Die Wegraping

Die Wegraping. Deel 3

In die derde en laaste artikel in die reeks artikels wat oor die Wegraping handel, gaan ons die laaste grondbeginsels vir die Voor-Verdrukking Wegraping bespreek. In deel twee van hierdie reeks artikels het ons die eerste drie argumente wat as bewys vir die Voor-Verdrukking Wegraping dien bespreek en in deel drie sal ons die laaste paar argumente as bewys vir hierdie leerstelling voorlê.

D. Die aard en omvang van die Verdrukking:

Indien ons die Bybel op ‘n letterlike wyse interpreteer, sal opgemerk word dat die Bybel van ‘n sewe jaarlange tydperk, wat as die Verdrukking bekendstaan, praat, en wat ook as die 70’ste Jaarweek van Daniël bekendstaan. God sal hierdie tydperk gebruik om Israel as volk voor te berei om Jesus Christus as hulle Messias te aanvaar, sodat Hy hulle kan verlos.
Deu 4:29 “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. 4:30 As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. 4:31 Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.”
Dit is uiters belangrik om kennis te neem, dat die Here met Israel as volk ‘n verbond aangegaan het, en daarom spreek Hy in bogenoemde teksgedeelte met hulle as ‘n volk wat in ‘n Ou-Testamentiese verbondsverhouding met Hom staan en word die Kerk geensins in hierdie teksgedeelte aangespreek nie. Dit is ook opmerklik, dat die Jode weer, as volk, in 1948 hervestig is en dat daar tans baie Jode na Israel terugkeer in voorbereiding vir die vervulling van bogenoemde profesie.

Die Verdrukking staan ook as die tydperk van Jakob se benoudheid bekend, wat weereens as bewys dien dat die Here met Israel as volk praat en nie met die Kerk nie.
Jer. 30:4 “En dit is die woorde wat die HERE gespreek het oor Israel en Juda: 30:5 Want so sê die HERE: Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie! 30:6 Vra tog, en kyk of ‘n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander?30:7 Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word. 30:8 En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. 30:9 Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek. 30:10 Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die HERE; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak. 30:11 Want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou te verlos. Want Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.”
Baie mense beweer verkeerdelik dat die Here Israel as volk verwerp het en dat Hy niks meer met hulle te doen wil hê nie. Diegene wat hierdie leerstelling verkondig, weerspreek die Here en verkondig leuens, soos wat duidelik uit bostaande teksgedeelte waargeneem kan word. Bostaande teksgedeelte handel spesifiek oor die tydperk van die Verdrukking waarin die Here dit duidelik stel, dat Israel as volk uit hierdie verskriklike tydperk gered sal word. Die Here gaan pertinent met Israel gedurende die Verdrukking handel, en die Jode gaan ‘n verskriklike tyd beleef, wat die volksmoord van die tweede wêreld oorlog, onder bevel van Adolf Hitler, soos ‘n piekniek sal laat lyk. (Die leser word aangeraai om ook self die volgende teksgedeeltes te lees wat meer omtrent hierdie tydperk bekend maak. Eseg. 20:22-44; 22:13-22) Dit is van uiterste belang dat ons toelaat dat die teksgedeelte met ons spreek en moet ons nie ons eie opinies of teologie in die teks inlees nie. Indien ons dit doen sal ons opmerk dat God met Israel praat en nie met die Kerk nie.

Die Bybel stel dit egter duidelik dat die Kerk nie vir die Verdrukking bestem is nie, want ons het ‘n hemelse verwagting en is maar net pelgrims in hierdie wêreld.
1Pe 2:11 “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;”
Ons is maar net vreemdelinge in hierdie wêreld. Ons ware woning is in die Hemel, nie op aarde nie.
1Pe 1:17 “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,”
Dit is egter nie te sê dat die Kerk van alle verdrukking gedurende die Kerk dispensasie gespaar sal word nie, want Jesus Christus het ons vooraf gewaarsku dat ons in hierdie wêreld verdrukking sal hê.
Joh. 16:33 “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Die rede hoekom die Kerk in hierdie wêreld verdrukking kan verwag, is omdat die ongelowige wêreld ons vyandiggesind is en indien ons godvrugtig in hierdie wêreld wil leef, ons vervolg sal word.
1Jo 3:13 “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.
Jo 17:14 Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
2Ti 3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.”
Bostaande stellings behoort ons as gelowiges geensins te verbaas nie, want hierdie wêreld het as geheel Satan as god en dien hom gewilliglik op ‘n direkte of op ‘n indirekte wyse.
1Jo 5:19 “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.”

Die Kerk word nêrens in die Bybel in terme van die Groot Verdrukking, wat ook as die Dag van die Here en die tyd van Jakob se benoudheid bekendstaan, genoem nie. Die Bybel stel dit egter baie duidelik dat die Kerk, wat die Bruid van Christus is, nie die voorwerp van God se toorn is nie.
1Ts 1:9 “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”
Daar is ‘n baie opmerklike verskil tussen die redes waarom Israel die Verdrukking gaan beleef en waarom die Kerk nou tans verdrukking in hierdie dispensasie kan verwag. Die Kerk kan verdrukking in hierdie wêreld verwag, indien sy getrou aan God wil bly. Israel, daarin teen, gaan in die Verdrukking gedompel word, juis omdat sy ontrou teenoor die Here is en Hom as haar Messias verwerp het. Die Here gaan van die Verdrukking gebruik maak om Israel te kry, om in haar benoudheid en wanneer sy totale uitwissing in die oë staar, na Hom as haar Verlosser te draai en Hom aan te roep, dan sal Hy op aarde verskyn en haar verlos.
Mat 23:39 “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”
Met Sy eerste koms het die Here bogenoemde profesie teenoor die Jode gemaak, en dit sal teen die einde van die Groot Verdrukking in vervulling gaan. Om hierdie rede bied pre-mellennialisme die beste oplossing vir die vraag, waarom die Kerk nooit in teksgedeeltes genoem word wat spesifiek oor die Groot Verdrukking handel nie, en dit terwyl Israel herhaaldelik in sulke teksgedeeltes genoem word.

E: Die aard van die Kerk:

Slegs die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling handhaaf op ‘n logiese wyse die onderskeid tussen die volk Israel en die Kerk, wat in die Bybel duidelik as twee diverse entiteite omskryf word. Soos reeds baie duidelik in hierdie artikel gedemonstreer is, word die kerk as ‘n verborgenheid bestempel, (Efesiërs 3:1-13) wat uit Jode sowel as nie-Jode, wat in een liggaam saamgevoeg is, bestaan.
Efs 2:11 “Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, 2:12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. 2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het 2:15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep 2:16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het. 2:17 En Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; 2:18 want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader. 2:19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, 2:20 gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, 2:21 in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, 2:22 in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.”

Die feit dat die Kerk en die volk Israel so radikaal van mekaar verskil, beantwoord die vraag, waarom die wegraping nooit in Ou-Testamentiese teksgedeeltes genoem word wat oor die Wederkoms van Christus, na afloop van die Groot Verdrukking handel nie. Indien die wegraping eers na afloop van Christus se Wederkoms sou plaasvind, sou die Bybel hierdie feite in die Ou-Testament genoem het. Geen sprake van die wegraping na afloop van die Groot Verdrukking word egter in Ou-Testamentiese teksgedeeltes gemaak nie. Hierdie feit bevestig die Nuwe-Testamentiese teksgedeeltes wat die Kerk waarborg dat sy nie deur die Verdrukking sal hoef te gaan nie en dat sy hierdie verskriklike tydperk sal vryspring.
1Ts 1:9 “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.” (Die Verdrukking)
1Ts 5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus 5:10 wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. 5:11 Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”
Boonop dit alles, word slegs aan die Kerk die waarborg gegee dat sy d.m.v. die wegraping na die Vader se huis geneem sal word, en nie op Sy wederkoms na afloop van die Groot Verdrukking sal hoef te wag, alvorens sy met haar Bruidegom versoen sal word nie.
Joh. 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Die Werking van die Heilige Gees:

In 2 Thess. 2:1-12 beskryf die Bybel hoedat die man van ongeregtigheid nl. die Antichris verhinder word om sy verskyning voor sy tyd te maak.
2Ts 2:1 “Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2:2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 2:3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 2:4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 2:6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” 2:10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” 2:12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.”
Die Antichris kan nie geopenbaar word alvorens die Heilige Gees, wat alle gelowiges (die Kerk) verseël, eerstens uit die weg geruim is nie. Die Heilige Gees, wat tans deur gelowiges (die Kerk) werksaam is, en wat verhoed dat die wêreld in absolute goddeloosheid verval, sal na afloop van die wegraping nie meer goddeloosheid tot die selfde mate as nou verhinder nie. Alhoewel die Kerk met die wegraping uit die wêreld geneem sal word, sal die Heilige Gees nog steeds op aarde werksaam wees, omrede Hy God is en dus alomteenwoordig is. Die Heilige Gees sal egter nie meer die Kerk gebruik om goddeloosheid tot dieselfde mate te verhinder, soos wat tans die geval is nie. Na afloop van die wegraping sal God aan die goddelose mensdom gee net wat hulle harte begeer en sal die wêreld onder bestuur van die Antichris in absolute goddeloosheid verval. Die Heilige Gees sal egter nog steeds die mensdom van die nodigheid van ‘n Verlosser nl. Jesus Christus oortuig, en baie mense sal gedurende die Verdrukking wel tot geloof in Christus kom en gered word. Die Antichris kan egter nie sy verskyning maak alvorens die Kerk eers d.m.v. die Wegraping uit die weg geruim is nie.

Praktiese Implikasies:

Net soos wat alle Bybelse leerstellings ‘n praktiese applikasie en dimensie het, so is dit ook die geval met die leerstelling van die Voor-Verdrukking Wegraping. Die feit dat die Here Jesus Christus op enige gegewe tydstip Sy verskyning kan maak, om die Kerk na Sy Vader se woning te neem, behoort hierdie feit elke gelowige tot toegewyde dissipelskap aan te spoor. Verder behoort die leerstelling van die wegraping ook daartoe te lei dat Bybelstudie, evangelisasie, sendingwerk asook leerstellige suiwerheid die sentrale fokus van die gelowige se lewe word. Indien ons as gelowiges weer op die skielike koms van Christus d.m.v. die wegraping fokus, behoort dit elke Christen se waardes, optredes, prioriteite asook doelstellings ten goede te beïnvloed.

Noudat ons weet dat die wegraping op enige oomblik kan plaasvind behoort ons God se opdragte aan ons getrou uit te voer.
1Ko 15:5 “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”
Bo en behalwe dit, behoort alle gelowiges, wat die leerstelling van die wegraping in hulle harte koester, hulleself van alle onreinheid te reinig.
1Jo 3:3 “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.”
Kerkleiers moet ook hulle roeping getrou uitvoer en nie poog om mense te behaag nie. Hulle moet konsentreer om suiwer leerstellings te verkondig en nie valse leerstellings en profesieë te verkondig wat hulle hoorders verlei nie.
2Ti 4:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 4:3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4:4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 4:5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.”
Genoemde kerkleiers moet veral daarteen waak om buite Bybelse leerstellings en manifestasies as van God afkomstig te verklaar, soos wat deesdae die geval in so baie gemeentes is, met die wete dat hulle voor God gaan verskyn en verantwoordelik gehou gaan word vir dit wat hulle verkondig het.

Die wete dat die wegraping skielik en onverwags kan plaasvind behoort gelowiges verder aan te spoor om geduldig op die Here Jesus Christus hul Verlosser te wag en Hom alleen te dien.
1Ts 1:9 “Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.”
Soos reeds vroeër in hierdie artikel duidelik gemaak is, het die vroeë Kerk die skielike koms van die Here vir hulle verwag en is hierdie leerstelling ook van vroeg af aan hulle verkondig. Nêrens in die Nuwe Testament lees ons dat die vroeë Kerk aangesê is om op die verskyning van die Antichris te wag nie. Hulle het hulle Verlosser vanuit die hemel verwag en nie op die Antichris gewag nie. Soos ook reeds bewys, was dit die Here Jesus Christus wat eerste die leerstelling van die Wegraping bekend gestel het, en is gelowiges aangesê om op Sy koms vir hulle op die uitkyk te wees.
Fil. 3:20 “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
Tit. 2:13 “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,”

As gelowiges moet ons tot die besef kom, dat ons aardse bestaan maar net tydelik is, en dat dit net tot ons voordeel sal strek indien ons op hemelse dinge fokus in pleks daarvan om op die wêreld se dinge te fokus.
Kol 3:1 “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 3:2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3:3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 3:4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.”
Om hierdie rede behoort ons as kinders van God wat as vreemdeling op aarde woon mekaar te bemoedig om al ons bekommernisse op Hom te werp.
1Pe 5:7 “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 5:9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.”

Met die wete dat die wegraping nou enige tyd kan plaasvind behoort ons ook aan te moedig om met alle vorm van sonde en vleeslikheid te breek.
Kol 3:5 “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, 3:6 waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,”
Ons moet besef, dat die Here ons nie met Sy kosbare bloed losgekoop het, net sodat ons in ons sondes kan bly voortleef nie.
Tit. 2:13 “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 2:14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ʼn volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”

Die Here verwag van ons om nugter en waaksaam op Sy skielike koms vir ons te wag. Indien ons hierdie vermaning ernstig opneem, sal dit bewys dat ons oor werklike wysheid beskik.
1Ts 5:6 “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. 5:7 Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. 5:8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. 5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”
Bogenoemde vermanings sluit aan by die feit dat ons in die Here Jesus Christus moet bly, sodat ons onsself nie hoef te skaam as ons na afloop van die wegraping voor Hom moet verskyn nie.
1Jo 2:28 “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.
1Jo 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.”

Ter afsluiting:

Volgens my beskeie mening is die voor-verdrukking wegraping leerstelling net so veel ʼn Bybelse leerstelling soos wat die leerstelling van die Drie-Eenheid is. Boonop staan die leerstelling van die wegraping in noue verband met die lewe wat ons tans in hierdie bose wêreld beleef, en help dit ons om perspektief op al die seer, hartseer en lyding te gee wat ons almal deelagtig is, met die wete dat Jesus Christus op enige gegewe tydstip Sy opwagting vir ons kan maak en sal ons stryd en lyding iets van die verlede wees. Indien ons getrou die Here Jesus Christus as Sy dissipels gevolg het en gedoen het wat Hy ons beveel het, dan sal Hy ons ryklik met gesagsposisies in Sy komende koninkryk beloon en sal ons ook as mede-erfgename saam met Hom regeer.
2Ti 2:12 “ As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”
Die vroeë Kerk het dan ook die woord “Maranata” gebruik om hulle begeerte en hoop vir Jesus Christus se skielike koms vir hulle uit te druk. In my opinie is dit ‘n tragedie dat die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling nie genoegsaam in gemeentes duidelik verkondig word nie, en kan die gebrek aan die verkondiging van hierdie leerstelling as een van die vernaamste redes dien waarom die Kerk van vandag so wêreldsgesind is. Dit is verder my hoop dat met die skryf van hierdie artikel enige onduidelikheid of die leerstelling van die wegraping wel uit die Bybel geregverdig kan word uit die weg geruim is. Die Voor-Verdrukking Wegraping leerstelling is sonder enige twyfel ‘n Bybelse leerstelling en mag hierdie wete ons aanspoor om ons taak op aarde getrou te voltooi. Maranata! Kom Here Jesus Christus!

Seën Groete

Vic

Deel met ander asb.