Abram as les vir gelowiges vandag

Abraham as voorbeeld vir gelowiges vandag.

Die studie van tipologie kan baie genot aan die gelowige verskaf, en boonop is daar geen perke aan die geestelike seëninge en lesse wat daaruit verkry kan word nie. Kom ons grou een so geestelike skat uit die Ou-Testament op. Daar is baie sulke tipes orals in die Bybel weggesteek. Probeer ‘n paar vir jouself ontdek, dit verskaf ure se genot.
Spreuke 25:2 “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.”
Hier gaan ons!

Genesis 12:1 “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.
12:2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. 12:3 En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Opmerking: Voor Abraham se roeping was hy en sy familie afgodedienaars. Ur van die Chaldeërs was n stad vanwaar Abraham oorspronklik gekom het, dit was ook die sentrum van maan aanbidding. God het Abraham geroep om Hom te volg en alle afgode agter te laat. So roep God elke gelowige ook vandag om Hom te volg en om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef. Die Here wil hê ons moet ons sondige leefwyse met al sy afgode agter laat en net op Hom alleen vertrou.

Gén 12:4 “Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. 12:5 En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom.
Opmerking: Net soos Abraham moet ons God gehoorsaam en ons geloof in dade omsit. Dit help nie ons sê ons sal in Hom glo, maar begin nooit regtig om Hom in geloof te volg en gehoorsaam te wees nie. Ons moet ‘n doelbewuste besluit maak om in God te glo, Hom as getroue dissipels gehoorsaam te wees, en te vertrou en heeltemal met ons ou lewens te breek. (Lees asb die artikel “Die onderskeid tussen ‘n gelowige en ‘n dissipel“)

Gén 12:6 “En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land.
Opmerking: Die Kanaäniete kan vergelyk word met die goddelose wêreld. Hulle was die nasate van Kanaän en het as goeie handelaars bekend gestaan. Hulle is later deur die Israeliete verower a.g.v hulle sondes. (Eks 23:23) Net so lei die Here ons in die goddelose wêreld in om die Evangelie te verkondig. Ons kan verwag dat die goddelose ons sal teenstaan. Ons is veronderstel om soos ligte in ‘n donker wêreld te skyn.

Genesis 12:7 “Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
Opmerking: So belowe ons hemelse Vader ons (die kerk) dat ons mede erfgename saam met Jesus Christus sal wees. Nie net die gebied van Kanaan soos aan die Israeliete belowe is nie, maar mede erfgename van alles wat aan God behoort. Dit sluit die hele wêreld in. Aan die volk van Israel word die landstreek Kanaan belowe vir ‘n ewige besitting. (Nie aan die Kerk nie) Die ware Kerk word mede erfgename saam met Jesus. Ons word dus erfgename van alles wat aan die Here behoort, dit sluit die hemel in. Ons woning is nie op aarde nie maar by God in die hemel.
Johannes 14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 14:3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
Israel word ‘n aardse koninkryk belowe. (Genesis 17:8,48:4 ens) Aan die Kerk word die Hemel belowe.
Romeine 8:17 “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
Wat n vooruitsig het ons darem nie. En net soos Abraham het ons ook offers om te bring.
Romeine 12:1 “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

Gén 12:8 “En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.
Opmerkings: Bet-el beteken huis van God. Dit is waar God Abraham wou kry om te vertoef. Net soos in die geval van Abraham wil die Here ons naby Homself hê. En soos Abraham moet ons ook die Here aanroep.
Hebreërs 10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”

Gén 12:9 “Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek.
12:10 En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. 12:11 En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. 12:12 As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. 12:13 Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 12:14 Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. 12:15 Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. 12:16 En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het.
Opmerking: Simbolies kan Egipte met die wêreld vergelyk word, en Abraham kan met gelowiges vergelyk word. As die nood druk en die weg raak moeilik, verflou ons geloof en verlaat ons, ons Vader en gaan in die wêreld in. Verder maak ons van ons eie planne gebruik, asook wêreldse metodes soos leuens en oneerlikheid, in ‘n poging om vir onsself te sorg. Weg is die vertroue in ons God en saam met dit, die moontlikheid om God te verheerlik, deur op Hom te vertrou totdat Hy ons help. Ons doen ons God nie net ‘n oneer aan nie, maar ontneem onsself van enige kans om aan die wêreld te demonstreer dat God vir Sy kinders sorg. Hoe hartseer moet dit ons Vader nie maak nie! Pleks ons net op Hom wag.
Jesaja 50:10 “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg (Jesus) luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? —laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God! 50:11 Kyk, julle almal wat ‘n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord—wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”

Gén 12:17 “Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. 12:18 Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? 12:19 Waarom het jy gesê: Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. 12:20 En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.
Opmerking: Farao is ‘n titel en nie ‘n persoon se naam nie, soos bv Koning, minister of ander titel. In hierdie geval kan dit simbolies met ongelowiges vergelyk word. Dit is hartseer dat gelowiges soms in hulle handelswyses erger as ongelowiges optree. Hoe gereeld hoor ons van Christene wat ander besteel, belieg en vertrap, net om te kry wat hulle wil hê. Baie keer is dit die ongelowiges wat die gelowiges moet aanspreek oor hulle gedrag! Net soos in die geval van Farao (Ongelowige) wat hier baie eerbaarder as Abraham (Gelowige) opgetree het. Ek spreek met myself hier. Is dit nie weer tyd dat ons, soos die verlore seun in Lukas, terug na ons Vader moet keer nie? (Lukas 15:11-32) “Terug na Bet-el!” moet ons uitroep wees!.

Genesis 13:1 “So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom. 13:2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. 13:3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, 13:4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep.
Opmerking: Net so wil die Here hê dat Sy kinders uit die wêreld moet kom en weer na Hom terugkeer, sodat hulle in Sy wil kan wandel en Hom aanbid. Partykeer neem ons besluite in ons lewe gebaseer op ongeloof en dan bring dit ons in moeilike situasies. Dit is altyd beter om tot ons sinne te kom en terug na ons Vader se huis te gaan, voordat dinge so sleg gaan dat dit ons dwing om op Hom te vertrou en dinge op Sy manier te doen. ( Die gelykenis van die verlore seun) Ons woon in baie onseker tye en dit sal wys wees om nou op God te vertrou en nie op die wêreld en sy handelswyses nie. Ons verlossing lê in God, nie in die wêreld nie. Die mens wat op die wêreldse sisteem vertrou gaan erg teleurgesteld wees!

Ter Afsluiting: Baie mense verkondig dat hulle nie die Ou-Testament meer lees nie,  omrede die Kerk geen baat deur die bestudering van die Ou-Testament kan bekom nie. Dis nie waar nie! Die hele Bybel is God se Woord aan ons, en ons ontneem onsself van baie seëninge deur om nie die Ou-Testament te gebruik nie. Onthou die Ou-Testament is die NuweTtestament in versteekte vorm. Die Nuwe Testament is die Ou-Testament geopenbaar!

Seën Groete

Vic