Wil God almal verlos deel 2

Wil God almal verlos – deel 2

Hierdie artikel is geskryf om die tweede gedeelte van die onderstaande vraag aangaande die aantygings van semi-pelagianisme aan te spreek. Die leser word aangeraai om deel een van hierdie artikel genaamd “Wil God almal verlos?” te lees” Ek gaan net die vraag wat aan my gestel is weer hier aanhaal en dan spesifiek op die onderwerp van semi-pelagianisme fokus.

Vraag: Baie dankie vir al die inligting op jou blad. Indien dit reg is met jou sou ek graag wou kers-opsteek oor n saak.

Ons biduur groep het gisteraand oor n saak getwyfel. Dit handel daaroor of alle mense gered kan word of nie. Kan ek uit vrye wil tot God nader of moet Hy my roep. M.a.w. is dit net geroepenes wat gered kan word? Iemand het genoem dat ons besig is met kettery (heresy). Ons moet na Mat 13 kyk en sien dat die onkruid mense is wat deur Satan geplant is. Daarom is bv Gal 5 slegs geskryf vir die wat deur God geplant is. Ek wonder maar net, staan alle mense dan nie ‘n kans om gered te word nie? Is die Koninkryk van God dan slegs vir die wat deur God geroep is. (Die persoon het ook aangegaan oor semi-pelagianisme wat ons dan sou verkondig en die valse evangelie is. Ek het nog nooit eens daarvan gehoor nie.)

Antwoord: Hierdie aantygings word soms deur sommige Calviniste teen Dispensasionalisme gemaak. Daar is geen predikers onder dispensasionalisme, waarvan ek bewus is, wat ooit sal beweer dat die mens “saam met God werk” om sy verlossing te bewerkstellig nie. Calviniste wat ander van semi-Pelagianisme beskuldig doen so omrede hulle dink dat indien die mens oor ‘n vrye wil beskik dit beteken dat die mens saam met God om sy verlossing werk, (sinergisme) en sodoende het die mens dus ‘n aandeel in sy eie verlossing, en gevolglik kan die mens se verlossing nie alleenlik volkome deur God bewerkstellig wees nie. Om hierdie rede beweer hulle dat sodanige leerstelling as kettery (semi-Pelagianisme) omskryf kan word, omrede die mens kwansuis saam met God werk om sy verlossing te bewerkstellig. Maar wat sê die Skrifte t.o.v. hierdie vraagstuk?

Monergisme teenoor Sinergisme:
Wie bewerk die mens se verlossing? – God alleen – monergisme (wat hierdie skrywer ook onomwonde glo, soos wat in hierdie artikel duidelik gedemonstreer sal word.)

Wanneer die mens saamwerk om sy verlossing te bewerkstellig? – Sinergisme, waarvandaan die beskuldiging van semi-Pelagianisme vanuit die Calvinistiese kamp sy oorsprong het.

Gereformeerde Teologie se beskrywing van monergisme:
Volgens die siening van die Gereformeerde Teologie beteken monergisme dat die Heilige Gees wedergeboorte en vernuwing by die mens bewerk sonder dat enigiets of iemand daartoe saamwerk. (en wat dus die menslike wil en keuse uitsluit.) Hierdie leerstelling beweer dat die mens in sy totaliteit verdorwe is a.g.v. die sondeval en dat alle mense dus met ‘n sonde natuur gebore word. Derhalwe beskik die mens van nature nie die vermoeë om self sy redding te bewerk of eens te kies om verlos te word nie. God moet dus die mens eerstens wederbaar (dus wedergeboorte skenk) en dan die wedergebore persoon die gawe skenk om te glo en dan die persoon wat nou niks anders kan doen as om te glo nie, regverdig verklaar en hom verlos. (geloof word nou aan die persoon geskenk, ‘n gawe wat van nie nie-uitverkorenes weerhou word) Volgens hierdie siening word verlossing uit God se eie effektiewe werking deur die Heilige Gees in die mens bewerkstellig. (Hierdie hele proses word deur onweerstaanbare genade op die uitverkore persoon afgedwing sonder dat hy enige sê in die saak het.) Die res van die mensdom (die oorgroot meerderheid van die mensdom, wat nie deur God tot onweerstaanbare genade uitverkies is nie, word nog voordat hulle eers gebore is tot die ewige poel van vuur verdoem.) Hierdie leerstelling verkondig dus dat God alles moet wil en uitvoer, wat by implikasie beteken dat Hy die bron van alles sonde is.

Die volgorde van verlossing:

  • Gereformeerde Teologie: Omrede die Gereformeerde Teologie die mens van sy vrye wil ontneem, om sodoende hulle leerstelling wat d.m.v. die Engelse akroniem T.U.L.I.P. of te wel “totale verdorwenheid,” “onvoorwaardelike uitverkiesing,” “beperkte versoening,” “onweerstaanbare genade” en “volharding van die heiliges” te regverdig, moet God eerstens ‘n persoon geestelike lewe skenk/wederbaar, (sonder dat die persoon eers bewus is van hierdie feit) geloof aan die persoon skenk, die persoon dan regverdig verklaar en hom verlos en al hierdie stappe word effektief deur die Heilige Gees bewerkstellig sonder dat die mens enigsins ‘n keuse in die saak het.

    Die vraagstuk waarmee baie Calviniste sukkel is die vraag of die hart alreeds glo, of glo die hart omrede dit alreeds wedergebore is? Die antwoord op hierdie vraag bepaal volgens hulle mening die onderskeid tussen Calvinisme en semi-Pelagianisme. (sinergie) Die term “sinergie” (semi-Pelagianisme) beteken in kort “om saam te werk”. ‘n Valse beskuldiging wat soms verkeerdelik teen mense gemaak word wat leer dat geloof wedergeboorte voorafgaan en nie andersom nie. Meeste Calviniste beweer dat wedergeboorte geloof moet vooraf gaan, omrede hulle glo dat die mens heeltemal bedorwe is en eers deur God wederbaar moet word alvorens hulle kan glo en verlos word. Hulle beweer verkeerdelik, dat indien geloof wedergeboorte voorafgaan, die mens in staat is om ‘n morele bydrae tot sy eie verlossing kan maak, deur te glo en dus beweer hulle dat die mens saam met God werk (semi-Pelagianisme) om Sy verlossing te bewerkstellig. Volgens hulle mening is dit dus ‘n vorm van “sinergie” wat tot die valse beskuldiging van semi-Pelagianisme aanleiding gee. Die leerstelling wat verklaar dat wedergeboorte geloof voorafgaan word egter nêrens in die Bybel duidelik uiteengesit nie. Calviniste kan nie een enkele teksgedeelte aanhaal waar ‘n persoon eerstens wedergebore moes wees, alvorens hy kan glo en dan verlos kan word nie. Volgens die Skrifte is ‘n persoon wat wederbaar/wedergebore is niks anders as verlos nie. ‘n Persoon kan seer sekerlik nie wedergebore wees, en op dieselfde tyd ook nie alreeds verlos wees nie. So ‘n stelling is sinneloos en boonop ‘n teenstrydige konsep. En gevolglik word hierdie leerstelling nêrens in die Bybel aangetref nie.
  • Die volgorde waarop die Bybel verlossing beskryf: Die Bybel stel dit duidelik dat ‘n persoon slegs wedergebore word nadat hy geloof toegepas het en nie voor die tyd nie.
    Ef. 1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
    Hand.16:30 “En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
    (Let op die feit, dat die onus op die mens lê om te glo, en nêrens word gesê dat die Here die gawe van geloof onweerstaanbaar op die mens lê, om sodoende te verseker dat nie mens sal glo nie, want dan sou Paulus se bogenoemde stelling sinneloos wees.)

    Omrede geloof wedergeboorte voorafgaan (soos wat die Bybel dit duidelik leer) beteken dit dan dat die gevalle mens uit sy eie verderflike toestand ‘n keuse sal maak om te glo? Soos reeds in die vorige artikel gedemonstreer is, kan ‘n heeltemal verdorwe persoon wel ‘n keuse maak om te glo, omrede hy oor ‘n vrye wil beskik, maar omrede hy totaal verdorwe is, sal hy nie die Here uit eie wil soek indien die Here hom nie eerstens trek nie. Maar soos ons alreeds gedemonstreer het, stel die Skrifte dit duidelik dat God wel almal trek.
    Joh.12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”

Totale Verdorwenheid en onvermoë:

  • Gereformeerde Teologie se siening: Volgens hierdie leerstelling word Adam se nasate (die hele mensdom)met ‘n sonde natuur gebore, omrede Adam teen God gerebelleer het en sy hele wese verdorwe geraak het. (Wat korrek is) Verder glo die Gereformeerde Teologie, dat verdorwenheid in sy totaliteit gesien moet word met die gevolg dat die mens so verdorwe is dat hy geestelik dood is. Derhalwe word al die mens se optredes, insluitende sy pogings om goed te doen hierbenewens as vyandskap met God beskou. Totale verdorwenheid beteken nie noodwendig dat alle mense tot so ‘n mate korrup gebore word dat hulle tot die uiterste maat boos sal optree soos wat hulle verderwe toestand toelaat nie.

    Die mens se wese en natuur is egter tot so ‘n mate deur die sondeval aangeraak dat sy hele wese, naamlik sy hart, gees, en siel in sy totaliteit deur die sonde gedood is. Hierdie leerstelling glo dus dat die gevalle mens nie meer werklik oor ‘n vrye wil beskik, wat aan hom die vermoeë sou gee om ‘n vrye keuse te kan maak om die Here aan te neem nie. Derhalwe word die Calvinistiese omskrywing van totale verdorwenheid aan menslike onvermoë gekoppel. A.g.v. die mens se onvermoë, om uit eie keuse die Here aan te neem, moet God d.m.v. predestinasie ‘n aantal mense tot saligheid predestineer (onvoorwaardelike verkiesing) en ook eensydig wederbaar, sodat hulle nou sal glo en verlos kan word. (Hulle kan dus nou niks anders doen as om te glo nie, en om hierdie rede word dit onweerstaanbare genade genoem.) Daarom glo hulle dat die wederbarende werk van God in Sy uitverkorenes se harte reeds in hulle suigelingsfase plaasvind. Gevolglik verklaar die Dordtse leerreëls dat geen mens sonder die wederbarende krag van die Heilige Gees gewillig of in staat is om hom tot God te bekeer nie. Om hierdie rede moet wedergeboorte voor geloof in die Evangelie plaasvind.
  • Wat die Bybel daaroor leer: Die Bybel verklaar wel dat die mens met die sondeval ‘n sonde natuur bekom het en in hierdie opsig totaal verdorwe is. Wat die Bybel egter nie verklaar nie, is die feit dat ‘n verdorwe persoon nie oor ‘n vrye wil beskik nie. Daar is nie een teksgedeelte in die hele Bybel wat verklaar dat ‘n sondaar nie die Evangelie kan hoor verstaan en glo nie. Nie een nie! Ja, die Bybel beskryf wel die boosheid van die menslike hart (omrede hy verdorwe is) maar verdorwenheid word nêrens in die Bybel aan onvermoë gekoppel nie. Indien ‘n totaal verdowwe persoon nie oor ‘n vrye wil beskik nie, hoekom doen die Here dan die moeite om met die mens te streef en hom te oortuig as God in Sy alwetendheid alreeds weet dat die mens nie ‘n keuse kan maak om te glo nie?
    Jes.1:18 “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”
    Hoekom sulke uitnodigings aan die mens rig, indien ‘n mens nie oor ‘n vrye wil beskik om ‘n keuse te kan maak nie? Van voor tot agter in die Bybel pleit die Here met die mens om tot bekering te kom. Hoekom dit doen indien die mens nie oor ‘n vrye wil beskik nie? Weet die Here dan nie dat die mens nie oor ‘n vrye wil beskik nie? Ek glo nie so nie!
    Openb.22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
    Totale verdorwenheid beteken nie totale onvermoë nie!

    Ja, niemand in sy verdorwe toestand sal uit sy eie keuse die Here soek nie, maar in hierdie opsig help die Here almal.
    Joh. 12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.”
    Goddelike oorreding/oortuiging is in werklikheid wat die Bybel Godlike hulp noem, naamlik die instaatstelling wat ‘n totale gevalle mens nodig het om Christus se gawe van die ewige lewe, deur geloof, in ontvangs te neem. Dit is nie sinergie nie. God, in Sy soewereiniteit, inisieer die verhouding asook die hele verlossings plan. Hy het deur Sy Seun vir die al die mense se sondes aan die kruis gesterf en versoening gedoen. ‘n Plan wat slegs God geïnisieer het en waartoe die mens geen bydra gelewer het nie. (God het dus die verlossingsplan uitgedink en deur Sy Seun se kruisdood bewerkstellig. Die mens kan niks tot hierdie plan bydra nie. Hy kan dit slegs deur geloof in ontvangs neem, en nooit daarvoor werk nie.) Dit is ook dan God wie al die oortuigings en toenaderingswerk verrig en die mens is slegs die ontvanger van sy verlossing. Wanneer dit by verlossing fase een, naamlik wedergeboorte kom, is die mens se geloof passief in die sin dat hy niks doen om verlossing te inisieer, verdien of bewerkstellig nie, maar is slegs die ontvanger van God se genadegawe van die ewige lewe. (Joh.1:12) Om ‘n geskenk/gawe in deur geloof in ontvangs te neem kan nooit as verdienstelike werk/loon beskou word nie. Hierdie Godlike oorreding word egter nêrens in die Bybel as wedergeboorte omskryf nie, iets wat calvinisme moet verkondig omrede hulle wedergeboorte voor geloof in die proses van verlossing moet plaas, ‘n leerstelling wat nêrens in die Bybel te vinde is nie.

    Volgens die Skrifte raak ‘n persoon slegs wedergebore, die oomblik wanneer hy die Evangelie hoor, verstaan en glo.
    Ef.1:13 “in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
    Hand.16: 30 En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

    Hy word nie eers wedergebore, om dan te kan glo en verlos te word nie. So ‘n stelling is sinneloos en weerspreek die Bybel. Dit word ook nêrens in die Bybel so verkondig nie. Geloof is ‘n saak van die hart, en die gelowige is die passiewe ontvanger van die geskenk van die ewige lewe die oomblik wanneer hy die Evangelie glo. Die gebeure in Cornelius se huis demonstreer hierdie feit baie mooi. Terwyl Petrus nog die goeie nuus verduidelik het, het hulle geglo, en onmiddelik die Heilige Gees ontvang, wat beteken dat hulle passiewe ontvangers van die ewige lewe was.
    Hand.10:43 “Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang. 44 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.” (Hierdie mense het absoluut niks gedoen nie maar slegs geglo! Geen sprake van eers wedergebore en dan glo nie!)

    Boonop kan Goddelike oorreding nie as wedergeboorte bestempel word nie. Volgens die Bybel vind wedergeboorte op grond van God se genade deur geloof plaas. Hierdie leerstelling is in teenstelling met die leerstelling van totale onvermoë om te glo. Iets wat die Bybel nêrens verkondig nie. Gaan ons menslike logika bo die Skrifte plaas? Wedergeboorte vind plaas wanneer ‘n persoon die Evangelie glo en nie voor die tyd nie.
    Markus 16:15 “En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. 16 Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.”
    Maar soos reeds gedemonstreer, vind die inwoning van die Heilige Gees slegs plaas indien ‘n persoon alreeds geglo het. Wedergeboorte is dus as gevolg van geloof en nie die oorsprong daarvan nie. Die moderne Gereformeerde leerstelling wat leer dat wedergeboorte geloof voorafgaan is ontwikkel toe kinderdoop en doopsaligheid die dominante leerstellings was. (Die leser word aangeraai oom die artikels “Die waterdoop vorm nie deel van die Evangelie nie” asook “Bykomende vrae aangaande die doop” te lees.) Hierdie leerstelling is egter meer op menslike logika gebaseer eerder as die gevolg van gesonde Bybel uitleg. (eksegese) Daar is absoluut geen Skriftuurlike bewys dat wedergeboorte geloof voorafgaan nie. Wedergeboorte is volkome God se werk in die persoon se hart wie die evangelie verstaan en geglo het!

Geestelike dood en onvermoë:

  • Die Gereformeerde Teologie: Volgens die Gereformeerde Teologie is geestelike dood net soos fisiese dood. En net soos wat ‘n fisiese dooie persoon niks vir homself kan doen nie, kan ‘n persoon wat geestelik dood is ook niks vir homself doen nie, (hy kan dus nie oor ‘n wil beskik nie want hy is net soos ‘n fisiese persoon dood) en daarom moet God alles vir die geestelike dooie persoon doen, wat vereis dat Hy eers die mens moet wederbaar, en dan die persoon die gawe om te glo skenk, alvorens die persoon sal glo en verlos kan word.

Geestelike dood volgens die Bybel: Volgens bogenoemde leerstelling volg verlossing logies na wedergeboorte. ‘n Onderskeid van terme wat die Bybel nooit tref nie. Volgens die Bybel is wedergeboorte presies dieselfde as verlossing en kan die twee terme nie van mekaar geskei word nie. Die fout wat Calvinisme in hierdie opsig maak, is die feit dat hulle fisiese dood met geestelike dood verwar. Ja, ‘n fisies dooie persoon is dood, en kan niks vir homself doen nie, maar hy kan ook nie meer sonde doen of enige iets anders (goed of sleg) doen nie. Hy kan nie eens eet nie! Maar ‘n geestelike dooie mens is nie altyd fisies dood nie, en kan nog eet en selfs goed doen, omrede hy nie fisies dood is nie maar geestelik dood is. Mens moet nie die ooreenkomste tussen fisiese dood en geestelike dood te ver druk nie, want soos reeds genoem, kan ‘n fisiese dooie persoon nie eens eet nie, maar ‘n geestelike dooie mens kan dit en baie meer doen. Ja, en hy kan self wil, ‘n feit wat ons almal daagliks met ons eie oë waarneem. ‘n Fisiese liggaam hou op om te leef met die afsterwe van ‘n persoon, maar ‘n geestelike dooie persoon se gees bly vir altyd voortbestaan, en kom nooit in dieselfde sin as fisiese dood tot ‘n einde nie, maar leef bewustelik of in die hemel of in die hel voort. En daai gees maak nog steeds besluite en het nog steeds begeertes, net soos wat die ryk man in Lukas 16:23-24 so mooi illustreer, naamlik:
Lukas.16:23 “n die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. 24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.” (ons merk ook dat ‘n geestelike dooie persoon soms self goeie motiewe kan hê. Die ryk man het Abraham versoek om sy broers te waarsku sodat hulle nie in dieselfde plek opeindig nie! Boonop demonstreer dit onomwonde dat die geestelike dooie persoon nog steeds ‘n wil het. Om ‘n versoek aan Abraham te rig, beteken dat die persoon oor ‘n wil moet beskik en in hierdie geval was dit sy wil dat sy broers nie in die hel moet beland nie.) ‘n Fisies dooie persoon se liggaam is van sy gees geskei. ‘n Geestelike dooie persoon is van God geskei, al leef hy nog, en al kan hy nog baie besluite neem en een daarvan is om die Evangelie te glo of om dit te verwerp. Iets wat ‘n fisiese dooie liggaam nie kan doen nie. (die leser word ten sterkste aangeraai om die artikels “Wat is die Ewige Lewe?” asook “Sewe verskillende vorms van Dood in die Bybel” te lees.) Indien die ooreenkoms tussen fisiese dood en geestelike dood te ver gedruk word, (en selfs verwar word) kan dit tot ‘n verkeerde slotsom/leerstelling aanleiding gee, wat weer op sy beurt tot valse aantygings van semi-Pelagianisme tot gevolg het.

Is geloof ‘n werk?: Hoe kom Calviniste, wat die bewering van semi-Pelagianisme maak, dan tot hierdie verkeerde gevolgtrekking? Omrede hulle ‘n keuse om te glo as werk bestempel. En dit is net hier waar hulle ‘n ernstige mistasting begaan, wat tot gevolg het dat hulle selfs die Bybel weerspreek. Die Skrifte stel dit onomwonde, dat wedergeboorte slegs op grond van God se genade deur geloof plaasvind. Dus volg wedergeboorte op die hakke van geloof en gaan nie wedergeboorte vooraf nie. Geloof kan dus nie as ‘n menslike werk bestempel word nie, ‘n feit wat die Bybelskrywers baie duidelik uitlig.
Ef.2:8 “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Rom.4:4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; 5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. 6 Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke:”

As wedergeboorte/verlossing op die hakke van geloof volg, is daar dus geen sprake van werke nie en is die Calvinis se bewering van semi-pelagianisme misleidend en sonder enige Skriftuurlike grondslag. Om ‘n geskenk te ontvang kan nooit as ‘n werk bestempel word nie, anders sou dit nie as ‘n geskenk omskryf kan word nie maar eerder as verdiende loon.

Die oplossing: Die feit dat God alle mense na Hom trek, is die Goddelike hulp wat die mens nodig het om op deur geloof op die Evangelie te reageer. (indien hy wil.) Alhoewel die Goddelike oorreding onbeperk is, bly dit egter nog steeds oorreding, en wanneer ‘n persoon dus die keuse maak, om die gawe van die ewige lewe in geloof te aanvaar, beoefen daardie persoon nog steeds sy eie keuse uit. (Hy het egter nog ‘n wilsbesluit om te maak) Dus, is daar geen sprake van onweerstaanbare genade, asook die ontneming van die menslike vrye wil teenwoordig nie. Indien “onweerstaanbare genade” aan die uitgekose persoon geskenk word, hoe kan die Here Jesus Christus die Fariseërs dan daarvan aankla dat hulle nie na Hom wil kom nie, indien Hy geweet het dat Hy nie aan hulle die vermoeë gegee het om dit te doen nie? Die eenvoudige feit is dat die Here nooit bogenoemde stelling met enige mate van geregtigheid kon maak, indien Hy geweet het dat Hy (of enige Persoon in die Drie-eenheid) die Een is wat die vermoë om na Hom te kom weerhou en hulle dan vir daardie onvermoë kwalik neem. (Iets wat die Calvinis moet glo om sy leerstelling van predestinasie en onweerstaanbare genade te regverdig)
Joh.5:39 “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. 40 En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” (die Here plaas duidelik die onus op die Fariseërs en hulle weiering om na Hom te kom! Nie op Sy (God) se weerhouding van daardie vermoë/geloof nie.)

Die Heilige Gees sal alles doen om ‘n persoon oor te haal, hom te oortuig, te trek, asook lief te hê, maar op die ou einde van die dag bly dit egter die mens se vrye keuse om die Evangelie te glo of dit in ongeloof te verwerp. (‘n Vermoeë wat God in Sy soewereiniteit aan die mens gegee het) God dwing niemand om te glo nie, want ware liefde kan nie op dwang gebaseer word nie, anders sou dit nie werklike liefde genoem kan word nie. Niemand wil egter sy of haar eggenoot met geweld kansel toe sleep nie. Dit is nie liefde wanneer iemand geforseer word om lief te hê nie! Die man inisieer die verhouding, deur die vrou in liefde die hof te maak, in liefde toenadering te soek, en na haar te vry, in ‘n poging om haar te oorreed d.m.v. haar eie vrye keuse om op sy toenadering te reageer en met hom te trou. Indien ‘n man homself op ‘n vrou afdwing is dit niks anders as verkragting nie.

Om van wedergeboorte as Goddelike instaatstelling te praat, wat kwansuis die totale verdorwe mens in staat stel om die Evangelie te glo, en dan verlos te word is sinneloos. Om so iets te doen is om Skriftuurlike terme buite konteks en op ‘n onskriftuurlike wyse toe te pas. Dit sou meer Skriftuurlik wees, om eerder by die terminologie te bly wat die Bybel gebruik, asook in die wyse waarop die Bybel dit gebruik, naamlik die woorde wat die Bybel gebruik om Goddelike werkswyse/metodes te verduidelik, naamlik roeping, oortuiging, oorreding? (nie onweerstaanbare genade nie!)

Ter Afsluiting: Ter afsluiting sal ‘n paar vra en antwoorde gestel word wat duidelik die beskuldiging van semi-Pelagianisme sal weerlê. Dit sal ook as verdere aansporing dien om werklik weer die Calvinistiese leerstelling in lig van die Skrifte te ondersoek.

Vraag: Was dit God se wil dat die mens in sonde moes verval het.
Antwoord: Nee. (anders sou dit Hom die oorsaak van sonde gemaak het) God is Heilige en kan nie deur sonde versoek word, en ook versoek Hy niemand met sonde nie. (Jak.1:13-14) Die sondeval is dus iets wat buite Sy wil plaasgevind het, alhoewel Hy in Sy alwetendheid altyd geweet het dat die mens wel tot ‘n val sou kom. Hy het geweet dat indien Hy die mens met ‘n vrye wil sou skape, dit sou beteken dat die mens sy wil kan gebruik en teen Hom kan rebelleer. Maar sonder ‘n vrye wil sou niemand Hom werklik kon liefhê nie, (‘n wedersydse liefdesverhouding wat Hy met Sy hele Wese begeer) maar sou eerder ‘n vooraf geprogrammeerde robot gewees het. Vir werklike liefde om te bestaan, moet daar ‘n vrye wil teenwoordig wees. ‘n Persoon moet dus oor die vermoeë beskik om uit eie keuse lief te kan hê, asook die keuse om enige toenadering tot liefde deur ‘n wilsbesluit te kan verwerp.

Vraag: Nadat die sondeval plaasgevind het, wie het die verlossingsplan geïnisieer en in werking gestel?
Antwoord: God alleen.

Vraag: Wie het versoening aan die kruis gedoen, deur met Sy lewe/bloed vir die mensdom se sondes te betaal?
Antwoord: Alleenlik die Here Jesus Christus, Wie God in die vlees is. (geen menslike bydra nie)

Vraag: Het die mens enige bydra tot hierdie verlossingswerk/verlossingsplan bygedra?:
Antwoord: Nee!

Vraag: Wanner is die finale grondslag vir die mensdom se sonde probleem vir eens en vir altyd afgehandel.
Antwoord: Op ‘n spesifieke punt in tyd, toe die Here Jesus Christus, aan die kruis, vir die mensdom se sondes gesterwe het nadat Hy verklaar het dat “alles volbring” is.
Joh.19:30 “En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”

Vraag: Het die mens enigsins ‘n bydra tot Christus se versoeningswerk aan die kruis gelewer? Wie het alles volbring?
Antwoord: Nee, die mens het geen bydra gemaak nie, en dit is alleenlik die Here Jesus Christus wat met Sy dood die mens se verlossing bewerkstellig het.

Vraag: Wat verwag God van die mens om hierdie verlossing, wat Hy alleenlik geïnisieer en bewerkstellig het, as geskenk in ontvangs te neem?
Antwoord: Geloof.

Vraag: Is geloof ‘n werk?:
Antwoord: Nee, nie volgens die Bybel nie. (Ef.2:8-9; Rom.4:4-5)

Vraag: Beskik die mens oor ‘n vrye wil:
Antwoord: Ja. Ons almal maak honderde kere per dag wilsbesluite om goed of sleg te doen. Vir enige persoon om gewillig of onwillig te wees beteken dat daardie persoon eerstens oor ‘n wil moet beskik.

Vraag: Sal ‘n totaal verdorwe persoon ‘n eie wilsbesluit neem en self die Here om verlossing nader?
Antwoord: Nee, hy beskik wel oor ‘n vrye wil, maar sal nie in sy gevalle toestand vanself die Here soek nie. Om hierdie rede is dit nodig vir God om die mens na Hom te trek, iets wat Hy wel met alle mense doen.
Joh.6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Joh.12:32 “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal (sonder uitsondering) na My toe trek.”

Vraag: Kan alle normaal gesonde mense glo?
Antwoord: Ja, want die Here trek almal.

Vraag: Hoekom gaan mense dan verlore?
Antwoord: Omrede hulle nie wil glo nie.
Joh. 3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
Joh. 3:36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
Joh. 16:9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;”
Baie mense gaan ook verlore, omrede hulle wel na die Here om verlossing kom, maar hulle doen dit op menslike terme, en nie op God se terme nie, wat menslike werke, rituele (soos bv goeie werke of waterdoop) ens, by die Evangelie as vereiste vir wedergeboorte voeg.
Gal.2:16 “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Ander weer, (onder andere Arminianisme) glo weer hulle kan a.g.v. die een of ander sonde uit genade verval en verlore gaan, wat ‘n indikasie is dat hulle nie werklik glo dat die Here vir al hulle sondes (verlede, hede en toekomstige) sondes aan die kruis gesterwe het nie. Hierdie is maar net nog ‘n vorm ongeloof. (Lees gerus die Artikels “Generiese geloof vs Reddende geloof” en die artikel “Ewige sekuriteit van die gelowige” asook “Die Breë en die smal weg”)

Derhalwe is dit net soos wat die Here vooraf gewaarsku het, naamlik:
Matt.20:16 “So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.”
God se uitverkiesing vind op grond van Sy alwetendheid, waarvan voorkennis ‘n sub-kategorie vorm, plaas en daarom het Hy dit ook duidelik gestel dat min mense gered sal word. Dit is egter nie God se wil dat iemand verlore moet gaan nie.
2Pet.3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
En daarom nooi Hy nog steeds almal uit om die geskenk van die ewige lewe kosteloos deur geloof in ontvangs te neem.
Openb.22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”
Mense gaan verlore omrede hulle nie in die Here Jesus Christus se Persoon en voltooide werk aan die kruis vir hulle glo nie! Nie omrede die Here sekeres vooraf uitverkies om gered te word en die res tot ewige verskrikking in die hel te verdoem nie. Calvinisme se beskuldiging van semi-pelagianisme is dus heeltemal ongegrond en moet verwerp word. Die vraag is nie wat sê Johannes Calvyn sê nie, maar wat die Skrifte sê. Calviniste moet eerder ophou om ons genadige en liefdevolle God se heilige Naam in oneer te bring. God het nie mense geskep om hulle goedsmoeds tot ‘n oneindige gruwel bestaan in hel te verdoem nie! Mense gaan verlore omrede hulle die Evangelie nie wil glo nie!

Dit is my bede dat hierdie artikel jou vrae beantwoord, en onthou: Reddende geloof is om in die Here Jesus Christus, as die Seun van God te glo, Wie gesterf het en weer uit die dood uit opgestaan het, om jou persoonlike (volledige) sondeskuld voor ‘n regverdige God te betaal, en die Een wat aan almal die ewige lewe skenk wat Hom, en Hom alleen, daarvoor vertrou.

Seën groete!

Vic