Jouself Liefhê?

Jouself Liefhê?

Mens hoor deesdae gereeld predikers wat preek, dat voor ‘n persoon sy medemens werklik lief kan hê, daardie persoon eerstens moet leer om homself/haarself lief te hê. Om bogenoemde stelling te staaf gebruik hulle die onderstaande teksgedeelte.
Mattheus 19:19 “eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Daar word dan beweer dat die Here ons opdrag gegee het om onsself lief te hê, en dan sal ons eers ander mense lief kan hê. Maar is dit werklik wat die Here met bostaande stelling bedoel het? Of word hierdie teksgedeelte buite konteks verdraai om iets te verkondig wat die Here nie werklik verkondig het nie?

Om die vraag korrek te beantwoord moet ons terug na Skrifte gaan en genoemde teksgedeelte binne die korrekte konteks van die hele Skrif bestudeer. Dit is ook belangrik om te merk dat hierdie leerstelling die ware Kerk oneindige skade berokken, en alreeds berokken het, en veroorsaak het dat hoogmoed, selfliefde en die eie ek tot ongekende vlakke in die belydende Christendom posgevat het, wat ernstige gevolge vir die lidmate se geestelike lewens inhou. Derhalwe word astronomiese bedrae geld jaarliks aan belydende Christene se voorkoms, beeld, plesier ensovoorts spandeer en dit alles ten koste van die verspreiding van die Evangelie.  Ek noem hulle sommer die “bors tikkers” of die “ek mense.” Hierdie Christene se status word aan hulle voorkoms of bates gekoppel en hulle skroom nie om dit aan ander voor te gooi nie. Al wat mens deesdae hoor is ek, ek, ek en bitter min word gesê van Jesus Christus en Sy opdrag aan Sy dissipels om die Evangelie te verkondig! Het die Here dan gefouteer toe Hy die onderstaande stelling gemaak het?
Mattheus 16:24 “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”
Of kyk ons, as Christene, dalk iets mis?

Verder het die Here niks gesê van onsself liefhê nie. Hy het goed genoeg geweet ons probleem is nie dat ons onsself te min lief het nie, maar dat ons onsself te veel liefhet. Wat die Here bedoel het is, dat ons ander so lief moet hê soos wat ons onsself liefhet. Indien mens die skrikwekkende hoe vlakke van lyding en swaarkry in die wêreld om ons waarneem, asook die feit dat daar hordes mense is wat nie die Evangelie gehoor het nie, en na hierdie mense kyk, soos wat die Here na hulle kyk dan sal ons geen rede hê om opgeblase te wees nie. Die oplossing van bogenoemde probleem lê nie daarin om ons self te leer om onsself nog meer lief te hê nie. En boonop is hierdie ook nie ‘n Bybelse leerstelling nie!

Kom ons kyk wat sê die Skrifte ( en by implikasie God self) werklik oor hierdie saak te sê het.
2Timoteus 3:1 “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 3:2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3:3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 3:4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 3:5 mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
In bostaande teksgedeelte is dit opmerklik dat selfliefde juis as een van die kentekens is wat sal aandui dat ons in die laaste dae is. Om ‘n liefhebber van jouself te wees, word nie as iets goeds aan ons voorgehou nie, maar is eerder ‘n indikasie dat iets ernstigs verkeerd is!  Hoe kan daar dan predikers wees wat rondloop en hierdie valse leerstelling verkondig?  En waar kry hulle hierdie Sataniese leerstelling dan vandaan? Dit kom nie van God af nie!

Die probleem met die mensdom is dat hulle, hulleself alreeds te lief het, en nêrens vind mens dat die Bybel ons leer dat ons onsself meer moet liefhê nie! Kom ons gaan kyk weer wat die Here oor hierdie aangeleentheid te se gehad het.
Mar 8:34 “En toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 8:35 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. 8:36 Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? 8:37 Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?”
Onthou die Here het hierdie stelling gemaak toe Hy op pad Jerusalem toe was om daar gekruisig te word!

Die Here het verder as dit gegaan, en dit duidelik gestel dat ons ons naaste moet liefhê nie onsself nie!
Joh 13:34 “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.”
En hoe lief het die Here ons gehad. Ja, Hy het ons so lief gehad dat Hy vir ons gesterwe het. Dit is die mate waarmee ons mekaar moet liefhê!
Joh 15:13 “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 15:14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel. “
Onsself liefhê is juis een van die oorsake dat ons, as gelowiges, nie eers naby kom om bogenoemde gebot van God na te kom nie. Dit is selfliefde wat juis sal verhinder dat ‘n persoon sy lewe vir ‘n ander gee. 

Jouself liefhê? Nee ek dink nie dit is wat die Here in Sy Woord aan ons wil voorhou nie. Jouself liefhê? Dit is waar die meeste van ons probleme ontstaan. Jouself liefhê? Dit is die vinnigste manier waardeur die mens homself vergoddelik en God verlaag. Hierdie is ‘n konsep wat goddelose mense van buite die Bybel binne in die Kerk ingebring het en dan word daar selektief teksgedeeltes buite konteks, deur predikers aangehaal, om ledemate in hulle sonde van selfliefde te versterk! Onthou die Bybel is God se woord, en as sulks, kan daar nie weersprekings wees nie. Die Here sal nie op een plek ons beveel om onsself te verloën en selfliefde as ‘n sonde voorhou nie, en dan weer verkondig dat ons moet leer om onsself liewer te hê nie. Hierdie leerstelling is ‘n geval waar die kerk net soos die wêreld wil word! Blykbaar het hierdie predikers vergeet wat die Here oor vriendskap met die wêreld te sê gehad het!
Jak 4:4 “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.” 

Selfliefde of jouself liefhê is juis die rede waarom ons samelewing lyk soos wat dit lyk! Dit is omdat kinders hulleself te liefhet dat hulle hulle ouers nie eerbiedig nie. Dit is selfliefde wat dink dat die wêreld ons iets skuld en dat ons op alles geregtig is. Dit is selfliefde is een van die redes waarom ons ander mense agter hulle rug slegsê, sodat hulle sleg mag lyk en die mense se fokus nie op ons eie tekortkominge kan fokus nie. Dit geld ook vir diefstal en meeste ander gruwels in ons samelewing! Nee ons moet God en ons medemens liefhê, nie onsself nie! Die probleem is dat ons onsself alreeds te veel liefhet en daarom hou die Here dit aan ons voor om ander ook so lief te hê, net soos wat onse onsself liefhet. Onthou God kan nie van Sy woord geskei word nie. Om God lief te hê is om God se woord te eerbiedig, nie om dit te verdraai en buite konteks vir verkeerde redes aan te wend nie!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.