Gehoorsaam God

Gehoorsaam God

Spreuke 1:25 “en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie,”

Aan die nie wedergebore persoon: Hy verwerp die Evangelie.
Aan die wedergebore persoon: Hy respekteer en gehoorsaam nie God se oproep om uit die wêreld uit te kom en om sy sondes te laat staan nie.

Spreuke 1:26 “daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; 1:27 as julle verskrikking kom soos ‘n onweer, en julle ondergang soos ‘n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval.”

Aan die nie wedergebore persoon: Hy kom tot sterwe en kom met ‘n skok agter dat hy op pad hel toe is. Dit is te laat. Dit is sy eie skuld.
Aan die wedergebore persoon: God se genade gee die persoon nie ‘n lisensie om te sondig nie. As die persoon werklik wedergebore is, sal daar straf in sy lewe kom as hy in sonde voortgaan. In sommige gevalle selfs die dood.
Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 12:5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 12:8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? 12:10 Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. 12:11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. 12:12 Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; 12:13 en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. 12:14 Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; 12:15 en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. 12:16 Laat niemand ‘n hoereerder wees nie, of ‘n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het. 12:17 Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.”

Spreuke 1:28 “Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie.”

Aan die nie wedergebore persoon: Dit sal te laat wees en die persoon sal God se oordele moet aanvaar. Hy sal niemand behalwe homself hê om te blameer nie. Hy is daar, omrede hy die Evangelie geweier het en liewer was vir die sonde.
Aan die wedergebore persoon:
Galasiërs 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.”
Soms dra ons die gevolge van ons sondes vir die res van ons lewens, al is ons kinders van God. Neem maar as voorbeeld ‘n persoon wat sondig deur om dronk te bestuur. Hy maak dan ‘n ongeluk en breek sy nek en is verlam. Vir die res van sy lewe gaan hy waarskynlik in ‘n rystoel of bed moet deurbring. Hy kan maar bid, maar die Here sal nie sommer sy gebed beantwoord nie. Kyk wat het met Dawid gebeur toe hy egbreuk met Bátseba gepleeg het. Hy moes vir die res van sy lewe met die gevolge saamleef (2 Samuel 11:3-12:10) Dit dien as waarskuwing aan mense wat die verskoning gebruik van: “Ons is onder genade” wanneer hulle gewaarsku word teen sonde in hulle lewens.

Spreuke 1:29 “Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie,”

Aan die nie wedergebore persoon: geen verdere verduideliking nodig nie.
Aan die wedergebore persoon: Bestudeer jou Bybel en gehoorsaam wat jy daar lees. Die Here is nie ons ou maatjie nie, Hy is die God en Skepper van die heelal en Hy moet ten alle tye geëer word.

Kom laat ons die Here eer en gehoorsaam wees. Hy verdien niks minder as dit nie.

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.