doderyk, hades

Het die Here Jesus Christus na die Hel of die Doderyk neergedaal?

Vraag: Dankie vir Jesus vir jou. Net n vraag , as ons die belydenis opsê in ons kerk, se dit dat Jesus ter helle neergedaal het, Is dit so?

God se rykste seën vir jou.

Antwoord: Dit is ‘n baie belangrike observasie wat jy gemaak het en is daarom is die vraag wat jy vra ‘n baie goeie een! Ek moet jou verder komplimenteer, omdat dit uiters belangrik vir gelowiges is, om alles wat hulle lees of aan hulle, as Skriftelike waarheid, voorgehou word, self met die Skrifte te vergelyk, om sodoende vas te stel of dit wat aan hulle verkondig word, wel Skriftuurlik is. Hnd 17:11 “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”

Ek vermoed dat die gedeelte van die geloofsbelydenis waarna jy verwys die vierde punt van die Apostoliese Geloofsbelydenis is en wat deur ‘n groot gedeelte van die belydende Christendom gebruik word. Punt vier lui soos volg: “ wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;” Om hierdie rede is dit belangrik, om vas te stel wat die Bybel bedoel, wanneer daar na die doderyk verwys word. In die Ou Testament word die Hebreeuse woord “Sheol” vir die doderyk gebruik, wat na die plek van die dode verwys. In die Nuwe Testament, wat in Grieks geskryf is, word die Hebreeuse woord “Sheol” as “Hades” vertaal. Hierdie woorde word dan ook korrek in die Ou Afrikaanse Bybel as “doderyk” vertaal. Dus kan sheol/hades/doderyk as die plek van heengegane siele en/of geeste omskryf word. ‘n Goeie voorbeeld waar die Griekse woord “Hades” in die Nuwe Testament gebruik word is Hand. 2:27 wat soos volg lees:
Hnd 2:27 “Want U sal my siel nie aan die doderyk (Grieks: Hades) oorlaat of u Heilige (die Here Jesus Christus) oorgee om verderwing te sien nie.”
Die King James Vertaling vertaal egter die Griekse woord “Hades” as “Hell” en ek glo dit is hier waar die misverstande intree.

Boonop moet ons nie die doderyk/sheol/hades met die poel van vuur, waarna die apostel Johannes in die boek Openbaring verwys, verwar nie.
Opn 20:10 “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 20:15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
Die poel van vuur in Openb. 20:10 en Openb. 20:14-15 is glad nie dieselfde plek as die doderyk/sheol/hades nie. Die Bybel tref baie duidelik onderskeid tussen hierdie twee plekke. Let op die frase: “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.” Indien die doderyk dieselfde plek as die poel van vuur is, sou bostaande stelling sinneloos wees. Dus kan die doderyk/sheol/hades nie dieselfde plek as die poel van vuur wees nie. Die doderyk/sheol/hades kan dus as ‘n tydelike aanhoudingsplek omskryf word, waar mense se siele en geeste, na fisiese afsterwe, heengaan.

Dit moet ook verder ingedagte gehou word, dat die doderyk/seol/hades oor twee afsonderlike areas ingedeel was. Die eenkant, wat as Abraham se boesem bekend staan, is waar alle gelowiges, wat voor die Here Jesus Christus se kruisdood tot sterwe gekom het, heengegaan het in afwagting van Sy voltooide werk aan die Kruis vir hulle.
Luk 16:22 “En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.”
Dit moet egter gelet word, dat na die afhandeling van Christus se voltooide werk aan die kruis, alle gelowiges wat tot sterwe kom se siele direk hemel toe gaan, waar hulle in God se teenwoordigheid sal bly in afwagting om met hulle verheerlik liggame, met die eerste opstanding/wegraping oorklee te word. En daarom kon die apostel Paulus die onderstaande stelling maak.
2Ko 5:8 “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”
Abraham se boesem gedeelte van die doderyk/sheol/hades was ‘n plek, wat slegs as ‘n plek van seëninge en rus omskryf kan word, en daar is geen sprake van smarte of straf in hierdie plek nie. Dit was na hierdie gedeelte (Abraham se boesem) waarheen die Here Jesus Christus na Sy kruisdood afgevaar het.

Die ander gedeelte van die doderyk/sheol/hades word as die plek van smarte in die Bybel omskryf.
Luk 16:23 “En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. 16:24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”
Alle ongelowiges word in hierdie gedeelte van die doderyk aangehou en sal na afloop van Jesus Christus se duisendjarige Vrederyk, deur Hom op grond van hulle werke veroordeel word en in die poel van vuur gewerp word.
Opn 20:15 “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”
(Die leser word aangeraai om die artikel “Die Wit Troon Oordeel” vir meer besonderhede rondom hierdie gebeurtenis, te lees.)
Daar is ook boonop ‘n groot kloof wat die twee areas van die doderyk van mekaar skei wat verhoed het dat persone oor en weer kon beweeg.
Luk 16:26 “En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.”

Nadat die Here Jesus Christus met Sy bloed/lewe (Rom.3:25; 5:9; 5:10) vir ons sondes aan die kruis betaal het, het Sy Gees in Abraham se Boesem gedeelte van die doderyk/sheol/hades afgegaan om die siele van afgestorwe gelowiges te gaan haal en hulle saam met Hom hemel toe te neem. Boonop bevestig Paulus hierdie waarheid in Ef. 4:8-10 wat soos volg lees:
Efs 4:8 “Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem (Ou Testamentiese gelowiges wat in Abraham se boesem in aanhouding was.) en gawes aan die mense gegee. 4:9 Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? 4:10 Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.”
Terwyl Jesus se Gees in die doderyk/sheol/hades was en voordat Hy uit die dood uit opgestaan het, het Hy die oorwinning wat Hy aan die kruis behaal het, aan die gevalle engele/bose geeste (nie die geeste en siele van ongelowige mense nie) wat in Tartarus opgesluit is, verklaar.
1Pe 3:18 “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 3:19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 3:20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;” (Die leser word aangeraai om die artikel “Die Leerstelling van die Gevalle Engele” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp te lees.)
Met Sy opstanding uit die dood het die Here die siele van die gelowiges, wat voor Christus se voltooide werk aan die kruis tot sterwe gekom het, en wat in Abraham se boesem was, uitgehaal en saam met Hom hemel toe geneem.
Efs 4:8 “Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes (Siele van Ou Testamentiese gelowiges.) gevange geneem en gawes aan die mense gegee.”

Dit is dus vanuit die Skrifte duidelik, dat die Here se Gees nie in die “Hel” of beter, die smarte gedeelte van die doderyk afgegaan het nie, maar Sy Gees het eerder na die gedeelte van die doderyk, wat as Abraham se boesem bekendstaan, gegaan. Volgens die Bybel kan die dood altyd as skeiding omskryf word, en wanneer ‘n persoon in ongeloof sterwe, is daardie persoon vir altyd van God se teenwoordigheid geskei, en daarom het die Here nie nodig gehad om na die siele van die afgestorwe ongelowiges te gaan nie. (Die Leser word aangeraai, om die artikel “Die Sewe verskillende Vorms van Dood in die Bybel” vir meer inligting rondom hierdie onderwerp, te lees.) Hou asb in gedagte, dat die doderyk/sheol/hades nie dieselfde plek as Tartarus is, waar sommige bose geeste/gevalle engele aangehou word en waarna die Here heen gegaan het om Sy oorwinning oor hulle te verklaar, nie. (1Pet.3:18-20)

Die Bybel gee dus geen indikasie dat die Here na die smarte afdeling van die doderyk afgedaal het nie, en ek glo verder dat die skrywers van die Apostoliese geloofsbelydenis nie bedoel het, dat die Here na hierdie gedeelte van die doderyk afgedaal het nie, maar dat Hy eerder na die doderyk/sheol/hades afgedaal het. Ek glo die misverstand het ingetree met die verkeerde vertaling van die doderyk/sheol/hades as hel in die Engelse Bybels, veral die King James weergawe, wat dus direk oorgedra is na die Afrikaanse weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis toe, wat die idee skep dat die Here na die smarte gedeelte van die doderyk afgedaal het. Dit is egter slegs my opinie, maar ek glo dat die woord “doderyk”, soos wat die vertalers van die Ou Afrikaanse Vertaling, sheol/hades vertaal het ‘n beter keuse sou wees. Ek sou byvoorbeeld punt vier van die Apostoliese geloofsbelydenis as “ter dode neergedaal” vertaal, wat baie onnodige misverstande sou uitskakel. Indien jy op Wikipedia gaan kyk, sal jy opmerk dat baie denominasies en groepe wel hierdie verandering in hulle weergawe van die Apostoliese Geloofsbelydenis gemaak het en die woord “hel” in baie gevalle met die woord “doderyk” vervang is.

Ter Afsluiting: Onthou, dit is aan die kruis waar die Here Jesus Christus vir ons sondes versoening gemaak het en nie in die hel of in die doderyk nie.
Kol 1:20 “en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.
Kol 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,”
Dit was terwyl die Here Jesus Christus aan die kruis gehang het waar Hy van die Vader geskei was.
Mat 27:46 “en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”
En daarom kon die Here Jesus Christus ook aan die kruis, net voor Sy fisiese afsterwe, verklaar dat alles volbring is.
Joh 19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”
Ek noem hierdie feite op, want daar is mense, soos Kenneth Hagen Sr (Wat as die vader van die Woord Geloof beweging beskou word en waaruit die Rhema Bybel Kerk in Suid Afrika, onder Ray McCauly sy oorsprong het.)  Kenneth Copeland en ‘n groot gedeelte van die Woord Geloof Beweging, wat verkondig dat die Here Jesus Christus in die hel vir ons sondes betaal het. Sommiges soos Kenneth Copeland gaan so ver en beweer dat Christus, deur gevalle engele in die hel in ons plek gemartel is en ook in die hel wedergebore geraak het.  Joyce Meyer het ook hierdie dwaalleer verkondig. Hierdie leerstelling is ‘n ernstige mistasting van God se woord en is niks anders as Godslastering nie. Die Here Jesus Christus is deur die Vader vir ons sondes aan die kruis gestraf. Ons het teen God en Hom alleen gesondig, nie teen die Duiwel nie. Dus staan die mensdom voor ‘n regverdige en heilige God skuldig en moet ons met Hom versoen word, nie met die Duiwel nie. God het egter in Sy onberekenbare genade Sy geliefde Seun, wat self God is, gestuur en deur Sy kruisdood die weg oopgemaak, sodat die gevalle mens met God versoen kan word.
2Ko 5:21 “Want Hy (God die Vader) het Hom (Die Here Jesus Christus) wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. (In Christus)
Kol 1:20 en dat Hy (God die Vader) deur Hom (Die Here Jesus Christus) alles met Homself (God die Vader) sou versoen nadat Hy (Die Here Jesus Christus) vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis (Die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis! Nie in die Hel nie!)—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. ”

Dit moet egter in gedagte gehou word, dat die skrywers van die Apostoliese Geloofsbelydenis nie bedoel het dat die Here Jesus Christus in die hel vir ons sondes betaal het nie. Al wat hulle duidelik wou maak is, dat die Here Jesus Christus wel fisies gesterwe het en liggaamlik opgestaan het, omrede hierdie feit ‘n onontbeerlike deel van die Evangelie uitmaak, en daar was alreeds in die vroegste tye van die dispensasie van Die Kerk, mense wat hierdie feit ontken het. Vir geloof om as reddende geloof te kwalifiseer, moet ‘n persoon in die Here Jesus Christus, as die Seun van God, glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om die persoon se persoonlike sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou.
Ek hoop hierdie artikel beantwoord jou vraag!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.