Raad aan gelowiges 2

Raad aan gelowiges in hierdie tyd van verval. Deel 2

In deel een van hierdie reeks artikels, het ons die eerste reeks van drie hulpmiddele bespreek wat God aan gelowiges gegee het om in hierdie tyd van morele, asook leerstellige verval getrou aan Hom te kan bly. In deel twee gaan nog ‘n verdere twee hulpmiddels bespreek word. Indien die leser nie alreeds deel een van hierdie reeks artikels gelees het nie, word hy ten sterkste aangeraai om dit te doen. In deel drie van hierdie reeks artikels sal ons die laaste twee hulpmiddels bespreek.

Die genade van die Here Jesus Christus: As dit dit nie vir die genade van die Here Jesus Christus was nie sou geen persoon ooit in ‘n posisie gewees het om goeie werke te verrig wat enigsins oor enige ewigheidswaarde beskik nie. Christus se voltooide werk aan die kruis het nie net slegs vir al ons sondes versoening gedoen nie, maar het ook verseker dat die Heilige Gees die gelowige permanent sou inwoon, wat aan hom die vermoë sou gee om deur voortgesette dade van geloof, genadeloon, wat ewigdurende implikasies vir die gelowiges sal inhou, te verdien. Boonop het die Heilige Gees die gelowige tydens wedergeboorte verseël, wat as waarborg dien dat ‘n gelowige nooit verlore sal kan gaan nie, en hierdie waarborg dien as verdere impetus sodat die gelowige goeie werke behoort voor te bring.
Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,”
Daarom is dit ‘n demonstrasie van ongeloof indien ‘n gelowige, na aanvanklike wedergeboorte, van samekoms tot samekoms gaan om daar deur die Heilige Gees “gesalf” te word. Ons lewe nou tydens die Post Apostoliese tydperk van die Dispensasie van Genade/Kerk, en tydens hierdie dispensasie word alle gelowiges slegs eenmaal deur die Heilige Gees gesalf en verseël. Om weer vir ‘n verdere salwing van die Heilige Gees te soek is om bostaande verklaring van God te verwerp. Persone wat so graag deur handoplegging aan gelowiges die “salwing” (anointing) herhaaldelik wil oordra moet eerder God se woord bestudeer en in geloof toepas. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Doop met die Heilige Gees en vulling met die Heilige Gees” asook “Word gelowiges een of twee keer deur die Heilige Gees gedoop” te lees. Dit is van uiterste belang om hierdie artikels sorgvuldig te bestudeer, omrede daar deesdae baie valse lering aangaande hierdie onderwerp in die belydende Christendom versprei word.)

Omrede die gelowige nou deur die Heilige Gees verseël is, is die Heilige Gees nou in staat om die gelowige te vul, sodat Hy die vrugte van die Gees in die gelowige se lewe kan voortbring. En omrede die gelowige a.g.v. Christus se voltooide werk aan die kruis die Heilige Gees as ‘n blywend Persoon in hom het, is die gelowige nou in staat om deur middel van die instaatstellende krag van die Heilige Gees, die Here Jesus Christus as getroue dissipel te volg, wat goeie werke insluit en wat daartoe aanleiding sal gee dat die gelowige genadeloon by die Regterstoel Oordeel van Christus kan ontvang. Alle goeie werke, wat nie in en deur die Heilige Gees verrig word nie, sal by die Regterstoel Oordeel van Christus met vuur verbrand word. Dit sluit alle goeie werke in die vlees verrig in. Slegs werke wat in en deur die Heilige Gees bewerkstellig is sal dus met genadeloon beloon word. Onthou, ‘n persoon ontvang die gawe van die Heilige Gees d.m.v. geloof in die Evangelie alleenlik, en waar ‘n persoon goeie werke verrig in ‘n poging om homself gered te kry, of om homself gered te hou, dan tree daardie persoon in ongeloof op en verwerp in wese God se woord. Slegs indien ‘n persoon die Bybel korrek interpreteer, en sy geloof in die teksgedeeltes binne die korrekte konteks verstaan en toepas, kan sy geloof as Bybelse geloof omskryf word. Waar ‘n persoon sy geloof in teksgedeeltes buite die korrekte konteks aangehaal, of teksgedeeltes wat buite konteks verdraai is plaas, dan kan daardie persoons se geloof nie as Bybelse geloof omskryf word nie, maar is eerder misplaaste geloof wat in wese niks anders as ‘n vorm van ongeloof is nie. By verre die oorgroot meerderheid van mense wat beweer dat hulle Christene is, is die slagoffers van misplaaste geloof. (omrede hulle die slagoffers van valse leerstellings is)

Sonder Christus se genade kan ons niks doen nie, en sou ons ook nie in staat wees om teen Satan se aanvalle staande te bly nie. Dit help ons niks om Satan, in die naam van die Here Jesus Christus, te bind indien God se woord dit duidelik stel dat Satan nie huidiglik gebind is nie maar, eerder as ‘n brullende leeu rondloop om te kyk wie hy kan verskeur.
Pet.5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
Hoekom moet ons nugter en waaksaam wees indien ons die duiwel net kan bind? Indien hy gebind is, hoekom moet ons dan nog vir hom waaksaam wees? Veral indien mens in ag neem, dat die duiwel kwansuis letterlik duisende keer per dag deur gelowiges gebind is! Mense wat hierdie dwaaleerstelling glo se geloof is heeltemal misplaas, omrede dit nie op teksgedeeltes binne die korrekte konteks gebaseer is nie. Die Skrifte stel dit baie duidelik dat die Duiwel slegs na afloop van die Groot Verdrukking gebind sal wees, en hierdie binding van Satan sal ook nie deur enige gelowige/mens bewerkstellig word nie!
Openb.20:1 “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. 2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, 3 en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.”
(Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Bind en ontbind van bose geeste” asook “Christus se sistematiese oorwinning oor Satan” te lees.)

Die Here Jesus Christus se genade dien dus as grondslag van die gelowige se lewe. Huidiglik beïnvloed Satan nie slegs individuele persone nie, maar is ook agter die skerms besig om die nasies te verlei. (Die leser word ten sterkste aangeraai om die twee reekse van artikels “Die Duiwel se aktiwiteite sover dit die gelowige aanbetref” en “Satan se optrede ten opsigte van die nasies”, asook “Satan se invloed agter globalisering” te lees.) Dit is Christus, en derhalwe God se genade, wat die mensdom se bevryding en Satan se ondergang bewerkstellig het. En boonop het God dit in Sy verlossingsplan vir die skepping so bewerkstellig dat gelowiges genadeloon deur voortgesette dade van geloof kan verdien. Dit is nou vir jou mos ‘n wonderlike plan!

Die Here Jesus Christus se getrouheid en krag: Omrede die Here Jesus God is, weet ons dat Hy nie kan lieg nie en dat Sy beloftes altyd in vervulling sal gaan.
2Tim.2:11 “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. (Fase een van ns verlossing, naamlik wedergeboorte en die ewige lewe)12 As ons verdra, sal ons met Hom regeer. (Fase twee van ons verlossing, naamlik heiligmaking/dissipelskap wat van voortgesette dade van geloof afhang en wat moontlike lyding insluit) As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. (By die Regterstoel oordeel, waar ‘n gelowige genadeloon sal verbeur, maar nog steeds gered sal bly. Sien 1Kor.3:11-15) 13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (Omrede die Here Jesus Christus ons die ewige lewe op grond van ons geloof in die evangelie belowe het, kan ‘n gelowige nie die ewige lewe verbeur nie. Al is die gelowige ontrou bly Christus egter getrou aan Sy belofte en sal Homself nooit verloën deur Sy belofte te breek nie.)

Dit is op grond van die Here Jesus Christus se voltooide werk aan die kruis waardeur ons wedergebore geraak het, nie op grond van ons eie goeie werke nie. Daarom kan ons niks werke doen om gered te word of om onsself gered te hou nie. Om dit te doen sou ‘n teken van ongeloof in Christus se beloftes wees. ‘n Gelowige se ontrouheid het wel gevolge. Die leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Verliese en gevolge van sonde in die gelowige se lewe” te lees.)
2Tim.2:19 “Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”
(die Skrywer praat hier met gelowiges wat alreeds wedergebore is, en as gevolg van hierdie feit verwag die Here nou van hulle om d.m.v. van heiligmaking van alle ongeregtigheid afstand te doen. Dit is egter ‘n lewenslange proses. Jou posisie moet jou optrede bepaal, nie jou optrede jou posisie nie, soos wat baie mense beweer nie. Om te beweer dat jou optrede jou posisie bepaal is niks anders as ‘n werke evangelie te verkondig nie!)
1Kor.3:11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Toe die Here Jesus Christus op aarde was, het Hy nooit gepoog om relevant te wees nie, maar Hy het gedoen wat die Vader Hom beveel het om te doen. En omrede Hy presies gedoen het wat die Vader Hom beveel het, het die wêreld Hom gehaat.
Joh.7:7 “Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.
Omrede ons die Here Jesus Christus as dissipels moet navolg, geld die volgende stelling ook vir ons, naamlik:
Joh.12:25 “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” (Hierdie teksgedeelte handel nie oor wedergeboorte fase een nie, maar eerder oor heiligmaking/dissipelskap. (fase twee van ons verlossing.) Indien die gelowige sy lewe in hierdie wêreld liefhet, dan sal hy God se doel vir sy lewe misloop, en die werklike betekenis van sy lewe verloor en in die hiernamaals genadeloon verloor. Onthou almal se bekers gaan vol wees maar nie almal se bekers gaan ewe groot wees nie. Die Leser word ten sterkste aangeraai om die artikel “Wat is die ewige lewe” te lees.)

Wanneer ‘n gelowige die Here Jesus Christus getrou navolg, dan kan hy verseker wees dat die duiwel hom op die een of ander wyse sal aangeval. En omrede die wêreldsisteem in die mag van Satan lê, kan mens verwag dat hy daarvan gebruik sal maak om getroue dissipels van die Here te vervolg. Die Duiwel sal egter nie ‘n kerk haat wat met hom bevriend is nie!
Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. 19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. 20 Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. 21 Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”
Ons moet egter onthou dat in vergelyking met die ewigheid hierdie lewe slegs ‘n oogwink is, en vir die gelowige lê by verre die beste voor. Om hierdie rede is dit van uiterste belang dat ons die Here getrou navolg, want ons loon gaan onbeskryflik groot wees.
Rom.8:16 “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God
(fase een van ons verlossing, naamlik wedergeboorte) en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. (fase twee van ons verlossing, naamlik dissipelskap/heiligmaking wat moontlike lyding insluit) 18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.
Onthou, dit is ‘n belofte wat God nooit sal breek nie! Elke gelowige wat deur ‘n moeilike tyd gaan behoort deur hierdie feit bemoediging te ontvang. (Die leser word aangeraai om die artikel“Beproewing van die gelowige se geloof” en “Waarom heg God waarde in geloof wat beproef is?”, asook “Hoekom sukkel mense om te sterf veral by ou mense” te lees.)
1Kor.2:9 “maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Ter afsluiting: Tydens die Dispensasie van die Kerk, is die Kerk se mandaat nie om God se koninkryk op aarde te vestig soos wat baie mense beweer nie. Dit sal Hyself met Sy wederkoms bewerkstellig. Die Kerk se plig is om die Evangelie van God se genade te verkondig, en dan diegene wat die evangelie geglo, en wedergebore geraak het, te leer hoe om as dissipels van die Here te leef. Onthou ons moet die sondaar liefhê en die sonde haat. Dit beteken geensins dat ons ‘n persoon se sondige leefwyse goedpraat of verdedig nie, maar dit beteken eerder dat ons vir hom sal bid en hom in liefde die waarheid vertel.
2Tim.2:1 “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;”

Ons nader die einde van die Kerk Dispensasie vinnig, en dit is nou ons geleentheid om te doen wat die Here ons beveel het om te doen. Hy het immers aan ons alles voorsien wat ons benodig om as Sy dissipels in hierdie wêreld staande te bly. Dit sluit die volle wapenrusting van God en die onderstaande vermaning in, naamlik:
1Thess.5:6 “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.7 Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. 8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid. 9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus 10 wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe. 11 Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen. 12 Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; 13 en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar. 14 En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal. 15 Sorg dat niemand ‘n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal. 16 Wees altyddeur bly. 17 Bid sonder ophou. 18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. 19 Blus die Gees nie uit nie. 20 Verag die profesieë nie. 21 Beproef alle dinge (wat nie sondig is nie); behou die goeie. (beste) 22 Onthou julle van elke vorm van kwaad. 23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms (fase een van die wederkoms, naamlik die wegraping) van onse Here Jesus Christus! 24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen. 25 Broeders, bid vir ons.” (lees ook Ef.6:10-18)

Die tyd is min!


Seën groete!

Vic

Deel met ander asb.