fout kan begaan nie. Daarom moet ons Sy woorde aan ons baie ernstig opneem en waak en bid, sodat ons onsself nie met die wegraping hoef te skaam nie. Vanaf die begin van die kerk dispensasie, het die gelowiges nog altyd die skielike en onverwagte koms van Jesus Christus vir Sy Bruid afgewag. In die Nuwe Testament word die gelowiges herhaaldelik gewaarsku dat Jesus Christus se koms op hande is. Die Griekse woord wat as naby of op hande vertaal word is “eggizo” Hierdie frase word sewe keer in die Nuwe Testament gebruik. (Rom 13:12; Filippense 4:5; 1 Pet 4:7; 2 Timotheus 4:6; Op 1:3; 22:10) Paulus het alreeds in die eerste eeu, van die kerk dispensasie, vir Titus gewaarsku om op die uitkyk vir Jesus se koms te wees.
Tit 2:13 “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,”

Die opmerklike verskille tussen die koms van Christus vir die Kerk (wegraping) en Christus se Wederkoms, om Sy koninkryk op aarde te vestig, demonstreer bo enige twyfel dat die Bybel nie oor een enkele gebeurtenis praat nie. Met die Wegraping kom die Here vir Sy heiliges. (1Thess 4:16) Met Sy Wederkoms, kom Sy heiliges saam met Hom aarde toe. (1 Thess 3:13) Met die Wegraping kom die Here net vir gelowiges (die Kerk) en word slegs gelowiges deur die Wegraping geraak. Met Christus se Wederkoms, word alle groepe mense geraak en kom Hy om die wêreld te oordeel. Met die Wegraping, word die lewende gelowiges in ‘n oogwink verander en met hulle verheerlikte liggame oorklee. (1Kor 15:52) Met Christus se Wederkoms vind daar geen so ‘n verandering plaas nie, want die oorlewende gelowiges sal met hulle sterflike liggame Christus se duisendjarige vrederyk binnegaan en die wêreld weer te bevolk. (Jes 65:20) Met die Wegraping neem die Here die gelowiges na die Hemel, wat as die Vader se woning bekend staan. (Joh 14:3) Met die Wederkoms, kom die gelowiges saam met Hom. (Mat 24:30) Slegs die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling kan hierdie verskille sonder enige probleme versoen, en daarom dien dit as bewys dat hierdie leerstelling uit die Bybel geregverdig word. Onthou, die Wegraping kan op enige gegewe tydstip plaasvind, maar die Wederkoms van die Here, om Sy koninkryk op aarde te kom vestig, word vooraf ingelei deur verskeie opmerklike tekens, wat voor en tydens die Verdrukking sal plaasvind, en wat as indikasie sal dien dat Sy koms op hande is.

B. ‘n Gaping van tyd is tussen die twee komste nodig:

Om te verseker dat alle voorspelde gebeure, wat in die Bybel voorspel is, op hulle voorspelde tye plaasvind, word daar ‘n interval tussen die Wegraping en die Wederkoms aarde toe, benodig. Baie Nuwe-Testamentiese gebeure kan slegs geharmoniseer word, indien daar ‘n tydperk van minstens sewe jaar tussen die Wegraping en Christus se Wederkoms toegelaat word. Indien so ‘n interval nie toegelaat word nie, word die mens geforseer om teorieë op die Bybel se teks af te dwing, wat nie vir ‘n realistiese tydsverloop voorsiening maak nie. Die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling maak die nodige voorsiening, sodat die hieropvolgende gebeure op die mees natuurlike wyse met mekaar versoen kan word, sonder die nodigheid om enige onskriftuurlike scenarios op die teks af te dwing of in te lees.

2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon. 5:9 Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees. 5:10 Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”
Bostaande gebeurtenis staan as die Regter Stoel Oordeel van Christus, of te wel, die Bema Oordeel bekend, omdat dit vanuit die Griekse woord “bema” afgelei is. Die Bema Oordeel, word nooit in die Bybel, saam met die duidelik gedetailleerde gebeure, wat met Christus se Wederkoms aarde toe verband hou, beskryf nie en daarom moet daar ‘n interval tussen die Wegraping en Christus se Wederkoms aarde toe wees, om genoegsame tyd vir die Bema Oordeel te laat, om wel plaas te kan vind en afgehandel te kan word, alvorens Jesus Christus met Sy wederkoms terugkeer aarde toe, om Sy koninkryk hier te kom vestig. Bostaande teksgedeelte is slegs aan gelowiges, wat tydens die Kerk dispensasie leef, gerig en is dus baie duidelik dat slegs gelowiges voor die Regterstoel Oordeel van Christus sal verskyn en nie ongelowiges nie. (Vir meer inligting word die leser aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” te lees wat die onderskeid tussen hierdie twee gebeurtenisse verduidelik.)

In die boek Openbaring word die Kerk, wat as die bruid van Christus bekendstaan, en word as ‘n Bruid wat haarself vir haar troue regmaak, bekendgestel.
Opn 19:7 “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. 19:8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. 19:9 Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. 19:10 En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.”
Uit bostaande teksgedeelte sien ons baie duidelik, dat die Bruid alreeds gereed en volledig gekleed is en reg staan om saam met Christus met Sy Wederkoms aarde toe terug te keer. Hierdie gebeurtenis kan slegs plaasvind, indien daar ‘n interval tussen die Wegraping en Christus se wederkoms aarde toe is, en is dit duidelik dat die Kerk, in bogenoemde teksgedeelte, haarself in die hemel bevind en nie op die aarde nie. Verder skakel hierdie teksgedeelte op ‘n baie natuurlike wyse, by die beskrywing van Jesus Christus (vergesel deur Sy heiliges ,die Kerk) met Sy wederkoms aarde toe in. Boonop volg hierdie gebeurtenisse ook chronologies op mekaar, net soos dit die geval behoort te wees, indien daar wel ‘n interval tussen die Wegraping en Christus se wederkoms sou wees.
Opn 19:11 “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 19:12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 19:13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 19:14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. (Die Kerk) 19:15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 19:16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. 19:17 En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, 19:18 dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.”
Dit is verder net logies, dat die Kerk by hierdie geleentheid alreeds voltallig moes wees, en dat die volle getal kerk dispensasie gelowiges alreeds by hierdie geleentheid by die Kerk gevoeg moes gewees het, alvorens bogenoemde gebeure in vervulling kon gaan.
Rom 11:25 “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;”
Daarom is daar ‘n interval van ten minste sewe jaar tussen die Wegraping en Christus se Wederkoms nodig, waartydens die Bruid haarself gereedmaak om saam met haar Bruidegom aarde toe terug te keer. Sonder hierdie interval is bostaande gebeure nie op ‘n logiese wyse versoenbaar nie.

Die vier-en-twintig ouderlinge, wat ons in Op 4:1-5:14 op trone en met krone gekroon in die hemel sien, verteenwoordig die Kerk, wat alreeds by hierdie geleentheid by die Regterstoel Oordeel van Christus beoordeel moes gewees het, anders sou hulle nie hulle krone as loon kon ontvang het nie. (lees asb die artikels “Krone Lone en Goeie Werke” “Gelowiges se werke gaan beoordeel word” asook “Gelykenis van die Ponde” vir meer besonderhede oor hierdie gebeurtenis) Dit is ook baie opmerklik, dat hierdie gebeurtenis in ‘n baie vroeë stadium van die Verdrukking plaasvind en dus kan die Kerk nie deur die Verdrukking gaan nie, want hulle is nie meer op aarde nie.
Opn 4:1 “Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. 4:2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. 4:3 En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.
4:4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.”

Ons moet verder besef, dat die gelowiges wat tydens die Verdrukking tot geloof in Jesus Christus kom, nie met Christus se Wederkoms aarde toe, verander word en met hulle verheerlikte liggame oorklee sal word nie. Hulle sal met hulle normale vleeslike liggame (insluitende hulle sondige natuur) Christus se vrederyk binnegaan en die wêreld weer bevolk. Hulle sal dus huise bou, trou en kinders baar asook nog kan sonde pleeg.
Jes 65:20 “Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word. 65:21 En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: 65:22 hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. 65:23 Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ‘n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle. 65:24 En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek. 65:25 Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ‘n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.”
Die profesie wat in bostaande teksgedeelte beskryf word, sal onmoontlik tot vervulling kan gaan indien alle gelowiges met Christus se Wederkoms aarde toe verander en met hulle verheerlikte liggame oorklee sou word, want dan sou daar geen nie-verheerlikte mense wees, wat die duisendjarige vrederyk kan binnegaan en die wêreld weer bevolk en met normale menslike lewens kan voortgaan nie. Onthou, ongelowiges sou alreeds met Christus se wederkoms veroordeel en van die aarde af verwyder gewees het. (Die Skape en Bokke Oordeel, of te wel die Oordeel van die Nasies. Mat 25:31- 46) Indien daar egter ‘n interval van sewe jaar tussen hierdie twee gebeurtenisse sou wees, net soos wat die Skrifte verkondig, sal daar genoegsaam tyd tydens die verloop van die Verdrukking wees, sodat mense tot geloof in Christus kan kom en dus die duisendjarige vrederyk met hulle nie-verheerlikte liggame kan binnegaan.

Nog ‘n rede hoekom daar ‘n interval van sewe jaar tussen die wegraping en Christus se Wederkoms aarde toe benodig word is, omdat die Oordeel van die Nasies nie sou kon plaasvind, indien die Wegraping tegelykertyd met Christus se Wederkoms aarde sou plaasvind nie, want dan sou die ongelowiges outomaties van die gelowiges d.m.v. die Wegraping geskei gewees het, en dan sou die oordeel van die Nasies nie nodig gewees het nie en sou dit heeltemal uit gekanselleer moet word. Dus is dit baie duidelik dat daar wel ‘n interval van minstens sewe jaar tussen die Wegraping en Christus se Wederkoms aarde toe moet wees, om hierdie teksgedeeltes, op ‘n logiese wyse met mekaar te versoen.

Om te verhoed dat God se plan met die Kerk en Sy plan met die volk Israel met mekaar verwar en vermeng raak, is dit belangrik dat die Kerk voor die aanbreek van die Verdrukking uit die wêreld verwyder word, sodat God weer met Israel as volk gedurende die tydperk van die Verdrukking kan handel. (Vir meer inligting word die leser aangeraai om die “Predikasie op die Olyfberg te lees”) Die belangrikheid van ‘n sewe jaar interval tussen hierdie twee gebeurtenisse dui maar net weereens daarop, dat die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling, duidelik die Bybelse se leer daaroor bevestig.

C. Jesus se dreigende, onverwagte en skielike koms:

In die Nuwe Testament word die gelowiges gereeld gewaarsku, dat Jesus Christus se Wederkoms skielik, onverwags en op enige oomblik kan plaasvind, en word daar geen gebeurtenis aan die gelowiges voorgehou wat eers moet plaasvind, alvorens Hy die Kerk d.m.v die Wegraping kom haal nie. Indien die Here Jesus Christus se wederkoms vir Sy Kerk nie dreigend of op enige oomblik kan plaasvind nie, beteken dit dat die Heilige Gees , wat die Bybel Geïnspireer het, verkeerd was toe Hy die skrywers van die Nuwe Testament geïnspireer het om die waarskuwing oor Jesus Christus se skielike koms te laat opteken. Indien Christus se koms nie skielik en onverwags kon plaasvind nie, sou Hy die Kerk moes waarsku om op die uitkyk te wees vir die verskyning van die Antichris en nie vir Jesus Christus se skielike en onverwagte koms nie. Die Skrifte waarsku egter die Gelowiges, wat tydens die kerk dispensasie leef, om gereeld en op die uitkyk vir Here Jesus Christus se koms vir hulle te wees, en word hulle nie gewaarsku om op die uitkyk vir die verskyning van die Antichris te wees nie!
1Ko 1:7 “sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus,
Fil 3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
1Ts 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos. (Die Verdrukking)
Tit 2:13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,”
(Sien verder Heb 9:28; 1Pet 1:13; Judas 1:21 ens) Indien Jesus Christus se koms vir ons nie op enige oomblik en sonder enige vooraf waarskuwing sou kon plaasvind nie, soos wat die teksgedeeltes hierbo duidelik maak, sou genoemde teksgedeeltes sinneloos en boonop misleidend wees. Slegs die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling maak op ‘n sinvolle wyse vir die skielike onverwagte koms vir die Here vir Sy bruid voorsiening, omrede daar geen vooraf gebeurtenisse hoef plaas te vind, alvorens die Wegraping kan plaasgevind nie, en daarom is die Bybelskrywers korrek om die Wegraping as dreigend en onverwags aan alle gelowiges, wat tydens die Kerk dispensasie tot geloof kom, voor te hou. Die Heilige Gees wat die derde Persoon in die Drie-Eenheid is, en self God is, kan nie foute begaan nie en het ook nie. Uit bostaande teksgedeeltes is dit egter baie duidelik, dat die Kerk herhaaldelik gewaarsku is om op die uitkyk, vir Christus se onverwagte en skielike koms vir Sy Bruid te wees. Dus is die hoop van die Kerk, nie die verskyning van die Antichris en die aanbreek van die Verdrukking nie, maar die skielike verskyning van Christus, om haar van die verskrikkinge van die Verdrukking te spaar. Slegs Pre-Millennialisme maak dit vir die gelowige moontlik om op die uitkyk vir Christus se skielike koms vir haar te wees, (fase een van die Wederkoms) en op dieselfde oomblik volle betekenis aan teksgedeeltes te gee wat oor die vooraf kentekens handel, wat betrekking het op Christus se Wederkoms, wanneer Hy kom om Sy koninkryk op aarde te kom vestig. (Fase twee van sy Wederkoms)Jesus Christus se onverwagte koms vir Sy Bruid (die Wegraping) is dus ‘n baie sterk bewys vir die noodsaaklikheid van die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling, wat die Wegraping as ‘n “Salige hoop” aan die gelowige voorhou.

In deel drie van hierdie reeks artikels wat oor die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling handel, sal ons die laaste argumente tot stawing van hierdie leerstelling bespreek en afhandel. Tot ‘n volgende keer!!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.